Die liggaam van Christus is met die Heilige Gees gesalwe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-03-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

14 Maart 1993

Ps 123: 1, 2
Ps 128: 1, 2, 3, 4
Geloofsbel.
Ps 138: 1, 2, 3, 4
Lees: Matt 3: 1-17

Teks: Sondag 12 HK

Brs en srs,

Ons leef in 'n tyd van sterk verminderde betrokkenheid van mense by 'n kerk. Daarmee verbonde kan ons ook 'n skrikbarende agteruitgang van 'n christelike lewenstyl vasstel.

Mense leef al hoe meer net vir hulleself en wat verder rondom hulle gebeur kan hulle nie traak nie.

Dit is nie so moeilik om vir die hier aangeduide situasie 'n aantal verklarings te gee nie.

As een van die belangrikste oorsake sou ek wil noem die gebrek aan ampsbesef by mense. Hulle weet nie meer van 'n roeping in hul lewe nie.

Hulle leef uitsluitlik vir hulself en hul eie belange en het nie meer die gevoel dat hulle oor hul dade eenmaal teenoor God verantwoording sal moet doen.

Dit gebeur nie net met ongelowiges nie, maar dit is die algemene atmosfeer van die tyd waarin ons leef. Daarom moet ons binne die gemeente geweldig op ons pasoppens wees om nie daardie pad op te gaan nie.

Mense is gewoonlik nog wel bereid tot groot inspannings as dit gaan om die maatskaplike ladder te beklim. Maar het ons eenmaal bereik wat ons wou bereik het, dan is dit klaar.

Die besef dat daar ook nog 'n taak en 'n roeping van die kant van die Here wag, bly dikwels ver van ons.

Om jou gawes en talente te gebruik om in die wêreld van vandag so ver as moontlik te kom dit is vir ons vanselfsprekend, maar die bereidheid om 'n offer te bring terwille van die koninkryk van Christus is gewoonlik maar baie skraal.

Oor hierdie sake gaan dit in die onderwerp wat vanmiddag aan die orde kom in Sondag 12. Dit gaan oor die betekenis van die Naam Christus, maar tegelykertyd gaan dit oor die roeping van elkeen wat die naam christen dra om aan sy eie taak gestalte te gee.

Die tema vir die preek is:

Die liggaam van Christus is met die Heilige Gees gesalwe

  1. Die salwing van die Hoof
  2. Die salwing van die lede

Vanoggend het ons gesien dat in Jesus' tyd die Joodse Messiasverwagting baie lewend was.

Almal het uitgesien na die koms van die beloofde Verlosser.

Die woord wat hulle daarvoor gebruik het was "Messias".

'Gesalfde', beteken dit.

Die gesalfde van die Here, was 'n bekende titel in die O.T.

Konings en priesters het bekend gestaan as gesalfdes van die Here.

Maar ook was daar die profetiese belofte van die koms van die Gesalfde, die Messias.

Wel, die Naam Christus beteken ook Gesalfde.

Dit is die Griekse weergawe van wat in Hebreeus Messias genoem word.

Hierdie naam Christus is dus nie soos die eerste naam Jesus 'n persoonsnaam nie, maar Christus is veelmeer 'n titel.

Dit is 'n aanduiding van sy posisie.

Sy posisie kan ons die beste aandui as 'n amp.

'n Amp is 'n taak wat iemand het.

Ons sou ook kon sê: dit is 'n roeping wat iemand in sy lewe moet vervul.

Kenmerkend vir 'n amp is dat jy nie jouself daarvoor kan aanstel nie. Nee, dit is 'n posisie waartoe jy geroep word.

Jy sou kon dink aan ampsdraers in die kerk.

Iemand mag heel wel begeer om eendag daardie posisie in die gemeente te mag inneem, maar dit beteken nog nie dat jy jouself eendag aan die gemeente kan voorstel: Hier is ek. Ek is nou ook ouderling. Wie behoefte daaraan het kan gerus met my kom praat.

U voel wel so werk dit nie.

Ouderling wees is 'n amp. Jy moet daartoe geroep en aangestel word. Jy tree daarin nie op vir jouself en namens jouself nie, maar jy handel met 'n opdrag.

