Ons Hemelse Vader vergeef nie outomaties nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 51 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 25: 4, 5
Gebed
L. Psalm 51 & 2 Korinth. 5: 17-6: 2
Ps. 32: 1, 3
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 86: 2, 3
Seën

Broeders en susters,

Die vraag of die HERE ons ons sondes wil vergewe, is 'n vraag wat ons nie gou in ons gebede sal vergeet nie.

Wanneer die Kategismus in hierdie Sondae met ons weereens bespreek watter sake in ons gebede alles 'n plek moet kry, is daar heelwat dinge by waaraan ons nie altyd dink nie. Wie betrek byvoorbeeld in elke gebed die eer van God se Naam?

Of hoe dikwels is ons in ons gebede bewustelik met die koms van God se Koninkryk besig?

Maar die vraag of die HERE ons sondes wil vergewe- nee, dít sal ons nie sommer vergeet nie. Ons het dit tot 'n gewoonte gemaak om elke gebed met die vraag af te sluit.

Hierdie vraag moét ook wel 'n vaste plek in ons gebede inneem, broeders en susters, want ons hele bestaan, ons hele toekoms is mos afhanklik van die vergewing van ons skulde! As God sou ophou om ons sondes te vergewe, hou alles op. Dan verloor die lewe sy sin, sy uitsig. Dan sou die ewige nag oor ons lewe daal.

Maar ons mag pleit op God se ontferming oor sondaars en vergewing vra met 'n beroep op Christus se offer vir ons. En daardie vraag kan ons nooit te dikwels vra nie.

Dog hoe gaan dit meestal maar met ons, mense: hoe meer ons iets doen, des te minder besef ons nog wát ons doen. Gewoonte word by ons al gou gewenning. Reëlmaat word roetine.

Staan ook ons daaglikse gebed om die vergewing van ons sondes nie aan daardie gevaar bloot nie? Hoe maklik word die vraag om vergewing 'n soort afsluitende formule aan die einde van ons gebed, terwyl ons gedagtes al verby die "Amen" is: "Dit alles vra ons van U in die vergewing van al ons sondes, alleen om Jesus ontwil, Amen. " Of: "En vergeef ons ons sondes, nie uit verdienste nie, maar uit genade, Amen".

Mooie woorde, maar ook leë woorde omdat ons in ons hart ons gebed eintlik al klaar gebid het en net nog die gebruiklike slotformule uitspreek.

Maar as hierdie gebed 'n formule sonder inhoud word, is die fondament onder ons lewe besig om af te brokkel, gemeente. As ons nie meer met ons volle aandag en uit die grond van ons hart aan ons hemelse Vader vergewing vra nie, ontváng ons ook nie meer vergewing nie. En as daar vir ons geen vergewing meer is nie, is daar vir ons geen léwe meer nie.

Daarom wil ek vanaand vanuit God se Woord weereens aan u die noodsaak van die gebed om die vergewing van ons skulde duidelik maak. Ek verkondig u:

ONS HEMELSE VADER VERGEEF NIE OUTOMATIES NIE

  1. ONS MOET VRA
  2. ONS MOET WEET WAT ONS VRA
  3. ONS MOET WYS DAT ONS WEET WAT ONS VRA

1. Daar is mense wat meen dat hulle die gebed om skuldvergewing nie meer hoef te bid nie.

Nee, ek dink nou nie aan ateïste, aan moderne heidene nie.

Dit is mense wat hulleself opregte christene beskou. Hulle wil kinders van die HERE wees.

Maar hulle meen dat hulle, juis omdát hulle kinders van die HERE mag wees, alreeds die volkome vergewing van al hul sondes ontvang hét.

Die sonde behoort in hul lewe tot die verlede. Vroeër het hulle in die sonde geleef, maar toe het die dag gekom waarop hulle hul tot God bekeer en vergewing gevra het, en op dié dag het hulle die sonde vir altyd te bowe gekom. Hulle is weergebore christene wat in 'n nuwe lewe opgestaan het. Hulle sondig nie meer nie.

