Jesus' geboorte is 'n wonder van beloftevervulling

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-04-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

4 April 1993

Ps 89: 1, 2, 3
Skb 1: 1-6 middesang
Geloofsbelydenis
Skb 35: 1, 2, 3
Lees: Gal 3: 1-4: 7 & art 17, 18 NGB
Teks: Sondag 14

Brs en srs, sns en dgtrs!

Vanmiddag gaan dit oor die woorde uit die Apostoliese geloofsbelydenis waar ons van Jesus Christus bely: "Hy is ontvang van die Heilige Gees; Hy is gebore uit die maagd Maria".

Dit sal duidelik wees dat ons hier belydenis doen van 'n wonder. Van die wonderlike geboorte van die Here Jesus.

Of eintlik, nie sy geboorte was 'n wonder nie. Maria het 'n normale bevalling gehad.

Die wonder het al eerder plaasgevind. Die wonder moet ons sien in die ontstaan van die swangerskap van Maria. Die kind in haar skoot is nie verwek deur 'n man nie, maar deur die krag van die Heilige Gees.

Miskien moet ons vir die duidelikheid daarom liewers praat van 'n maagdelike swangerskap as van 'n maagdelike geboorte.

Maar ons moet nog verder vra.

Is dit dan die grootste wonder van die Kersfees dat 'n maagd swanger geword het en 'n seun gekry het?

En dan is die antwoord nogmaals 'nee'.

Die geboorte uit 'n maagd is op sy beurt weer 'n onderdeel van 'n veel groter wonder.

Die grootste en eintlike wonder van die Kersfees is dat God sy eie Seun as 'n mens gebore laat word.

Die ewige Woord het vleesgeword!

Dit is die groot wonder!

Dit is die vlak waarop sake hier oordink en geglo moet word.

By so'n magtige wonder pas 'n heel besondere ingrype van God.

Op sy tyd en op sy wyse bring Hy sy Seun in die wêreld en gee vir Hom 'n egte menslike natuur.

Dit het ons ook gelees in die 2 artikels van die NGB wat ek vir u voorgelees het.

Daarin gaan dit oor die wonder van die menswording van Jesus Christus.

Die wonder het plaaasgevind op 'n sekere tyd.

Volgens art 18: op die tyd deur God bepaal, het Hy sy Seun in die wêreld gestuur.

Maar nou is daar nog 'n ding waarvoor ek u aandag wil vra.

Die geboorte van Jesus Christus kom nie soos 'n donderslag uit die bloute nie. Daaraan gaan 'n hele voorbereiding vooraf.

'n Geskiedenis van 'n belofte van God.

"Ons bely dat God die belofte vervul het wat Hy aan die vaders gedoen het... "

So kan ons die geboorte van Christus beskou as die vervulling van beloftes van God.

Hy is die kind van die belofte by uitnemendheid!

Vanuit hierdie gedagte wil ons u vanmiddag die Woord bedien onder die volgende tema:

Jesus' geboorte is 'n wonder van beloftevervulling

  1. Hy is Eva's beloofde Seun
  2. Hy is Dawids beloofde Seun

Artikel 17 NGB wys op 'n pragtige manier op wat gebeur het onmiddellik na die eerste sonde van die eerste mense.

"Toe ons goeie God sien dat die mens homself in die geestelike en liggaamlike dood gewerp het en al bewende van Hom weggevlug het, het Hy hom in sy uitnemende wysheid en goedheid weer opgesoek".

God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak- sy Seun wat uit 'n vrou gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel.

Ons kan nie aanvaar dat Adam en Eva onmiddellik besef het wat God bedoel het nie. Dit is vir die mense eers baie later geopenbaar.

Maar vanuit God self gesien is dit ongetwyfeld waar wat art 17 sê: God het van ewigheid sy plan klaar gehad. God se belofte dat die saad van die vrou eenmaal die kop van die slang sou vermorsel bevat in beginsel die hele verlossingsplan van God.

Wat Adam daarvan presies verstaan het, weet ons nie.

Maar hy het tog wel begryp dat daar genade by God is. Dat hul lewe nie onherroepelik verlore is nie.

