Die nagmaal en die koms van die Koninkryk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-08-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Ps 97: 1, 2, 6
Ps 146: 6, 8 (nagmaal)
Geloofsbelydenis (na preek)
Ps 145: 1, 2, 3, 11, 12 (slot)
Lees: Psalm 97
Teks: Sondag 48

Brs en srs,

Laat U Koninkryk kom!

'n Pragtige bede om by stil te staan nou dat ons die Heilige Nagmaal gevier het.

Laat u Koninkryk kom! Dit is die roep wat kragtig klink vanaf elke Nagmaalstafel. Want Nagmaal vier is 'n sterk toekoms-gerigte besigheid.

Immers aan die nagmaalstafel versterk die bruid haar geloof met die oog op die koms van haar bruidegom. Vanaf die Nagmaalstafel sien die kerk uit na die koms van Jesus Christus.

Die Formulier van die nagmaal sê dit so: Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Let op die woordjie 'totdat'.

Hierdie woordjie sê twee dinge.

Die eerste is dat die Nagmaalsviering soos ons dit nou vier, slegs 'n tydelike instelling is. Die dood van die Here moet verkondig word totdat Hy kom. Nie langer nie. Want as Hy gekom het dan kan ons alleen nog maar die lewe van die Heer verkondig, tot in die ewigheid.

Die woordjie 'totdat' het ook nog 'n ander inhoud. Dit praat van die geloofsverwagting van die Nagmaalvierders. Die geloofsverwagting dat die Koninkryk van Christus definitief sal kom.

Dit is opvallend dat in Sondag 48 die woordjie 'totdat' op presies dieselfde manier gebruik word as in die nagmaalsformulier. Ons bid oor verskillende sake... totdat die volkomenheid van U Ryk kom.

Dit is waarna ons uitsien, die volkomenheid van U Ryk.

Daarna leef ons toe. Daarna sien ons uit.

Ons tema vir vanmiddag se preek:

Die Nagmaal en die Koms van die Koninkryk

  1. ons bid om ons eie onderwerping in die Koninkryk
  2. ons vier die definitiewe oorwinning van die Koninkryk

As ons iets wil verstaan van die prediking van die Here Jesus dat die Koninkryk van die hemele naby gekom het, sal ons moet begin by die O.T.

Sonder die O.T. word die N.T. 'n onbegryplike boek. Dan kan ons van die optrede van die Here Jesus glad niks verstaan nie.

Dus begin ons soek in die O.T.

Waarvandaan kom die boodskap dat die Koninkryk van die hemele naby gekom het?

As ons in die boek van die Psalms lees, hoor ons baie oor die Koningskap van God. Ons het nou Psalm 97 gelees, maar daar is baie meer wat die Koningskap van God besing.

'Die Here is koning! Laat die aarde juig en laat die eilande bly wees!
Laat elkeen hom buig vir die majesteit van God.

Niemand kan hom aan sy heerskappy onttrek nie. '

So praat die O.T oor die Koningskap van God.

Maar as ons daaroor nadink kom daar by ons 'n vraag op. Hierdie: As God dan al Koning oor heel die aarde is, wat kan die prediking van die Here Jesus dan nog toevoeg met: Die koninkryk van die hemele het naby gekom!?

Is daar dan 'n verskil tussen die koningskap van God en sy Koninkryk?

Wel, daar is 'n verskil.

Kyk, die koningskap van God soos dit in die Psalms besing word is daar, ongeag of die mense oor wie dit gaan dit werklik ook erken ja, dan nee. 'n Heiden of 'n ongelowige kan beweer, Daar is geen God ! Ek glo nie aan 'n God wat die wêreld regeer nie en ek wil in my besluite nie met hom reken nie!

Maar hoe die heiden ook al protesteer. God lei ook sy lewe.

Want God is Koning. Hy is Heer van alle here.

Maar nou die Koninkryk wat die Here Jesus predik.

In die Koninkryk gaan dit nie om 'n koningskap van God oor mense wat dit al of nie wil erken nie, maar gaan dit juis om erkenning van die Koningskap van God.

Waar is die Koninkryk van God(die Koninkryk van die hemele)?

Dit is daar waar mense hulle in geloof en gehoorsaamheid aan God en sy wet onderwerp.

Die Koninkryk van die hemele is daar waar 'n bewuste aanvaarding van die koning van die Ryk is. 'n Vrywillige onderwerping van mense aan God.

Kyk, eintlik was die Koninkryk reeds daar in die begin van die geskiedenis van die mensheid. In die paradys het Adam hom vrywillig onderwerp aan God se heerskappy. Adam was op die aarde geplaas, maar het geleef in die koninkryk van die hemel.

Maar sinds die sondeval is daar 'n ander wat gehoorsaamheid vra. Daar het 'n konkurrerende Ryk op die wêreld gekom.

Die Ryk van die satan. Die heerskappy van die Bose.

Ek kan dit hier maar net kort aandui.

In Genesis 3: 15, die s. g moederbelofte praat die Here oor twee ryke.

Die ryk van die satan, met die slangesaad.

En daarteenoor die ryk van God, met die vrouesaad.