Hoekom sou hulle dan nog elke dag bid: "En vergeef ons ons skulde.... ".

U kan hierdie soort gedagtes raakloop in allerhande sektes. Daardie mense sing "Halleluja" oor die vergewing wat hulle eendag ontvang hét. Maar hulle smeek glad nie meer om vergewing wat hulle nog elke dag opnuut benodig nie.

Maar ook in die Gereformeerde teologie in hierdie eeu is daar 'n hele ruk geleer en geglo dat ons die Vyfde bede van die onse Vader eintlik nie kan bid nie. Dr Abraham Kuyper het in sy vermaarde Kategismusverklaring "E Voto Dordraceno" wat jarelank dié studiebron vir die predikante was by die voorbereiding van hul Kategismuspreke, by Sondag 51 geskrywe dat ons hierdie bede in die Onse Vader "nie sou verwag het nie. 'n Mens sou hier eerder 'n danksegging oor die vergewing as 'n bede om vergewing verwag". Die apostel sê mos in sy brief aan die Romeine, aldus nog steeds Kuyper: "Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, hét ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus". En ons het mos in Sondag 23 van die Kategismus geleer dat God aan my "die volkome genoegdoening, geregtigeid en heiligheid van Christus só toereken asof ek nooit enige sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het".

Nou ja, as ek dus klaar geregverdig is, vergewing van my sondes ontvang hét en weer voor God mag staan asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie- waarom moet ek dan nog bid: "Vader, vergeef my my skulde... "? Hulle ís mos vergewe. Hulle is nie meer daar nie. Hulle kan dus ook nie meer vergewe word nie, want hulle is klaar vergewe. Ek moet nie bid nie, maar dank.

Kuyper durf selfs so ver te gaan dat hy skryf dat alreeds menige kind van die HERE bewys het dat hy die vergewing van sy sondes nog nie ten volle glo nie deur nog steeds om vergewing te bly vra!

Kuyper het heeltemal geredeneer vanuit die vertrekpunt dat God alles alreeds voor die grondlegging van die wêreld oor sy kinders besluit het. Die HERE het van ewigheid sy kinders uitverkies, maar hulle toe ook reeds vrygespreek van hul sondes. Wanneer hulle gebore word, is hul sondes klaar vergewe om Christus ontwil. En as ons onsself nogtans skuldig voel teenoor God, is dit eintlik 'n gebrek aan geloof by ons. Ons twyfel dan aan God se vergewing. Ons is van ewigheid af vry van skuld.

Die meeste van u weet natuurlik, julle, seuns en dogters, het dit in die katkisasieklas geleer, dat hierdie gedagtes ook 'n belangrike rol gespeel het in Kuyper se opvatting van die doop. Die doop is volgens Kuyper die sigbare onderstreping dat ons sondes klaar afgewas ís. Behalwe as dit later in jou lewe blyk dat jy nie regtig 'n kind van die HERE is nie. As jy jou rug draai op die HERE, op sy verbond en op sy kerk, was jou doop ook sonder betekenis, net 'n vermorsing van water. Maar anders is die doop die bewys dat jy nie meer om vergewing van jou sondes hoef te vra nie: hulle is klaar weggewas!

Maar waarom het die Here Jesus Christus ons dan Self geleer om in ons gebed ook te vra: " Vader, vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe"?

Wel, Kuyper het daarvoor hierdie antwoord gevind: hierdie gebed is saam met die prediking, sakramente, huisbesoeke, katkisasieklasse ens. 'n hulpmiddel om ons telkens weer bewus te maak daarvan dat ons vergewing van God hét. Want ons voel dit nie altyd so dat God ons sondes vergeef het nie. Maar deur te bid: "Vergeef ons ons skulde", besef ons weer dat daar vergewing is.

