Die vuur van God se liefde in die geskenk van Sy Seun

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-03-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

28 Maart 1993

Ps 16: 1, 2, 3
Ps 57: 1, 2, 3, 4, 5
Sk 33: 1, 2, 3
Geloofsbelydenis
Lees: 1 Johannes 4: 7-21
Teks: Sondag 13

Brs en srs,

"Ek die Here jou God is 'n jaloerse God"

Hierdie uitdrukking ken ons baie goed uit die teks van die tweede gebod.

Omdat die woord 'jaloers' in Afrikaans 'n eienskap aandui wat seker nie as positief beskou kan word nie, vertaal die Nuwe Vertaling volgens die bedoeling van die tweede gebod dan ook: "Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My!"

Dit beteken: nou dat God Hom tot onse God verklaar het, nou is Hy die enigste wat reg het op ons aanbidding.

Indien ons op sy keuse vir ons in sy Verbond nie positief reageer nie, dan laat Hy dit nie sommer soos dit is nie.

Nee, na sy eie selfoorgawe in die Verbond eis Hy ook van ons kant volkome toewyding. As ons dit nie gee nie, dreig Hy met wraak.

Waarom so skerp?

Gemeente, die antwoord op die vraag moet ons soek in die liefde van God.

God word bewoë deur liefde.

Deur 'n hewige, deur 'n brandende liefde.

En daarom moet ons op ons pasoppens wees as dit in die Bybel oor die liefde van God gaan.

Ons is geneig om die woord liefde sommer af te skaal tot 'n soort algemene mensvriendelikheid.

Maar dan maak ons 'n groot fout.

God se liefde beteken nooit 'n slappe toegeeflike mildheid nie, maar sy liefde is soos 'n vuur.

'n Vuur is pragtig, maar alleen op die regte plek en op die regte tyd. Want 'n vuur kan ook gevaarlik wees.

'n Vernietigende vuur. Vuur kan 'n verslindende vlammesee word.

So is dit ook met die liefde van God.

Die vuur van sy liefde is leweverwekkend en leweverwarmend vir hulle wat by die vuur kom skuil.

Maar dieselfde vuur word dodelik as jy as mens nie aan die vuur van sy liefde beantwoord nie.

Wie kan die vuur van sy liefde beantwoord met die warmte wat gevra word?

Wie kan sy liefde ontvang en teruggee soos Hy verwag?

Ongelukkig, geen mens nie.

Eintlik maar net een. Jesus Christus. God se eie Seun.

Slegs Hy kan die volmaakte liefde van God beantwoord met sy volkome wederliefde.

Omdat Hy dit doen, daarom werk die vuur van God se liefde vir elkeen wat by Jesus Christus skuil nie ten dode nie, maar ten lewe!

Ons tema vir die preek van vanmiddag:

Die vuur van God se liefde in die geskenk van Sy Seun

  1. Dit maak ons tot kinders van God
  2. Dit maak ons tot knegte van God

Die apostel Johannes is wel genoem die apostel van die liefde. En inderdaad, sowel in sy evangelie as in sy briewe speel die liefde 'n groot rol.

Vir Johannes self is dit heel duidelik hoekom.

Hy het die liefde van God raakgesien as die bewegende krag in God.

God se liefde is die bron waaruit alles wat is, voortgekom het.

Dit is sy liefde wat die oorsaak is van sy skepping van die wêreld en die mens daarop.

Dit is ook sy liefde wat nie wil toelaat dat die mens deur eie skuld sy lewe en die lewe van die wêreld vermors totdat dit in die ewige dood eindig nie.

God se liefde kan dit nie aansien nie.

Wil julle weet wat sy liefde vir julle beteken?

Wil julle weet hoe daardie liefde jul lewe beinvloed?

Lees dan Johannes!

Hoofstuk 3 van sy eerste brief begin hy so: Kyk, wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het dat ons kinders van God genoem kan word!

Besef tog watter groot liefde daaragter moet werk!

Om dit te leer besef gemeente, word van ons iets gevra.

Ons sal moet probeer om so vanuit die liefde van God te dink dat ons lewe daarvan verander.

