God bly ewig in beheer van lewe en dood

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-10-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

06-10-91

SONDAG 40 HK

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 26 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 26 : 3, 5
Skriflesing: Mattheüs 5 : 21-22, 38-48, 23 : 29-39
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 5 : 4, 5, 6
Kategismus: Sondag 40
Prediking
Sing: Ps. 139 : 11, 12
Dankgebed
Sing: SB. 16 : 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die Heiland kla sy eie volk aan: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is" (Mt 23:37). "So sal oor hulle kom die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar". Die eerste moord op Abel, die priestermoord op Sagaria en die aanstaande moord op Jesus van Nasareth: dit was die werklikheid van God se ou, eie volk. Dié tipe moorde is gepleeg teen mense wat van die liefde en die toorn van God getuig het.

Die samelewing van die volk van Suid-Afrika word gekenmerk deur 'n ander tipe moorde. Die duisende mense wat in die kort geskiedenis sonder enige regverdiging vermoor is, hulle is op wrede en sinnelose wyse vermoor. Politieke motiewe dryf tot gruwelike dade: necklaces, doodkap, stenig. Kriminele agtergronde lei tot: berowing, verkragting. Of daar politieke of kriminele motiewe is, daar is nie eintlik verskil in metodes van moord nie. Waar is in Suid-Afrika die herinnering aan Jesus Christus wat gekruisig is, gesterf het en begrawe is? Waar werk publiek die krag van sy opstanding uit die dood? Sy woorde oor geregtigheid en naasteliefde het besmette woorde geword.

Hoe kry ons die twee werklikhede by mekaar: die geestelike stryd waarin God se volk vervolg word, en alle wêreldse stryd waarin enigiemand omgebring kan word? Wat is "regverdige bloed" soos God se Woord daarvan praat, en wat is die onskuldige bloed waarvan die koerante praat, in rilling en genieting terselfdertyd? Ek bedien u die gebod van God, die Skepper en Verlosser:

GOD BLY EWIG IN BEHEER VAN LEWE EN DOOD

  1. Hy gee die ruimte om te lewe,
  2. Hy stel die grense van die lewe en
  3. Hy gee rigting aan die lewe.

1. GOD GEE DIE RUIMTE OM TE LEWE

God het die mens volgens sy beeld geskep. Wat het daarvan na die sondeval oorgebly? Daar het in die werklikheid nie baie van die beeld van God wees oorgebly nie. Die mensheid leef nie op die hoë vlak nie. Die goedheid, liefde, wysheid en barmhartigheid van ons Skepper word in die mensheid nie maklik terug gevind nie. Dat mense dikwels niks van God se eienskappe vertoon nie, veroorsaak egter nie dat ons dus maar kan ophou om oor die mens as beeld van God te praat. Ek lees in Gen. 9:6 (dit is na die sondvloed, dus nadat die sonde die aarde begin oorheers): "Hy wat die bloed van die mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word, want God het die mens na sy beeld gemaak". Die lewe het baie kwesbaar geword, ja, maar die lewe het nie voëlvry geword nie. God gee 'n beskerming daarteen met die motivering: "want Ek het die mens na my beeld gemaak"! Dieselfde lees ek in Jak. 3:9, die verskriklike teenstelling in die gebruik van my tong: "daarmee loof ons God die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is". Die mens se hoë roeping het gebly: om beeld van God te wees. Daarby het ook die eer van daardie roeping gebly. Geen mens het die reg om die roeping weg te skuif nie. Geen mens het die reg om dié eer weg te gooi nie.

