Die Here neem die smaad van die Israeliete weg

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-10-04
Teks: 
Josua 5
Preek Inhoud: 

Josua 5:1-12

Ds. C Kleyn - Sondag 4 Oktober 1998

Lees: Númeri 14:11-35;  Josua 5:1-12

Samevatting:

Die Israeliete staan in die beloofde land. Hulle sal moet veg om die land in besit te neem. Wat moet hulle nogtans eers doen? Hulle laat besny. ‘n Lewensgevaarlike operasie voor die oë van die vyande. Maar God hou die vyande op ‘n afstand. Sien Jos 5:1.

Tema: Die Here neem die smaad van die Israeliete weg

  1. Die oorsaak van die smaad.
  2. Die afwenteling van die smaad.

1. Die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän word ten nouste aan mekaar verbind. Let maar op die datum wat genoem word in Jos 4:19 en die aantal kere wat die uittog genoem word in Jos 5. Sonder intog is die uittog nie voltooi nie.

Wat beteken die smaad van Egipte (vers 9)? Dit kan die smaad van die diensbaarheid in Egipte beteken. Sonder intog is die bevryding uit Egipte mos nie voltooi nie. Die meeste verklaarders verwys naar die smaad van die Egiptenare genoem in Numeri 14. Ons kan albei kombineer. Vir 40 jaar lank was Israel maar ‘n rondswerwende slawevolk, sonder eie land. Hulle God lyk van hulle af weggedraai.

Hier kom by dat die sakramente in daardie tyd verwaarloos is. Van Sy kant af het die Here die verbond nie opgehef. Ondanks die straf gaan die Here verder met Sy volk. Dink aan die diens van versoening in die tabernakel en die manna. Moeilik denkbaar dat God die opdrag sou gee om die sakramente te laat staan. Ons moet liewers dink aan ontrou aan die kant van die volk.

Wat beteken dit: 40 jare geen besnydenis en Pasga viering? Die meeste seuns en mans is onbesnede. Wat ‘n geduld van die Here dat Hy tog met die onbesnedenes verder gaan en dat Hy hulle in Kanaän lei. Vir die onbesnedenes self beteken dit dat hulle tydens die baie moeilike jare in die woestyn moet regkom sonder die seel en betroubare getuienis van die verbond met sy beloftes.

2. Ondanks hulle ontrou bly die Here getrou. Hy wentel die smaad van die volk, wat gefaal het voor die oë van God en mense, weg. Wanneer het God die smaad afgewentel? By die intog in Kanaän. Toe het God die leuen van die 10 verspieders en van die Egiptenare getoon. Die spotters word dodelik verskrik. God het Homself bewys as die almagtige en troue God van die verbond, wat al Sy beloftes vervul.

Daarom moet die sakramente onderhou word as tekens en seels van God se oorwinning. Die besnydenis gee aan die reiniging van die sondes deur die komende offer van Christus. God ontsluit ‘n toekoms vir ‘n sondig volk. God alleen red. Elke man en seun moet daarom hierdie teken dra om die stryd van die Here te stry.

Na die besnydenis volg die viering van die Pasga. Saam met hulle God mag die Israeliete die fees van oorwinning vier binne die poorte van die beloofde land. Wat ‘n pragtige voorbereiding op die stryd wat moet kom. Die onderhouding van die sakramente blyk voluit ‘n militêre operasie te wees.

Ons ervaar vandag ook die smaad van die ongelowiges. Ons is nog vreemdelinge op aarde terwyl ons erfgename heet (Rom 8:14-25). Ons leef nog in die woestyn (Openb 12:6,14). Deur ons eie ongeloof en sondes veroorsaak ons self baie kere die smaad van die ongelowiges. Deur Jesus Christus sal God ook die smaad wegneem van elkeen wat glo. Hy sal die verlossing uit die slawehuis van die sonde voltooi deur sy kinders te lei in die hemelse Kanaän. Hou daarom die sakramente in ere as ‘n bevestiging onderweg van God se oorwinning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God het die Israeliete op ’n wonderlike manier die land Kanaän binnegelei. Deur die Jordaan. Normaal gesien is dit ’n onoorbrugbare struikelblok. Maar dis deur God drooggelê, sodat Israel daardeur kon trek. God het opnuut die onmoontlike moontlik gemaak.

