Ons toeëiening van die enigste troos

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-10-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 95: 1-4
Ps 100: 1, 2, 3
Ps 100: 4
Ps 89: 1, 2, 3
Ps 23: 1, 2, 3
Lees: Miga 6: 1-8
Teks: Sondag 2 H.K.

Brs en srs,

Verlede week in Sondag 1 het ons gesien wat vir ons die houvas in die lewe is.

Ons enigste troos is, dat ons in lewe en in sterwe aan Jesus Christus toebehoort. Ons het toe opgemerk dat die voorop-stelling van die troos, ook heel kenmerkend is vir die manier waarop die Here met ons omgaan. Hy is altyd die eerste.

Dit kan jy veral sien by die doop van klein kinders.

Die kind weet nog niks van sy sonde nie, of God sê al: Ek wil jou sondes afwas.

Die kind weet nog niks van die probleme van die lewe nie of God sê reeds: Ek sal as 'n Vader vir jou sorg in alles wat oor jou kan kom..

Hy is dus altyd eerste. Hy handel al met ons voor ons van iets bewus is. En tenslotte dra Hy ons nog as ons in die dood ons bewusssyn verloor. Dit is ons groot troos.

Hy doen dus alles.

Nou goed. Maar wat is nou ons rol daarin? Gaan dit net oor ons en buite ons om?

Nee, tog nie.

Ons verlossing word inderdaad vir ons en buite ons bewerk. Dink aan Golgota!

Maar ons moet daardie heil vir onsself aanvaar. Jy moet die troos wat vir jou gegee word jou eie maak.

Met 'n wat outydse woord: Jy moet jouself die heil toeëien.

Die heil is daar. Jy hoef daaraan self niks toe te voeg nie.

Maar jy moet daardie heil vir jouself verwerk.

Jy moet dit jou eiendom maak. Sodat dit vir jou ook werklik troos gee.

Ons kan dit ook so sê: Jy bely eers dat jy Christus' eiendom is, maar vervolgens moet jy dit ook so gaan beleef.

Jy aanvaar die belofte, nou moet jy dit ook gaan ervaar.

En daarom gaan ons nou oor van Sondag 1 na Sondag 2.

'n Mens sou kon beweer: in Sondag 1 sit alles in. Jy kry die hele evangelie in 'n neutedop.

En dit is heeltemal waar. Maar tog moet ons verder. Die evangelie van genade is in Sondag 1 volop verkondig, maar nou moet ons leer hoekom ons hierdie evangelie so hard nodig het.

En nie maar een keer nie, maar elke keer weer.

En daarom moet ons verder na Sondag 2.

Ons tema vir die preek is:

Ons toeëiening van die enigste troos

Ons moet ons

  1. deur God se liefdeseis laat kleinmaak
  2. deur God se liefdestrou laat oprig

In Sondag 2 begin die gedeelte van die Kategismus wat onder die hoofstuk "ellende" ingedeel is.

Om die bedoeling van hierdie hoofstuk te begryp moet ons in gedagte hou dat dit hier nie oor die ellende van 'n ongelowige of soos ons dalk gedink het oor die ellende van 'n onbekeerde mens gaan nie.

Nee, dit gaan hier oor die ellende van die gelowige. Dit gaan hier oor mense soos u en ek.

Waaruit ken jy jou ellende?

Jy, die gelowige christen wat eers as jou troos bely het dat jy aan Jesus Christus toebehoort. Jy word hier aangespreek.

Dus dit gaan oor die ellende van ons almal.

Nog iets. Dit gaan hier nie oor lewensprobleme, oor siektes en allerhande narigheid wat 'n mens kan optel nie. Tenminste nie in die eerste plek nie.

Dit gaan hier ook nie oor 'n gevoel van bekommerdheid of bedruktheid wat ons sou moet hê nie.

Nee, Sondag 2 spreek ons aan as kinders van God. As bondgenote van die Here.

Hy het met sy groot liefde in ons lewe gekom. Ons het in Sondag 1 gesien hoe Sy liefde die krag was wat Hom in beweging gesit het. In Sy liefde het Hy Sy Seun reeds gegee met die oog op ons verlossing.