Die HERE het sy 10 gebooie by die berg Sinaï gegee. Tog kan ons sê: die gebooie het alreeds gefunksioneer sedert die dag dat die mens uit die paradys uitgeban is. Die sonde in die tweede generasie kom op 'n verskriklike wyse uit in die moord op Abel. Die beeld van God wees was toe nog duidelik in die herinnering. Abel, die regverdige ... word hy genoem. Baie christene huiwer vandag om oor die eenheid van die mensheid te praat. Dit ruik na New Age. Ek dink, die eenheid in die mensheid wat daar nog oorgebly het, is die eenheid in sonde. Dit is ons gesamentlike skuld dat die aarde vervul is van geweldpleging, dat die land vol van gemoor is. Almal is diep skuldig voor God, omdat ons nie in staat is die geweld te beëindig nie. Elke swart christen moet sê: die geweld wat in vroeër jare onder die gesag van die owerheid teen mense gepleeg is, kom voort uit ons gesamentlike skuld. 'n Blank mens moet bely: die geweld in die townships van gister en vandag wortel in ons gesamentlike sonde.

Daar is nie eintlik 'n reg op lewe nie. Elke dag is dit die mensheid wat duidelik maak hoe min 'n menselewe werd is. Elke dag maak duidelik hoe ver God die mensheid aan sy sonde oorgee. Maar: wie is jy om te beoordeel wat die waarde van 'n menselewe is? Wie sal beoordeel wie wel en wie nie die reg op lewe werd is? God gee nog ruimte om te lewe! God gee sy reg nie uit sy hande nie. U kry die reg nie in u hande nie. God gee u ruimte om te lewe: deur sy goedheid te dank en die lewe uit sy hand daagliks te aanvaar. Is daar menseregte? Daar is, wanneer God dit in sy hand hou en dit gee: om te gebruik tot sy eer. Wanneer iemand die lewe nie tot God se eer gebruik nie, is dit nog altyd in sy beheer om daaroor te oordeel. 'Ek mag nie my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie'. "Doodslaan" is: elke vorm van wederregtelike moord: op die straat of waar dan ook. Ook owerhede kan teen God se gebooie bevolkingsgroepe terrorriseer. Vandag is dit politieke leiers wat 'n swaar verantwoordelikheid dra om niemand tot hierdie kwaad te bring nie.

Daarom moet die gereformeerde kerk getuig van God wat in sy gebooie die mensheid help om sy goedheid te aanvaar. Ons moet op Hom wys wat in sy genade in die mens Jesus Christus gekom het: om die lewe in hierdie ontwortelde, daaglikse lewe te red. Die Woord van die evangelie wys: God, en nie mense nie, is in beheer oor die lewe en die dood. Terwyl God die reg om te lewe gee, bly Hy in beheer: en vra daagliks verantwoording. Die verantwoording is die swaarste vir wie leiding aan die mense gee. Daarom moet ons vir alle leiers bid. Want onder die daaglikse lewe in die land lê nog altyd die roeping en die eer vir mense om beeld van God te moet wees. Die reg om te lewe is nooit los van die roeping nie. Want God is in beheer om sy goedheid en genade te laat deurwerk in die lewe van afsonderlike mense. Hy wil beheer uitoefen oor die daaglikse lewe: om dit te lei en te red. Tot in ewigheid.

2. GOD STEL DIE GRENSE AAN DIE LEWE

Wie is jou naaste? Is dit die volksverband waarin jy wil lewe of is dit die kerk as die kring waarin jy beweeg? Dit is die HERE wat die grense stel: Hy bepaal ook waar u die grense rondom u lewe trek. In die 5de gebod het die HERE die tweede kliptafel van sy wet begin. Die gesin, die grootfamilie leef voor God se oë. Die volk van God is uit baie van sulke eenhede opgebou. Dié wat buite die kring van jou familie val, is jou naaste. Ja, ook jou familie is jou naaste, maar oor hulle praat die 5de gebod. In die 6de gebod kyk God breder. Vir hulle gee die HERE 'n spesiale gebod: om baie fundamenteel die lewe in die land te beskerm. Die beperking van Israël, die een volk van God in die een land, het weggeval, toe Christus die grense met sy Evangelie deurbreek het. Die wêreld het die blyplek van God se volk geword. Die naaste is die mens wat God jou laat ontmoet op jou pad in die samelewing.