Die Israeliete staan in die beloofde land. Hulle versamel hul by Gilgal. Op Kanaanietiese grond. Maar die land is nog ’n besette gebied. Die Kanaäniete besit nog die mag. En hulle is nie van plan om die land af te staan nie. Israel sal moet veg om die land in besit te neem.

Maar wat sien ons nou in ons teks? Wat moet God se volk heel eerste doen? Tot watter operasie word die volk van Israel nou geroep? Hulle moet eers die twee sakramente onderhou: besnydenis en Pasga. ’n Mens sou sê: dit is allermins ’n militêre operasie. Dit is juis baie onstrategies. Dit is lewensgevaarlik. Die besnydenis maak ’n man immers weerloos? Dink maar aan die geskiedenis van Dina en die Sigemiete wat deur Simeon en Levi uitgemoor is, toe hulle nog nie van die besnydenis herstel het nie. Die massale besnydenis sou Israel weerloos maak. Tog was dit die eerste bevel wat God vir sy volk in Kanaän gegee het: om die sakramente te onderhou. Dit was ’n suiwer militêre operasie, want Israel moes die oorloë van die Here voer. Die Israeliete moes stry as stryders van die Here. En dit moes baie duidelik wees. En duidelik wys in die onderhouding van die sakramente. In die bediening van die besnydenis en die viering van die Pasga. Tekens en seels van die verbond met die Here. Die tekens moet daar wees en lewe, voordat die stryd kan begin. Die Here wou Hom nie laat bedien van onbesnedenes nie. En die leer van Israel is vir ’n groot deel nog onbesnede. Daarom die bevel om eers al die seuns en mans van Israel te laat besny.

Is dit nie ’n lewensgevaarlike onderneming nie? En wel voor die oë van die Kanaanietiese vyande? Nee, die Here het sorg gedra dat die vyande op ’n afstand sou bly. Hy het sorg gedra dat hulle nie sal aanval terwyl die Israelitiese krygsmanne deur besnydenis uitgeskakel is nie. Hy het sorg gedra dat Israel rustig sy sakramente kan naleef. Sien Josua 5:1. Na die wonderlike deurtog deur die Jordaan, is daar baie angs by die volke aanwesig. Hulle het geen moet meer vanweë die Israeliete. God het die angs vir Israel vooruit gestuur. So kan die verbond in alle rus vernuwe word. Die volk kan nou in alle rus hulself geestelik voorberei vir die stryd van die Here.

Ek wil die woord van die teks vir u verkondig onder die tema:

Die Here neem die smaad van die Israeliete weg:

  1. die oorsaak van die smaad
  2. die afwenteling van die smaad

Dit is opvallend, broeders en susters, hoe die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän ten nouste aan mekaar verbind is. Let maar eerstens op die datums wat genoem word. Wanneer vind die intog in Kanaän plaas? Ons lees in Josua 4:19, dat dit op die 10e dag van die 1ste maand gebeur het. ’n Gedenkwaardige dag. Dis presies die dag, waarop Israel 40 jaar gelede vir die eerste keer die paaslam uit die kudde moes kies; vier dae voor die Pasga en die uittog uit Egipte. Dit is dan ook nie toevallig dat Israel in Kanaän arriveer net voor die Paasfees. Daardie eerste Pasga by die uittog het alles te doen met die paasfees so kort na die intog. Daardie eerste Pasga was daarop gerig, vind, so te sê, daarin sy vervulling. Sonder intog in Kanaän sou die uittog uit Egipte nie voltooi wees nie. Soos vandag vir u en my geld: sonder intog in die hemelse Kanaän sou u bevryding uit die dienshuis van die sondes nie voltooi wees nie.

