'n Danklied van verlostes

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

Ps 139: 1, 2, 3
Skb 28: 1-4
Ps 116: 7-10
Geloofsbelydenis
Lees: Psalm 116
Teks: Sondag 52

Brs en srs,

As ons hier oor geloof praat bedoel ons die geloof van mense in God. Die mens staan in 'n sekere verhouding tot God.

Uit die Bybel leer ons dat God van die verhouding verwag dat dit 'n verhouding van liefde moet wees. Hyself het namelik uit liefde daardie verhouding begin.

In sy liefde was Hy die eerste. Hy bly ook die eerste. In sy liefde wil Hy dan ook alles gee. En Hy doen dit ook. Hy vloei so oor van liefde dat Hy maar net gee en gee.

Alles is genade. Dit kan ons vasstel.

Verwag God ook iets van ons terug?

Laat ons eers die vraag anders stel. Wat verwag iemand wat liefhet terug vir sy liefde?

Betaling? Natuurlik nie. Angs? Nooit!

Nee iemand wat liefhet verwag iets anders terug. Liefde. Dankbaarheid. Blyheid.

Wat verwag God dus van ons terug vir sy liefde?

Slegs liefde.

Maar as ons liefhet wil ons darem ook iets doen. Ons wil na die aard van die liefde mos ons liefde graag wys. Wat kan ons dan gee aan God?

Die vraag het die digter van Psalm 116 homself gestel.

Wat sal ek die Here vergeld vir al sy weldade aan my?

Hy weet maar een antwoord.

Hy gaan 'n lied maak. 'n Danklied. 'n Loflied.

Ek sal U 'n offer van danksegging bring en die Naam van die Here aanroep.

Gemeente, vanmiddag is ons aan die laaste sondag van die Heidelbergse Kategismus.

Die Heidelbergse Kategismus het uitvoerig vertel hoe ons verlos is deur Jesus Christus. Daarby het steeds weer uitgekom dat in ons verlossing die Here alles self gedoen het. Alles is genade!

En daarom bly tenslotte vir ons met as vir die digter van ps 116 niks anders oor as om 'n danklied aan te hef nie.

'n Loflied op die grootheid en majesteit van onse God.

Hy bewaar ons in die stryd van die lewe.

Hy ondersteun ons so dat ons nie definitief in die mag van die Satan oorgelewer bly nie maar dat ons as vrye kinders van Hom vir ewig Sy Naam kan prys.

Ons tema vir die preek van vanmiddag formuleer ons in aansluiting by psalm 116 soos volg:

'n Danklied van verlostes

  1. Dit is 'n danklied in ootmoedigheid
  2. Dit is 'n danklied in vrymoedigheid

By die begin van die bespreking van die Onse Vader stel die Kategismus vas dat die gebed die vernaamste in die dankbaarheid is wat God van ons eis. Noudat ons vanaand aan die slot van die Onse Vader kom, mag ons vasstel dat ons hier aan 'n hoogtepunt toe is.

Die slotbede van die Onse Vader word gevolg deur 'n lofprysing op die majesteit van die Here.

Ons wil vanaand die laaste bede (Lei ons nie in versoeking nie) in nou verband sien met die lofprysing (Aan U behoort die Koninkryk). Want hulle het alles met mekaar te doen.

Die Here verwag van ons inderdaad 'n lofprysing.

Maar Hy soek nie 'n goedkope loflied nie.

Hy vra nie 'n oppervlakkige Halleluja nie.

Hy soek 'n loflied waarin aan Hom al die eer gegee word.

Sy Naam alleen moet geprys word.

Want en daarmee is ons by 'n kerntema van die Kategismus en van die gereformeerde leer: Dit is genade alleen waardeur ons gered is.

En dit is juis die sesde bede wat dit so heel nadruklik onderstreep.

Lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die bose.

Volgens die verklaring van die Kategismus beteken dit:

Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik kan staande bly nie.

Hier begin ons dus om ons eie swakheid te bely.

Niemand van ons is op eie krag in staat om versoekings te hanteer nie.

Voor ons weet wat gebeur, het ons al klaar in versoekings geval, tensy God self ons staande hou.

Kom ons kyk eers na die woord versoeking.

Wat is 'n versoeking?

Ons ken die woord wel uit die geskiedenis van die Here Jesus.

Hy is op 'n sekere oomblik in versoekings gelei.

Die Heilige Gees lei hom aan die begin van sy optrede na die woestyn en dan kry die Satan sy kans om Jesus uit te probeer. Hy kom met 'n hele paar versoekings om die krag van die middelaar te toets. Dit gaan steeds ongeveer so, hy bring Hom eers in 'n situasie waarin hy maklik tot 'n sonde kan kom. Hy spieël die sonde as baie aantreklik voor. En hy probeer dit nog te ondersteun met 'n woord uit die Bybel.

Soos u weet het die Here Jesus in die situasie al die versoekings weerstaan.