Hierdie verklaring van die Vyfde bede het diep spore nagelaat in die Gereformeerde Kerke. U kry dit byvoorbeeld in die bekende Korte Verklaring op Mattheüs, waar by die uitlegging van die Onse Vader (Matt. 6) m. b. t. die Vyfde bede staan dat hierdie vraag "dien om die besef van skuldvergewing te onderhou". Maar ek het dit ook raakgeloop in 'n bundel Kategismuspreke van Gereformeerde predikante hier in Suid-Afrika.

Ek kan maar reguit sê, broeders en susters, dat Kuyper se hele teologiese systeem die Skrif geweld aandoen. Hier heers 'n skema oor die Skrif, sodat daar met eenvoudige woorde soos die Vyfde bede geknoei moet word omdat hulle nie in die skema pas nie.

Kuyper het niks verstaan van wat God se Woord ons leer oor die omgang van die HERE met sy kinders in 'n verbond.

Kom kyk nog 'n slag met my na Sondag 45, gemeente. Daar het ons nagedink oor die vraag waarom ons eintlik nog moet bid. God weet mos alles al van ons. Hy weet presies wat ek benodig, beter as wat ek dit self weet en kan vra. Waarom moet ek dan nog vra? Sondag 45 sê: "omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. "

God wil alleen gee as ons vra!

Waarom?

Wel, Hy wil 'n Vader vir ons wees en ons mag sy kinders wees. Maar 'n Vader en 'n kind práát mos met mekaar! Hulle luister na mekaar en reageer op mekaar.

So wil die HERE ook in sy verbond met ons omgaan.

Daarom is sy Woord aan ons nie net 'n blote mededeling oor dit wat Hy klaar van ewigheid af gedoen het nie. Sy Woord is die Woord van 'n Vader wat sy kinders in hul lewe van vandag lok, bemoedig, teregwys, waarsku......

En nou wil Hy hê ons moet reageer. Ons moet Hom dank vir sy liefde wat Hy so indrukwekkend aan ons bewys het en steeds bewys. Ons moet ook pleit op sy beloftes en dit wat Hy aan ons beloof het, van Hom vra.

Dit is vir die HERE so wesentlik in sy verbond met ons dat Hy ook slegs aan ons wil gee, as ons van Hom vra. Sonder so'n kommunikasie moet ons niks van Hom verwag nie. Ja, Hy is vol vergewingsgesindheid teenoor ons. En Hy kán ons ook vergewe want sy Eniggebore Seun het dit klaar vir ons verdien.

Maar Hy vergeef darem nie outomaties nie.

Onthou u nog wat ons in 2 Korinth. 5 gelees het? God kom na ons toe met sy "Woord van versoening". Maar daardie Woord is geen blote mededeling nie, dit is 'n beloftewoord, 'n oproep: "Laat julle met God versoen". En hoe laat 'n mens hom met God versoen? Deur met 'n beroep op Christus se werk vergewing te vra! Nie een keer en daarna nooit weer nie. Maar elke dag opnuut, soos hy ook elke dag opnuut om sy daaglikse brood vra.

Die taak van die prediking, en die betekenis van die sakramente is nie, soos Kuyper geleer het, om die kerkvolk van die vergewing bewus te maak nie, maar om hulle op te roep om die belofte van die Evangelie dat al hul sondes vergewe is, elke keer weer met 'n gelowige hart aan te neem. Die prediking dryf skuldige mensekinders met 'n gewete dat hul daagliks aankla dat hulle teen al God se gebooie gesondig en geeneen daarvan gehou het nie en nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is, na Vader toe om by Hom die vergewing van die sondes te soek.

Het u klaar vergewing van sondes, broeders en susters? Nee, u sal dit van Vader moet vra. Eers dan, en geen moment eerder nie, ontvang u dit. En u sal dit môre weer moet vra. En oormôre. En tot u dood toe.

Maar as u vra- is u gebed dan 'n bewys dat u die HERE eintlik nie volkome op sy Woord glo, soos Kuyper beweer het, nie?