In die teks is dit ook opvallend hoeveel kere die uittog uit Egipte genoem word. In verse 4-6 vier keer. Die hele periode van 40 jare in die woestyn word in die lig van die uittog uit Egipte gesien. Die hele periode word gereken tot die periode van Israel se uittog uit Egipte. Net by die intog in Kanaän is die periode afgesluit. Net by die intog, het die Israeliete, so te sê, losgekom van Egipte. Daarin is hul uittog voltooi.

Maar wat beteken nou die smaad van Egipte waar vers 9 van praat? In die lig van bogenoemde kan dit die smaad van die diensbaarheid in Egipte beteken. By die uittog uit Egipte is Israel reeds in beginsel daarvan bevry. Maar die bevrijding is nie voltooi sonder intog in Kanaän nie. Solank as wat Israel nog geen eie land het nie, dra hulle nog die smaad van ’n slawe volk. Dink maar aan die tyd van rondswerwing in die woestyn. Die volk blyk nog allermins ’n vrye volk te wees met ’n eie woonplek. Die doel van die uittog uit Egipte is nog nie bereik nie.

Meestal word die smaad van Egipte egter anders verklaar. Die meeste verklaarders sien dit as die spot van die Egiptenaars, na die mislukte poging van die Israeliete om vanuit Kades die land Kanaän te verower. Die spot van die Egiptenare na aanleiding van Israel se rondswerwinge in die woestyn vir 40 jare lank. Hierdie smaad: "Kyk, die Israeliete bly tog maar slawe; hulle wou vry wees, maar kry geen eie land nie! Hulle het hul mond vol gehad van ’n verbond met die Here, maar daar kom niks van nie. Kyk hoe sterf hulle sonder dat hulle Kanaän gesien het! Dit is baie duidelik: Hulle God het van hulle af weggedraai; of Hy kan nie!"

Moses had van hierdie spot gepraat na die verskriklike afval in Kades, na die verslag van die 10 verspieders. Terwyl hulle op die grens van Kanaän staan, vertrou hulle nie op die Here nie. Hulle luister na die 10 verspieders, wat die mag van die Kanaaniete groter geag het as die mag van die Here. Hulle het nie op die Here vertrou dat Hy Israel in Kanaän sal inbring nie. En toe het iets verskrikliks gebeur: Die Here het gesê: "Hierdie volk versmaad my. Ek sal hulle met die pes slaan en uitroei."

Moses het toe vir die volk gepleit. Hy sê: "As Egipte hoor dat U Israel nie in Kanaän bring nie, dan sal hulle sê: "Omdat die Here hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ’n eed belowe het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring. Dink tog aan u eie, heerlike naam, o Here, en vergewe tog die ongeregtighede van hierdie volk."

Die Here had daarop geantwoord: "Op jou bede skenk ek vergewing, maar sowel die 10 verspieders as al die krygsmanne wat na hulle geluister het, sal die land Kanaän nie sien nie. Want hulle het My versmaad. Hulle sal almal in die woestyn sterwe. Net hul kinders sal ek in Kanaän inbring, terwyl hulle gedink het dat dit nooit sou gebeur nie. Al die weerbare manne van 20 jaar en ouer moet vir hul owerspelige gedrag boete doen, en die kinders sal dit saam met hulle dra – 40 jaar lank.

So het daar ’n smaad op Israel gekom vir 40 jaar lank. Die meeste van hulle wat uit Egipteland vertrek het, het in die woestyn gesterwe – as straf op hul sondes. Israel moes nou 40 jare wag op die vervulling van God se beloftes. Vir 40 jare rondswerwe in die woestyn, sonder intog in Kanaän.

Hier kom nog by, gemeente, dat die tekens van die verbond in daardie tyd nie bedien is nie. Die sakramente is verwaarloos. Hulle het nie die kinders besny nie. En as daar soveel onbesnedenes is, dan sou hulle ook nie Pasga gevier het nie. Geen onbesnede mog immers op die Paasfees verskyn nie.

