Ons lofsang op God moet verdiep word

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Ps. 27: 1, 3
Ps. 27: 4, 6
Ps. 111: 1 - 5
SB. 8: 1, 2
SB. 8: 3, 4, 5
Lees: Rom. 9: 6 - 33
Teks: D.L. 1 par. 15 - 18

Broeders en susters, geliefde gemeente,

Vandag kom ons by die laaste deel van die eerste hoofstuk van die Dordse Leerreëls oor die uitverkiesing. En laat ek u vantevore sê, dis nie die maklikste deel nie. Want nadat steeds van die genade van God se verkiesing sprake was, moet ons nou aandag gee aan die vreeslike werklikheid van die verwerping. En daarvan hou ons as mense glad nie. Dit is dan ook die rede dat deur baie teoloë wat die werklikheid van God se verwerping nie summier wil ontken nie, meestal min of meer verontskuldigend oor die verwerping gepraat word. In die sin van: "Ongelukkig is daar ook 'n keersy van God se verkiesing, naamlik die verwerping. Dit is die duistere rand rondom die lig van die uitverkiesing. Helaas moet ons dit ook bely.... " En so voel ons eintlik ook, as dit oor die leer van die verwerping gaan. Maar tog is dit nie die pad wat die Dordse Leerreëls vir ons wys nie. Daar word eerder die omgekeerde weg gegaan. In die Dordse Leerreëls is dit so, dat die realiteit van die verwerping, die lig van die goddelike uitverkiesing nog helderder laat straal. Die goddelike genade kom nog kragtiger na vore. Ja, vanuit die vreeslike werklikheid van die verwerping, volg selfs 'n kragtige opwekking om jou sonder enige reserwe oor te gee aan die genadige beloftes van die Here.

En so vorm die belydenis van die verwerping die ondertone van die loflied van die kerk, op God se genadige verkiesing. Alle oppervlakkigheid in lofprysing van God se Naam, word hier oorwin. Die lofsang op die Almagtige God en Vader van Onse Here Jesus Christus, ontvang hier 'n geweldige verdieping. Daaroor gaan dit in die preek van vandag:

ONS LOFSANG OP GOD MOET VERDIEP WORD.

  1. Deur God se openbaring oor die verwerping te erken.
  2. Deur God se belofte oor ons verkiesing vas te hou.

1. Opsetlik het ons die lofsang op God, vandag as tema gekies.

Immers op die eerste gehoor klink 'n leer oor goddelike verwerping as 'n dissonant. As 'n valse klank in 'n pragtige lied oor God se heerlike uitverkiesing.

En tog is dit heel duidelik nie die bedoeling van die Dordse Leerreëls nie. Paragrawe 15 en 16 bedoel beslis nie om die blye belyder van die genade van God se verkiesing nou 'n toontjie laer te laat sing nie.

Inteendeel, ek is daarvan oortuig dat uitsluitend 'n gelowige, wat diepte van die genade van sy uitverkiesing gesien het, en daaroor van harte sy God prys, dit aankan om ook iets te sê van die huiweringwekkende werklikheid van die verwerping deur God. Slegs in geloof en in volkome vertroue op die almag, die wysheid en die goedheid van God, kan jy dit aan om ook van God se verwerping te spreek.

Buite die geloof om is alle praat oor verwerping alleen maar bog. Oor verwerping kan jy slegs vanuit 'n ware geloof spreek.

En 'n waar geloof begin volgens Sondag 7 met 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in Sy Woord geopenbaar het, as waar aavaar.

Wel, God het openbaring gegee oor Sy verwerping. Onder andere in ons Skrifgedeelte, Romeine 9, waar Paulus in vers 18 tot die gevolgtrekking kom: "So is God dan barmhartig oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil". En daardie openbaring sal ons moet aanvaar. As ons tenminste God reg wil ken, en nie slegs wil glo in 'n selfontwerpte beeld van God, wat ons as passend beskou nie.

Dus die openbaring omtrent die verwerping, behoort by die Bybelse openbaring oor God. En daarom as ons God wil ken in ons lewe, as ons God wil prys vir sy dade, sal daar ook 'n lofprysing moet kom oor sy optrede in verkiesing en verwerping.