Die tweede kliptafel van die wet word deur die Here Jesus so samegevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself". Dit is die 2de gebod wat gelyk staan met die eerste, groot gebod, die liefde tot God. Die tweede, groot gebod: jou naaste liefhê soos jouself. Broers en susters, dit is in die kerk alreeds moeilik om te realiseer. Om 'n ander volle liefde te bewys, vra selfopoffering omdat die eiebelang oorheers. Ek voel gekwes, ek moet my privaatheid behou, ek ken hom eintlik glad nie, hy het my seergemaak. Om met die naaste om te gaan vra wysheid. U moet bepaal wat die relasie is waarin u tot hom staan, wat u verantwoordelikheid is. Is hy 'n kollega, 'n werknemer, 'n kliënt en in watter mate is hy 'n mens wat jy in sy eie persoon ontmoet? Dié tipe liefde is iets wat ons moet begin om te leer: by elke nuwe mens wat jy ontmoet, sal jy opnuut moet leer in watter mate jy hom liefde moet bewys. Hoe is jy sy naaste om Christus ontwil?

Die Here Jesus wys die pad om uit die verskriklike werklikheid van mense wat net stry, uit te kom. Hy wys waar lê die oorsaak van alle verskeurdheid, van alle moorde: dit lê in jou eie hart. Dit lê in die emosies wat deur die sonde geraak en versteur is, soos haat, angs, afsku. Dit is dié emosies wat baie mense in die land oorheers. Daar is angs wat die wil om iemand te ontmoet, verlam. Daar is afsku vir wat jy nie ken nie. Daar is haat wat gepredik word. Die emosies van die harte word deur die satan gemanipuleer. Daar stel Christus alreeds 'n grens wat geen mens mag oorskry nie. Hy, die Here Jesus begin met teen die haat te stry. Dit was die eerste verse van Matt. 5 wat ons gelees het, dit is waarop die Kategismus konsentreer. 'Deur doodmaak te verbied leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku. Dit is alles vir hom heimlike moord' (a. 106). God stel die grense: ook aan ons emosies. Dit is begrypelik hoe 'n mens tot sy emosies kom. Daar is dikwels gruwelike dinge wat dit uitlok. Tog moet 'n christen altyd ook die reaksie van sy emosie laat regeer deur die Heilige Gees.

Kom ons leer om die haat, dit tipe emosies te rig teen dit wat God haat! Kom ons vra in die daaglikse lewe: wat is vyandskap teen die HERE? Die geestelike stryd maak jou aktief teen idees, teen middels van die bose. Dit beskerm jou om in die eerste plek teen mense te veg: met woorde, gedagte, gebare. Kom ons begin om in die kerk en by die huis te leer hoe om vanuit die liefde te reageer. Die liefde van God sê: "Hy laat sy son opgaan oor boses en goeies en laat reën op regverdiges en onregverdiges". Wees 'n regverdige mens deur die grens net daar te stel waar God die sonde beveg. Dit is nie grense teenoor mense nie, behalwe wanneer dit mense is wat die kwaad predik. Dan wys ons die leer en die wat die kwade leer bring, af. Dan predik u die liefde en die gebooie van God wat goed is.

Naasteliefde: is dit nie tog 'n algemene, humanitiese motief nie? Is dit nie 'n onpraktiese, hoë ideaal wat stukkend stamp op die werklikheid van die verhoudings? Kyk, die Here Christus het boonop oor die liefde vir die vyand gepraat. Daardie vyande was nie mense wat net jou ekonomiese bestaan bedreig het nie. Dit was die mense wat die kinders van God en die kerk in sy lewe bedreig het. Die mens wat so 'n kwaad doen, is iemand wat jy met liefde tegemoet moet kom. Sy saak, sy doel, sy middels mag jy haat en beveg. 'n Christen oorkom die haat van die wêreld net deur die liefde van Christus. Deur Christus wat alles wat Hy gehad het, op te offer. U sien: die Here stel nêrens grense aan die liefde wat Hy jou leer nie. Hy het dit gewys, toe almal, ook julle, sy vyande was. Hy het dit bewys, toe Hy vermoor is teen die letterlike teks van die 6de gebod in.