Al daardie liefde kom saam in die pragtige simbool daarvan, die Heilige Doop.

Die doop het julle almal ontvang. Jy en jy en jy. Elkeen.

Dit is nou pragtig. 'n Groot voorreg vir elkeen van ons.

Maar ervaar ons dit ook as 'n voorreg?

Weet u wat die gevaar is van enige voorreg wat 'n mens geniet?

Dit is dat jy dit vanselfsprekend gaan vind.

Dit gaan maar so.

Kyk, wanneer besef jy die meeste watter voorreg dit is om gesond te wees? Dit is mos op die dag dat jy siek word. Of die dag dat dit tot jou begin deurdring dat jy nooit meer kan doen wat jy vroeër kon doen nie.

Dan weet jy skielik hoe vanselfsprekend jy eintlik jou gesondheid aanvaar het. Agteraf besef jy eers dat jy lank nie dankbaar genoeg daarvoor was nie.

Dit gebeur ongelukkig ook met die voorreg wat jy het om kind van die Here te kan wees. Met die voorreg om met jou Doop reeds ingelyf te wees in 'n Verbond met die Here. En dit maak kerkmense dikwels so onbereikbaar vir die reikwydte van die evangelie. Hulle hoor en hoor en luister tog eintlik nie.

Dit gaan in die prediking steeds oor die rykdom van die geloof, maar hulle voel daarmee glad nie ryk nie.

Dit gaan oor die weldaad van die enigste troos, maar hulle voel nie bly daaroor nie. Dit kan so ongelooflik maklik gebeur. Met enigiemand van ons.

En daarom neem die Kat. ons saam van Sondag 1 na Sondag 2.

Sondag 2 vra na jou posisie as gelowige. Of nee, dit vra nie soseer daarna nie, maar stel dit eenvoudig vas.

Jy is 'n ellendige mens.

Nie dat jy dit direk besef nie, maar dit is wel so.

En waarom is dit so?

Omdat jy as bondgenoot van die Here nie leef soos van jou op grond van die Verbond verwag kon word nie.

En as jy wil weet wat van jou verwag kon word, let net op die Wet. Weet jy wat die wet van jou vra?

Dat jy die Here moet liefhê met jou hele hart.

Die Kategismus verwys hier na Matteus 22 waar die Here Jesus die groot gebod van die wet so onder woorde bring.

Maar onthou dit is nie spesifiek nuwe testamenties om so die betekenis van die wet van God te verstaan nie.

Dit was in die O.T. eintlik maar net so.

Ons het daarvan gelees by die profeet Miga.

Wat in Miga se tyd gebeur het was dit. Die volk Israel het van die Verbond 'n soort van ooreenkoms gemaak. Hulle doen hul deel bestaande uit die bring van 'n aantal offers.

Vir gewone sondes is daar gewone offers wat dit regmaak.

Vir spesiale, vir ekstra groot sondes moet 'n ekstra offer gebring word. Daarmee moet God maar tevrede wees. En dan kan ons maar reken op sy seën. So het hulle geredeneer.

Wel, hierdie redenering maak die Here siedend.

Miga slinger dit sy volksgenote in die ore.

Soek die Here soms die bloed van jul offers?

Wat maak Hy met al die vate olie wat julle voor Hom uitgiet?

Julle weet tog wat Hy soek?

Wat vra die Here anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

Dit is waaroor dit gaan!

God vra van ons ons liefde!

Ons het in Sondag 1 gesien dat die liefde van God die bron is waaruit ons troos in lewe en in sterwe kom.

Maar met sy liefde soek Hy niks anders as ons liefde!

Hy is met niks minder tevrede as met ons liefde nie.

Dit is mos na die aard van die liefde.

Immers watter een wat liefhet sal bly wees as die persoon waarna sy liefde uitgaan, hom tevrede probeer stel met een of ander betaling? 'n Geldbedrag, 'n present of wat ook maar?

Dit is mos nie wat hy soek met sy liefde nie.

