Die HERE gee Jerigo in Israel se hand

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-10-18
Teks: 
Josua 5
Preek Inhoud: 

Josua 5:13-6:27

Ds. C Kleyn - Sondag 18 Oktober 1998

Lees: Josua 5:13-6:27
Sing: Ps 105:1,2; 105:3,4; 105:5; 68:1,2; SB 31; Ps 2:6

Na die wonderlike deurtog deur die Jordaan en na die fees van oorwinning in Gilgal, wat wys op die komende Christus (besnydenis en Pasga), kan die stryd oor Kanaän begin.

Tema: Die HERE gee Jerigo in Israel se hand.

  1. Christus se verskyning
  2. Christus se strydplan
  3. Christus se oordeel
  4. Christus se genade

1. Josua gaan op verkenning na Jerigo. Skielik staan daar ’n man met ‘n uitgestrekte swaard voor hom. Die owerste van die leer van die HERE. Die plek waar Josua staan word heilig genoem. Vergelyk Ex 3:5. Die leërowerste blyk die Engel van die HERE te wees. Sien ook Num 22:23, Rigt 2:1-5. Hy word ook HERE genoem (Jos 6:2). Hier staan dus die Seun van God voor Josua. As owerste oor God se engeleleër. Josua hoef hom nie te bekommer oor hoe hy Jerigo kan verower nie. God se onsigbare leërmagte staan gereed om die stryd te voer. Wat ’n bemoediging, ook vir vandag. Vergelyk 2 Kon 6:16,17. Hierdie verskyning maak duidelik dat die stryd oor Kanaän die stryd van die HERE is. God moet ’n rekening vereffen met die Kanaäniete. Die maat van hul sonde is vol (Gen 15:16). Daarom staan God se Seun met uitgestrekte swaard gereed om hulle te straf. Christus is nie slegs ’n "liewe Jesus" nie. Hy word ook in die Bybel geteken as ’n Regter en Stryder wat sy vyande sal verslaan (Ps 2; Openb 1:1-16, 19:11-21). Die Here Christus moet gevrees word. Daarom probeer ons mense te oortuig (2 Kor 5:11). Ons moet nie alleen die liefde van Christus vir sondaars preek nie, maar ook Sy toorn teen almal wat Hom verwerp. As u egter in geloof by Hom skuil dan jaag Sy swaard geen skrik meer aan nie.

2. Christus begin met die oorwinning (6:2). Dan hoor Josua die wonderlike strydplan. Geen aanval. Slegs ’n verskyning van die HERE voor die mure van Jerigo, 7 dae lank. Let op die sentrale plek van die ark. Alleen die basuin, die strydteken van die HERE, mag gehoor word. Die volk moet swyg, bid en glo. God stel hul geloof op die proef deur hulle vir 7 dae die sterk mure te wys. Die geblaas van die basuine was soos ’n gebed wat Israel by God in gedagtenis bring. Dit was ook ’n aankondiging van die koms van die HERE. Vergelyk die basuine in Openbaring. Eenmaal sal die laatste basuin weerklink (1 Kor 15:52, 1 Thess 4:16). Deur die geloof het die mure van Jerigo inmekaar gestort (Hebr 11:30).

3. Op bevel van die HERE word die stad met die banvloek geslaan. ’n Simbool van helse vernietiging. Mense en diere word doodgemaak. Pas dit wel by God se volk? Dit was geen onheilige bloeddors nie maar ’n heilige opdrag van die HERE. Die ruines van Jerigo moes getuig van God se gerig oor die goddeloosheid van die mense. Laat ons die boodskap nie vergeet nie. Erger as die dood deur geweld, honger of rampe is God se ewige vloek en straf.

4. Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe (Joh 3:36). "God is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommiges moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Petr 3:9). Ragab en haar familie is gered deur geloof. Terwyl sy steeds "die hoer" genoem word. Sy het haar omgedraai na die HERE en haar geloof in haar werke gewys. God se genade roem teen die oordeel. Sien Matt 21:31. Eendag sal groot sondaars gered word terwyl deftige mense met hierdie wêreld sal ondergaan. Hoekom? Omdat die eerstes hul toevlug gesoek het in Jesus Christus terwyl die laatstes nie van genade wou lewe nie.

Daarom: "Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil" (Ps 2:12).

