Die doop is God se seël op jou voorkop

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-06-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

30-06-91

SONDAG 26

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 17 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 78 : 2, 4
Skriflesing: Openbaring 7:1-17
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 78 : 7, 8, 9 sakramente in die woestyn
Lees: Sondag 26
Prediking
Sing: SB. 43 : 4, 6
Dankgebed
Sing: SB. 30 : 1, 5
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die doop is die afdruk van God se seëlring op jou voorkop. Mag ek dit so vra: voel u die afdruk van God se ring in die vel van u voorkop? Besef jy dat jy die teken van die kruis, die teken van die Here Jesus Christus dra?

Ons praat van sakramente as tekens en seëls. Dit is nie twee sinonieme om maar so mooi moontlik te praat nie. Nee, teken sê dat doop en nagmaal 'n betekenis het: die teken wys vir jou die werklikheid dat God om Christus ontwil jou skuld van jou skouers wil wegvat. Die woord seël sê dat die sakramente iets verseël, iets doodseker maak: die genade is so werklik as wat brood eet of met water was 'n daaglikse werklikheid is.

In die Bybel het die tweede woord, seël, 'n wonderlike betekenis. In die Ou Testament hoor ons van die konings wat belangrike dokumente met hul seëlring, met die afdruk daarvan beseël het (1 Kon. 21:8). Ons lees van Farao wat vir Josef sy seëlring gee: Josef kry as onderkoning tekenbevoegdheid (Gen. 41:42). Nou kan die woord seëlring ook 'n vergelykende betekenis kry. Na die ballingskap sê die HERE vir Serubbabel, die leier van die volk: "Ek sal jou neem, Serubbabel, my kneg, en jou maak tot 'n seëlring, want Ek het jou verkies" (Hagg. 2:23). Daar is nie meer 'n koning uit die huis van Dawid vir die Here nie, maar hierdie man word in die hand van die HERE die uitvoerende mag van sy regering. Hy sal soos die seëlring van God wees. Die koningsseël is die waarborg vir enige saak. Wie die afdruk sien, kan seker wees: dit kom van God!

In die Nuwe Testament kom hierdie woord "seël" terug. God gee sy seëlring nie meer uit hande nie. Dit is net Christus wat in naam van God verseël. Ons lees in Openbaring van die mense wat op aarde verseël moet word: God se seël word op hulle voorkoppe gedruk. Dit is die heilige doop: die seëlring van die Here wat op jou voorkop gedruk is. Die Skrif sê spesiaal vir gedoopte mense in groot erns: "En bedroef die heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing" (Ef. 4:30).

Ek bring God se Woord aan die hand van die Kategismus vir u vanaand:

DIE DOOP IS GOD SE SEËL OP JOU VOORKOP

Dit is

  1. 'n bloedig teken van Christus,
  2. 'n watermerk deur die Gees en
  3. 'n skoon plek op jouself.

1. GOD SE SEëL OP JOU VOORKOP: 'N BLOEDIG TEKEN VAN CHRISTUS

'n Bloedig teken, sê ek, maar waar is die bloed as dit oor die doop gaan? Dit gaan in die Bybel dikwels oor bloed as dit oor die sakramente gaan. Dink aan die lam wat vir die Pasga geslag is: elke jaar opnuut. Dink aan die besnydenis: elke seun opnuut! Die mes het 'n pynlike merk in die liggaam van elke man, van elke seun agtergelaat, 'n afdruk of 'n seël, 'n teken of 'n lidteken. Jy moes die "seël" elke keer sien as jy jou ontklee het. So praat die Bybel ook daaroor. In die geval van ou vader Abraham, byvoorbeeld. "En hy het die teken van die besnydenis ontvang as 'n seël van die geregtigheid van die geloof ..., sodat hy die vader sou wees van almal wat glo" (Rom. 4:11). In die geloof was Abraham reg, regverdig teenoor God. Dit is egter op skerp wyse in hom beseël: om nooit te vergeet nie.