Gemeente, waarom is die besnydenis nie toegepas nie? Dit word nie vermeld nie. Dis nie aanneemlik dat dit gebeur het op God se bevel nie, soos sommiges beweer. Josua 5 lê die nadruk op Israel se nalatigheid: hulle het die kinders nie besny nie. Die Here het die verbond van Sy kant af nie opgehef nie. Hy het vir Moses immers gesê: "Ek vergewe volgens jou woord." En waar God sonde vergewe, daar kan gepraat word van ’n herstelde verhouding. Die Here gaan dan ook met die volk verder, ondanks die 40 jare straf. Die volk sal nie heeltemal ondergaan nie. Hulle sal in die opkomende generasie die beloofde land ingaan. Die Here hou vas aan Sy verbond. Die volk bly Sy volk. En daarby behoort die sakramente. Tekens en seels van die verbond.

Dat God tog met sy volk verder gaan, blyk ook uit die voortgaande diens van versoening in die tabernakel; die voortgaande versorging van die volk deur middel van die manna en die voortgaande onderrig deur middel van Moses.

Dit is dus moeilik denkbaar dat God die opdrag sou gee om die sakramente te laat staan. Ons moet liewers dink aan nalatigheid, aan ontrou aan die kant van die volk.

Broeders en susters, u moet uself probeer indink wat dit beteken: 40 jare geen besnydenis en Pasga viering. Telkens ’n groter deel van die volk was onbesnede. Dit is nie goed onder God se volk nie. By die instelling van die besnydenis het die Here uitdruklik beveel dat daar binne die verbondskring geen onbesnedene mog wees nie. Die man wat hom nie laat besny nie, moes uitgeroei word uit sy volksgenote – as ’n verbonds-breker. So’n man behoort nie daar tuis nie.

Wat ’n geduld van die Here, gemeente, dat Hy tog met hierdie onbesnede volk verder gaan. Dat Hy daardie volk na die Jordaan bring. Wat ’n geduld dat Hy daardie volk deur die Jordaan lei en in die beloofde land inbring. As êrens duidelik blyk dat alles onverdiend is, dan is dit wel hier. Hulle het onverdiende saligheid van God geniet; hulle kan net roem in vrye guns alleen.

En nou die onbesnedenes self. Wat het dit vir hulle beteken dat hulle onbesnede was? Vergelyk maar wat die doop vir u beteken. Wat beteken die doop vandag vir u? U mag telkens daarop teruggryp. So seker is God se beloftes. Hy het dit persoonlik aan u verseël. Dink maar aan die pragtige woorde van die doopsformulier: "En as ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel, of in die sondes bly lê nie: die doop is immers ’n seel en volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met God het."

’n Seel en ’n volkome betroubare getuienis dat ons ’n ewige verbond met God het. ’n Seel en ’n volkome betroubare getuienis van die verbond en so ook van die verbonds-beloftes.

Dus, die onbesnedenes in die woestyn moet regkom sonder hierdie seel en volkome betroubare getuienis. En juis terwyl hulle dit so dringend nodig sou hê in hul situasie. Hulle moet immers eindeloos rondswerf in die woestyn. Hulle is daarmee gebore en groei daarmee op. Dag in, dag uit; jaar in, jaar uit is dit swerwe geblaas. Dit lyk asof daar geen end aan kom nie. Dit lyk asof dit vir hulle so bestem is om hul hele lewe in die woestyn te slyt. Hulle sien ook hoe hul ouers en groot ouers daar sterf. En wie weet wat hulle lot sal wees? Watter vooruitsig het hulle nog? Ja, hulle het Moses se woorde. Maar wie waarborg hulle dat die woorde sal uitkom? Hulle kan nie teruggryp na hul besnydenis nie! God se belofte is nie aan hulle verseël nie. Hulle dra nie in hul liggaam ’n teken van God se verbondsbeloftes nie. Hulle dra geen betroubare getuienis van die verbond met die Here nie. Daar is niks aan hul liggaam wat uitsig gee uit daardie dooie dal. Niks wat wys na die nuwe toekoms – die ontvangs van die beloofde land. Ja, want die besnydenis vorm ook ’n teken van die belofte van die Here. Het God nie aan Abraham gesweer dat Hy aan sy nageslag die hele land Kanaän as ’n besitting sou gee nie? Maar, die onbesnedenes in die woestyn word nie deur die teken van die besnydenis herinner aan die belofte nie, Hulle word ook nie van die belofte verseker deur die seel van die verbond nie. Hulle doen alles sonder sakramente, terwyl hulle dit so dringend nodig het. Die verval onder die volk maak hulle arm. Die spot van die vyande "julle God kan julle blykbaar nie eens in die land bring nie", word vererger deurdat hulle self die tekens van die oorwinning, die sakramente, verwaarloos. Deurdat hulle nalaat om hul vertroue in die Here uit te spreek in de toepassing van de sakramente. Die smaad van Egipte word vererger deurdat hulle self onbesnede bly en die Pasga, die fees van die bevryding van die Here, nalaat. Deurdat hulle self geen getuienis aflê van hul rotsvaste geloof in die Here nie.