En dat vir almal duidelik kan wees dat jy die opdrag en die bevoegdheid het om as 'n ampsdraer op te tree, daarom is daar ook 'n openbare bevestiging in die amp wat jy op jou moet neem.

Hierdie inleidende opmerkings oor die amp het ek gemaak om beter te verstaan wat gebeur as die Here Jesus deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop word.

Johannes is die padbereider van Christus.

Sy prediking is: Die Koning kom! Maak julle almal gereed om Hom te ontmoet!

Bekeer julle want die Koninkryk van die hemele het naby gekom.

Bekeer julle en laat julle doop!

Met hierdie woorde wys Johannes die Jode aan as 'n sondige volk. Hulle is as onreines ongeskik om die Koning te ontvang.

Dus hulle het die Doop nodig om gewas te word.

Daarom noem hy die doop 'n doop van bekering tot vergifnis van sondes. Die Doop verplig die dopelinge tot 'n bekering. Tot 'n ander lewe.

Vanuit hierdie betekenis van die doop deur Johannes verstaan ons baie goed dat Johannes maar weieragtig is om Jesus te doop.

U kom na my toe? Maar ek het eerder nodig om deur U gedoop te word!, reageer Johannes.

Maar Jesus antwoord: Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.

So pas dit ons. Die ons is hier sowel Jesus as Johannes.

Dit pas ons. In hierdie doop moet ons altwee ons roeping vervul. Jy moet my doop en Ek moet my laat doop.

Dit pas ons. Dit beteken: Dit behoort ons te doen. Dit is ons opdrag. Dit is jou taak jou amp om my te doop. En dit is my taak, my amp om my te laat doop.

Inderdaad, want deur hom hier te laat doop verklaar Jesus homself een met die volk Israel. In die openbaar gaan hy gemeenskap aan met sondaars. Hy laat hom inskryf in dieselfde doopregister.

Seker ook vir Jesus spreek hierdie doop van afwassing van sondes en vergewing van sondes. Maar die spesiale by Jesus' doop is: Hy moet die vergifnis self verdien.

Wat mense kan ontvang deur geloof, moet Jesus self betaal deur gehoorsaamheid.

En daarmee moet Hy nou begin.

Ofwel: hierdie doop is die amptelike aanvaarding van sy Messiasskap. Vanaf hierdie oomblik word Jesus die Christus.

Dit is 'n belangrike oomblik dus.

Dit pas ons, sê Jesus. Ons moet so.

Die lewensloop van Jesus is nie 'n vrye keuse nie, maar word van stap tot stap gedra deur 'n opdrag van God sy Vader.

Christus moes gebore word. Hy moes Hom laat doop.

Hy moes ly. Hy moes sterf. Hy moes op die derde dag opstaan.

En nou Hy op daardie pad die eerste stap gesit het, hoor ons die stem van sy opdraggewer: Hierdie is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.

Dit is wat die Kategismus bedoel met: Hy is deur God die Vader verordineer.

Die Vader het hom openlik aangewys om hierdie amp te vervul.

Nadat Jesus hom laat doop het laat God sy Heilige Gees op Hom neerdaal. Die Gees sal hom bekwaam maak vir die werk wat nou vir hom begin het.

Hy sal vir hom die krag gee om nou die pad enduit te loop. Tot in die dood toe.

God het Hom met die Heilige Gees gesalwe meld die Kategismus.

Daarmee word gedoel op die feit dat die Heilige Gees steeds by Hom is. Die Heilige Gees lei in die vervolg sy lewe van stap tot stap.

Sy lewe is van nou af steeds ampsvervulling.

Dit wil sê: Sy lewe bestaan uit diens. Diens aan sy Vader. En so ook diens aan sy volk.

Met sy diens moet Hy die lewe vir sy volk verwerf.

Daardie diens gaan swaar vir hom wees. Loodswaarr. 'n Pad van totale selfverloëning sal hy moet volg.

Maar slegs so kan hy die amp waarvoor Hy geroep is, vervul.

Slegs so kan Hy die lewe vir sy volk terugwin.

Hierdie amp het die uiterste van hom geverg.

Ons sal daar in die komende lydensweke gereeld by stilstaan.

Maar Hy het sy roeping gevolg en enduit volgehou.

En daardeur het Hy ons gered.

