God laat Sy seun Jesus noem

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-02-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 11
Preek Inhoud: 

14 Feb 93

Ps 93: 1, 2, 3
Ps 93: 4 (na gel. bel)
Ps 19: 6, 7 (nagmaal)
Ps 75: 1, 2, 4, 6 (amenlied)
Skb 45: 1, 9, 10 (slot)
Lees: Handelinge 3 + 4: 1-12
Teks: Sondag 11

Geliefde gemeente,

Jesus. Hierdie naam kan 'n mens vandag op talle plekke teëkom. Plakkers op motors roep jou in tal van spreuke toe wat Jesus kan doen vir jou.

Jy kan die naam aantref op reklameborde by samekomsplekke van christene in allerlei soorte.

Die laaste tyd sien ek daardie naam selfs gereeld verskyn op sonskerms in 'n motor.

My vrees is dat hoe meer hierdie naam deur mense in allerhande situasies gebruik word, hoe vlakker die betekenis van so'n naam word. Dit gaan met woorde maar gewoonlik so.

Op die ou end word gebruik van die naam 'n banaliteit.

'n Platvloerse alledaagsheid waarvan die eintlike betekenis volkome vervlak het.

Nou kan dit nie net met ander mense gebeur nie. Dit kan ons ewegoed oorkom, gemeente! Ook ons gebruik van die Naam Jesus kan gemaklik deur oppervlakkigheid van sy inhoud verloor.

Daarom is dit goed dat die Kategismus ons help om ons steeds weer af te vra wat die bedoeling van hierdie Naam is. Immers nie wat mense in daardie Naam hoor of by daardie Naam voel is beslissend nie, maar dit gaan steeds weer daarom wat God in daardie Naam gelê het en wat Hy daarmee bedoel.

Ons tema vir vanmiddag se preek is:

God laat Sy seun Jesus noem

Daarin gee Hy vir Hom

  1. 'n Naam onder alle name
  2. 'n Naam bo alle naam

Waarom word die Seun van God, Jesus genoem?

Ons ken almal die antwoord wel. Omdat Hy dit is wat ons red van ons sondes. Goed.

Maar kyk nog 'n slag na die vraag.

Hoor u ook iets van verbasing in die vraag?

Die Seun van God, noem jy Jesus?

Is dit dan nie heiligskennis nie? Om die Seun van God, die Allerhoogste met so'n doodgewone mensenaam aan te dui.

Wie gee vir jou die reg om die Seun van God, ek sou amper sê so familiêr te benoem as Jesus?

En dan nog wel as eerste naam.

Het u opgelet dat die naam Jesus ook in die geloofsbelydenis voorafgaan aan sy titel, Seun van God?

Ek glo in Jesus Christus Gods Eniggebore Seun, ons Here.

Hoe kan jy die Seun van God, Jesus noem?

Hoe kan jy die Verhewene aandui met so'n gewone mensenaam?

Want dit was 'n tamelik gewone naam in Israel. Niemand het daarin iets besonders gehoor nie.

Die eerste antwoord wat ons op hierdie vraag moet gee is dit: Godself het so gesê. Dit was Hy wat aan Josef deur middel van 'n droom bekend gemaak het, dat die kind wat Maria sou baar die Naam Jesus moet ontvang.

Nou goed, dit was dus nie 'n menslike brutaliteit om die Seun van God so 'n gewone mensenaam te gee nie.

God self het die Naam opgegee.

Maar weer kom die vraag op, hoekom?

En waarom hierdie naam as allereerste in ons belydenis?

Ek glo in Jesus.... ens.

Die antwoord op die vraag, brs en srs, is: dit is nou liefde van God. Hierdie naamgewing is namelik deel van die volkome menswording van die Seun van God.

Paulus skryf in die brief aan die Filippense dat die Seun van God Homself ontledig het deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word (Fil 2: 7).

Deel van sy menswording dus. Met hierdie mensenaam kom die Here baie naby ons. Hy word inderdaad een van ons.

Kyk, as Christus Hom onmiddellik as Seun van God bekend gemaak het, dan was daar 'n groot probleem. Dan het almal teruggeskrik. Dan sou daar onmiddellik 'n onoorbrugbare afstand wees.

En daarom het God dit anders gedoen. In sy liefdevolle sorg vir mense het God vir mense geleentheid gegee om langsamerhand die geheim van die Seun te leer ken.

Die mense gaan steeds meer daarvan verstaan.

Mense begin insien wie Hy eintlik is en tegelyk is daardie herkenning van God se kant af 'n vorm van voortgaande openbaring.

