God se krag oorwin die kwaad

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-03-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

24-03-91

SONDAG 10

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 107 : 1, 2
Wetslesing
Sing: SB. 10 : 1, 2
Skriflesing: Lukas 12:4-12; 13:1-5; 18:31-34, Handelinge 2:22-24
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 107 : 16, 17, 18
Sondag 10 Kategismus
Preek
Sing: SB. 10 : 3-6 [beryming van Rom. 8:31-39]
Dankgebed
Sing: Ps. 119 : 25, 26
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die lyding van ons Here sal aanstaande Goeie Vrydag spesiaal in 'n erediens herdenk word. Sy oorwinning oor die dood vier ons op Paasdag, die volgende Sondag. Sy lyding, dood en opstanding help ons vandag om oor die geloofsleer van God se voorsienigheid na te dink. Ons verdriet, die lyding wat ons oorkom, gedenk ons nie in 'n spesiale diens nie. Maar u mag alles saamneem: u lewe soos die Here dit gelei het. U mag aan Christus dink.

Tydens sy lewe het die Here Jesus ons swakheid gedra. Hy het mens geword soos ons: swak, afhanklik en sterflik. Die hoogste, dit wat nie met ons vergelyk kan word nie is: dat Hy die toorn van God gedra het. Maar verder het Hy óns lewe gedra, ons lyding deurleef. Soos Hy daarna ons straf gedra het. Net soos jy was Hy elke dag en nag afhanklik van God se sorg. Net soos ons was Hy heeltemal onderworpe aan gevare, siektes, sorge. Net soos u het Hy die dood gevrees. En baie meer, duideliker as u het Hy gevoel en geweet hoe 'n groot kwaad die ellende in God se wêreld en oor God se mense is.

Kom ons kyk hoe die pad van God se voorsienigheid vir Hom geëindig het. In Lukas se tweede boek, die Handelinge het ons 'n gevolgtrekking van die apostel Petrus gelees: "Jesus, die Nasarener, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het die mense deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring" (2:23). In dié teks word altwee kante uitgedruk: God se pad, wat Hy in sy wysheid besluit het: dis "die bepaalde raad en voorkennis van God". Daarlangs die dade van ons mense wat die Heiland aan die kruis gebring het. Dis die raaisel: dat God die kwaad tot my beswil kan verander! Die grootste kwaad uit die geskiedenis het in God se wysheid die grootste wonder geword. Ek bedien u die evangelie:

GOD SE KRAG OORWIN DIE KWAAD

  1. Hy bestuur sy skepsele,
  2. Hy bestry die vyande
  3. Hy bevry vanuit Christus.

1. GOD SE KRAG OORWIN DIE KWAAD: HY BESTUUR SY SKEPSELE

Die belydenis oor God se voorsienigheid is nie 'n verklaring van wat in die wêreld gebeur nie. Dit verklaar nie hoekom daar honger is nie. Dit los die raaisel nie op hoekom God 'n spesifieke beproewing op u pad gebring het nie. Die leerstuk sê nie vir u hoekom God na Christus se oorwinning op die dood tog die pyn en dood nie weggeneem het nie. Nee, die leerstuk wil nie verklaar nie. Dit wil u help om te glo en daardie geloof te bely, ookal verstaan ek baie dinge nie. Hierdie belydenis is 'n lofprysing op God. Nietteenstaande alle oop vrae soek ons 'n houvas. Ons vind dit in God se krag. Baie mooi sê die Kategismus: voorsienigheid is sy almagtige en oralteenwoordige krag.

Die Skepper wat alles gemaak het, het eerste alles in sy gedagtes gesien. Enige detail het hy ontwerp: 'n insek, die blomme, die menslike brein, die sintuie. God was orals op die wêreld baie besig. En Hy kon alles maak. Dan moet dit so wees dat ook nou nog die Skepper almagtig is, so almagtig soos Hy in sy besigheid in die skeppingswerk was. Dan moet dit so wees dat ook nou die Skepper orals besig is, so oralteenwoordig as Hy op die skeppingsdae was. Die Heilige Gees wat op die waters van die ongevormde aarde gesweef het, werk volgens Psalm 104 nog daagliks met die lewe. "HERE, U stuur u Gees uit en hulle word geskape; U maak die gelaat van die aarde nuut". Tevore het God beplan om sy skepping, die verwerkliking van sy wense ewig te versorg.