As dit van mense sou afhang, sou die vooruitsig sleg gelyk het vir God se volk. Maar dit is die Here wat verlossing gee. Ook al is hulle ontrou, Hy bly getrou. Hy dra ook sorg daarvoor dat die smaad, wat op die Israeliete gelê het – weens hul eie skuld – weggewentel word. Hy neem die smaad van hierdie volk, wat gefaal het voor die oe van God en mense, weg. Dit is die 2e gedagte: die afwenteling van die smaad.

Die vraag kan gestel word: wanneer het God die smaad afgewentel? As jy kyk na die teks, vers 2-8, sal jy geneig wees om te antwoord: na die besnydenis. Die besnydenis sou dan beteken die afwenteling van die smaad van Egipte.

Tog is dit in skerpe lyne nie het geval nie. Ook al het die besnydenis alles daarmee te doen, gaan dit nie om die besnydenis nie, maar om die intog in Kanaän. Die naam Gilgal hou die herinnering aan die afwenteling van die smaad. En nie aan die besnydenis nie. Daarom is daar die Heuwel van die voorhuide, waar vers 3 van praat. In die oorspronkelike teks is daar ook ’n onderbreking tussen vers 8 en 9. Wat in vers 9 staan, is nie in direkte verband met die voorafgaande nie.

Wanneer het die Here dan die smaad wat op sy volk gelê het weggeneem? Dit het Hy gedoen toe Hy Israel op ’n wonderlike manier deur die Jordaan heengelei en in die beloofde land ingebring het. Dit het Hy gedoen toe Hy aangewys het dat die 10 verspieders gelieg het deur te sê dat hulle die land nie kon ingaan nie. Dit het Hy gedoen toe Hy na 40 jare die volk gebring het in die land wat Hy eeue gelede belowe het om aan hulle te gee. Dit het Hy gedoen toe Hy die leuen van die Egiptenaars getoon het. Hulle sê wel dat die Here sy volk blykbaar nie ’n eie land kan gee nie. Maar nou moet hulle wel swyg. Hul gespot moet nou wel ophou. Was daar ooit ’n God wat sulke wonders gedoen het? Was daar ooit ’n volk wat so die onoorbrugbare struikelblok van die Jordaan oorbrug het? Die wonderlike intog in die beloofde land moes die Egiptenare opnuut weer die stuipe op die lyf gejaag het. Het die Here Homself nie op vergelykbare manier bewys by die Skelfsee, tot dodelike verskrikking van die Egiptenaars nie?

Die Here het die smaad wat op die Israeliete gelê het, afgewentel. Die 40 jare van rondswerwing in die woestyn is verby. Die periode van die uittog is verby. Die doel van die uittog is bereik. Israel staan in die beloofde land. Israel se roem in die Here hul God, blyk nie tevergeefs gepraat te wees nie. Die Here het opnuut bewys dat Hy die almagtige en troue God van Sy volk is. En op watter manier! Hy vervul al Sy beloftes.

