Christus lyde is ons troos

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-04-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

18-4-93 verkiesing

Voor diens: Ps 43: 1-5
Ps 63: 1, 2
Ps 63: 3, 4
Skb 14: 1, 2 (doop Leendert Eloff)
Ps 51: 1, 2, 8 (boetepsalm)
Ps 147: 1, 2, 5
Lees: Rom 2: 17-29 + Rom 3: 9-20
Teks: Sondag 15

Brs en srs, kinders!

Die laaste jare geniet in Suid Afrika die opvoering van 'n passiespel 'n groeiende populariteit. Daar is die passiespele in Maynardville en in die grotte van Oudtshoorn. Ek meen dat ek onlangs gelees het van 'n kerk in Parow wat by wyse van evangelisasieprojek ook 'n passiespel aanbied. Die bedoeling van so'n passiespel is dan blykbaar om die lyde van Christus in die vorm van 'n drama weer te gee en daarmee mense te bereik met die evangelie.

Ek wil vanoggend nie 'n verhandeling gee oor die vraag of soiets mag of nie mag nie.

Ek wil net vra of dit kan.

Kan 'n mens deur middel van 'n drama enigsins 'n beeld gee van die werklikheid van die lyde van Christus?

Wat kan jy daarvan wys?

Die spot van die mense met die figuur Jesus? Is dit sy lyde?

Kan jy iets sien van die pyn wat Hy gely het toe hy aan die kruis vasgemaak is? Gaan dit daaroor?

Moet ons opgewek word tot meegevoel met die Here Jesus wat onskuldig al hierdie dinge moes ondergaan?

Maar ek kan nie glo dat Jesus so'n meegevoel soek nie.

Sy dood was mos nie 'n drama nie. Dit was nie 'n onontkombaar noodlot wat hom getref het nie. Hy was nie die slagoffer van magte waaroor hy geen beheer gehad het nie.

Hy het self gekies vir hierdie weg.

Hy het die kruis op Hom geneem.

'n Kruis waaraan 'n veel intenser lyde deurworstel moes word as wat ons ooit kan bevroed. 'n Lyde oneindig baie swaarder as wat 'n mens in 'n opvoering kan teken.

Immers wat kan ons van sy eintlike lyde sien?

Ons sien maar net 'n buitekant, ons sien 'n mens wat tenslotte beswyk aan die pyn van die kruis.

Maar die eintlike lyde is dat Hy moes buig onder die toorn van God. Die Seun van God is gebreek onder die gewig van die oordeel van God die Vader. Ja die vloek van die Vader, die ewige verwensing deur God het Hom verbrysel.

Dit maak sy lyde totaal uniek. Onherhaalbaar.

Vir wat op Golgota gebeur het, kan ons nie eens gepaste woorde vind om uit te druk wat Christus ondergaan het nie. Laat staan dat jy dit kan uitbeeld in 'n opvoering. Ons kan slegs 'n bietjie daarvan vermoed. En in skrik swyg.

Ons kan van sy lyde geen drama maak nie. Dit was onherhaalbare grimmige werklikheid. Al wat ons kan doen is in aanbidding neerbuig oor dit wat Vader en Seun aan die kruis verrig het.

Want sy lyde bring vir ons verlossing.

Sy veroordeling bring vir ons vryspraak.

Sy kruis bevry ons van die vloek.

Ons tema is:

Christus lyde is ons troos

Dit bevry ons van

  1. die toorn van God
  2. die oordeel van God
  3. die vloek van God

Uit die inleiding het u al wel verstaan dat ons die eintlike van Christus' lyde in die toorn van God moet sien. Daardie toorn is uit die aard van die saak nie uit te beeld nie. Ons moet dit nie eens wil probeer nie. Want elke menslike poging doen aan die werklikheid te kort.

Tog is dit belangrik om vir onsself wel weer oor die toorn van God na te dink.

As kerkmense is die gevaar groot dat ons dink dat ons alles al weet. Ons het dikwels genoeg gehoor van God se toorn. Dit kan ons nie meer pla nie. Ons het ook dikwels genoeg van die redding deur Jesus Christus gehoor. Dit sê vir ons ook nie veel meer nie.

Die toorn van God is vir ons mos 'n gepasseerde stasie.

Toorn van God, dit is iets om oor na te dink vir hoereerders en egbrekers en diewe en moordenaars. Hulle moet maar op hulle pasoppens wees vir die toorn van God.