Inteendeel, 'n daaglikse gebed om vergewing van u sondes is juis die beste bewys dat u Vader op sy Woord glo en aan sy Woord hou!

2. Maar dan moet ons natuurlik wel weet wat wát ons vra, broeders en susters. Dan moet ons gebed om vergewing van ons skulde meer wees as 'n gebruiklike afsluitingsformule aan die einde van elke gebed.

As ons aan mekaar vergewing vra, weet ons tog altyd heel presies waarvoor ons vergewing moet vra? Dan noem ons tog die ding by die naam en sê: "Ek besef dáármee het ek jou seergemaak. Ek is jammer daaroor. Wil jy dit vir my vergewe? "

Maar vra u ook altyd so konkreet vergewing aan Vader in die hemel vergewing?? Ja, ons weet almal ons is sondig. "Arme sondaars" sê die Kategismus en dit stem u natuurlik almal saam. Soos u ook almal saamstem dat ons "onbekwaam tot enigiets goeds is en tot alle kwaad geneig".

Maar daardie uitdrukkings bly so algemeen dat almal hulle daaragter kan verskuil. Ons is almal ewe sleg dus hoef eintlik niemand hom te skaam nie.

Ja, ons kan so algemeen en oppervlakkige oor die sonde praat dat ons eintlik baie oneerlik is. Omdat ons ons persoonlik glad nie so skuldig voel nie. Dit blyk byvoorbeeld tydens huisbesoeke wanneer daar konkreet en persoonlik vermaan moet word. Solank as wat daar tydens die gesprek oor ons sondigheid in die algemeen gepraat word, of oor die publieke sonde van 'n bepaalde persoon, gesels almal vroom en instemmend saam. Maar wee jou as die ouderlinge vervolgens ook konkreet die sonde in daardie gesin, in daardie huwelik, by daardie broeder of suster moet aanwys! Dan kom daar verset, verontwaardigde reaksies, ergernis.

Dis by die preke maar dieselfde: die dominee mag heelwat sê oor ons sondigheid in die algemeen, maar hy moet nie konkreet en toegespits die gebreke in die gemeente oopvlek nie. Dan deug sy preke skielik nie meer nie, dan preek hy die mense uit die kerk uit, word dan gesê.

Maar as dit nog dikwels so is, gemeente, wát vra u dan aan die HERE so dikwels as wat u vergewing van u sondes vra? Dink u van te vore na oor u skuld teenoor Vader voordat u u hande vou en u oë sluit om te gaan bid?

Ons meet die sonde nog veels te veel na menslike maatstawwe. Sonde is vir ons dan groot misstappe, publieke uitspattinge, dade wat in stryd kom met die burgerlike fatsoen...

Die egte sondebesef ontstaan eers as u die HERE as u Vader in die oë gekyk het. Die HERE is vir ons mos nie 'n ver en grillerige tiran aan wie se nukke ons uitgelewer is nie. Hy is nie 'n hoë amptenaar wat ons lewe bemoeilik met 'n hele klomp formele reëls en bepalings nie. Hy is nie 'n veeleisende baas wat jou enige tyd in die pad kan steek nie. Hy wil ons Vader wees.

En hoe 'n Vader! Kyk hoe kom Hy in die Bybel na ons toe: Hy is die ene liefde. Hy het ons as sy kinders die mooiste posisie in sy wonderlike wêreldhuis gegee. En selfs toe ons daardie posisie verspeel het het Hy ons nie weggestuur nie, maar alles in die werk gestel om ons weer as kinders terug te kry. So groot is sy liefde, dat Hy sy Eniggebore Seun in die hemel daaraan opgeoffer het om ons as sy kinders weer tuis te kry.

Mag hierdie liefdevolle Vader nie ons liefde vir Hom terug verwag nie? Meer vra Hy nie. Net ons hartlike liefde vir Hom. Moet maar kyk na sy Wet, sy huisreël: daarin vra Hy net liefde, vir Hom en vir mekaar. Maar so'n volkome liefde mág Hy ook van ons vra.