Daardie voorneme het die HERE nie gelos toe die sondeval die aarde verskeur het nie. U moet mooi verstaan dat dit 'n keuse vir Hom was. Die HERE sou kon gesê het: kom Ek vernietig al spore van mislukking. Ek begin van voor af. Want God en Adam en satan het mooi geweet dat die sonde ook die heerskappy van die dood in die wêreld sou bring. Dit het gebeur. Tog het God gesê: Ek los my werk nooit, Ek neem die stryd op teen die teenstander, Ek gee my beheer nie uit my hande nie. Dié besluit van God kan u nooit bevraagteken nie. Want u lewe nou! U situasie is 'n aarde waarin die dood as koning heers, waarin die dood oralteenwoordig en almagtig lyk. Tog sê die HERE vir jou: moenie 'n fout maak nie, Ek regeer! Ek wil en Ek sal my werk nie uit hande gee nie. Ek sal sekerlik my werk nie in bose hande laat nie!

Nog altyd kan ons agterkom dat die skepping 'n wonderbaarlike ding is. Die blommetjie wat op 'n bergwand groei, hy blom net vir sy skepper. Die geheim van ons liggaam en ons gees, ons mag en kan funksioneer na God se bedoeling. U mag lewe! Ook as dit lyk asof die dood heers. Kyk na die natuurwette wat ons mag uitvind: God regeer in die komplekse meganisme van seisoene: water en lig, warmte en energie. Ja, ek weet, dié elemente kan goed en hulle kan kwaad wees. Vuur is lekker om warm te word en jou kos mee te kook, maar dit kan ook verskroei en verteer. Water is goed vir die land, maar kan ook alles in 'n oomblik vernietig. Ja, daar is natuurwette wat God vasgelê het. Maar daar is nie 'n onontkoombare ritme, sonder verandering nie. Nee, sowel die reëlmaat, as die deurbreking van die reëlmaat sê vir my: daar is God wat besig is, wat beheer moét hou. Ek weet dat ook in die natuurrampe, die ongelukke, die siektes, in die oorloë die duiwel sy aandeel - ek dink: die inisiatief - het. Maar ek weet ook van die wondere wat net God kan doen: genesing, redding, bewaring, elke dag versorging. Die wondere wat 'n kwade ontwikkeling breek - en ten goede keer.

Nee, ons verstaan nie die samehang in alles wat gebeur nie. Ons kan nie sien in watter mate die HERE regeer, terwyl Hy die duiwel vrye teuels gee nie. Die mense rondom Jesus het net soos ons gewonder: hoekom gebeur dit? Ons het gelees van die toren van Siloam, êrens in die stad Jerusalem, wat ingestort en mense vermorsel het. Hoekom? Het hulle dalk so sondig geleef dat God hulle wou straf? Pilatus, die moordenaar van ons Here Jesus, het vroër ander mense wat in die tempel geoffer het, laat vermoor. Hoekom het God dit toegelaat? Die verrassende ding is dat die Here Jesus nie 'n antwoord op die vrae gee nie. Hy sê net: julle moenie dink dat julle sommer 'n oplossing het nie. Dié raaisels dryf jou uit na God: "as julle jul nie bekeer ...". Soek die HERE en glo dat Hy al sy skepsele bestuur. Glo in sy wysheid wat in ons gebroke wêreld tog die pad van versorging gaan.

God het darem mooi onthou hoe goed sy skepping oorspronklik was. Hy het sy eerste planne nie vergeet nie. Glo maar dat Hy nie rus voordat sy werk nuut gemaak is. Dat sy krag werksaam is: almagtig en orals. Hy sien u, veral as die in u lewe nie na sy oorspronklike plan gaan nie. Hy roep tot bekering, sodat u hart vir Hom is. Dan kan u leer om Hom te vertrou.

2. GOD SE KRAG OORWIN DIE KWAAD: HY BESTRY ONS VYANDE

Goed, maar as ons dit glo: God se krag oorwin die kwaad, hoekom doen Hy dit dan nie nou al heeltemaal, nie radikaal nie? U sal dit vra as die hand van die Here u seergemaak het. As daar eensaamheid gekom en gebly het of as die verlies hier nooit meer reggemaak kan word nie. As jy skade gely het: aan jou liggaam, jou gees, jou verwagtings, jou verhoudings. Hoekom wag God so lank om die kwaad werklik weg te vat? Opnuut moet ek sê: die leer van die voorsienigheid help jou nie om moeilike, pynlike dinge te verklaar nie. Maar dit help wel baie sterk om te kan glo!