Hoekom moes daar bloed vloei voordat 'n mens die liefde van God kon geniet? Dit moes gebeur, omdat die bloed jou op die waarde van die lewe wys. Op die waarde, ja, maar ook op die verskriklike verlies aan waarde deur die sonde. Dit was in die Ou Verbond so dat niemand sonder self te bloei voor God kon kom nie. Dit mag ons nie vergeet, noudat die teken van die verbond die water van die doop geword het nie. Dit was mos Christus se bloed wat vir u gevloei het. Dit skyn altyd deur die doopwater heen, asof dit nog ligrooi gekleur is. Bloed sê: so ernstig is die lewe beskadig, of jy nou 'n klein kind of 'n groot mens is. Nee, meisies is in die Ou verbond nie besny nie, maar ook oor hulle, in verband met julle is oor bloed gepraat. Dink aan al die wette rondom geboorte en menstruasie. Die woord "bloed" sê: man, orals kom ons agter dat daar gevaarlike skade aan die lewe toegebring is wat net God kan regmaak. Dit is vasgelê in die handelinge wat bloedig tekens agtergelaat het.

Seuns en dogters, julle kry baie kanse om optimities groot te word. Van kind af word jy "kind van God" genoem. Jy is met sy genade vertrou. Jy mag weet dat jou sondes vergewe word, voordat jy eintlik ontdek het hoe ernstig jy met jou sondes jouself of 'n ander kan beskadig. Daar kom by: julle word groot in 'n beskermde en ryk omgewing. Werklike beproewings, swaarkry, honger, gevaar is daar min. Vir julle is die versoeking baie groot om te vergeet wat dit beteken dat daar bloed vir jou gevloei het. Onthou mooi dat jou bloed net nie hoef te vloei, omdat Christus doodgebloei is nie. Sy bloed is vir jou die teken van God se genade! Sy dood verseël die verbond. Sy dood verseël jou op jou voorkop, sodat jy die kans kry ... om te lewe! Besef jy die diepte van die dood?? Nee, dalk nog nie. Begin asseblief by jou Here Jesus om dit te besef. Dit mag jy, voordat jy self agterkom hoe pragtig dit is dat Hy die skade kom regmaak.

By die doop praat ons van besprenkeling met die water: dit is hoe ons 'n doopsbediening sien gebeur. Die N.T. praat darem ook van besprenkeling met die bloed van ons Here Jesus. Ons, sê die Hebreërbrief, kom naby "Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en by die bloed van die besprenkeling" (12:24). Dit is 'n herinnering aan die Ou Verbond, toe daar met een kwas werklik bloeddroppels gesprenkel is. Die handeling uit die erediens van die OT kry nou ook betekenis. Petrus skryf: julle is uitverkies in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus" (1 Petr. 1:2). Mens kan sê: die spetters van Jesus se bloed wat van die kruis af neergedrup het, raak jou, as die water op die voorkop spetter. Voel jy die seël, daardie bloedig teken op jou voorkop? Weet jy hoe mens waarde kry?!

Dit word alles nog duideliker, as ons oor Christus self lees dat Hy die afdruk van God se seëlring dra. Die Here Jesus sê self letterlik: "Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens vir julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël" (Joh. 6:27). Onthou jy nog van die koningsseël?! God het Hom die mag daartoe verleen om jou so te voed dat jy nie net nou nie, maar ewig sal lewe. Christus dra die volmag so seker asof Hy die seëlring van sy Vader mog dra of asof Hy die volmag met 'n lakseël enige tyd kan wys. Christus se volmag is: om mense God se kinders te gaan noem, om hulle vertrou te maak met daardie naam, om hulle te leer die naam met groot oplugting en blydskap te dra. Ja, die bloedig teken is die teken van die doop wat jy op jou voorkop dra, dit is die teken wat jou nog altyd aan sy dood herinner. Daarin staan sy naam uitgekryf. Christus se wonderlike naam is honderd keer belangriker as joune! Jou naam word net belangrik by God, as jy Christus se naam voorop dra.

2. GOD SE SEëL OP JOU VOORKOP: 'N WATERMERK VAN DEUR GEES

Die Kategismus vat telkens twee uitdrukkings uit die Bybel om oor die doop te praat: met die bloed en met die Gees van Jesus Christus word iemand in die doop gewas. Dit staan so in antw. 69 en word in vr. 70 weer opgeneem: wat beteken dit "met die bloed en die Gees van Christus gewas te wees". Ons is nie baie gewoond aan die woorde "gewas met die Heilige Gees" nie. Tog word ook die Heilige Gees in die Bybel dikwels met die simbool van water aangedui. Dit gebeur direk al in Joël 2, waar die Pinksterbelofte staan: "Ek sal van my Gees uitstort" soos die reën. Reën is so 'n groot hoeveelheid water: daarin kan je ondergedompel, daardeur kan mens oorspoel word.

