Die 1ste artikel van God se grondwet sê: Glo in God drie-enig!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-09-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

27-09-92

SONDAG 34

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 81 : 1, 4, 6
Gebed
Skriflesing: Hebreërs 12 : 14-29
Kategismus : Sondag 34
Sing: Ps. 81 : 7, 8, 9
Prediking
Sing: Ps. 117
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 119 : 17, 18
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 34 : 1, 2
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die 1ste gebod moet vandag in die kollig staan. Nie net omdat ons nou opnuut sover in die Kategismus gekom het nie, maar veral vanweë die tyd waarin die land gekom het. Die HERE sê vir sy volk: "Jy mag nie ander gode naas My dien nie". Dit gaan oor die hele Suid-Afrika wanneer daar oor die godsdienstige fondament van die nuwe grondwet gepraat word. Of beter: dit gaan mos oor God die HERE, wanneer mense besig is om 'n nuwe grondwet voor te berei! Moet die naam van God Drie enig nog in die 1ste artikel van die grondwet vermeld word?

Daar is baie vrae hier omtrent. Watter reg het christene om vir die erkenning van die HERE te veg? Moet ons nou maar aanvaar dat ons in 'n veelvormige samelewing lewe en moet ons tolerant wees teenoor ander godsdienste? Dit is die moeilike vrae waarin ook die kerk - dit is die gelowiges saam - 'n pad moet vind. Kom ons luister vir die onderwys van die Kategismus:

DIE 1STE ARTIKEL VAN GOD SE GRONDWET SÊ: GLO IN GOD DRIE ENIG!

Dit

  1. vra vir eerbiediging (v/a 94),
  2. lei tot ontmoeting (v/a 95)
  3. gee jou bevryding (proloog).

1. DIT VRA VIR EERBIEDIGING (v/a 94)

Die 1ste gebod is die fondament van die hele wetgewing van God. Daarin lê die HERE sy absolute gesag vas. Hy het die outoriteit om sy wil in verdere wette aan die volk op te dra. "Jy mag naas My geen ander gode hê nie"! Die ou vertaling sê: "voor my aangesig". God wil nie sién dat sy volk nog ander magte erken en volg nie. Daar is net Hy, die een God. Die geloofsbelydenis van Israël was dan ook: "Hoor Israël, die HERE is onse God, Hy is die enigste HERE" (Dt. 6:4). Dis 'n dubbele belydenis: Hy is onse God (dit sê jy vir mekaar in die volk) en Hy is die enigste (dit sê jy teenoor die mense wat ander gode dien). Dié dubbele belydenis is 'n erkenning van God se absolute gesag. Dié geloofsbelydenis is die antwoord van die volk op die 1ste gebod.

Wie is "die HERE"? Kyk, wanneer vandag in Suid-Afrika oor 'n nuwe grondwet gepraat word, sê sommige mense: die geloof in God is 'n gemeenskaplikheid; dié gemeenskaplikheid kan rustig in die grondwet opgeneem word; hoe elkeen "God" verstaan is nie belangrik nie; ook Jode, hindoes en moslims erken God. Ja, wanneer jy soek vir wat mense gemeenskaplik het, sal jy vind dat baie van hulle "godsdienstig" is. Ons leer egter om eers te hoor wat die HERE oor mense sê en veral wat Hy oor Homself sê.

"Ek is die HERE, jou God", is die eerste woorde wat God by die wetgewing spreek. Hy is die God wat Homself in die paradys, vervolgens aan die aardsvaders en daarna ook aan die volk Israël bekendgemaak het. Dis dié volk wat vir die Verlosser gewag en Hom in dié geloof ontvang het. God het gewys wie is Hy: en elke keer teenoor dit wat mense vanuit hulle godsdienstige gevoeles mag uitdink. Die HERE soek 'n verbond met sy volk. Dit is hoekom Hy nie kan aanvaar dat mense ander gode bo hulle kies nie. Dit is wat God afgodery noem.

Afgodery: ons sal later by die 2de gebod sien hoe dit vandag vir óns binne die kerk 'n gevaar is. Nou kyk ons wat afgodery in die wêreld is. Afgodery sê: die geloof in God het van die duidelikheid van God se openbaring afgewater en in die geskiedenis ander vorme aangeneem. Ander godsdienste is gebore: elke kultuur het sy eie gode. Daar is in elke mens 'n ontsag vir dit wat groter as homself is, vir dit wat bo ons kragte uitgaan. Iemand soos Calvyn het gesê daar is nog die "saad van godsdienstigheid" in die mens. Kom ons sê: die skerwe wat ooit die volmaakte beeld van God was, weerspieël nog 'n bietjie behoefte aan hulp van bo. Alle mense het mos hulle momente van radeloosheid en afhanklikheid. Afgodery: dis die gevolg van die nood van die mens wat tog 'n god, 'n mag bo hom soek.