Ons dink dan vinnig aan Job, die mens op wie die HERE die satan losgelaat het. Hy het alles verloor en gestry om nog te kan glo. Nee, ek dink liewers eerste aan Jesus. Hy was die volmaakte mens wat pragtig in God se wêreld gepas het. Maar die wêreld het nie by Hom gepas nie. Dis hoekom Hy eindeloos gely het. Hy, veral Hy het verstaan hoe erg God se werk beskadig is. Hy het eensaam gebly, sonder ideale vir Homself, sonder vrou of kinders. In die nagte het Hy vir sy God gebid en geworstel, bedags het Hy vir die mense gepraat en geworstel. Hy het die duiwel ontmoet wat Hom in sonde wou laat val het. Hy het die bose geeste ontmoet wat mense verhinder het om te lewe. Ja, Hy het ons lyding op Hom geneem! Maar bo alles het Jesus persoonlik eers die pad van God se voorsienigheid moes loop. Die pad wat Hom ontontwykbaar na die kruis gelei het. Ons het uit Lukas 18 gelees hoe bewus Jesus van die einddoel was. Hy het geweet hoe God dit ten goede wou gebruik en geweet hoe die satan dit ten kwade bedoel het. Maar Hy was met sy hele hart gehoorsaam, Hy het sy Vader vertrou, Hy het sy pad geloop. Laat U wil geskied, Vader! Laat my u wil doen, ook al is dit vir my moeilik, uiteindlik word dit mooi.

Ja, dis duidelik: God se besluit is om in hierdie lewe die kwaad te oorwin. En opnuut moet ek sê: u kan nie anders as om dit te aanvaar nie. Hy het u vandag die lewe gegee, ook al deurkruis die kwaad nog partykeer u geluk. Of jou hart. Maar daarby mag u weet dat God eerste u vyande bestry! Dis nie 'n verklaring nie, dis aanvaarding van God se plan. So het God dit in Jesus gewys: dat Hy hier die kwaad wil bestry, maar dat Hy dit ook doen. Hy wys orals sy krag: in die evangelie van ons Here Jesus, in die Heilige Gees wat jou vas aan Hom verbind. Hy bestry die kwaad: eerste in jou eie hart. Daar waar alle ellende begin het, daar wil Hy dit uitroei. Dis hoekom u mag lewe: u moet vir Hom lewe, dàn begin die nuwe lewe. Hy vra vir u: aanvaar jy dat Ek by jou hart begin? Of eis jy van My, die Almagtige, dat Ek jou sommer so gelukkig maak? Ja, ek dink dat ons te maklik aan geluk, rykdom, voorspoed gewoond geraak het. Onder God se seën het ons vergeet dat die stryd nog altyd aangaan. Dat God se stryd nog altyd aangaan: teen sonde, teen hebsug, teen egoisme, teen ongeloof. Maar onthou mooi: dis God se stryd. Hy het dit vir jou begin! Met die mooi doel om jou en alle andere kinders van Hom te laat oorwin.

As ons seergemaak is, bly dit kwaad. Dood, gestremdheid, siekte en honger is kwaad. En die duiwel kan dit baie maklik hanteer om mense van God weg te hou. As die kerk sê "dit kom uit God se Vaderhand", dan bedoel ons nie dat God die skade aangerig het nie. Dis die duiwel wat dit doen. Maar ons sê: God laat dit gebeur, terwyl Hy 'n groter, 'n mooier plan vir ons het. As die kerk sê "Hy sal die kwaad wat Hy oor my beskik, tot my beswil verander", dan is daardie kwaad wat Hy oor my beskik, nog altyd 'n kwaai ding. Maar Hy bestry die kwaad: Hy haal die angel daaruit weg. Hy laat dit nie sy doel - die beplande doel van die duiwel - bereik nie, maar Hy sorg vir 'n goeie doel: die einde sal 'n seën wees. Dit mag u vertrou, omdat God die Almagtige is: Hy kan en wil en sal die kwaad sy krag ontneem. Hy sal kinders wat hartseer is, oor die satan laat triomfeer. God sal die duiwel wys dat enige kind van Hom onoorwinbaar is.