Die oorwinning van die Satan is nie definitief nie.

God sal op een of ander manier verlossing bring. En dit sal gebeur met hulp van die saad van die vrou.

Dit is wat Adam glo.

En daarom hoor ons Adam onmiddellik na die oordeelsaankon-diging die opmerklike woorde spreek: Vrou, van nou af sal ek jou Eva noem.

'Eva' - 'lewe' beteken dit.

Adam verander dus haar naam op grond van wat hy sopas van God gehoor het.

Daarvoor was haar naam namelik 'Mannin'.

Sy was genoem na haar man. Maar as mannin het sy gefaal. Sy het toegelaat dat sy 'n middel word in die hand van Satan om hulle van God af te trek.

Maar let nou op God se genade. God wil vir haar 'n prominente plek gee in die herstelplan wat Hy het.

God wil haar as moeder gebruik.

Uit haar sal die beloofde saad voortkom. Die Saad van die vrou!

En daarom is hierdie naamsverandering van Mannin in Eva 'n belangrike gebeurtenis.

Ons kan sê: dit is nou Adam se geloofsbelydenis.

Adam sien weer perspektief na die verskrikking van die sondeval.

Dit is Adam se gelowige antwoord op God se belofte.

'Eva' sal jy van nou af genoem word: Moeder van almal wat lewe.

Nogmaals, hoeveel Adam hiervan self verstaan het, weet ons nie.

Maar tog, in die naam Eva praat hy van die lewe wat in Christus herstel sal word.

Adam spreek hier as die eerste profeet.

Die gees van die profesie het oor hom vaardig geword.

Ons kan dit nog anders sê: Dit was die Gees van Christus wat in Adam was. Christus self noem hier Eva as sy moeder.

As die moeder van die lewende. Die lewende Christus.

As ons dit so sien dan praat ons op die vlak van Sondag 14:

Let op die eerste antwoord: die handelende persoon hier is die Seun van God.

Die ewige Seun van God neem 'n ware menslike natuur aan uit die vlees en bloed van die maagd Maria.

Hy self neem die inisiatief. Hy kies self sy moeder uit.

Maria. Maar Maria is 'n dogter van Eva.

Dus as ons nou weer terugdink aan Genesis 3 kan ons ook sê: Hier laat Christus Self deur Adam die vrou Eva noem.

Moeder van almal wat lewe.

Eva, as moeder van almal wat lewe sal eendag die vrouesaad by uitstek voortbring.

Sy word lewensmoeder. Nie vanweë haar eie krag of vermoë nie, maar vanweë die voortreflikheid van haar Saad.

Eva, dit is 'n eretitel.

Jy is God se begenadigde. Moeder van almal wat lewe.

Geseënd is jy onder die vroue. Van nou af sal al die geslagte jou gelukkig prys. Want jy is die eerste. Die eerste moeder van almal wat lewe.

Hierdie nuwe naam wat Eva ontvang is heerlik vervul in die maagd Maria, soveel eeue later.

Maria word die moeder van die Lewende.

Maar daar is ook 'n kenmerkende verskil tussen Maria en Eva.

Eva was eers mannin en daarna moeder.

Maar Maria was eers moeder en daarna mannin!

In die moederskap wat Eva ontvang, het ook Adam as vader 'n plek gehad.

Maar in Maria's moederskap is die man heeltemal uitgeskakel.

Die weg van natuurlike voortplanting van die mens kan God hier nie gebruik nie.

Immers Jesus Christus kan nie voortgebring word deur mense nie, maar Hy tree Self tot die mensheid toe.

Van bo af daal Hy neer in die vlees.

Dit was nodig.

Immers so gou as wat ons 'n kind voortbring is dit 'n kind wat in sondes ontvang en gebore is.

Vanaf die allereerste oomblik in die menselewe lê daar die skuld van die sonde.

Daarom kan God by die uitvoering van sy verlossingsplan, by die vervulling van sy belofte uit die paradys nie die gewone weg van menslike voortplanting gebruik nie.

God moes 'n heel spesiale maatreël neem.

Hy maak gebruik van die maagd Maria.