Ons is gewoond aan die doop as besprenkeling met water. Een hand vol water is genoeg. In die ou christelike kerk het hulle die onderdompeling gebruik. Midde in die kerk was die baptisterium, die doopbad. Een van die redes was dat die Bybel praat van die "waterbad". Christus, sê Paulus, het sy gemeente lief. Hy is besig "haar te reinig met die waterbad deur die Woord" (Ef.5:26). In 'n ander brief praat dieselfde apostel van die "bad van die wedergeboorte" (Tit. 3:5; sien v/a 71). Die werklikheid van die koms van die heilige Gees is: dat daar nie net een keer 'n paar droppels kom nie, maar dat mens daagliks deur die Gees oorspoel word! Daarom kan Paulus êrens ook sê: "Ons is almal van een Gees deurdrenk" (1 Kor. 12:13). Dat word gesê in woorde wat op die heilige doop wys. Die water praat ook van die Gees wat soos oorvloedige reën neerdaal. So gebeur dit wat die Kategimsus sê: dat mense wat dié bad ontvang, vernuwe word.

Is ons deurdrenk van die Gees? So 'n vraag laat ons dikwels arm voel. Maar jy is tog gedoop, ook in die naam van die heilige Gees? Die doopsbediening is eenmalig. Die waterband waar die Bybel van praat is altyd beskikbaar: dit is die waterbad van die Woord. Met 'n eie Bybel mag jy jou so dikwels as jy wil, in die rykdom onderdompel. Die kennis van God se heilige Naam mag jou deurdrenk. Die werking, die gawes, die oorvloed van die Heilige Gees is baie naby, solank as die Woord naby en oop is. Dit is terselfdertyd baie ver, as ons besig is die Gees te bedroef. Onthou u die Woord: "en bedroef die Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van die verlossing" (Ef. 4:30). So 'n ryk kerk as ons s 'n moet soek om die gewoon gawes van die Gees raak te sien. Die eenvoud van die gebed, die tuiswees in die Woord en die bly wees met jou roeping.

Nee, jy sien van die water niks meer nie. Dit het klaar opgedroog. Die werklikheid is egter dat die Gees aanhoudend oor 'n mens moet kom. Die teken van die doop word net een keer aan jou voltrek. Die werklikheid is 'n daaglikse een! Daarom het ek die voorbeeld van 'n watermerk vir die Gees gekies. Op enige kosbare papier staan onsigbaar 'n watermerk ingedruk. Dit is heeltemal in die papier opgeneem. Alle papiergeld dra so ook 'n watermerk om die egtheid te waarborg. Jy weet daaraan: dit het werkelik waarde vir my. Ek kan dit gebruik om te betaal. 'n Watermerk het niks meer met water te doen, nadat die papiergeld klaar gemaak is nie. So sien jy nie meer water, as dit oor die werk van die Gees van God gaan nie. Jy weet: die water is net 'n mooi vergelyking om jou die werklikheid van sy oorvloed mooi te laat besef. Die watermerk moet egter altyd daar wees!

Kom ons kyk in ons Bybel. In 2 Kor. 1 skryf Paulus so oor die Heilige Gees. Kom ons soek dit op: vs. 21-22. Dit is God wat alle christene in Christus salf "wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het". Opnuut vind ons die woorde by mekaar: seël en waarborg (= onderpand). Die Gees van God is op julle gedruk: Hy is die afdruk van God se seël. Dit het in jou hart gebeur. Daar is die watermerk wat jou laat weet: God is dit wat my geloof skenk. Hy is betroubaar: ek weet dit aan die doop op my voorkop, sy watermerk in my hart.

3. GOD SE SEëL: 'N SKOON PLEK OP JOUSELF

Nee, ek sien niks as ek na die voorkop kyk van iemand wat gedoop is nie. Die water is opgedroog. Die bloed van Christus het op Golgotha gestol en is nog slegs 'n geestelike saak. Daar is op die voorkoppe van christene niks sigbaar meer nie. Maar ... ken jy daardie spelletjie met 'n geldstuk?! Vat by die huis 'n geldstuk en druk dit op die voorkop van iemand wat teenoor jou sit. Jy sê vir hom: kyk, hierdie geldstuk bly teen jou voorkop geplak, as ek dit daar teen druk (hy sal jou nie glo nie en dis ook die bedoeling)! Vervolgens druk jy die geldstuk teen sy voorhoof. Ook al vat jy dit meteens weg, die persoon hou die gevoel dat daar 'n muntstuk teen sy voorkop aan plak. Die afdruk wat dit in die vel maak, laat hom dink dat daar werklik die geldstuk nog is. Jy sien niks meer nie, maar jy voel nog altyd die afdruk!