Dit was die pad van ons Hoof Jesus Christus die Gesalfde.

Dit het gevolge vir hulle wat Hom wil navolg.

Die pad van die lede sal nie anders kan wees as die pad van die Hoof nie.

Immers hulle vorm saam met Hom een liggaam.

2. Die salwing van die lede van Christus

Die tweede vraag van Sondag 12 gaan in op die naam 'christen'

Waarom word jy eintlik 'n christen genoem?

Christen wees- dit klink nogal redelik goed.

Ons kan daarby dink aan allerhande vorme van christelikheid, soos barmhartigheid, vrygewigheid, naasteliefdde. Dit is alles pragtige dinge en uiters waardevol.

Maar om christen te wees is meer as om dade van christelike mensliewendheid te vertoon.

Ek is 'n christen as ek 'n lid van Christus is. 'n Lid van Christus, dit wil sê, jy is deel van sy liggaam. Jy is in Hom ingelyf.

Maar om in Christus te wees is ook om deel te hê aan die salwing waarmee Hy gesalf is.

Hy is gesalf met die Heilige Geees.

Maar die salwing was nie sommer versiering nie. Nee Hy het die salwing ontvang om sy werk te kan doen. Om sy amp op Hom te kan neem. Om sy lewenstaak te volbring.

Ons kan in sommige christelike kringe soms hoor watter heerlike ervaring dit is om heeltemal vervul te raak van die Heilige Gees. Mense kan daaroor praat asof dit 'n groot verjaardagspresent is wat jy maar net vir jouself kan geniet.

Ek twyfel sterk of dit die bedoeling kan wees.

In die Bybel lees ons dat mense vervul raak met die Heilige Gees. Seker, maar dan is dit 'n ervaring wat die mense aan die werk sit.

Soos die Here Jesus in die doop gesalf word met die Heilige Gees. Maar onmiddellik daarna word Hy deur dieselfde Gees vir 'n swaar toets na die woestyn gedrywe.

Die Gees word dus gegee met die oog op die amp. Met die oog op die werk wat aangepak moet word.

Die Gees is dus daar om ons by te staan in die wyding van ons lewe aan die diens van die Here.

Ons glo dat heel die gemeente van Christus die salwing van die Heilige Gees ontvang het.

En daarom moet ons ons lewe ook sien as ampsdiens.

Elkeen van ons.

Nie net die ampsdraers in die kerk nie, maar almal.

Elkeen moet hom gereeld afvra: Wat kan ek doen in die diens van die Here?

Wat beteken my lewe voor sy aangesig?

Gebruik ek my gawes tot sy eer?

Is ek bereid tot offers in my lewe?

Kyk, om in ons lewe met eie ideale besig te wees en om hard te werk aan verbetering van ons posisie in die samelewing, dit gaan eintlik maar vanself. Daar kom genoeg prikkels van buiteaf en vanuit onsself om ons daarvoor regtig in te span.

Daarmee is op sigself niks verkeerd nie.

Maar ons moet ons wel steeds bly afvra: Beteken dit alles ook iets in die diens van die Here?

Sien ek myself nog as 'n dienskneg in Christus' Ryk?

Kom ons beproef onsself met die vraag: Wat soek ek eintlik in die lewe? Wat is my eerste lewensideaal?

Is dit om ampsdraer te kan wees in Christus' Ryk?

Of is daardie saak maar iets waarvoor ons seker ook nog maar 'n bietjie tyd moet maak?

Christus navolg. Dit kan 'n mens so maklik sê.

Maar dit is so moeilik om te doen.

Vra jouself maar af of jy bereid is om as 'n gesalfde te lewe.

Kom ons gebruik daarby die driedeling van vraag 31. Profeet, priester, koning.

As ons dit inlees in die volgende vraag waar dit gaan oor ons taak as christene, dan het ons 'n aanduiding van wat van elk van ons verwag word.

In die eerste plek moet ons sy Naam bely. Dit is ons profetiese taak.

Daarby kan ons uit die aard van die saak dink aan ons taak om lewende getuies van Jesus Christus te wees. Ons moet, waar dit paslik is, met vrymoedigheid sy naam ter sprake bring.