As ons aan die verhaal dink kan ons 'n hele paar kenmerke van 'n versoeking optel.

'n Versoeking gaan uit van die Satan. Hy probeer jou te laat val. Hy maak daarby handig gebruik van die situasie. En verder sal hy steeds op soek wees na 'n swak plek by jou.

Dit van die kant van die Satan.

Maar Satan is nie die enigste wat by so 'n versoeking betrokke is nie.

Die Bybel vertel namelik ook dat die Here Jesus deur die Heilige Gees na die woestyn gelei is om versoek te word.

Dit beteken dat God self ook betrokke is by die situasie. Wat hier gebeur met die Here Jesus is heeltemal volgens God se bedoeling.

Want die Here Jesus moet hierdie toets ondergaan. Hy moet op die proef gestel word.

Hy moet van Godsweë as middelaar beproef word.

Hieruit kan ons iets leer oor wat versoekings is.

'n Versoeking is 'n situasie waarin jy kan sondig.

Die hele lewe is natuurlik vol van sulke situasies.

'n Mens kan enige tyd sondig. Dus versoekings is orals en altyd.

En tog is die een versoeking nie soos die ander nie.

Net so min as die een sonde ewe ernstig as die ander is nie.

'n Mens kan b. v sondig in sy verhouding tot God, terwyl die verhouding self nie soseer in gevaar is nie. Laat ons dit vir die duidelikheid vergelyk met 'n voorbeeld uit die lewe van elke dag.

Iemand wat 'n keer ten onregte kortaf teenoor sy vrou optree sondig wel in die verhouding met haar. Maar die verhouding self hoef daarby nie onmiddellik in gevaar te wees nie. Die verhouding self is geding in 'n situasie van owerspel b. v.

So is dit ook in ons verhouding met die Here. Ons het voortdurend ons tekortkomings in die verhouding. Ons moet die tekortkomings ook as sondes bely. Maar die verhouding tot God is nie altyd onmiddellik op die spel nie.

Natuurlik is daar ook situasies waar dit wel die geval is. Jy kan in sekere omstandighede radikaal jou vertroue in die Here opsê.

Soos b. v. die verleiding vir Job baie groot was om sy God vaarwel te sê. Om die verhouding summier te verbreek.

Job was 'n sondaar soos ons. Hy het elke dag sy tekortkomings teenoor die Here bely.

En tog gee die Skrif van hom die getuienis: By dit alles het hy met geen woord gesondig nie.

Job was in 'n situasie van 'n lewensgroot versoeking. Namelik om sy vertroue in God totaal op te sê.

Op hierdie punt moet ons nog iets belangriks oor versoekings sê. Namelik dat jy by 'n versoeking nie uitsluitlik in die hande van Satan is nie.

Enige versoeking wat jy ontmoet in jou lewe is vir jou tegelykertyd ook 'n beproewing. Die Here sien jou en kyk wat jy doen. Soos die hemel sy asem ingehou en toegekyk het hoe Job gaan doen in die toets wat oor sy lewe gaan kom.

Want elke versoeking is 'n beproewing van 'n mens se geloof.

Of jou geloof inderdaad egte geloof is.

En wat is nou egte geloof?

Dit is dat jy as mens bereid is om jou totaal uit te lewer aan die genade van God. Dat jy heeltemal jouself aan Hom toevertrou wat ook al gebeur. Want dan alleen kan jy staande bly in vir 'n mens onhanteerbare situasies. Dan alleen kan jy standhou in onverdraaglike versoekings.

Waarom het Job nie geval in die versoeking om God vaarwel te sê nie?

Ons het gesien: Omdat God self hom staande gehou het.

En waarom het God hom staande gehou?

Omdat Job nie sy krag by homself gesoek het nie. Maar sy lewe heeltemal in die hand van die Here gelê het.

Ofwel omdat Job alles van God se genade verwag het.

Nou keer ons terug na die sesde bede. Wat bedoel jy as jy vra: Lei ons nie in versoeking nie.

Vra jy dat jy nooit beproef sal word nie? Bid jy om 'n lewe sonder probleme?

Dit kan mos nie.

Wat jy wel bid is dit: Here bring ons nie in so'n situasie dat die versoeking vir ons te groot raak nie.

Niemand hoef begeer om self 'n situasie soos Job s'n te moet hanteer nie.

En waarom begeer ons dit nie? Omdat ons te goed besef dat ons eie kragte te gering is. Ons kan enige tyd val.

Kyk hoe groot persone uit die Bybel sommer tot 'n val gekom het waarin hulle die verhouding met God totaal verbreek het.

Dit maak ons ootmoedig.

Ons besef dat ons geen haar beter is nie.

Dit is hoekom die Kategismus hier ook met soveel woorde ons eie swakheid onderstreep. Ons is so ongelooflik kwesbaar.