Dink so maar aan jou doop! Daar is niks meer om te sien nie, maar daar is nog altyd die afdruk wat die doop: 'n skoon plekkie! Dit is wat God se seëlring op jou voorkop gemaak het: die bloedige plek van die Here Jesus se bloed, die watermerk van die Gees. Hy persoonlik het deur middel van sy dienaar vir jou persoonlik die doop gegee. Nou is daar 'n skoon plek op jou! Daar is 'n begin wat God heilig, rein noem. Ja, ons Kategismus herinner ons tereg daaraan dat daar onreinheid aan my siel is wat weggesny, weggespoel moet word. Gaan soek maar die skoon plek! Met wat van jou kan jy vrolik en vrymoedig by die Here kom? As jy werklik 'n christen is, sal daar dinge wees wat jy graag vir God wil wys! Jou liefde vir Hom wat sy bloed vir jou gegee het. Jou vurige hoop dat God as 'n Vader jou sal help. Of die gawes wat u van die Gees gekry het: u gebed, u Bybelkennis, u wil dat nog baie mense die Here sal leer ken. Dit is almal werklik skoon plekke: gewas in die bloed van Christus, met water gemerk deur die Gees. Later, sê die Openbaring, sal God sê: "dit is mense (en dalk is jy een van hulle) wat hul klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die lam" (7:14).

Broers en susters, eintlik is dit baie tragies dat ons so min die doop aan volwasse mense kan bedien! Daar word mos sigbaar wat by lewenslange lidmate werklikheid sou moet wees: die groot verandering, die bewuste keuse. Die mens wat 'n heiden sonder God was, kom die verandering werklik agter, as hy bekeer word. Is dit hoekom kinders van die kerk so sukkel om agter te kom hoe pragtig God se genade is? Julle moet mooi weet hoe naby 'n heidense lewe jy was, voordat God die doop aan jou bedien het. Jy moet mooi besef hoe naby jy by 'n lewe sonder God kom, as jy nie meer lewend en verras in die geloof is nie.

Kom ons kyk vir Openbaring 7. Dan sal jy agterkom dat dit 'n groot genade is as christen in 'n harde werklikheid te mag lewe. In daardie hoofstuk lees ons van engele wat regstreeks van God 'n opdrag kry. Eers kom daar egter een engel "wat die seël van die lewende God dra". Die eerste opdrag is "die diensknegte van God op hulle voorhoofde te verseël". Hoekom is dit nodig om 'n teken op spesifieke mense aan te bring? Dit is nodig, omdat die engele op God se bevel die lewe op aarde moeiliker gaan maak. Daar word skade toegebring. Ja, ons het in hierdie preek al eerder oor sulke "skade" gepraat. Daar is skade wat ek myself of my naaste deur my sonde kan toebring. Nou hoor ons: daar is ook skade wat van hoërhand die lewe swaar kan maak. Die Bybel praat van die "groot verdrukking". Die verdrukking: dit omvat elke poging van die bose om God se kinders te mislei. Die wat hy nie kan mislei nie, sal hy laat vervolg. By ons is die bose nog altyd besig om te mislei. Dit is ook verdrukking, ook al ervaar jy dit nie so nie. Hy wat die bose is, het blykbaar nog voldoende kanse in die kerk om mense te mislei. Dit is die werklikheid in een land: vir die een is daar alreeds vervolging, by die ander het die duiwel genoeg aan misleiding.

Misleiding: dit gebeur, as gedoopte kinders van God nie mooi weet hoe om met hart en siel christen te wees nie. Dit gebeur, as 'n gemeente die gawes van die Heilige Gees nie herken nie, alhoewel hulle so baie gekry het. Onthou: die verseëling teen die mag van die bose is 'n daaglikse een. Die een keer van die doop was die sigbare afbeelding van wat werklikheid moet wees. Dit is: dat Christus jou moet vashou, sodat geen duiwel jou uit sy hand roof nie. Sodat Hy nie kom om ons ons rykdom weg te vat nie. Luister mooi vir die erns van die doop: omdat Christus sy lewe gegee het, 'n bloedig teken. Onthou mooi die diepgang van die doop: 'n watermerk deur die Gees vir elke dag. Ingesny soos by die besnydenis, vasgelê soos in waardevol papier, ingedruk soos 'n geldstuk op jou voorkop. 'n Skoon plekkie. Is daar al meer aan jou?

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)