Kom ons kyk saam na paragraaf 15.

Ongelukkig moet ek u nou opmerksaam maak op 'n geweldige vertaalfout in die Nuwe Vertaling. Of miskien is dit ook wel gelukkig, dan kan ek die punt waar dit omgaan duidelik maak.

Nuwe Vertaling: Verder toon die Heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan, en verkondig dit nadruklik aan ons. (punt). Nuwe sin. Dit betuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie.

Wel, my probleem is dit. Hier staan twee sinne los langs mekaar.

Die eerste sin praat van die verkiesing. Die tweede sin van die verwerping.

En daarmee word verkiesing en verwerping twee min of meer langs mekaar staande sake. Daar is verkiesing, en daar is verwerping.

Maar so word die eerste sin 'n sinlose herhaling van paragraaf 14. Kyk maar! En die eintlike punt word gemis. Dit is naamlik die verband tussen verkiesing en verwerping, vanuit gelowige perspektief.

Die Ou Vertaling het die verband nog wel.

Daar staan dit so: (kort saamgevat) Die genade van die verkiesing word die meeste aangewys en aangeprys deur die openbaring dat nie alle mense verkies is nie.

Sien u die verband: Die genade van die verkiesing word veral sigbaar in die feit dat nie almal verkies is nie. Want dit maak die genade juis tot genade. Sê nou dat alle mense van die wêreld uitverkies is: Wat bly oor van genade vir die gelowige. Genade vir almal, beteken tenslotte mos: genade vir niemand nie.

Maar paragraaf 15 wil vir die gelowige juis God se genade onderstreep, deur opmerksaam te maak op die feit dat nie almal verkies is nie. Daar is ook mense wat God verbygegaan het.

Dus gemeente, hou die verband goed vas: God se genade word aangewys, aangeprys selfs omdat daar ook openbaring in die Skrifte is oor verwerping.

Daarmee wil die Dordse Leerreëls maar sê: Daar is nog meer rede om God te prys, as u weet van Sy verwerping van sekere mense.

Hy het nie vir alle mense besluit om hulle die saligmakende geloof in Christus te skenk nie. Hy het ook besluit in Sy geregtigheid om sekere mense 'n ewige straf vanweë hul sondes, te gee.

Natuurlik het ons as mense hier talle vrae om te vra. Wie is dan eintlik verantwoordelik vir die sonde? 'n Verworpene kan daar tenslotte tog niks aan doen as hy al van ewigheid verwerp is nie? Vrae genoeg. Ons redenerende verstand kan steeds weer nuwe vrae opwerp. Ons sou ook kon probeer om al die tekste oor verwerping, verharding, oor die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is (Rom. 9: 22), so te buig en te draai, dat dit in ons dinkvermoë in pas. Ons sou kon redeneer en redeneer.

Maar die tekste van God se Woord bly staan! Hoe moeilik ons dit ook vind. Die tekste bly staan, omdat God Self bly staan. God Self gee nie pad vir nuuskierige mense wat Hom vir die regbank van hul menslike verstand of hul menslike gevoel wil daag nie.

Hier kan ons maar net buig voor God Self.

Want dit wil die Dordse Leerreels vir ons leer: Dink daarom, ons het hier met God te doen! Met die God wat Hom ontferm oor wie Hy Hom wil ontferm, en wat verhard wie Hy wil.

Hoe sal ons as mense teen hierdie God kan argumenteer?

Paulus self leer ons hier eerbied vir die majesteit van God, naamlik as hy op ons teëwerping uit Romeine 9: 19: As God dan verwerp, waarom sal Hy dan nog iets aan iemand kan verwyt? die volgende antwoord gee: Wie is jy, o mens, dat jy teen God antwoord?

En dan gebruik Paulus die bekende beeld van die pottebakker aan wie dit vrystaan om die een klomp klei tot 'n sierlike voorwerp uit te werk, en die ander een 'n afvalbak om vullis in weg te gooi.

En dan is die toepassing: God maak voorwerpe om Sy toorn oor uit te giet, God skenk ook verworpenes die lewe op aarde, juis om die heerlikheid van Sy barmhartigheid nog helderder te laat uitkom.