Ek bedoel dit: vir die mense is Jesus aanvanklik net Jesus, die seun van die timmerman uit Nasaret.

Maar die dissipels is eerstes wat agterkom, Jesus is die Christus.

En as Hy dan as Christus herken is, kom ook die erkenning en die belydenis: U is die Seun van God!

En nog later kom die ekenning van die kerk: Hy is ons Here!

Onse Kurios! Die Heer aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is.

Die apostoliese geloofsbelydenis weerspieël so die groei in openbaring: Ek glo in Jesus, Christus, Gods eniggebore Seun, ons Here!

Terug na die Naam Jesus.

Aanvanklik was hierdie naam maar net 'n naam. Maar soos die tyd voortgaan en 'n mens meer bekend raak met die draer van die naam gaan so 'n naam steeds meer betekenis vir jou kry.

U kan dit vir uself wel nagaan. Die eerste keer dat jy met iemand kennisgemaak het wat later 'n belangrike persoon in jou lewe sou word, was sy naam vir jou net 'n naam. Nie meer nie.

Maar later, as jy dan die naam hoor dan sien jy onmiddellik daarby 'n gesig, of jy onthou 'n gesprek, kortom daar ontwikkel allerhande gevoelens ten opsigte van daardie naam. Positief of negatief.

Presies dieselfde gebeur met die naam Jesus. Vir wie nog nooit van hom gehoor het nie, is die eerste kennismaking met die naam blanko. Maar later groei by daardie naam 'n geskiedenis. As jy nou die naam hoor dan is daaraan verbonde die verhaal van sy geboorte in Betlehem, van sy reise deur Galilea, sy optrede in Jerusalem, sy kruisdood op Golgota.

En hierdie geskiedenis wek weer gevoelens op teenoor die draer van die naam.

Gevoelens van liefde en bewondering by die een.

Gevoelens van haat en veragting by die ander: Is hierdie Jesus nie die seun van die timmerman nie?

Wat verbeeld hy homself? , sê hulle in Nasaret.

Maar vir ander mense het hierdie naam in die loop van die tyd steeds meer inhoud ontvang, sodat Petrus op die Pinksterdag kan predik: Bekeer julle en laat julle doop op die naam van Jesus!

Daar is onder die hemel nie 'n ander naam gegee waardeur ons gered moet word nie.

Steeds gaan dit om die naam Jesus. Die aanvanklik so gewone naam word gevul met 'n steeds ryker inhoud.

Jesus, 'n gewone naam, het ons gesê.

Maar tog ook nie sommer 'n naam nie.

Hierdie naam het 'n ryke betekenis gehad. Die engel wat hierdie naam vir Josef opgee noem die betekenis van die naam: Want dit is Hy wat sy volk sal red van hulle sondes.

Die Here red, dit is wat die naam Jesus beteken.

Is daar 'n passender naam vir die Seun van God op aarde?

Was God eintlik nie altyd al so by sy volk aanwesig?

Met die heerlikheid van Sy Naam. Hierdie Naam: Die Here red.

Die Here is reddend by sy volk.

Hoe wonderlik het die volk deur die eeue nie die krag van hierdie naam ervaar nie.

God gryp reddend in in die geskiedenis van die wêreld.

Dit is die groot wonder van Betlehem.

Die Seun van God kom na hierdie wêreld en ontvang hier 'n naam waarmee ons Hom kan aanspreek. Jesus.

Van so naby mag ons hom ken.

Ons mag hom ken soos die Bybel Hom vir ons teken.

Ons het al gesê: Met 'n naam kom 'n hele geskiedenis saam.

'n Geskiedenis van geboorte, van prediking, van lyde ne sterwe en opstanding.

'n Geskiedenis wat voortgaan na die hemelvaart as sy naam gepredik word tot aan die eindes van die aarde.

Ja dit sal sover kom dat eendag alle knie vir hom moet buig en almal moet erken: Jesus is Heer!

Dus aan hierdie naam is 'n ryk geskiedenis verbonde.

Heel die geskiedenis moet dan ook kan saamklink as ons hierdie naam gebruik.

En dis hoekom ek probleme het met 'n banale gebruik van die naam soos waarvan ek in die begin 'n paar voorbeelde gegee het.

Niemand het die reg om die hierdie naam sommer te plak aan een of ander doel wat vir hom geskik lyk.

Jesus - as onfeilbare geneser as jy hom maar deur middel van die regte persone aanroep.