Dit mag nie gebeur dat ons vir 'n lang tyd met mense werk of met mense saamlewe en dat hul dan eendag min of meer tot hul verbasing agterkom dat jy 'n christen is.

As dit die geval is dan is jy nie eintlik 'n christen nie. Dan is jy uitsluitlik 'n kerklidmaat.

Immers onthou, christen wees is ampsdraer wees. Jy het 'n taak om te volbring. Namelik sy Naam te bely.

As profeet.

Daarby hoef ons werklik nie uitsluitlik te dink aan evangelisasie aktiwiteite nie.

Minstens so belangrik is om Sy Naam te bely in die lewe van elke dag. Dit beteken dat jy werklik die Naam van Christus betrek in jou daaglikse lewe. Jy raadpleeg Hom in jou gebed as jy belangrike besluite moet neem. Jy verwag van Hom leiding en kan daaroor ook praat. Dit is Sy Naam bely.

Ook as daar teëslae in ons lewe kom, by siekte of pyn dan kan ons nog steeds die Naam van Christus noem. Jy bely dat jy ook in die moeites van die lewe heeltemal van Hom afhanklik is.

Dit is sy Naam bely. Juis in situasies waarin die Naam maar moeilik oor jou lippe kom.

Verder noem die Kategismus as die taak van die christen dat hy homself as 'n lewende dankoffer aan Hom toewy.

Dit klink nogal vrolik.

Maar tog is dit meer as 'n goedkope Halleluja roep.

Wie homself as lewend dankoffer aan Christus toewy sal dit dikwels swaarkry. 'n Offer kos vir jou iets. Soms baie selfs.

Jy moet soms 'nee' sê vir dinge waar jou hart jou 'ja' influister.

Jy moet iemand omwille van Christus loslaat, terwyl jou gevoel uitskreeu dat jy nie sonder die persoon kan nie.

Jy moet soms eie lewensideale laat vaar omdat die Here jou vir 'n sekere taak roep. Christen wees vra dus offerbereidheid.

Jou moet leer om eie wense en begeertes na die agtergrond te skuif terwille van jou diens in die Koninkryk van Christus.

Dit is priesterskap.

'n Laaste faset van ons christelike amp is om koning te wees.

Dit beteken nie dat ons vandag reeds allerhande diensknegte kan rondkommandeer te bevrediging van eie behoeftes nie.

Nee, jou christelike koningsamp beteken bereid te wees om te stry.

Veral om te stry teen jou eie swakhede en begeertes.

Op 'n ander plek in die kategismus word gepraat van stryd teen ons doodsvyande te wete die wêreld, die duiwel en ons eie sondige natuur.

Ons eie sondige natuur. Daarby hoef ons nie net te dink aan sondige begeertes nie, maar moet ons ook dink aan ons neiging tot gemaksugtigheid in die diens van die Here.

Ons is gewoonlik al heel gou tevrede met ons bydraes aan die Koninkryk van God.

Ons sien heel goed die swakhede van ander mense maar inmiddels leef onsself maar net vir ons eie gerief.

Dan verwaarloos ons ons koninklike taak.

Daar moet gestry word om die oorwinning te behaal.

Ampdraer wees in die Koninkryk van God sal seker offers vra in die lewe.

Maar dink nie dat die lewe daardeur armer word nie.

Inteendeel. Wie geleer het om die belange van die Koninkryk van Christus bo sy eie belange te stel sal ervaar dat in daardie weg baie seën na jou toekom.

Jy word steeds ryker. Dikwels op 'n heel ander manier as wat jy self gedink of verwag het, maar die seën kom.

Maar wie sy ampsdiens in die Koninkryk laat lê omdat hy dink dat hy sy tyd en geld en energie op 'n plesieriger manier kan gebruik kom tenslotte bedroë uit.

Hy verarm geestelik steeds meer.

Hy ondervind steeds minder lewensvreugde.

Dus onthou, ampsdiens as christen gee jou lewe 'n ongekende bloei.

Die Here weet waar mense hulle gewillig vir sy diens laat gebruik, altyd die beste uit mense te haal.

Hy beloon hul ywer met 'n geweldige bevrediging.

Hy vergoed royaal die offers wat hulle vir die Naam van Christus gebring het.

Gewoonlik reeds in hierdie lewe, maar seker in die toekomstige lewe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)