Juis om van Sy uitverkorenes 'n des te groter lofprysing te ontvang.

En daarom, as ons as gelowiges let op die realiteit van die verwerping, dan besef ons nog beter wat nou 'vrye genade' is. Dit is blykens die opskrif van Romeine 9 ook wat Paulus vir ons wil leer: Daar staan: die volstrekte vrymag van God se genade. God is aan niemand genade verplig nie. God is volkome vry in Sy genadebetoon. In die Bybel leer Hy vir Sy uitverkore volk, dat daar geen noodsaak was om mense te verkies nie. God kan anders, en Hy doen ook anders!

Onse God is naamlik 'n verterende vuur!

En so kom uit die leerstuk van God se verwerping met des te meer krag, die roeping na ons toe, om te leef van Sy genade. Hierdie God wil u Vader wees! En daarom: Span u in vir 'n lewe van dankbaarheid! Julle weet tog dat God die sonde haat. En dat die vuur van Sy toorn oor alle sonde van mense uitgaan.

Laat niemand meen dat die leer van die uitverkiesing hom ooit laat leer as 'n oorkussing van valse gerustheid nie. Inteendeel, daardie leer spoor die uitverkorenes juis aan tot trou in diens van die Here, tot ywer in goeie werke, tot liefdebetoon aan sy godgegewe naaste.

Met dit alles bly nog 'n klomp vrae oor, oor die presiese werking van die goddelike verkiesing en verwerping.

Maar dis nie so erg nie. Dis nie erg om met onbeantwoorde vrae te lewe nie.

Wat wel erg is, is dat mense altyd weer sal probeer om die Evangelie van Christus van sy ergernis en van sy skerpte te berowe. Wel, laat ons maar nie wyser as God wil wees nie.

Ons moet maar aanvaar dat ons menslike dinkvermoë beperk is. As ons God se verkiesing en God se verwerping regtig wil verklaar, dan wil ons Godself verklaar. Wel, die mens wat dit probeer, sondig teen die majesteit van God.

Laat ons maar bly binne die grense vir ons gestel.

Paragraaf 15 wys vir ons so 'n grens: God is hoegenaamd nie die bewerker van die sonde nie.

Al ons logiese dinkvermoë, haak vas by hierdie punt God is nie die bewerker van die sonde nie. By elke redenering wat ons oor God se verwerping bedink, of by God se absolute leiding van die lewe op aarde, kom ons onherroeplik uit by die gevolgtrekking: God het Self die sonde bedink, God het Self die sonde beplan, God is Self verantwoordelik vir die sonde wat ek doen. En dan sê die Dordse Leerreëls: NEE, NEE, NEE. God is hoegenaamd nie die bewerker van die sonde nie. God bly die hater en die wreker van die sonde.

En tog, Hy verkies en Hy verwerp. Wel, sien daarin maar God Se Majesteit. Hy is die heerser oor die sonde. Ondanks ons sonde, ondanks God se haat teen ons sonde, sien Hy tog nog kans om mense te red. En Hy doen dit in 'n nimmer falende verlossingsplan, wat Hy van ewigheid af gereed het.

Prys Sy Naam!!

2. Ons lofsang op God moet verdiep word, deur God se belofte oor ons verkiesing vas te hou.

Ons het nou wel verstaan wat die doel is van die openbaring oor God se besluit van verkiesing en verwerping. Die bedoeling is dat ons die heerlikheid van God wat daarin so wonderlik uitkom, sal eer. En dan is dit glad nie nodig om bang te wees vir sekere onbegryplikhede van die verkiesing nie. Dan sal ons ook nie sê: Ag laat ons oor die verkiesing maar nie praat nie, want daarvan verstaan ons tog niks nie. Nee, waar openbaring van God is, mag ons nie swyg nie.

Waar God spreek moet ons antwoord.

Waar God swyg moet ons stilbly.

As 'n mens in gehoorsaamheid na die Bybelse openbaring luister, dan mag jy in God se hart kyk. En as gehoorsame kind, weet jy dan baie goed waaroor jy moet spreek en waaroor jy moet swyg.