Mens sou kon sê: as gelowiges moet ons leer om oor die liefde van God te mediteer.

Nou is dit nie so maklik om vrugbaar te mediteer nie.

Daarby is die gevaar groot dat ons dit op die verkeerde manier doen. Die geskiedenis gee genoegsaam bewyse daarvan van maniere van meditasie waarby dit verkeerd gegaan het. Dit het ons maar huiwerig gemaak teenoor die begrip meditasie.

Wat by voorbeeld maklik kan gebeur is dat ons ons by ons meditasie uitsluitlik op ons gevoel laat dryf.

Dan kan ons sommer maklik verdrink omdat ons eie gevoel maar 'n baie onseker kompas is om op te koers.

Dit kan namelik wees dat dit met jou baie goed gaan. Jy voel goed. Die son skyn in jou lewe. Jy voel goed oor God en jy gaan daarvan uit God voel goed oor jou. Jy verbind die liefde van God net met jou eie geluksgevoel. Hierdie gevoel kan jou maklik tot 'n baie oppervlakkige omgang met God bring.

Dit kan ook wees dat dit met jou glad nie goed gaan nie. Jy voel nie vrolik nie. Jy kyk somber na die lewe. Jy voel nie goed oor jouself nie en jy gaan daarvanuit God sal ook wel nie goed oor jou voel nie. Hierdie negatiewe gevoel kan jou daartoe bring dat jy steeds meer kontak met God verloor. Hy is nie meer 'n bron van blydskap in jou lewe nie. Jy kan ook moeilik liefde vir God opbring want jy voel Hy is ver van jou af weg.

Verstaan u wat ek bedoel as ek sê jou gevoel is nie so'n bruikbare kompas nie?

Nou moet u my nie misverstaan. Ek beweer geensins dat geloof niks met gevoel te doen het nie. Eerder die teendeel!

Immers as Johannes sê 'God is liefde! ', hoe sou so'n uitspraak of so'n feit ons gevoel nie kan raak nie?

Maar die punt is, ons moet ons nie op ons gevoel laat drywe en daardeur moontlik nêrens uitkom nie, maar ons moet ons gevoel laat stuur.

Deur die Bybel!

Ons het nou 'n gedeelte van 1 Johannes 4 gelees. Hierdie gedeelte is so ryk en so vol van dinge om rustig oor na te dink dat ons by eenvoudige lesing daarvan, die inhoud en betekenis nooit in een keer kan vat nie.

Dit is nou 'n Skrifgedeelte om vers vir vers oor te mediteer!

Kom ons mediteer 'n bietjie saam.

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê. Daarmee begin Johannes.

Laat ons mekaar liefhê. Blykbaar is dit binne die gemeente van Christus glad nie vanselfsprekend nie. Mekaar liefhê, dit is omgee vir mekaar. Dit is mekaar raaksien in elkeen se node.

Dit is om mekaar ondersteuning te gee wanneer ons dit nodig het. As ons voel daar is 'n gevaar dat iemand geestelik verongeluk, dan is ons besorg en probeer iets doen. Om lief te hê binne die gemeente is nie net om 'n paar vriende aan te hou en net met hulle om te gaan nie, maar om lief te hê is om verantwoordelik te voel vir almal.

Pragtig, so behoort dit in die gemeente te wees.

Maar hoe is die praktyk?

Mekaar liefhê. Ons kan sommiges nie vat nie. En dan dink ons dis hulle fout.

Ons stel in anderes glad nie belang nie. Hulle is mos skoon te dom vir ons.

Ons voel ook nie altyd veel vir die diens van die Here nie. Ons het soveel ander dinge om mee besig te wees. Ons hart gaan uit na veel dinge wat vir ons belangrik is.

Liefde? Ag ja. Dit sal waar wees. Het ons so dikwels gehoor.

Daarmee wens ek nie steeds lastiggeval te word nie.

Maar so kan ons dit nie afdoen nie.

Die liefde is uit God, skryf Johannes.

Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

God is liefde. Noem jy God, dan praat jy van liefde. God stroom oor van liefde. Ook vir jou. Jy moet weet, jy leef van sy liefde. Die feit dat jy lewe, die feit dat jy vanmiddag hier kan sit, is direk te danke aan die liefde van God.

Hoe kan jy dan ooit jou skouers ophaal oor die liefde van God?

Hoe kan jy ooit die liefde tot jou broer verwaarloos?

God is mos liefde!

En hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. (vs 9)

Vers 10 onderstreep dit nogmaals: Hierin is die liefde; nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.

God het uit liefde ons sy Seun gestuur. As 'n versoening vir ons sondes.

Gemeente in hierdie woorde lê die hart van ons geloof.

God stuur uit liefde sy Seun om ons sondes te versoen.

By 'n mens kan allerhande vrae opkom oor hierdie gang van sake.

Het God 'n Seun?

En wat beteken dit dat Hy kom?

En hoe kan sy dood nou vir ons verlossing van sondes bring? Vrae genoeg om te vra.

Ek weet nie al die antwoorde wat 'n mens hier sou kon vra nie.

Maar by hierdie woorde van Johannes vind ek rus.

Daar is liefde van God wat na ons uitgaan.

In daardie liefde gee Hy sy Seun. En Hy self sê, dit is vir die versoening van ons sondes.

Wat wil ons dan nog meer?

Dit is God in die hemel wat ons aanspreeklik stel vir ons sondes.

Maar dieselfde God gee ook die oplossing. Daar is versoening wat Hy self bring. Die versoening deur sy Seun. Deur Jesus Christus.

Daarom is die belydenis van Sondag 13 dat Jesus Christus die ewige natuurlike Seun van God is, 'n lewensvoorwaarde vir die kerk.

Nie ons het Jesus Christus as versoening voorgestel nie.

God Self het!

En daarom is ons seker van ons redding deur Hom.

Deur die sonde het daar 'n onoorbrugbare kloof tussen die heilige God en die sondige mens gekom. Die lewe aan hierdie kant van die afgrond is onherroepelik verlore.

En van ons kant af kan geen poging tot redding onderneem word nie.

Maar daar kom hulp! Hulp van die ander kant. God self kom met 'n verlossingsplan. In sy onmeetlike liefde bou Hy 'n brug. En die naam van die brug is: Jesus Christus, Seun van God!

Wie by God wil uitkom moet hierdie brug gaan.

Daar is geen ander pad om kind van God te kan word nie as hierdie.

Hierdie pad kan jy alleen maar gaan met die belydenis in die hart en die belydenis op die lippe dat Jesus die Seun van God is.

Daarom is Johannes so verskriklik skerp in sy afwysing van dwaalleraars wat weier om Jesus Christus Seun van God te noem. Antichriste noem hy vir hulle in hierdie brief.

Die Antichris loën die Vader en die Seun.

Wel as jy dit loën dan hou jy niks oor as 'n mensgemaakte religie nie. In 'n mensgemaakte religie probeer mense almal om self die God te dien wat hulle wil dien. Hulle wil graag knegte wees van die God wat hulle self in gedagte het.

Maar jy kan nie kneg van God wees voor jy 'n kind van Hom geword het nie.

'n Kind van 'n liefhebbende, genadige Vader.

Die Vader moes sy eie Seun gee om met ons gemeenskap te kan herstel.

Nou mag ons weer omgang met Hom hê en baie naby Hom lewe.

As seuns by hul vader.

Kyk, wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het dat ons kinders van God genoem kan word!

Kyk en kyk weer. Verbaas julle daaroor!

Dink na oor die liefde van God vir jou.

Mediteer daaroor. Dit beteken gaan 'n slag rustig alleen sit en lees en herlees die woorde van Johannes oor die liefde van God. Verwonder jou en vra jou af wat jy daarmee kan doen.

Want die verwondering oor die groot liefde van die Vader is die geheim van alle godsvrug.

Daardie verwondering kan alleen maar lewend bly as ons steeds bereid is om terug te sit en te bedink wat 'n groot liefde deur die Vader aan jou bewys is dat jy 'n kind van Hom genoem word. Dat jy deur Homself as kind aangeneem is.

Kom verwonder jou daaroor.