Die Bybel reken aan die een kant met die bygeloof in ander gode, maar ontken aan die ander kant dat daar sulke gode bestaan. Die bygeloof is 'n werklikheid in die wêreld. Die afgode is dit nie. Die bygeloof kan egter vorme aanneem wat 'n geweldige mag uitoefen. Dink aan godsdienstige gebruike soos towery, of aan die verering van die geeste van voorouers. Hulle wat die grens van die dood oorskrei het, oefen 'n mag op die lewe uit wat gevaarlik kan wees. Besef u hoe baie angs daar in die harte van mense is? Dit is angs en magteloosheid wat mense baie sterk ondervind, veral in die chaos van vandag se Suid-Afrika.

Kyk, by die skryf van v/a 94 is ook met die swaarkry en onsekerheid gereken. Ek moet my, staan daar, "aan die HERE alleen met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alle goeie dinge verwag". Natuurlik, christene kan nie anders as om eerlik oor die werklikheid te praat nie. Daar is baie raaisel en moeites in die lewe. Daar is egter net een pad: dis om die HERE oor Homself en oor die lewe te hoor praat. Wat vra God in die eerste gebod? Dat ek wegvlug van alle hulpmiddele wat nie help nie. Ek moet juis dit doen: 'die enige ware God reg leer ken en Hom alleen vertrou'. So is ons HERE: Hy gee kennis en wek vertroue in Hom. 'Ek moet Hom met my hele hart liefhê, eer en vrees'. Dit is die enigste geloof op aarde wat so 'n diep persoonlike relasie skenk: die relasie van die liefde en eerbied tot die HERE in sy verbond. Hy kom midde-in die lewe, Hy gee Homself aan jou. Jou lewe, jou werke kan dan word: tot eer van God, uit waar geloof en volgens sy wet.

Dié 1ste artikel van God se grondwet sê: glo in God, die goddelike Persoon! Hoe geld dié gebod vir alle mense in die land? Ja, dié gebod is binne die verbónd gegee. Of beter, met die gebod het God die verbond opgerig! Dit is 'n oproep tot bekering en tot 'n lewe met God. Dié oproep tot eerbiediging van God moet altyd klink: die eer en grootheid van God moet altyd erken word. Christene sal altyd vir die eer van God en vir die een pad van behoud stry! Ook op die hoë vlak van die onderhandelinge.

2. DIT LEI TOT ONTMOETING MET DIE HERE (v/a 95)

Dié geloof in die HERE as onse God en as die enigste HERE: dit het 'n pragtige invulling gekry. Die hele gebeure by Sinaï vertel vertel hoe God dié dag gekom het. Hy het persoonlik neergedaal om sy wil bekend te maak. Daar is baie elemente wat wys: die 10 gebooie het geldigheid vir altyd en orals. Dit is omdat die 1ste Artikel die fondament gelê het van die HERE wat nooit verander nie! Ja, 'n bietjie van die 10 gebooie het 'n oud-testamentiese taalkleed. Die allermeeste daarvan het ewige en wêreldwye geldigheid. Tot in die Nuwe Testament vind jy 9 van die 10 gebooie letterlik herhaal. Dit is net die 4de gebod wat van die sabbat na die dag van Christus verskuif.

Kyk, in die eerste punt het ons veral gesê dat die HERE die enigste God is, de Skepper van hemel en aarde. Dit is nie genoeg as alle mense 'n opperwese, 'n hoëre mag aanvaar nie. Meer nog, God se openbaring is baie ryker. God is mos die Vader, die Seun en die Gees. Dit is God wat Homself as Vader van die mense in sy Seun, ons Here Jesus en deur die Heilige Gees geopenbaar het. Die Drie eenheid sê: sonder die Seun kan je die Vader, kan jy God nie ken nie. "God" is nie 'n algemene begrip wat vir alle religies plek maak nie. Die Drie eenheid sê: God het sy hele plan van die verlossing van alle volke en van die hele wêreld gewys. Met die evangelie van Jesus het die Gees oor die aarde begin gaan. Daar is geen menslike toleransie en geen onderhandelingsproses wat dit mag verswyg nie. Sonder die Seun kan jy God, die Vader nooit ken nie. In Jesus sien jy hoe naby God by mense kom. Dit was een en al ontmoeting!