In die heilsgekiedenis wat die Here met sy volk Israel gaan, sien ons die ontwikkeling van die Koninkryk van God. Daar waar mense hulle onderwerp aan God en sy Woord, daar groei die Koninkryk.

Wel, dit is daardie Koninkryk wat met die koms van Jesus Christus baie naby gekom het.

Sinds die evangelie van Jesus Christus aan alle volke verkondig word, is die Ryk besig om verder uit te groei. Dit is op pad na voltooiing. Want die hele wêreld moet tot erkenning van die heerskappy van Christus kom. Eers dan sal die Koninkryk voltooi wees.

En solank die voltooiing nog nie daar is nie, moet ons bly bid: Laat u Koninkryk kom. Ek hoop dat dit tot sover duidelik is.

As ek nou die vraag sou vra: Hoe word die koninkryk dus bevorder? , dan sal u vermoedelik as antwoord gee: Dit gebeur daar waar mense tot geloof in die Here Jesus kom.

Dus dit gebeur seker maar spesiaal op die sendingveld as heidene tot geloof in Jesus Christus kom.

Daar word die Koninkryk bevorder.

Die antwoord is op sigself heeltemal korrek.

Daarom val dit des te meer op dat die Kategismus hier 'n ander antwoord gee.

Daar staan nie -Laat u Koninkryk kom- dus gee dat ander mense hulle sal onderwerp aan u regering nie... nee, die Kategismus laat ons eers na onsself kyk.

Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan u onderwerp...

Kyk van ons word aangeneem, ons is in die Koninkryk, ons is burgers van die Ryk van Christus, en tog... ons is maar swak onderdane.

Aan ons eie onderwerping in die Ryk makeer nog so baie!

En dit is hoekom ons onsself moet beproef!

Juis vandag. Op hierdie Nagmaalssondag.

Ons was vandag op uitnodiging van die Here Jesus aan sy tafel.

Dit is die voorreg van 'n burger in Sy Ryk.

Maar die doel waarop hierdie Koninkryk afgaan lees u in die slot van Sondag 48: God sal wees alles in almal.

Dan is die ryk volkome.

Wel, dit kan vir vandag slegs beteken dat God nou reeds alles in ons moet wees.

Wie kan dit van homself sê:

'God is alles in my. '
'Sy ryk gaan bo alles vir my. '
'Onderwerping aan God dit is die kern van my bestaan. '?

Geen mens wat eerlik is met homself, geen mens wat in die spieël kyk wat God in sy wet aan hom voorhou kan so'n vraag met 'n opregte 'ja' beantwoord nie.

Ons wil God wel dien, maar ons vind onsself tog ook wel heel belangrik.

Ons wil ons wel onderwerp aan sy wet, maar dan moet ons tog wel heel sterk oortuig wees van die nut daarvan.

Sien u, brs en srs, so'n selfbeproewing bring 'n mens, as dit goed is op die knieë. O God, wees my sondaar genadig!

En ook: Help my om myself oor te gee aan U.

Laat u Koninkryk kom. Om te begin in my lewe.

Help my om die verset wat daar diep in my hart teen u wet is te oorwin!

Gee dat ek heeltemal deur U geregeer wil word.

Wel, as ons so onsself begin beproef dan kom ons vanself by die volgende gedagte van die Kategismus: 'Bewaar en vermeerder u kerk. '

Wie uitsien na die koms van die koninkryk besef dat die kerk daarvoor 'n eerste middel is.

Immers aan die kerk is die bediening van Woord en Sakramente toevertrou.

Daar word die wet van God elke Sondag aan sy volk voorgehou.

Daar word verkondig dat die Here Jesus Christus die Redder van die wêreld is. Die Koning van al die konings van die aarde.

Dit is die boodskap waarvan ons almal moet lewe. En daarom word van ons almal ook liefde tot die kerk gevra. Niemand kan sê: Ek het die Here Jesus baie lief maar ek gee niks om vir die kerk nie. So 'n liefde beteken niks nie.

Ek wil daaraan 'n bietjieiaandag gee vanmiddag.

Jy kry mense wat eerder in die kerk glo as in Jesus Christus.

Hulle dink ek is nou lid van die kerk en dus is ek 'n gelowige. Teenoor mense wat so dink het ek die laaste jare 'n hele paar keer probeer verduidelik dat dit nie die geval is nie. Jou kerklidmaatskap gaan jou nie red nie.

Slegs jou geloof is Jesus Christus.

Maar nou maak ander mense weer die omgekeerde fout.

Hulle sê, dit gaan net oor persoonlike geloof in Jesus Christus. Die kerk het ek daarby glad nie nodig nie. Ek gaan slegs soontoe as ek self behoefte daaraan het. En dan sal die dominee baie goed sy bes moet doen om vir my iets goeds te gee.

Ook met so'n houding verloor jy die waarde van die kerk uit die oog. Die kerk is die bruid van Christus. Hy het sy lewe vir haar gegee en haar oor die eeue bewaar en vermeerder.

En daarvoor is die gebed van ons almal nodig.

Bewaar u kerk en laat dit groei.

Die groei van die kerk word deur die kategismus ook 'n gebedsaak gemaak. Waar lewe is daar is groei.