En laat die verwondering steeds 'n bron wees om jou lewe elke dag meer aan Hom toe te wy.

2. Die vuur van God se liefde in die geskenk van Sy Seun maak ons tot knegte van God.

In vr en antw. 34 doen ons belydenis van die titel: ons Here.

In hierdie laaste titel wat die Here Jesus in die Apostolikum ontvang, hoor ons die eggo van die oudste en kortste belydenis van die christelike kerk namelik: Jesus is Heer.

Die titel Heer of Here moet u nie verwar met die naam HERE wat ons in die O.T. kry nie. Daar is dit die vertaling van die godsnaam Jahwe.

Hier in Sondag 13 gaan dit om die titel Heer, as vertaling van die Griekse woord Kurios.

Die woord Kurios is in die tyd van die N.T. gemeente gebruik om iemand aan te dui wat slawe het. 'n Slaaf staan indiens van sy heer. Sy eienaar.

So is ons knegte van ons Heer, Jesus Christus.

Maar tog nie sommer knegte nie.

God kan niemand as kneg gebruik wat nie eers sy kind wil wees nie. Jy moet jou eers tot kind van God laat maak deur in geloof Jesus Christus as die eniggebore Seun van God te bely.

Daarvoor moet jy die liefde van God eers raaksien.

En wanneer jy besef dat die Seun self uit liefde sy lewe vir jou gegee het, besef jy ook watter tipe kneg jy van Hom mag wees.

Jy kan nie 'n kneg wees wat sugtende en klaende sy diens verrig nie, want sulke knegte kan Christus nie gebruik nie. Hulle gee mos blyk daarvan dat hulle van die hele verhouding niks verstaan nie.

Christus het 'n hoë prys betaal om jou te verlos. Hoe kan jy dan 'n sugtende kneg van Hom wees? Dit is dan teenstrydig!

Christus soek juis dankbare knegte wat besef dat hulle uit genade tot sy kinders gemaak is en van nou af aan blye medewerkers in sy Koninryk wil wees.

Christus is Heer!

Dit beteken, aan Hom is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Die mag van Christus gaan verder dan sy heerskappy in die kerk alleen.

Hy is Heer van hemel en aarde.

Hierdie belydenis mag ons vandag as gelowiges reeds hooghou in die wêreld. As blye medewerkers in Sy Ryk.

Hierdie belydenis van Christus' heerskappy is ook bepalend vir ons posisie keuses in die maatskaplike en politieke lewe.

Christus is op pad met die wêreld. Dit glo ons.

Daarom kan ons in die maatskaplike lewe opkom vir die regte van Jesus Christus in hierdie wêreld.

Daarom bestaan politiek vir ons nie net uit die reg van die sterkste nie of kyk ons net na watter politiek ons op kort termyn die meeste materiele voordele oplewer nie.

Nee, ons bly vra en soek na die bevordering van die Koninkryk van ons Heer Jesus Christus.

God is liefde.

Hierdie woorde van Johannes het 'n groot rol gespeel in ons preek van vanmiddag.

Gaan vir uself nog 'n slag na wat dit beteken in u persoonlike lewe.

Wat u daarmee doen in die verhouding met u broeder.

Vra uself af of daar nog haat in u lewe is teen 'n medemens

Of minagting van 'n broeder.

Want Johannes is nogal onthutsend duidelik in so'n geval.

Die liefde van God kan nie in ons bly wanneer ons ook nog haat koester.

Of wanneer ons vasklou aan sondes waarmee ons die Here verdriet aandoen. Of ons naaste skade.

God is liefde.

Nou verstaan ons. Dit beteken nooit slap toegeeflikheid nie.

Groot liefde van God vra groot wederliefde.

Kom ons maak ons liefde vir ons Heer wat so duur vir ons verlossing betaal het, sigbaar deur die stryd op te neem teen die sonde wat daar nog in ons lewe is.

Wie vandag in vrede met sy sondes lewe, verspeel sy kindskap by die Vader.

Laat die liefde van God vir U nie verniet gewees het nie.

Daarvoor is die liefde 'n te groot vuur.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)