God maak gebruik van haar. Dit is tenslotte nie Maria wat 'n kind voortbring nie, maar die Seun van God wat 'n moeder uitkies wat vlees en bloed aanneem uit die maagd Maria.

Dit is nou genade van God.

Hy gebruik 'n dogter van Eva om 'n nuwe begin te maak.

Ter vervulling van 'n ou belofte.

Daarby kom geen man te pas nie.

Die Heilige Gees bring hier iets totaal nuuts tot stand.

Wat skitter hier heerlik die triomf van God se genade!

Hy, ja Hy alleen werk dit.

Hy voer sy plan uit en trek Hom daarby niks aan van wat ons as moontlik of onmoontlik beskou nie.

Maria word die geseënde onder die vroue.

Nie vanweë haar eie kwaliteite of inspannings nie, maar omdat God haar as sy uitverkore werktuig wou gebruik.

Daarvan kan Maria dan ook met blydskap sing:

My siel maak die Here groot

Want Hy het magtige dinge aan my gedoen.

Sy barmhartigheid is van geslag op geslag

Inderdaad van geslag op geslag. Die belofte aan Eva oor God se barmhartigheid het oorgegaan van geslag op geslag tot hy by Maria uitkom. En dan word dit heerlik vervul! Deur God self!

Maria kan daarvan sing:

Hy het kragtige dade gedoen!
Hy het maghebbers van hul trone geruk.
Hy het nederiges verhoog.

Hy het, Hy het! As 'n refrein klink dit deur Maria's lied.

God het alles gedoen.

Hy het al sy beloftes vervul.

Met daardie lofsang wil ons saamstem. Ja Here U alleen het dit gedoen.

In die lofsang is ons gered.

2. Jesus Christus is Dawids beloofde Seun

In antw 35 van die HK word verder gesê van die Seun van God dat Hy vlees en bloed uit die maagd Maria aangeneem het, sodat Hy ook die ware nakomeling van Dawid sou wees.

Die Here skakel dus nie sommer 'n willekeurige meisie uit Israel in nie. Nee Hy kies vir Maria.

Maria is namelik verloof aan Josef, 'n nakomeling van Dawid.

Die woord verloof in ons vertaling is eintlik 'n bietje misleidend. Immers dan lees ons gou ons idee van verlowing hierin.

By ons is 'n verlowing 'n afspraak van die paartjie dat hulle hul nou ernstig gaan voorberei op 'n latere huwelik. Maar hierdie afspraak het nog nie juridiese konsekwensies nie.

Jy doen wel beloftes van trou. 'n Mens mag sulke beloftes nooit ligverdig doen nie, maar tog is jy nog nie wettig aan die ander verbind nie.

In Israel was dit egter anders.

Die verhouding tussen Josef en Maria was wel 'n wettige verbintenis. Daardie relasie kan jy nie eensydig verbreek nie.

Jy is juridies aan mekaar verbonde ook al leef jy nog nie saam as man en vrou nie.

Of Josef en Maria nog voor die geboorte van Jesus 'n bruilof gereël het, weet ons nie. Maar in elk geval, sy is reeds sy wettige vrou!

En daarom kan die kind wat gebore word ook 'n wettige nakomeling van Dawid wees.

Dit was nodig. Hoekom?

Omdat daar nog 'n belofte van God aan Dawid se huis oopgestaan het!

Die belofte aan Eva beteken dat die Verlosser uit die mensheid gebore sal word.

Maar God het later belowe dat die bedoelde Verlosser spesiaal uit die volk Israel sal kom. Uit die nageslag van Abraham.

En uit daardie kinders van Abraham het Hy weer spesiaal die stam Juda verkies.

En uit Juda's stam, die huis van Dawid.

God moes nog 'n belofte aan Dawis se huis vervul!

Dawid se Seun sal vir ewig op die troon sit.

Die direkte afstammelinge van Dawid op die koningstroon in Jerusalem was vervulling van hierdie belofte nie waardig nie.

Die belofte het eeue en eeue oorgestaan.

Maar hy staan. God se beloftes gaan nooit sommer verlore nie!