En daarby behoort ook die onderhouding van die sakramente. Dit behoort in die liggaam van mans en seuns geskryf te staan. Dit moet aan hulle verseël word. Daarom die onmiddellike opdrag na die intog: besny die Israeliete. Sorg daarvoor dat almal weer besny is. Bedien die teken van My oorwinning. Lê dit vas in die liggaam van seuns dat Ek dit is wat alle struikelblokke wegneem. Daarop wys immers die besnydenis. Van ons kant is daar steeds die sonde wat die omgang in die verbond blokkeer. Maar van sy kant ruim God genadig die belemmeringe op. Die besnydenis gee aan die reiniging van die sonde. Dit laat sien God se vergewing van sondes deur die komende offer van Jesus Christus. Die bloed wat vloei by die besnydenis wys mos heen naar die bloed van Jesus Christus, wat reinig van alle sondes. Op grond daarvan ontsluit God ’n toekoms vir ’n sondig volk. Daarom, die opdrag van die Here: lê by die seuns en mans vas dat Ek dit is wat red. Dat Ek My beloftes nakom. Laat hulle almal weer in hul liggaam die teken van die verbond dra. Daar mag geen onbesnede wees nie. Want hierdie volk is vir My heilig. Hierdie volk is My volk. En dat moet hulle almal goed weet. Hulle moet ook vir My gaan stry. Ek wil deur hulle gedien word. Maar dan moet hulle wel My merk- en veldteken dra. Soos u vandag gedoop moet wees. Stryders van God moet gemerkte stryders wees. Onderskei deur God se merk en veldteken.

En na die besnydenis volg die viering van die Pasga. God het die smaad van Egipte afgewentel. Hy het die bevryding uit Egipte tot ’n heerlike einde gebring. Die doel daarvan is bereik. Israel staan in die beloofde land. Wie sou dan nie fees vier nie? Sou daar ooit ’n dag gewees het wat so om die viering van Pasga geroep het, as juis hierdie dag? Saam met hul God mag hulle fees vier van die oorwinning, die fees van God se redding. God het die smaad weggeneem. Hulle het die land ingetrek. En hulle mog tydens die fees alreeds geniet van die vrugte van die land. Die manna is nie meer nodig nie. Kanaän behoort reeds aan hulle. Met alles wat die land hulle kan aanbied.

Gemeente, wat ’n pragtige voorbereiding op die stryd wat moet kom. Kon die Here ’n beter begin gegee het in die beloofde land? Die onderhouding van die sakramente is voluit ’n militêre operasie. Daardeur word die toekomstige militêre operasies moontlik gemaak. Israel kan gaan stry in diens van die Here en versekerd wees van die oorwinning. Die sakramente vorm immers ’n seel en ’n betroubare getuienis van die trou van die Here.

So word ook ons vandag gesterk deur onse God. Ons weet weer dat God alleen red en ’n toekoms ontsluit vir ’n volk wat uit hulle self sondig is. Ons ervaar vandag nog die smaad van die ongelowiges. Ons hoor mense sê: waar is julle God? Ons heet erfgename van die wêreld, maar wat sien ons van ons erfenis? Sien Romeine 8:14-25. Ons heet kinders van God, maar die openbaarmaking van die kinders van God moet nog kom (vers 19). Ons sug nog in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam (vers 23). Ons leef nog in die woestyn. Sien Openbaring 12. Deur ons eie ongeloof en sondes veroorsaak ons self baie kere die smaad van die ongelowiges. Tog sal God ook die smaad wegneem. Vir elkeen wat glo. God vervul Sy beloftes. Nie een sal onvervul bly nie. Hy sal die verlossing wat Hy begin het, voltooi. Hy sal sy kinders vas en seker lei in die hemelse Kanaän in. Op grond van die versoening deur Christus se bloed. Die doop is daarvan ’n teken en seel. So ook die heilige nagmaal.

Hou daarom die sakramente in ere. Bedien die doop sodra dit kan. En vier die nagmaal wanneer dit moontlik is. As ’n bevestiging onderweg van God se oorwinning deur Jesus Christus.

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)