In die opsig kan ons nog baie leer gemeente.

Die groei van die kerk moet 'n saak wees wat ons almal na aan die hart lê. Ons as kerk het nie 'n onder-ons club nie.

Ons is daar om die diens van die Woord voortgang te laat vind. En daarom bid ons:

Here bewaar ons as kerk vir afdwaling.

Bewaar ons vir insinking van die geloof.

Bewaar ons vir moedeloosheid.

Bewaar ons vir sondes wat die gemeente verteer.

Dan mag ons ook bid vir bevordering van die sendingwerk.

En bid vir rus en vrede in die land sodat die uitbreiding van die kerk kan voortgaan. Daar is nog soveel mense wat bereik moet word met die evangelie.

Wanneer ons almal hierdie bede om die koms van die Koninkryk tot 'n saak van gebed maak, dan kan dit nie anders of ons probeer ook om ingeskakel te word by die werk wat dan te doen is.

Dan probeer ons almal van ons kant om gaste welkom te laat voel. Ons doen moeite om gaste saam te bring.

Ons is bly met vordering wat in Belhar gemaak word ensovoort.

As jy so besig is dan laat jy jou inskakel by die werk van die Heilige Gees.

Dan werk jy as burger van die Koninkryk van God.

En hoe meer jy daarvoor werk hoe groter is jou vreugde om lid te kan wees van die kerk. Om 'n onderdaan te kan wees in die Koninkryk van Jesus Christus.

2. Ons vier die definitiewe oorwinning van die Ryk

In die inleiding van die preek het ek u aandag gevra vir die woordjie 'totdat'. Die woordjie kom sowel in ons nagmaals-formulier as in sondag 48 voor.

Ons verkondig die dood van die Here totdat Hy kom.

Ons bid om vernietiging van die werke vam duiwel totdat die volkomenheid van die Ryk kom.

Die woordjie 'totdat' bring hier die sekerheid onder woorde van die biddende kerk. Ons bid om vernietiging van die kwaad en ons bid om oorwinning van Christus' heerskappy, totdat sy Ryk in volkomenheid daar is.

Ons is al biddende absoluut seker daarvan:

Eendag sal die ryk van Satan ondergaan;

Eendag sal alle knie hom buig vir Jesus Christus;

Eendag sal elkeen wat leef die lof van God verkondig;

Eendag sal daar 'n ewige vrede wees.

Ons sal bly bid tot die dag daar is.

Ons sal bly Nagmaal vier totdat die Ryk in sy volkomenheid gekom het.

Ons bly Nagmaal vier. Letop die woord 'vier'.

Vier doen jy net dit wat vir jou volkome seker is. Dit help nie om 'n oorwinning te vier as die stryd nog gestry moet word.

Ons verwag die komende Koninkryk. Maar ons vier dit nou reeds.

So seker is ons van die oorwinning.

Nie dat ons so seker van onsself is nie. Inteendeel.

Onthou die Nagmaal is bedoel om vir ons sekerheid te gee.

En daardie sekerheid woord ook gegee. Deur Jesus Christus.

Daarom nooi Hy ons hier almal aan die tafel.

Hy wil vir ons sê: Mense, daar is maar een sekerheid vir julle!

Dit is Ekself. My werk is klaar. Glo net. Vertrou jou heeltemal aan My toe. Vergeet van jou eie pogings. Vergeet ook van jou eie aarselings. Gee jou net oor aan My.

Dan alleen het jy iets om te vier.

Sien u, brs en srs? Die Nagmaal is bestem vir mense wat van genade wil lewe.

Solank jy self wil probeer, is daar namelik niks te vier nie. Want dan weet jy nie of jy die eindstreep gaan haal nie.

Maar waar jy jouself heeltemal toevertrou aan die genade van God in Jesus Christus, daar het jy iets om te vier.

Want daar het jy klaar sekerheid. Sekerheid dat die oorwinning jou nie meer kan ontgaan nie. Want Christus self haal die oorwinning vir jou binne.

In die vertroue kan ons vanaf die Nagmaal uitsien na die toekoms.

"God sal alles wees in almal. "

Dit is 'n sobere omskrywing van wat ons te wagte staan.

Tegelyk is dit 'n alomvattende omskrywing.

Wat kan jy meer daarvan sê as dit: God is alles in almal?

Wat kan groter en heerliker wees as dit: God is alles in almal?

Vandag aan die Nagmaalstafel kry ons 'n voorproef daarvan.

Hier hoor ons en hier proe ons: God is genade.

Dit is alles. En daarom genoeg vir ons.

Seker, voorlopig is die genade eintlik 'n te groot geskenk vir ons om in ons hande te neem.

Maar wat ons daarvan verstaan het is ryk genoeg om te leer uitsien na die volkomenheid daarvan.

Dit gaan definitief kom!

Watter vreugde sal dit wees!

Broeders en susters, geniet dit tog om so die Heilige Nagmaal te kan vier.

Die vreugde wat jy nou reeds ondervind wil God nog veel groter maak. Amen.

9 Augustus 1992

Liturgie: 

(kyk in preek)