Die grens wat God aan die lewe stel is hierdie: dat jy God se vyand nie in die lewe mag toelaat nie. Kom ons veg teen daardie vyand, die satan wie se naam "teenstander" beteken. Wat is daar in hierdie land om vir te veg? Vir die ongebore lewe, vir die reg op gereformeerde onderwys, vir die onbesmette naam van die kerk, vir regverdigheid en beskerming vir elke mens. Grense lê daar waar mense die kinders aantas, die Evangelie en die kerk kompromitteer en die lewe voëlvry verklaar.

3. GOD GEE RIGTING AAN DIE LEWE

Die Here ken die werklikheid. Sou die werklikheid van Suid-Afrika vir Hom moeiliker wees, as wat dit tydens sy eie lewe op aarde was? Die Bergrede gee nie 'n idealistiese christendom nie. Die Bybel praat eerlik oor lewe en dood. So eerlik dat dit oor die ewigheid gaan: van ewig lewe en die ewige dood. Baie mense het verleer of nog nooit geleer dat die lewe nou alreeds 'n perspektief op die ewigheid het. Wie besef dat die dood nou alreeds oor sondige harte regeer en lewens verwoes? Wie besef dat dit die ewige dood is wat sy vingers in God se wêreld uitstrek? Wie leef met die besef dat in Christus die ewige lewe nou alreeds in jou hart kan woon? 'n Christen, hy besef dit. Hy dank daagliks sy God en Here daarvir.

God gee ook rigting aan die lewe. Daar is mos die gebooie: vir God se volk om te leer en te predik. Ook vir God se wêreld: om te leer en homself te bekeer. Dit klink mooi, ne? Hoe kan die kerk in die verskeurde werklikheid van Suid-Afrika iets sê? Wat maak 'n klein, onopvallende aantal gemeentes soos ons s'n? Die werklikheid in die land is die van 'n jeug wat geleer het om die gesag te verwerp, van volwassenes wat in hul laers opgesluit is. Tog is dit hierdie wêreld waarin God sy eniggebore Seun gestuur het. Hy wat deur die hande van goddelose mense geneem en gekruisig en omgebring is én wat God opgewek het (Hand. 2:23). "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh. 3:16).

Van Hom, ons Here mag u leer om daadwerklik van liefde te praat en liefde te bewys. U het die genade ontvang om deur die Heilige Gees weer mens te mag word, mens soos God dit bedoel het. Die eienskappe van God waarin die beeld van God wees wortel, word opnuut moontlik. V/a 107 sê: God wil hê ons ' moet teenoor ons naaste geduldig wees, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en ook vriendelik'. Die eienskappe van God kan weer sigbaar word! Dit is wat die waarde van Christus se lewe was: sy suiwere liefde, sy eindelose geduld, sy diep sagmoedigheid, sy groot barmhartigheid. Dit is die waarde van christene vir enige samelewing.

Dit is die rigting wat die Here aan die lewe wil gee. Dit is hoekom Hy christene gee. U mag begin om die wortel van die doodslag, die haat en die wantroue te bestry. U mag in u eie hart begin, in u eie gemeente aangaan en in die wêreld probeer: probeer om rigting met dié gebod te soek. Dit gaan oor ewige lewe en oor ewige dood: vir u en u naaste. Dalk kom daar 'n dag dat u as 'n regverdige in God se oë en as 'n teenstander in die oë van mense vervolg word. Dit kan wees dat u nooit vervolg word nie, dat jou bloed veilig is. Laat dit asseblief nooit hierom wees nie: dat die kerk versuim het om sonder aansien van die persoon en in enige situasie te getuig van God se reg op die lewe: sy reg op die diens van 'n mens gedurende sy hele lewe.