Daar word wel gesê dat ons lewe in God se oë kinderspel is. Wat ons doen en misdoen is so kinderlik dat God met 'n mate van humor daarop neerkyk.

Maar die Skrif leer dit anderste: God beskou ons wel as kinders, maar dit beteken nog nie dat ons lewe dus ook maar 'n kinderspeletjie is nie. Inteendeel, die HERE beskou ons as kinders wat volkome verantwoordelik is vir alles wat hulle doen. Hy vra rekenskap van al ons woorde, dade en selfs ons gedagtes. Ja, van elke ligsinnige woord wat ons gesê het, sal ons rekenskap moet gee, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel. Vader wil het dat ons hele lewe vir Hom moet wees. Tot in die diepste van ons begere.

En dan kyk Hy nie met humor nie, maar met hartseer op ons lewe neer.

Weet u wat sonde is? Dat ons hierdie Vader eenkant toe trap! Dat ons Hom brutaal ignoreer. Dat ons so met onsself besig is, dat ons eenvoudig van Hom vergeet.

U moet Vader in die oë kyk en sien hoe 'n verdriet u Hom aandoen- dan sal u u skuld teenoor Hom begin besef.

Sonde is nie net dat ons bepaalde dinge verkeerd doen nie. Dis nie net dat ons iets doen wat ons nie mag doen nie. Ons skuld teenoor Vader word veral ook opgebou deur alles wat ons nie doen nie. Daar skiet in ons lewe so veel tekort in opregte liefde vir Vader; en vir die naaste. Ons is so eiewys, selfsugtig, selfversekerd, kortsigtig... Ons leef asof ons die lewe in ons eie hand het en self 'n Paradys kan totstandbring. En Vader neem in ons lewe maar so'n beperkte plek is: in die kerk, en as ons bid, as ons Bybellees- ja, dan dink ons ook weer 'n oomblik aan Hom. Maar verder leef ons asof ons Hom nie nodig het nie.

Dit maak God hartseer. Dit maak ons skuldig teenoor Hom.

En met dié skuld, wat u elke dag groter maak, moet u worstel voordat u aan Vader vergewing vra, broeders en susters. Anders maak u met u niksseggende gebed Vader maar net nog meer hartseer.

Wanneer u met hierdie skuld worstel, sal u ook al hoe duideliker begin besef dat u die omvang van u skuld nooit kan vasstel nie. U moet probeer om konkreet aan Vader te bely waarin u hierdie dag alles tekortgeskiet het. Maar u sal agterkom dat u nooit volledig kan wees nie. Want dis nie genoeg om die opvallende oortredings en sonde te bely nie. Dit wat opvallend na buite toe gebreek het, is mos 'n bewys dat dit by my aan die binnekant nie reg is nie. Die sonde het hom diep in my lewe genestel. Soos in alle mense. Dit mag dalk lyk dat ek die sonde beter onder beheer het as baie ander mense, maar my binnekant is ewe sleg. En ek maak my skuld ook groter terwyl ek self glad nie daarvan bewus is nie.

Om so die swaarte van u skuld teenoor Vader te gaan besef, moet u baie na sy Woord luister, gemeente. Daarin kom Vader voor u staan en laat Hy u die skrille kontras tussen Hom en u voel.

Eers dan sal u gebed om vergewing die noodsaaklike diepgang kry. Dan bly sonde vir u nie langer iets wat helaas in enige mens voorkom en wat wel vervelig is, maar waarmee 'n mens ook kan leer lewe nie. Maar dan word u skuld by Vader 'n obsessie. U wil daarvan ontslae raak. Dit mag nie tussen u en Vader bly lê nie. Dus vlug u tot Vader met die noodkreet of Vader Self die sonde wil wegdoen

Want dit beteken "vergewe" tog eintlik: wegdoen, verwyder. Soos Aäron op die Groot Versoendag die bok waarop as 't ware alle sondes van die volk gelaai was, moes wegstuur in die woestyn in. Die profeet Miga het 'n pragtige uitdrukking gebruik vir vergewing: die HERE moet "ons ongeregtighede vertree sodat daar niks van oorbly nie, ja, Hy moet ons sondes in die dieptes van die see werp". Eerder vind ons geen rus nie.