Jy moet swyg oor die waarom van verkiesing van die een en die verwerping van die ander. Maar jy moet spreek oor die 'dat' van die verkiesing en verwerping. Jy moet selfs sing oor jou verkiesing deur die genade van God.

En as jy nie seker is van die feit of jy nou wel of nie verkies is nie, as jou gewete jou steeds pla dat daar nog soveel verkeerd is, as jou geloof soms deur allerhande twyfels dreig weggedruk te word, as jy dit maar moeilik vind om steeds gehoorsaam te buig vir die Woord van die Here, hou vol. Gebruik die middele wat God gegee het. Lees in Sy Woord, oordink dit, bid om versterking van jou geloof, vra om bystand van die Heilige Gees, verwag veel van die sakramente wat God gegee het, dan waarborg die Here, jy sal definitief verder kom, jy sal beslis anders gaan voel, beter gaan voel, dankbaarder gaan voel. Hou net vol met die middele van die Heilige Gees te gebruik.

En laat die gedagte van moontlike verwerping jou nie pla nie. Want jy is nie verwerp nie, ook al kan jou gevoel soms so sê.

Nee, die mense wat sonder gewetensbeswaar hulle oorgee aan 'n lewenstyl waarin vir God en Sy gebod nie plek is nie, laat hulle verontrus wees oor die erns van God se toorn, en oor die huiweringwekkende realiteit van goddelike verwerping.

En so bied die Dordse Leerreëls vir die ongelowige, onboetvaardige sondaar 'n ernstige waarskuwing, maar vir die gelowige bied die Leerreëls 'n kostelike troos. 'n Troos wat spesifiek onder woorde gebring word vir ouers wat hul kinders op jong leeftyd aan die Here moes afstaan. Hulle hoef nie te twyfel aan die verkiesing en saligheid van hul kind nie. En dan word gewys op die werklikheid van die Verbond. In die Verbond (al dan nie bevestig met die teken daarvan, die Doop) mag gelowige ouers die verkiesende God besig sien. In die Verbond sê die Here vir die ouers: My kind!

En soms dieselfde dag al moes ouers dit huilende erken: Ja, Here U kind! In ewigheid U kind. Verbond en verkiesing is nie presies dieselfde nie. Immers, vir 'n verbondsbreker is die weg van die ewige lewe afgesluit.

Maar Verbond en Verkiesing lê wel in een lyn.

Die een lyn van die liefdevolle God. En in geloof mag ons daarna gryp. En so wys die Dordse Leerreëls hoe die leer van God se verkiesing heel prakties troos bied in 'n situasie van diep verdriet. Daar is troos vir elkeen wat die gang van die verkiesende God in Sy lewe wil opmerk.

Hou daardie troos vas, gemeente. Ook in hierdie tyd, die laaste dekade van die twintigste eeu. Dis amper onvoorstelbaar hoe die wêreld vandag in so 'n enorme stroomversnelling raak. Ons kry nie die tyd om die een groot verandering te verwerk, of die volgende verandering is al weer daar. 'n Mens probeer besin op 'n nuwe situasie, maar halfpad jou besinning is daar reeds 'n nuwe situasie. Magte en kragte roer in vandag se wêreld, en daar is geen mens wat dit nog in die hand kan hou nie.

Wat is ons geseën gemeente! Wat is ons bevoorreg dat ons weet dat daar Een is wat alles in Sy hande hou. Die wêreldgebeure, die landelike gebeure, die gesinsgebeure, die persoonlike gebeure. Hy bestuur dit alles na Sy doel. En Sy doel is: Sy uitverkorenes moet ewig met Hom lewe, om Hom altyd te loof en te prys.

Wees so getroos, gemeente! U lewe en lewensloop het 'n diepe fondament. Dit is gefundeer in die liefde van die verkiesende God! O God wat is U groot!

Hoe ondeurgrondelik is U in U besluite! Maar hoe heerlik is U in U openbaring van U liefde. Uit U, en deur U, en tot U is alle dinge. Aan U is die Lof en die heerlikheid, in alle ewigheid.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)