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n geweldige begin in Kanaän. Eers die wonderlike deurtog deur die Jordaan. Die hoë, woeste water het skielik opgehou met vloei. En die Israeliete kon sommer daardeur trek. En toe die besnydenis en viering van die Pasga. ’n Blye verbondsfees in Gilgal. ’n Fees van oorwinning op grond van die bloed van die komende Christus. Deur die viering van die sakramente het Israel homself weer gewys as volk van die Here. Die stryd van die Here oor Kanaän kan nou begin.

Ons wil dan sien hoe die Here Jerigo in Israel se hand gee. Dit is die tema van die preek.

Die Here gee Jerigo in Israel se hand:

  1. Christus se verskyning
  2. Christus se strydplan
  3. Christus se oordeel
  4. Christus se genade

Josua, die bevelvoerder van Israel se leër, gaan op ’n spesifieke dag na Jerigo. Daar sal die eerste veldslag moet wees. Maar hoe moet hy die ommuurde vestingstad inneem? Josua moet ’n strydplan ontwikkel. Daarom gaan hy op verkenning uit. As Josua naby die stad kom, wie sien hy daar voor hom? ’n Man met ’n uitgestrekte swaard, ’n man wat gereed is vir die stryd. Josua weet nie wie dit is nie. Daarom vra hy: "Behoort u by ons of by ons vyande?" En hy kry as antwoord: "Nee, maar Ek is die leërowerste van die Here; Ek het nou gekom." Letterlik staan daar: Ek is die owerste van die leër van die Here. Wat bedoel die man met die leër van die Here? Waarskynlik wys dit na die engele van die Here. Josua is owerste van die leër van Israel. Voor hom staan nou die owerste van die leer van die Here, van die engeleleër.

Josua buig vol eerbied voor hom. Hy verstaan dat Hy met ’n hemelse verskyning te doen het. Hy vra dan ook: "Wat wil my Here aan sy dienskneg sê?" Dan wys die leerowerste van die Here duidelik vir Josua met wie hy te doen het. Hy beveel Josua: "Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan is heilig."

Vir Josua is dit nou duidelik dat hy met God te doen het. Josua hoor nou amper dieselfde woorde as wat Moses op Horeb by die brandende doringbos gehoor het (Ex. 3:5). Ja, Josua ervaar dieselfde soos Moses eenkeer by die brandende doringbos. Toe was dit oor die uittog uit Egipte. Nou gaan dit oor die intog in Kanaän. En wie was dit wat aan Moses verskyn het? Die Engel van die Here, wat meer as een keer ook Here genoem word. Hierdie Engel van die Here loop ons meer kere raak in die Ou Testament. Elke keer tree hy op by belangrike momente in die geskiedenis. Hy is die Persoon in wie God Homself openbaar. Hy is ook een met God. Hy word immers ook self HERE genoem? So is hier sprake van ’n verskyning van die Seun van God, voor sy vleeswording. Dieselfde sien ons in ons teks. Hier word wel gepraat van die leërowerste van die Here. Maar hy besit ook goddelike heiligheid. "Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan is heilig." En in hoofstuk 6:2 word Hy ook die Here self genoem. Hierdie leërowerste, is die Engel van die Here, ookal word hy hier nie uitdruklik met die naam genoem nie. Maar reeds Sy uitgestrekte swaard laat ons dink aan die Engel van die Here, wat teen Bileam met ’n uitgestrekte swaard gaan staan het. Bowendien sien ons later in Rigters 2:1-5, waar verwys word na hierdie geskiedenis van Josua 5, dat die Engel van die Here weer verskyn en kla oor Israel se ontrou.

Gemeente, ons het dus in ons teks ’n verskyning van Jesus Christus van wie ons weet dat Hy deur God gestuur is, maar tegelykertyd ook God is. Dit maak hierdie verskyning aan Josua so besonders.

Josua en die volk Israel is herhaaldelik daaraan herinner dat hulle die oorwinning sou behaal op grond van die komende Christus. Dink byvoorbeeld aan die sakramente wat onlangs bedien is: besnydenis en Pasga. Albei oorwinningsfeeste wat verwys na die bloed van Christus.