Hoor hoe praat Hebreërs. Nee, julle het nie by Sinaï gestaan nie. "Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem". Dit het baie naby gekom! "Julle het gekom by God wat Regter oor almal is en by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond" (12:22-24). Dié ontmoeting in die geloof is so ryk: God het naby gekom in sy Seun. So mag jy weet jy is naby Hom. Daar moet geen angs meer wees nie. Ja, Moses het gesidder by die ontsagwekkende verskyning van God. In Jesus het God dié angs weg wou neem. Besef julle hoe belangrik dit is teenoor en vir so baie godsdienste wat op angs gegrondves is? Ja, wanneer ons nie luister nie, sê Hebr.: "eendag sal God opnuut die aarde laat bewe". Nog een maal! Voordat dié dag egter kom, klink die evangelie van die ontmoeting van God met die mense.

Ja, die 1ste Artikel van God se grondwet klink binne God se verbond. Dit roep egter ook tot die verbond, dit is tot bekering en geloof en werklike ontmoeting met die HERE. Ek hoop daar word op die hoë vlak van onderhandelinge nie net onderhandel nie. Ek hoop daar word ook kragtig en bly getuig van die lewende relasie wat die HERE in Jesus Christus soek. Ek hoop dat ook die groot kerke hulleself laat terugroep tot die trou van die verbond: om van Hom te getuig.

3. DIE GEE JOU BEVRYDING (Proloog)

Moet nooit vergeet hoe die wet begin nie. Die wet: dit is die grondreëls wat die HERE van die mens vra. Dit is egter eise op grond van die geweldige werklikheid van die bevryding. "Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het"! Die HERE het die wet gegee, nádat Hy hulle bevry het. Hy het die wet herhaal toe sy volk op die grens van de beloofde land gestaan het. Ons weet: die werklik groot bevryding het ons Here Jesus gebring. Eintlik moes ons, die christelike kerk elke wetslesing so begin: "Ek is die HERE jou God wat eers my volk ou Israël uit Egipte bevry het en wat in Jesus Christus my nuwe volk uit die slawerny van die sonde verlos het!".

By elke afsonderlike gebod gaan dit vooraf. Rus van jou werk, want Ek het jou verlos! Dien net God alleen, want jy weet mos wat bevryding van sonde is! Dit is ook die diepte van God se plan toe Hy sy Seun gestuur het: om die mens van sy sonde en die aarde van die vloek te bevry. God wil die lewe op aarde weer vry maak. Dit maak dit weer moontlik vir mense om God te vind. Dit raak ook die relasie van die mense onder mekaar: jy mag mekaar weer dien. Dié bevryding is ook vir die hele skepping bestem, nl. om dit - soos Paulus sê - "van sy verslawing aan die verganklikheid te bevry" (Rom. 8:21). Dit is hoekom die 4de gebod sê dat ook jou os en jou esel sal rus op God se dag.

"Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil", was die slotverse van Hebr. 12. 'n Onwankelbare koninkryk: Christus se mag dit gaan bo die koninkryke, republieke en ander staatsvorme van die aarde en van dié moment uit. Ja, dié koninkryk deurtrek dié state en volke. Dit wil sê, wanneer God se kinders orals wil wees. Ook wanneer dit gebeur dat 'n nuwe grondwet nie meer die naam van God Drie enig sal noem, beroof dit jou nie van jou roeping en jou vryheid om God te dien nie. Hy het jou in Christus geroep. Dié roeping maak jou vry: om vrymoedig christen te wees.

Dit is pragtig wanneer mense wat deel van die regering uitmaak, belydende christene is. Dit kan egter sommer gebeur dat die naam van God Drie enig uit die grondwet verdwyn. Wat maak ons dan? Dan weet ons dat die tyd gekom het om rêrig as kerk van ons Here Jesus Christus meer getuigend, meer profeties op te tree. Ek praat oor die bevryding wat die 1ste artikel van God se grondwet gee. Dit sal in 'n mate ook bevrydend vir die kerk wees, wanneer ons nie meer van die owerheid verwag en dit aan hom oorlaat of daar oor die wet van God gepraat word nie. Ook sonder 'n beskerming in die grondwet staan daar die Wet van God wat sê: "Ek, die drie-enige God, is die HERE, julle God". Dan mag ons antwoord: "Die HERE is onse God, Hy is die enigste HERE. Glo in Hom"!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)