Maar my liewe broer en suster, dink u ooit daaraan dat ons met ons netjiese lewe soos ons dit lei, 'n lewe waarvan ons vind niemand kan daarop iets aanmerk nie, besef dat ons daarmee ewe so goed die ewige dood verdien?

God se toorn gaan mos oor alle ongeregtigheid van mense.

Dit wil sê ook oor die dinge wat ons so maklik by onsself verskoon.

As ons hoor van God se toorn dan dink ons daarby onmiddellik aan die bose wêreld wat hom aan God en sy gebod nie steur nie.

Daar word groot sondes gedoen. God se toorn sal verskriklik wees daaroor!

Hoe waar dit ook mag wees, as ons nie meer weet te sê nie, dan praat ons maar net hoogmoedig.

Jy kry van die mense wat so graag praat oor die sondes van 'n ander, of oor die ongelooflike slapheid in ander kerke of oor die tekortkomings van br A. of suster B.

Hulle skud hul kop daar oor. Is dit nie erg nie?

Ja dit is, maar om so daaroor te praat is gewoonlik niks meer as 'n afleidingsbeweging. 'n Tipe bliksemafleier.

Laat die bliksem van God se toorn maar daar inslaan, in die bose wêreld of eventueel by die swak broeder.

Dan gaan dit ons in elk geval verby.

Wel, dit is nou hoogmoed.

As die Here ons aanspreek met sy toorn, dan gaan dit nie oor die slegtheid van die wêreld nie, maar dan gaan dit oor ons sondes. Wie werklik buig onder God se oordeel oor ons sondes, het wat anders te doen as om te praat oor die sondes van 'n ander.

Want dit is 'n hoogmoed waaraan die eerste volk van God, die Jode tenonder gegaan het. (Rom 2)

Volgens die Kategismus het Christus die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra.

Die ganse menslike geslag. Ons almal is deel daarvan, gemeente. Sonder uitsondering.

Van die menslike geslag gee Paulus in Romeine 3 die volgende getuienis:

"Daar is niemand regverdig, selfs nie een nie.
Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie. "

Hier hoor ons in 'n paar sinne hoe dit is met die ganse menslike geslag. En wat verkeerd is met hulle. Wat verkeerd is met ons dus.

Daar is niemand wat God soek nie!

Hier het ons die kern van die probleem.

Daar is niemand wat God soek nie.

Herken ons dit nie by onsself nie? Ons wil mos vry wees! Elkeen wil vir homself lewe.

Geniet wat jy kan. Vir jouself.

En daarom is daar in ons wêreld geen plek vir God nie.

Hoogstens vir 'n God wat moet kom help as dinge verkeerd gaan. So 'n God wil 'n mens nog wel 'n slag aanroep.

Maar God kan nie genoeë neem met 'n plek as hulp in nood-gevalle. Jy kry mense wat so oor God dink. God is 'n soort brandweerwag.

As daar geen brand is, kan hy maar bly waar hy is. Die meeste mense ken glad nie die brandweermanne nie, jy doen ook nie moeite om met hulle te gaan kennismaak nie. Maar as daar brand uitbreek, verwag jy hulle moet onmiddellik daar wees. Veral omdat daar by jou brand is.

Maar God is geen brandwag nie wat homself maar net beskikbaar hou tot jy van sy dienste gebruik moet maak.

Nee, as jy God nie soek nie, soek hy jou!

Maar dan in sy toorn!

In die begin van die Romeinebrief vertel Paulus wat die Here dan doen.

As mense meen dat hulle hulself kan red en met gebooie van God nie wil reken nie, dan gee God hulle oor aan hul hartstogte. As mense begin met ongehoorsaam wees, dan word die toorn van God sigbaar. Dan dryf Hy hulle in sy toorn verder op die pad. Dan laat God die mense vasloop in hul sonde.

In die Skrifgedeelte wat ons gelees het sit Paulus 'n aantal woorde uit die O.T. agter mekaar om aan te gee wat gebeur as mense God nie soek nie.

Vers 12: Hulle het almal afgewyk... (lees vers vir vers tot 17)

Met 'n yster konsekwensie gaan dit van die een tot die ander.

Van kwaad tot erger.

As mense God begin verlaat, maak God tenslotte die sameleweing van mense op aarde onmoontlik.

As ons op aarde van 'n roeping teenoor God nie meer wil weet nie, dan gaan ook die onderlinge verhoudings stukkend.

Dan buit die een die ander uit. Dan word vervolgens wraak geneem op 'n vreeslike manier.

Dan loop die lewe volkome vas. Onontkombaar.