Nou ja, op hierdie oomblik is dit nie meer ’n verwysing na die komende Christus nie. Nee, nou staan die Seun van God self voor Josua. Eenkeer was dit Hy wat Israel uit Egipte gaan haal het. Daarvan was die begin by die brandende doringbos. Nou staan Hy gereed om Sy volk die rus van Kanaän te laat ingaan. Hulle kry hierdie land nie alleen om Christus se wil nie. Hulle kry dit ook deur Christus self. Christus, wat kragdadig heenwerk na Sy menswording en na die volkome verlossing.

Let daarop, gemeente, hoe die Seun van God homself aanbied. Met ’n uitgestrekte swaard in sy hand, as owerste oor God se leër. Soos ’n ervare bevelvoerder, het Josua uitgetrek om Jerigo te verken. Hoe moet hy die sterke vesting in die hande kry? As Josua naby die stad kom, dan blyk dit dat die aanvoerder van die hemelse leërs alreeds daar is. Hy wys vir Josua waaroor dit eintlik gaan en bemoedig hom. God kom met Sy leërmagte om Sy stryd te voer. Josua, hou maar op om jou te bekommer oor hoe jy Jerigo kan verower. Dit is nie jou leër wat dit moet doen nie. God se legioene sal die stryd voer. Daar staan ’n onsigbare leër gereed en vir hulle is niks onmoontlik nie. Hierdie leër trek voor julle uit. Wat ’n geweldige bemoediging, gemeente. Om te weet dat God ’n onsigbare leër engele voor Sy volk laat uittrek. Dit is iets wat ons te maklik vergeet. Daarom het die kneg van Elisa dit op ’n spesifieke oomblik ook nie meer geweet nie. Die Arameërs het die stad omsingel. Toe het die Here die oë van die kneg van Elisa oopgemaak. En wat het hy gesien? Die berg was vol perde en waens van vuur rondom Elisa (2 Kon. 6:16,17).

Josua word daarby bepaal dat dit gaan om die stryd van die Here. Want God moet ’n rekening vereffen met die inwoners van Kanaän. Die maat van hul sonde is vol (Gen. 15). Daarom staan God se Seun met uitgestrekte swaard gereed om hulle te straf en uit te roei.

Dit is dus nie so dat God vir Israel kom help nie. Nee, Israel ontvang ’n plek in God se stryd. So mag ons ook die verdere geskiedenis van die besetting van Kanaän verstaan. Dit is eintlik nie korrek om te sê dat Israel Kanaän verower het nie. Kanaän is aan Israel gegee. Dit is ’n geskenk van die Here. Die stryd is die stryd van die Here. Die Engel van die Here het Self voor die leërs van Israel uitgetrek om vir hulle ’n woonplek te berei. Ooreenkomstig die belofte van Ex. 23:23. "Want my Engel sal voor jou uitgaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaaniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig."

Die komende Christus word vir ons geteken as ’n leërowerste met uitgestrekte swaard, soos iemand wat Sy haters en bestryders kom uitroei. Laat ons dat vandag nie vergeet nie. Die meeste mense wil Hom verkieslik nie sien as ’n strydende Vors nie. Baie mense sien Hom liewer as ’n "Liewe Jesus." Maar in Openb. 1:14-16 word Hy vir ons geteken met oë soos ’n vuurvlam en met ’n mond, waaruit ’n tweesnydende, skerp swaard kom. En in Openb. 19:11-21 word geteken hoe Hy oorlog voer. Sy kleed is vol bloed. "En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige." (vers 15).

Psalm 2 sê van Hom: kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie. Daarom sal Jerigo – die stad vol goddeloosheid – val. Nie deur Josua, maar deur Jesus, wat God se oordeel gaan voltrek. Daarom sal die groot stad Babilon ook val (Openb. 19). Netnou verskyn God se Seun om nie slegs een land nie, maar die hele aarde te reinig. "Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie." (Psalm 2).

Gemeente, wie nie skuil by Christus in geloof, kry Christus teen hom. Daarom sê Paulus in 2 Kor. 5:11, "Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig." En dan noem Hy uitdruklik die Here Jesus Christus: die Here moet gevrees word. Hy is nog altyd die aanvoerder van die legioene van God. En as Hy teen jou is, verberg jou dan maar. Hy is besig om te kom as Regter van die heelal. Dit is ook ’n evangelisasie-motief vir die mense van hierdie tyd. Ons moet nie alleen die liefde van Christus vir sondaars preek nie, maar ook Sy toorn teen almal wat Hom verwerp.