En daarom bid ons: Here lei ons nie in 'n versoeking waarin ons nie kan volhou nie. Spaar ons die omstandighede waarin ons geloof vir 'n te swaar toets te staan kom. Want ons is maar so swak.

Daardie besef van swakheid moet ons ook waarsku dat ons onsself in sekere gevaarsituasies nie moet begewe nie.

As jy self nie 'n groot bybelkennis het nie, moet jy nie sommer jou oopstel vir die beinvloeding van 'n ketter nie.

Bly liewer daar weg. Want jy sommer tot 'n val kom.

As jy self jou seksuele begeertes nie onder beheer het nie, begeef jou nie in situasies waarin jy maklik tot sonde kom.

As jy moeilik nee kan sê vir vriende wat jou na verkeerde plekke bring nie, breek met hulle. Pas jouself op.

Jy kan mos nie eerlik bid: Lei my nie in versoeking nie, en tegelykertyd jou voortdurend in allerhande situasies begeef waar jy moeilik kan kop uittrek.

As julle hiervan 'n voorbeeld uit die bybel wil hoor: dink aan Simson. Hy het altyd en ewig die verkeerde plekke en die verkeerde vriende en vriendinne gesoek. Dit het keer op keer sy val bewerk.

Dus hier gaan gebed en lewensstyl duidelik saam.

Bid dat God jou nie in versoeking lei nie. En as daar dan tog beproewings kom, hou moed, die Here sal jou ondersteun.

Maar vermy self situasies wat jy nie kan hanteer nie.

Wie dit doen gee te kenne dat hy iets van eie swakheid besef.

En dit is die ootmoedigheid wat nodig is om in jou loflied op God te kan volhard.

2. 'n danklied in vrymoedigheid.

Ons het wel verstaan dat ons as gelowiges baie nederig praat in antwoord 127.

Ons lê heel ons lewe in God se hand.

Daarmee word alle selfversekerdheid van ons weggeneem.

En tog word gelowige mense nie onsekere mense nie.

Hulle mag versekerd wees en kragtige woorde gebruik.

Immers juis waar ons ons eie swakheid bely het, kan ons groot spreek van God se krag.

Ons staan nog steeds middein 'n stryd.

Maar die afloop van die stryd is vir die ware gelowige nie onseker nie.

Daar kom mos 'n oorwinning. 'n Oorwinning deur die krag van die Here. En in sy oorwinning mag ons deel.

En daarom kan ons ons gebed waarin ons al ons node opdra aan doe Here so kragtig besluit met 'n lofprysing.

God is die Koning en Hy is die Almagtige. Hy sal sy doel bereik.

Want aan u behoort mos die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Die redding, die verlossing is seker.

Met hierdie lofprysing aan die slot van ons gebed versterk ons onself as gelowiges in die krag van God.

Ons weet sy Koninkryk sal kom.

En in sy Koninkryk sal daar vir die Satan geen plek meer wees nie. En daarom het daar dan ook 'n einde aan al die versoekings gekom.

Beproewings sal ook nie meer nodig wees nie. Want ons is dan klaar beproef.

Aan God die heerlikheid.

God is 'n God van heerlikheid, van glorie.

Terwyl die stryd nog gaande is kan ons reeds spreek van die glorie van die Here.

Ons kan dit nie slegs nie. Ons moet.

Immers ons is mos reeds sy verlostes.

En wat kan ons hom vir sy verlossing vergeld?

Niks anders as ons danklied nie.

Die kostelike lofprysing van hierdie gebed ontvang tenslotte nog 'n onderstreping in die slotwoord: Amen!

Amen - dit is 'n woord van instemming met wat voorafgegaan het.

Amen - dit is die lewenslied van al die gelowiges.

Ons kan nooit genoeg amen sê nie.

Want alles kom mos van die Here. Ons kan slegs met ons Amen instemming en dankbaarheid betuig vir die weg wat God met ons wou gaan.

Met ons amen op die evangelie sluit ons aan by die groot skare van amensangers wat die Here deur die loop van die eeue vir Hom versamel het.

Antwoord 129 verklaar die amen as die slotwoord van die gebed.

Maar vir hierdie geleentheid kan ons dit ook maar rustig betrek op heel die Kategismus.

Die Kategismus is mos die belydenis van die kerk.

Die Amen van die kerk op God se beloftes.

Die Kategismus het begin met die vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Op daardie vraag gee nie net sondag 1 'n antwoord nie, maar feitlik is heel die kategismus 'n antwoord op die vraag van die begin. Wat is jou enigste trroos?

En nadat daarop 'n antwoord gegee is in 52 sondae word ons nou almal opgeroep om daarop ons amen te sê.

Amen, ons stem saam. Dit is inderdaad ons enigste troos om die eiendom van Jesus Christus te wees.

Amen, nou sien ons ons dit. Alles is enkel genade.

Amen.

Middagdiens 27 Sep 1992

Liturgie: 

(kyk in preek)