Wel in so'n wêreld word Jesus gebore.

Wat kom Hy doen?

Kom Hy vertel hoe alles beter gedoen kan word?

Ja ook dit. Maar veral tog, Hy kom dit self anders doen.

Hy begin weer daar waar alles verkeerd gegaan het.

Hy soek God.

Hy het besef Hy het 'n roeping in sy lewe.

'n Roeping wat hom lyde sou bring. Onuitspreeklike lyde.

Want in sy roepingsbesef het Hy ons sondes op Hom geneem en daarmee het Hy Hom begeef onder die toorn van God.

Wat toe gebeur het, gemeente, daarvan kan ons ons geen voorstelling maak nie.

God het sy brandende toorn laat neerkom op Jesus Christus sy Seun.

'n Mens kan so kwaad raak dat die huis te klein is, maar as God se toorn losbreek dan is die wêreld te klein.

Iets daarvan kan ons sien as ons let op die kruis waaraan Jesus hang. En dan huiwer ons. Want daar hang die man van wie God eendag gesê het: Hierdie is My geliefde Seun in Wie Ek my welbehae het.

Groter en volmaakter liefde is nie dinkbaar as die liefde van die Vader vir die Seun nie.

En dan skrik ons: Wat moet sy toorn dan verskriklik wees dat dit moes gebeur!

Sy toorn oor ons sondes!

As ons iets verstaan het van die groot geweld wat losgebreek het op Golgota, huiwer ons om die oorbekende woorde van Sondag 15 in die mond te neem: toorn van God, ewige verdoemenis, streng oordeel.

Hier kan ons nie begryp nie. Ons kan slegs gelowig aanvaar. Daar het vreeslike dinge gebeur. Omwille van ons.

Daar moes ons sondes uitgeboet word. Daar moes ons skulde betaal word.

Hier kan ons slegs met Paulus stamel: Ek weet niks anders as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

Hoe dit alles gebeur het, ek weet nie.

Waarom dit alleen so kon. Ek weet nie.

Maar een ding weet ek: Hierdie kruis van Jesus Christus is my tot redding verkondig. Die kruis het my van die toorn van God bevry.

Daarmee kan ek my troos.

2. Ons is bevry van 'n oordeel van God.

Die tweede vraag van Sondag 15 gaan in op die belydenis dat Jesus onder Pontius Pilatus gely het.

Die Kategismus sê daarvan: Hy is deur 'n wêreldlike regter veroordeel. Deur 'n amptelik regsprekende instelling.

Jesus het nie sommer omgekom deur 'n opgewonde volksmenigte nie. Hy is ook nie skielik vermoor nie.

Hy is deur 'n wettige owerheid veroordeel. En wel onskuldig.

Onskuldig. Daarop moet ons hier let.

In God se plan moes die Romeinse amptenaar Pilatus 'n taak vervul.

Pilatus se taak was om eers amptelik Jesus' onskuld vas te stel.

Nadat hy hom verhoor het, het hy uitgespreek: Ek vind geen skuld in hierdie mens nie. Hy is onskuldig.

As ons hieroor nadink sou ons amper van goddelike ironie wil praat. Want wat is die vervolg op Pilatus se onskuldig-verklaring? Hoe hanteer hy die saak verder?

Piliatus wil die vrede in Jerusalem bewaar. Hy soek geen moeilikheid met die volk nie. Hy het klaar sy deel daarvan gehad.

Die vrede moet gedien word.

Eers probeer hy iemand anders vorentoe skuif. Barabbas.

'n Moordenaar. Iemand wie se skuld terdeë vasstaan.

Maar nee, 'n skuldige ophang, dit kan nie die vrede bewerk nie.

Nee Jesus moet hang, eis die volk.

'n Onskuldige moet sterf om die vrede in Jerusalem te herstel.

Goddelike ironie! Want hoe waar is dit!

Geen skuldige kan die oordeel van God ondergaan en daarmee ander mense van die oordeel bevry nie. Daarvoor moet 'n onskuldige kom en die straf op Hom neem.

En daarom laat God deur Pilatus oor Jesus 'n doodvonnis uitspreek.

Die vrede is darem gered, versug Pilatus in sy onregverdig oordeel.

Slegs so kan die vrede herstel word, so spreek God in sy regverdig oordeel.

En Jesus het dit geweet. Hy hoor in die onregverdige vonnis van Pilatus, die regverdige oordeel van God.

God lei die regter Pilatus in sy almagtige bestuur.

Jesus het tot in die diepste van sy wese gevoel dat God self hom die oordeel op die skouer lê. Die Vader laat die Seun los.