As u in geloof en bekering by Hom skuil, dan mag u hoor: u geloof het u gered. Dan jaag Sy swaard geen skrik meer aan nie, want alles, alles is volbring.

Nou die 2e gedagte: Christus se strydplan.

Die leërowerste van God kom met Sy strydplan. ’n Baie besondere plan: Jerigo sit pottoe. Volledig toegesluit vir die Israeliete. Dit het gelyk asof Israel die mure moes bestorm. God se krygstaktiek is egter anders. Hy begin van agteraf, met die oorwinning: "Kyk, Ek gee Jerigo met sy koning en dapper helde in jou hand." (vers 2). God begin met die belofte. Daarna hoor ons hoe die Here dit gaan doen. Josua ontvang wonderlike instruksies.

Dwaas en belaglik in die oë van mense. Die krygsvolk moet vir 6 dae lank, 1 maal per dag, rondom die stad trek. Hulle moet gevolg word deur 7 priesters wat op 7 ramshorings blaas. Hulle moet voor die ark uitgaan. En na die ark moet die agterhoede volg. Maar almal se monde moet toe wees (vers 10). Op die 7e dag moet hulle 7 keer rondom die stad trek. En eers nadat dit gebeur het, mag die hele volk, op bevel van Josua, juig. Dan sou onder die aanhoudende geblaas van die priesters en die gejuig van die volk die stadsmure van Jerigo inmekaar stort. Daarna sou die krygsvolk oor ’n ingestorte muur klim om die stad te bestorm. Elkeen vanaf die plek waar hy op daardie oomblik gestaan het. Soos u sien, begin en eindig die Here met die oorwinning. Daarvan kon die Israeliete seker wees.

Gemeente, let op die sentrale plek van die ark van die Here. Waarom was die ark in die middel? Die ark is die troonsetel van God. Israel se groot koning laat Sy troon rondom die stad dra. God laat Homself in Jerigo sien in die middel van Sy volk. Dit is immers Sy stryd. Die Here sal opstaan tot die stryd. In majesteit. Voor die oë van die inwoners van Jerigo. Die angs vir die Here het op hulle geval, soos Ragab alreeds vertel het. En hier verskyn die gedugte God van Israel voor die mure van Jerigo.

Die Here kies doelbewus ’n stryd metode wat nie militêr gerig is nie. Geen aanval of bestorming van die mure. Hy laat Homself net 7 dae sien. Sy verskyning is alreeds voldoende. So sal Jesus se verskyning op die wolke op die jongste dag ook voldoende wees. Reeds deur Sy verskyning vernietig Hy die goddelose. So word die rekening voorgestel.

Daarby word alleen die strydteken van die Here gehoor, die basuin. Die volk moet swyg. In doodse stilte moet hulle rondom die stad trek. Hulle kan net marsjeer by die musiek van die priesters. Die stryd is duidelik die stryd van die Here. Die swygende soldate en skrillende horings plaas alles in die raamwerk van die diens van die Here. Die soldate tree hier nie net aan om te veg nie, maar om hul God te dien. Hy is besig om die stad te omsingel. En al die mense kan slegs bid en loop in geloof.

Ja, gemeente, die geloof van God se volk word wel op die proef gestel. Die daaglikse parademars lyk belaglik in die oë van mense. Hoe kan ’n mens op so ’n manier ’n stad inneem? Tog spreek dit alles van Goddelike wysheid en heerlikheid. Ook ten aansien van Israel. Want Israel kan nou die sterk sleutelstad van alle kante goed besien. Die hoog-opgetrekte muur, die torings en skanse. Dit herinner ons aan wat die verspieders in Kades berig het (Deut. 1:28): "Die stede is groot en tot aan die hemel versterk." Wel, die Israeliete kan dit nou met hul eie oë sien; elke keer wat hulle rondom die muur gaan. God wys dit vir hulle. So is Jerigo. So is Kanaän, ’n sterk vesting. God beproef die geloof. Die voorgeslag het deur ongeloof vergaan. Die huidige generasie kan Kanaän slegs deur geloof beërwe. God laat Sy eis nie vaar nie. ’n Volle week moet die volk rondom die stad trek en glo. Op God se tyd wag, op Sy oorwinning. So is Jerigo verkry as ’n gawe uit God se hand.