Ek dink baie mense is bang om die konsep waarmee hulle die samelewing bekyk, te los. As ons die visie, die program wat ons altyd aangehang het, sal los, is daar glad nie meer 'n moontlikheid van invloed nie. Gereformeerdes het al so min invloed. Baie mense het dié gevoel van onsekerheid: en die politieke aardverskuiwing dryf met vinnige spoed verder. Die kerk staan aan die sylyn. Kom ons leer om ons sekerheid in God se Woord alleen te soek, om God se gebooie in hul goedheid te verkondig. Die lewe is 'n geskenk, omdat die HERE 'n God van genade is.

Ons gemeente sal eerste rigting moet vind. Kom ons leer om te luister. Kom ons leer om mekaar te respekteer. Kom ons leer om by mekaar te ontdek dat ook die ander God se wil soek: vir sy eie dade, vir die take van die kerk en ook vir die land. Kom ons gaan nie mekaar in regs of liberaal indeel nie, maar soek om eensgesind in God se Woord te wees. As die gemeente die eensgesindheid in die liefde geleer het, sal daar seën op die lidmate rus: om beeld van God te leer wees, om in die persoon van ons Here Jesus die beeld van God te wys. Om die lewe, die gawe wat God beskerm het, deur die krag en wysheid van sy Gees te laat vul.

AMEN

Samevatting, in Sotho uitgereik aan die jeug van Soshanguve en Mamelodi wat die diens besoek het.

Die Bybel praat meestentyds van regverdige bloed wat vloei: dit is dikwels sy profete wat deur God se eie volk vermoor is. Wat van Suid-Afrika waar nog meer bloed vloei? Ons noem dit "onskuldige mense" wat sinneloos en wreed vermoor word. Die townships is onveilig, die lewe het geen waarde nie. Wie weet van Christus wat vermoor is en opgestaan het uit die dood?

GOD BLY EWIG IN BEHEER VAN LEWE EN DOOD

  1. Hy gee ruimte om te lewe,
  2. Hy stel grense in die lewe en
  3. Hy gee rigting aan die lewe.

1. Die mens het deur die sonde nie meer die reg om te lewe nie. God gee in sy goedheid wel opnuut ruimte om te lewe. Die ruimte mag jy dankbaar aanvaar. Die ruimte maak die genade moontlik om jou te bekeer. Bekering maak van 'n mens opnuut "die beeld van God": dit is dat jy God se goedheid, wysheid, barmhartigheid en liefde mag toepas. Dit het Jesus in sy eie persoon gewys, toe Hy tussen ons, mense geleef het. Toe Hy deur ons, mense vermoor is. Sy lewe, sy dood en sy opstanding is die hoogste bewys van God se liefde.

2. Wie is jou naaste? Die 5de gebod gee jou God se wil oor jou familie, die 6de oor enigiemand wat in die daaglikse lewe op jou pad kom. Die tweede tafel van die wet sê: jy moet jou naaste liefhê soos jouself! Daar is egter emosies wat dit verhinder: daar is angs, afsku, haat tussen mense, tussen bevolkingsgroepe. Die Here sê nog duideliker: jy moet jou vyand liefhê! Jou vyand is die mens wat jou as christen aanval en wil vernietig. Ons moet leer om slegs dit te haat wat God haat. Christene moenie mense haat nie, net die sondes wat hulle verteenwoordig en predik. Ons mag die lewe met liefde verdedig.

3. Die werklikheid van Suid-Afrika is vir God nie moeiliker, as wat dit tydens Jesus se lewe was nie. Die Here praat realisties as Hy in die Bergrede oor die liefde tot die naaste praat. Hy het sy gebooie, ook die 6de, gegee om die lewe 'n gesondmakende rigting te gee. Ons moet altyd onthou: dit gaan oor ewige lewe én oor die ewige dood. U mag mense tot bekering roep. Jy mag as 'n christen die goeie eienskappe van God wys: die goedheid, liefde, barmhartigheid en wysheid van God. Jy mag dit wys, soos Christus dit as die Seun van God en as die seun van die mens gewys het. So is jy waarlik 'n christen.

Liturgie: 

(kyk in preek)