3. Toe die Here Jesus Christus aan sy dissipels geleer het om te vra om vergewing van die sondes, het Hy aan die bede 'n opvallende toevoeging gegee: "Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe".

Dit kan natuurlik nie beteken dat die HERE aan ons 'n voorbeeld kan neem nie: Ons kan regtig nie ons vergewingsgesindheid aan Vader voorhou as die grond waarop Hy nou wel verplig is om ook ons te moet vergewe nie.

Daar is maar een grond waarop God ons ons sondes kan en wil vergewe, en dit is Christus se offer op Golgotha.

Maar ons moet daardie opvallende toevoeging ook nie afswak asof Christus daarmee slegs bedoel het: "Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars behoort te vergewe" nie.

Wat sê ons vir Vader met daardie woorde? Die Kategismus het dit so weergegee: "Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe".

Met ander woorde: ons durf vrymoedig om vergewing te vra, want ons wéét dat Vader ons wil vergewe, ja, ons al so dikwels vergewing geskenk hét. Ja, ons wéét dit, nie net uit sy belofte nie; ons sien die bewys daarvan ook in ons eie lewe. Want sy vergewing aan my, wat ek al so dikwels ontvang het, het 'n opvallende effek gekry in my lewe: noudat Vader my al my sondes wil kwytskeld, kán ek, vervuld van dankbaarheid, nie meer anders nie as om ook my naaste van harte te vergewe. Vader se vergewing aan my, maak my soos vanself vergewingsgesind teenoor my broeders en susters.

So werk Vader daaraan dat die herstel van die verhouding tussen ons en Hom ook deurdring in ons onderlinge verhoudings. Noudat Hy ons weer in vergewende liefde na Hom toe terughaal, gaan ons ook mekaar weer in vergewende liefde soek en vind. Dit kan eenvoudig nie anders nie: wie van vergewing mag lewe, láát 'n ander ook van vergewing lewe. En dan nie so dat hy net nie meer oor die ander se skuld praat nie; nie so dat hy die sonde van die ander in die doofpot stop nie; maar so dat hy ook daardie skuld wegdoen en dit met 'n handdruk en 'n eerlike blik in die oë beseël.

Dit is 'n wonderlike ding, broeders en susters: u kan dit dus in u eie lewe opmerk dat ons nie tevergeefs aan ons Vader in die hemel om vergewing vra nie. U mag dit in u eie lewe waarneem dat Vader u weer in liefde tot sy kind aangeneem het. U vergewingsgesinde houding teenoor u naaste is die bewys!

Maar nou moet u dit ook maar omdraai: as u maar nie oor iets wat 'n broeder of suster u aangedoen het, kan heenstap nie maar die wrok teen hom of haar in u hart bly koester, is dít die bewys dat u nog nooit regtig aan God vergewing gevra het nie, al het u ook al honderde kere die vyfde bede in die mond geneem. In u onversoenlike houding wys u dat u nie weet waarvan u praat as u aan God om vergewing vra nie.

Ons bid die gebed om vergewing van sondes veelvuldig, gemeente. En dis 'n goeie ding. Want God wil hê ons móet dit aan Hom vra. Ons kan dit ook nooit te dikwels vra nie.

Maar ek hoop u besef nou dat u wel moet weet wát u vra as u om vergewing bid.

En u moet dus in u houding teenoor u naaste wys dat u weet wat u vra.

Want as hierdie gebed in die greep van die sleur geraak en nog maar net 'n leë formule word, is ons besig om én Vader én die broeders en susters te verloor!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)