Broeders en susters, hierdie geroep om gelowig te wag het ook uit die geluid van die horings gekom. Met basuine versamel God Sy volk. Om basuine te blaas, was vir Israel ’n heilige werk. In tye van oorlog mog Israel daarmee ’n dringende beroep op God doen. Dit was soos ’n gebed tot die Here. Sy seën is daarmee afgesmeek. Deur die geblaas van die Priesters is Israel by God in gedagtenis gebring.

Tegelykertyd is God se koms aangekondig deur hierdie daaglikse geluid op die basuine. Net die lang gerekte basuingeluid op die 7e dag beteken dat God daadwerklik ingegryp het, tot oordeel van die vyande en tot verlossing van Sy volk. Vergelyk die basuine waarvan ons lees in Openbaring. God se basuine klink in hierdie wêreld, God is op pad om te kom! Mense, bekeer julle tot die lewende God. "Kus die Seun sodat Hy nie toornig word en julle op die weg nie vergaan nie." Eenmaal sal die laaste basuin weerklink (1 Kor. 15:52, 1 Thes. 4:16). Dan sal die dooies wat in die Here gesterf het opstaan tot lewe. Dan sal Christus almal wat aan Hom behoort by Hom versamel en dan sal die laaste oordeel begin.

"Deur die geloof het die mure van Jerigo inmekaar gestort," lees ons in Hebreers 11:30. Die Israeliete het rondom die stad getrek ooreenkomstig die bevel van die Here. Vertrouend op Sy belofte van oorwinning. En aan die einde van die 7e keer op die 7e dag het die volk ’n groot krygsgeskreeu aangehef. ’n Oorwinningsgejuig. En die mure van die stad het geval. Deur die geloof. Deur die geloof is Israel meer as oorwinnaar. God verhoor Israel se aanhoudende gebed. God bekroon hul geloof met Sy seën. Hy vervul Sy belofte.

Hier sien u, gemeente, dat God nie outomaties werk en Sy mense passief laat wees nie. Hy skakel die geloof as instrument terdeë in. Dinge waarvan mense sou sê: dit is onmoontlik, blyk wel moontlik te wees deur geloof. Dit was die krag van die leër. Nie hul swaard het hul sterk gemaak nie, maar hul geloof. Want een ding moes hier goed duidelik word: God het hier by die mure van Jerigo verskyn om gerig uit te oefen, om te oordeel.

Dit bring ons by die 3e gedagte: Christus se oordeel.

Op bevel van die Here word die stad met die banvloek geslaan. ’n Simbool van God se heilig vuur. ’n Simbool van helse vernietiging. Mense en diere word dood gemaak. Niemand word gespaar nie. Behalwe Ragab en die wat by haar behoort. Alles word verbrand. Net die metaal voorwerpe moet bewaar word en aan die diens van die Here gewy word.

Wat moet ons, broeders en susters, met hierdie verhaal? Baie mense – ook mense wat hulself Christene noem – vind hierdie verhaal van oorlog en geweld van God onwaardig. In die Nuwe Testament sou ons bo hierdie vlak uitgestyg het, sou ons meer Christelik wees. So oefen baie mense kritiek uit op hierdie deel van God se Woord.

Maar, gemeente, vergeet nie dat die banvloek heilig werk was. Israel is nie gedryf deur onheilige bloeddors nie. Dit was die opdrag van die Here aan Israel. En iets met die banvloek slaan, beteken: geheel en al aan die Here oorgee. Dan is alles vernietig of alles vir die diens van die Here apart geplaas. Hierdie eerste het met die mense en diere gebeur. Hierdie tweede het met die silwer, goud en ander metale gebeur.

’n Derde moontlikheid het nie bestaan nie. Jerigo moes ’n blywende puinhoop wees. Die ruïnes van hierdie stad moes tot in lengte van dae getuig van God se gerig oor die goddeloosheid van die mense. Elkeen wat Jerigo passeer, moes tot die huiweringwekkende konklusie kom – hier was destyds ’n bloeiende menselewe en ’n pragtige kultuur. Maar dit is alles totaal vernietig. En dit mag nie weer opgebou word nie. So getuig Jerigo van ’n ondergang wat totaal is en ewig. Die Israeliete en ons kan uit die puinhope van Jerigo leer: so het die Kanaäniete vergaan, maar so sal ook ons lewe ondergaan indien ons die Here verlaat en in sondes volhard.