Glo maar: Hy bestry eerste u vyande. Lankal voordat u besef het hoe seer 'n afsterwe maak, het God in Christus al begin om die dood te oorwin. God het uit goedheid die werking van die kwaad baie gestrem. As God dit nie weerhou het nie, dan sou die dood lankal alles stukkend gebreek het. Vir God se kinders mag daar uit genade al baie goeds uit die paradys terugkom: dis die liefde, die vertroue, die ontferming. Dis by mense moontlik, omdat die Almagtige die mag van die kwaad in u lewe kan breek. Ook vir al ander mense het God dikwels die mag van die kwaad weerhou: as Hy mense liefde, verstand, geduld gee. So het God in sy ewige voorsienigheid die grondvloer gelê om te werk: om in die wêreld die mag van die kwaad deur sy evangelie te breek.

3. GOD SE KRAG OORWIN DIE KWAAD: HY BEVRY VANUIT CHRISTUS

Ek het gesê: onder God se seën het ons aan die voorspoed, aan geluk en gesondheid gewoond geraak. As iets van hierdie mooi dinge ons ontbreek, is ons geneig om in God teleurgestel te wees as Hy my nie so verhoor soos ek wens nie. As u vandag mag geniet van God se voorsienige sorg, besef dat dit genade is, dat dit 'n geluk is wat ongewoon en kwesbaar in hierdie wêreld is. Besef dat die stryd nog nie verby is nie. Seuns en dogters, baie van julle het nog nie baie hartseer in jul lewe gesien nie. Julle het in ryk gesinne grootgeword. Julle kan nog nie besef watter groot goed die Here julle gegee het nie. Eendag sal jy dit almal benodig!! Dalk as God jou beproef en die geloof skielik nie meer 'n vanselfsprekende ding is nie. Dalk as Hy 'n ander op jou pad bring wat jou hulp en wysheid verwag, omdat hy doodongelukkig is sonder God en met verdriet. Eendag sal julle alle rykdom van die kerk benodig! Mag God in sy Gees aan julle gee dat julle op die dag 'n houvas het: vir jouself om te bly glo, vir 'n ander om sy hand te vat en hom na God se vaderhand te lei. Of u van God se seën voluit mag geniet of dat u deur sy beleid hartseer is: besef dat die oorwinning sal kom. Dat dit besig is om te kom. In voorspoed sal dit u beskeie maak. U sal besef dat God nog baie moet doen om geluk en liefde, werk en gesondheid ewig te beskerm. U sal besef dat u nie net vir uself mag geniet nie, maar teselfdertyd vurig moet bid of God die kwaad en lyding van hierdie wêreld sal wegvat. As u teëspoed ondergaan het, mag u seker wees: in beginsel het Christus al oorwin. Hy is besig om die oorwinning in u lewe in te dra. As u volhard in die geloof, sal Hy die oorwinning vir u gee. Want God se groot plan is een plan: Hy hou vas aan die begin. Dit was baie goed, dis nou al 'n bietjie goed, dit sal volkome goed word.

Nou al 'n bietjie goed: ook as daar oop vrae bly. Dan hoef u die vrae nie weg te praat nie. Gelowiges sal altyd worstel met die raaisel van die kwaad. Mense wat die kwaad haat, dis God se bewys: sy oorwinning is besig om te kom! As hulle maar saam met God worstel. Dis hopend op die oorwinning: eerste in my hart. U mag God vrae vra, solank as u ook sy Woorde wil hoor. As u nie antwoorde op u vrae het nie, mag u sy Woord vir uself laat spreek. En vertrou dat dit waar is, wens vurig dat dit waar is "dat niks my van Christus se liefde sal skei nie". Net een ding mag u nooit doen nie. Dis dat u die oop vrae rondom kwaad en lyding groter as die Woorde van God laat word. Wie dit waag om God se beheer te betwyfel, om God se wysheid te bevraagteken raak los van die houvas: sy Woord, dis dit wat Hy wel vir jou gesê het. Dan sê Jesus vir jou: "Ek sê vir julle: vrees God. Dis Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp. Vrees Hom". Hy het die mag om te verderf, maar Hy wil julle red. Sien tog dat Hy besig is om heeltemal te red.

Kyk na Hom: sien jy 'n Vader wat jou nie verwerp nie, maar jou tugtig om die kwaad en die lewe so duidelik as moontlik te onderskei? Sien jy 'n Vader wat jou so die moeite werd vind dat Hy vir jou en saam met jou wil stry? Sien jy 'n Vader wat so lief vir jou is dat Hy sy Seun in jou lewe gestuur het?

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)