Daarom word vervulling van daardie belofte aan Maria aangekondig. Met hierdie woorde:

"Die Here God sal aan jou Seun die troon van sy vader Dawid gee en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid en aan sy koninkryk sal geen einde wees nie. "

Hier sien ons dat God deur die inskakeling van juis Maria die hele O.T. belofte waarmaak.

Jesus is die ware nakomeling van Dawid.

In Hom word vervul wat reeds in Koning Dawid te sien was. Dawid was die voorvegter en die voorganger van sy volk.

Hy het sy volk gelei in die diens van die Here.

Seker, ons weet dat Dawid dit in swakheid gedoen het. Toe hy homself belangrik gevind het en uit selfverering sy volk laat tel het, het dit die lewe van derduisende van die volk gekos.

Maar nou kom Dawid se groot Seun. Dawid se Heer.

Hy is meer as Dawid.

Hy sal sy volk in geregtigheid lei.

Hy het gekom nie as 'n aardse koning om hom te laat dien nie, Maar hy het as voorganger sy volk gedien.

Hy bring al sy onderdane tot God sodat hulle Hom as Koning alle eer sal bewys.

Daarom is Hy tans die ewige Koning wat sy volk regeer deur sy Gees en Woord.

Hy roep ons almal tot diens in Sy Ryk.

Selfs die klein kinders. Hulle kan gedoop word. Hulle mag die merkteken ontvang van hul Koning Jesus Christus

Om Christus' ontwil wil God ons seën.

Ja Hy wil ons self seën in die geboorte van kinders.

Seker, ons kinders word almal in sonde ontvang en gebore.

Hulle is mos almal kinders van Adam, maar tog mag ons bely: Hulle is in Christus geheilig.

Dit kan. Christus self het Hom mos as 'n kind gebore laat word.

Hy het die hele pad geloop wat ons ook gaan. Vanaf die allereerste begin dat ons ontvang is in 'n moederskoot. Hy is gebore, Hy was 'n kind, Hy het geleef en Hy het gesterf.

Die hele pad het Hy gegaan, in alles sy broers gelyk.

As 'n kind moes Hy gebore word.

Want daar moes Hy begin om die sondes weg te dra.

Dit is die troos van die heilige ontvangenis en geboorte van Christus.

Die weg van die geboorte waarlangs ons as mense almal gekom het, het deur ons skuld die weg van voortplanting van die sonde geword.

Maar deur Christus wat dieselfde pad gegaan het, word daardie pad geheilig. Dit word 'n pad van voortplanting van die genade.

Immers soos die HK sê: Met sy onskuld en heiligheid bedek Hy my sonde waarin ek ontvang en gebore is. Hy bedek dit voor die aangesig van God.

Hy bedek dit. Dit wil sê: Die sondes is wel daar. Ook ons sondige natuur is nog steeds'n feit. Maar Christus bedek dit.

Soos 'n kleed lê hy daar sy onskuld en heiligheid oor, sodat dit onsigbaar word.

God sien dit nie meer nie.

As God na ons kyk, sien Hy eers Christus en sy heiligheid en daarna eers ons.

Hy sien my aan nie meer in my sondes nie, maar Hy sien my aan in Christus.

So is Christus ons Middelaar.

Nie 'n Middelaar wat ver weg is nie. Nie 'n Middelaar wat in 'n vreemde onbereikbare wêreld verlossing tot stand gebring het nie.

Maar 'n middelaar wat uit die hemel gekom het om hier op aarde mens te word.

Een van ons. Ons broeder wat die vlees betref.

En tog so ver bo ons dat ons Hom as Koning moet eer.

En daarom eindig ons met die pragtige slotwoorde van Art 18 NGB

Ons bely inderdaad dat Hy ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons!

Geen wonder was vir God te groot om so naby ons te kom nie.

God met ons.

Dan kan ons met groot vertroue verder. Geen wonder sal te groot wees om ons te red uit die deur die sonde verteerde wêreld.

Wat ook al gebeur in ons lewe: Ons kan steeds bely:

Immanuel!

God was met ons.

God is met ons.

God sal altyd met ons wees!

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)