Hoe diep het Hom dit geraak!

Om onskuldig veroordeel te word dit is die ergste wat 'n mens kan gebeur.

Mense kan baie onregverdige behandelings verdra, maar as 'n regter nie meer betroubaar is nie, dan stort jou wêreld in.

Want dit is altyd jou laatste toevlug.

Soos Paulus die laaste troos vir 'n gelowige so onder woorde bring: As God vir ons is wie kan teen ons wees?

Maar Jesus weet, God keer hom nou teen Hom.

In die onregverdige vonnis van Pilatus hoor Jesus die oordeel van God. Onskuldig maar tog veroordeel.

Teen so 'n vreeslike onreg kan 'n mens maar net in opstand kom. En woedend raak op hulle wat die oordeel wel verdien.

Maar nie Jesus nie.

Hy buig sy kop.

Laat u wil geskied.

Laat u streng oordeel op My neerkom.

Op die onskuldige sodat die skuldiges vryuit kan gaan.

Die ware skuldiges, dit is ons.

Ons is hier die direk-betrokkenes. Dit moet ons steeds bewus wees in hierdie lydensverhaal.

Dit is ons sondes wat Hom aan die kruis gebring het.

Dit was ons skuld wat op Hom neergekom het.

Maar in hierdie oordeel het dit om ons vryspraak gegaan.

Ons is nou bevry van die oordeel van God.

Laat ons daaroor nooit gemaklik begin praat nie, asof dit iets vanselfsprekends is nie.

Want erger as so kan ons ons Heiland nie beledig nie.

Laat ons maar bid dat ons steeds weer die verskrikking van sy lyde sal besef.

Sodat ons met ware blydskap kan sing van die oordeel wat ons vrygespring het deur die kruis van Christus.

3. Ons is bevry van die vloek van God

Die laaste vraag van Sondag 15 vra hoekom Jesus spesifiek gekruisig is.

Die kruisiging, 'n vorm van ophanging is 'n besondere doodstraf. Die dood deur ophanging geld in die O.T. as 'n ekstra swaar straf.

'n Gehangene is oorgelewer aan die vloek van God.

Om te vloek dit is die ergste wat 'n mens kan doen. As jy vloek dan vertrap jy opsetlik iets wat heilig en kosbaar is.

Jy neem b. v. die Naam van God in jou mond om daarmee jou woede af te reageer. Jy gebruik Sy heilige naam vir jou klein- menslike frustrasie. So 'n vloek is erg.

Maar as God begin vloek, dit is vreeslik.

Hy verpletter dan dit wat Hom lief was. Hy trap dit stukkend met sy vreeslike vloek.

Dit is wat gebeur as Jesus aan die kruis kom.

Hy kom onder God se vloek. God gaan Hom verpletter.

God wil niks meer met Hom te doen hê nie. Hy vaag Hom weg voor sy aangesig. Hy stoot hom oor die grens van die ewige dood.

Ons Middelaar staan daar heeltemal alleen.

Deur God vervloek.

'n Swaarder oordeel is nie dinkbaar nie.

Uit God se gemeenskap uitgestoot.

'n Gruweliker lyde is vir die Seun nie moontlik nie.

Hy word die hel in geskop.

Wie sal besef wat toe gebeur het?

Wat sal beskryf wat Christus toe gely het?

Ons weet nie meer nie.

Ja een ding weet ons: Hy het dit oor Hom laat kom.

Vir ons!

Want Hy wou ons terugbring in gemeenskap met God sy Vader.

En dit kon slegs so gedoen word.

Die vloek wat Hy gedra het, sal nie meer oor ons kom nie.

Deur Hom is ons van die vloek bevry.

En dan kan daar nog baie gebeur in ons lewe.

Dit mag wees dat ons moet ly. Dit mag wees dat ons onskuldig ter dood veroordeel word. Soos met baie martelaars gebeur het.

Maar hulle kon bly sing. Want van een ding was hulle volkome seker.

God se regspraak sal ons nie veroordeel nie.

Ons is bevry van die vloek van God.

Deur die kruis van Jesus Christus.

Wat kan ons dus doen gemeente?

Heeltemal niks. Ons het almal ons hande vol aan so 'n boodskap.

Dink maar net na oor u lewe wat onse Here Jesus Christus aan die kruis gebring het.

Dink daaroor na en aanvaar sy lyde as u enigste troos, tot u vanself begin sing.

Al wat behoort oor te bly is namelik roem in Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)