Wie vandag beweer dat net alleen menslike wreedheid aan die werk was by die verwoesting van Jerigo, wuif God se vloek en straf weg.

Baie mense neem vandag God se oordele nie ernstig op nie. Hulle het nie ’n idee daarvan, dat die Here deeglik gevrees moet word, wanneer jy Hom nie liefhet nie. Daarom kan hulle nie werklik ander tot geloof oproep nie.

Want die banvloek wat hier voltrek is, hou ’n dringende boodskap in, ook vir ons, en ons tydgenote. Wie deur die banvloek van die Here getref word, gaan sy ondergang tegemoet. Die banvloek praat duidelik oor die verstoting en verlating deur God. Dit praat van die troosteloosheid van altyd verlore wees. Van die verlatenheid in die hel. Daarvan moes die puinhope van Jerigo getuig.

Laat ons die boodskap, wat uitgaan van die puinhope van Jerigo, nie vergeet nie. Dit praat van die vloek van God oor alle mense wat Hom negeer en weerstaan. En hoeveel mense negeer God nie vandag nie.

In 2 Petrus 3:7, lees ons dat God die huidige wêreld bewaar vir die vuur van die jongste dag. Dan kom die oordeel en die ondergang van die goddelose mense. Laat ons dit nie vergeet nie.

Erger as die dood deur geweld, erger as die dood deur honger en natuurrampe, is dit om vir altyd deur God verlaat te word. Daarvan praat die puinhope van Jerigo.

Maar, broeders en susters, daarmee wil ons u nie tot wanhoop bring nie. Want hierdie dreiging gaan saam met die prediking van die evangelie van die Seun van God. Hy, wat Self verlaat was deur God vanweë ons sondes, sê dadelik: "Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe." (Johannes 3:6).

Dit bring ons by die 4e gedagte: Christus se genade.

God het eenkeer lang geduld gehad met Jerigo en die inwoners van Kanaän. God het nog geduld met ons wêreld. Hy laat Sy son opgaan oor die slegtes en goeies. "Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommiges moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom," (2 Petrus 3:9).

Gemeente, wat is dit dan belangrik dat ons hierdie lankmoedigheid van God nie verag nie, maar alle heil daarvan verwag.

Ragab en haar familie het hul heil van die Here verwag. So is hulle gered van die ondergang wat Jerigo getref het. Na ’n tyd van kwarantyn is hulle opgeneem in God se volk. Hulle is in Israel ingelyf.

Dit is opvallend dat Ragab steeds weer genoem word volgens haar vroeëre sondiges gedrag. Drie keer agtermekaar word sy "die hoer" genoem. Sy het gelewe in die seksuele sonde van die Kanaäniete. Tog het sy nie gesterf nie. Want sy het haar omgedraai na die God van Israel. En haar geloof kon gesien word in haar werke. Sy het die verspieders weggesteek. Daardie lewende geloof het haar gered. Sy mog selfs stammoeder word van Jesus. Met eer genoem in die geslagsregister van Jesus in Mat. 1. ’n Teken van die vrye en onverdiende genade van God. God se genade roem teen die oordeel in haar lewe.

Eeue later is dit God se eie Seun wat weer by Jerigo Hom ontferm oor sondaars, oor Saggéus, die tollenaar. Ook iemand met ’n slegte verlede. Jesus het vir die Jode gesê: "Voorwaar, Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die Koninkryk van God." (Mat. 21:31).

Wanneer God eendag van hierdie wêreld ’n puinhoop sal maak, sal ook mense wat besmet was met die sondes van hierdie wêreld, gered word. Hulle het hul toevlug gesoek in Jesus Christus. Terwyl daar deftige dames en here sal wees– wat niks met korrupsie of sedeloosheid te doen wou hê nie – wat tog met hierdie wêreld sal ondergaan. Hoekom? Omdat hulle nie van God se genade wou lewe nie.

Daarom: . "Kus die Seun sodat Hy nie toornig word en julle op die weg nie vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil." (Psalm 2:12).

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)