Jesus - as verskaffer van kits oplossings vir al die wêreld se probleme.

Jesus - as die figuur wat mense "high" kan maak. In veel van vandag se Jesus-bewegings is Jesus 'n soort vervanging van pepmiddels waaraan hulle vroeër verslaaf was.

Die Bybel teken Jesus vir ons as die persoon wat ons almal elke dag nodig het. Hy is die enigste redder.

En waarvan red hy?

Hy red jou van jou sondes.

Hy red julle van jul sondes, gemeente.

Julle, soos julle nou vanmiddag hier sit.

Dit gaan nie baie help om jou te vererg oor misbruik van die Naam van Jesus, maar inmiddels nie op jou knieë te gaan en Hom aan te roep om jou te red van jou sondes nie.

Dit is maklik genoeg om orals in die wêreld misbruik van die naam van Jesus raak te sien.

Dit is ook maklik genoeg om mense in die gemeente aan te wys wat hulle nodig moet bekeer.

Maar die groot probleem is om jouself as 'n sondaar voor God se aangesig te stel en te sê: Ag Here, hoe nodig het ek u redding. Hoe verlang ek na u redder! Na Jesus Christus.

Dit is vir niemand 'n maklike pad of 'n vanselfsprekende saak nie.

Geensins. Maar dit is wel die enigste pad.

Want onthou dit. Die pragtige naam Jesus, Redder, moes gegee word vanweë jou sondes.

Elkeen wat die naam Jesus op die lippe neem, sê daarmee tegelyk: ek is 'n sondaar.

'n Sondaar wat hierdie redder nodig het.

2. God gee vir hom 'n naam bo alle naam

Ons het vanaand in Handelinge 3 gelees die geskiedenis van die verlamde. In die verhaal val vir ons onmiddellik op watter sentrale betekenis die naam van Jesus daar het. In daardie naam skuil 'n geweldige krag.

Luister maar: (3: 6) Petrus sê vir die verlamde: Silwer of goud besit ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, staan op en loop!

In die toespraak wat Petrus daarna hou sê hy (vs16): deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak.

As Petrus en Johannes later verantwoording moet doen aan die Raad word vir hulle gevra: Deur watter krag of watter naam het julle dit gedoen?

En dan is die antwoord: Deur die Naam van Jesus Christus staan hierdie man gesond voor julle!

Uit hierdie verhaal blyk watter enorme krag uit hierdie naam uitgaan.

Die genesing van die man is 'n demonstrasie van die krag van die Naam van Jesus.

Dit bewys onomstootlik dat in hierdie naam redding, behoud is.

Petrus gebruik hierdie genesing van 'n verlamde vir 'n doel wat verderop lê, namelik om te verkondig dat in die naam van Jesus Christus vir ewig behoud is.

Daar is geen ander naam onder die hemel aan die mense gegee waardeur ons gered moet word. Gered!

Petrus beweeg sommer van die genesing na die redding.

God het aan hierdie Jesus 'n Naam gegee bo alle naam.

Alleen in daardie Naam is redding.

Die saligheid is in niemand anders nie. Slegs in die Naam van Jesus.

Hierdie is natuurlik 'n geweldig absolute uitspraak.

Alleen Jesus kan die weg na God vir jou oop maak!

Alleen by hierdie saligmaker is redding vir jou!

Onthou hoe die Here Jesus Homself meermale gepresenteer het:

Ek is die weg die waarheid en die lewe.

Niemand kan tot die Vader kom behalwe deur My nie.

Hoor u die eksklusiwiteit van hierdie woorde?

Ek is die enigste Redder! Vir heel die wêreld.

Gemeente, hierdie woord kan jy maar net aanvaar soos dit gesê is, of jy kan dit verwerp.

Hierdie woord is of heeltemal waar, of... dit is die woorde van 'n persoon wat sy eie persoon volstrek oorskat het.

Dan is dit klinkklare nonsens.

Een van twee.

Alles of niks.

Soos die Kategismus hier sê: Wie hierdie saligmaker in geloof aanneem, moet alles in Hom hê wat vir sy heil nodig is.

Alles in Hom!

Dit beteken daar is geen redding in jou eie goeie gesindheid nie.

Daar is geen redding in jou beste bedoelings nie.

Daar is geen redding in die erns waarmee jy jou eie godsdiens beoefen het nie.

Nee daar is maar een Naam. In die Naam laat jy jou red. Of jy weier om gered te word.

Hierdie is die een Naam van Jesus, die Seun van God.

In Hom het jy alles, of jy het niks.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)