Dink dan hoe die Here moet voel as hy met sy liefde kom en ons probeer Hom met 'n offertjie tevrede te stel. Dit soek Hy glad nie!

Hy soek ons wederliefde! Hy soek ons hart! Hy soek onsself!

Daarom is die groot gebod: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart!

Hy soek onsself! Dat ons onself heeltemal aan Hom toewy!

En dit is ook sy volste reg na alles wat Hy vir ons gedoen het!

En daarmee weet ons meteen wat die ellende is wat Sondag 2 bedoel. Immers dit kan ons nie.

Ons kan nie onsself weggee nie. Ons sit so vas aan ander dinge. Ons is so besig met ons eie dinge. Ons struikel so gou in 'n sonde.

Liefde met ons hele hart? Onmoontlik. Ons hart is al so vol van ander dinge dat hierdie liefde tot God van ons steeds stryd vra. 'n Stryd van selfverloëning, want ons hart gaan uit na ander dinge.

En hoe meer 'n mens besef van die liefde van God hoe meer 'n mens sy eie tekortkomings begin voel.

Dit is die diens wat Sondag 2 moet verrig. Dit moet ons as kinders van God bewusmaak van ons tekortkomings in die diens van die Here. Ja, dit moet ons die tekortkomings as skuld leer bely.

Praat hierdie Sondag ons dan 'n skuldgevoel aan?

Ag, ek sou liewers sê hierdie Sondag leer vir ons skuldbesef.

Skuldgevoel is dikwels maar ongrypbaar en onoplosbaar. Die oorsaak daarvan is dikwels heel irrasioneel en tog pla dit.

Maar skuldbesef is iets anders. Dit is dat jy weet waarin jy verkeerd was.

En dat jy ook onmiddellik die adres weet waar jou skulde vergewing kan vind.

Dus wie het die grootste skuldbesef?

Dit is nie noodwendig die persoon met die grootste skulde nie. Dit is eerder die persoon wat die meeste van God se liefde verstaan het. Laat ek 'n beeld gebruik.

As jy 'n voorwerp by 'n ligbron hou gee hy die donkerste skaduwee as hy baie naby is. Hoe verder weg hoe vaer die skaduwee.

Wel, so is die gelowige wat die naaste aan Jesus Christus lewe, die persoon met die sterkste skuldbesef. Immers hoe digter by die ligbron hoe swarter die skaduwee.

Sak daardeur 'n gelowige, namate hy digter by Christus lewe steeds dieper weg in sy skuldbesef?

Nee tog nie. Immers hy weet ook die beste van skuldvergewing.

Hy het ervaring in die lewe van genade!

Juis deurdat hy weet dat hy met leë hande voor God staan, kan hy sy hande laat vul met genade.

Gemeente ek hoop u verstaan nou wat die hoofstuk oor ons ellende in die Kategismus doen.

Kort gesê gaan dit daarom dat daarmee 'n stuk diepgang in ons geloofslewe gebring word.

God se liefdeseis is so alomvattend, dat ons hier maar heel klein voel.

Ons word daardeur geestelik op ons knieë gedwing.

Maar nie om ons te breek nie.

Ook nie om ons vreugde te verloor deur 'n ondraaglike skuldgevoel nie. Nee wie hom deur God se liefdeseis op die knieë laat dwing word deur sy liefdestrou weer opgerig.

Daaroor in punt 2.

2. Ons word deur God se liefdestrou opgerig.

Ons het nou gesien dat God alles van ons vra. Hy vra ons om onsself totaal aan Hom oor te gee. Ons het ook verstaan dat van ons kant ons nie in staat is om dit te gee nie.

God vra van ons volmaaktheid in ons liefde soos Hy volmaak is. Maar dit is vir ons totaal onmoontlik.

Om dan tog vir God aanvaarbaar te wees daarvoor is nie minder as 'n wonder nodig nie.

Maar onthou dat vir die Here wonders nie onmoontlik is nie.

Dit is 'n bekende woord uit die Bybel: Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God. Sou vir die Here iets te wonderlik wees?

Onthou U die verhaal van Sara? Ou Sara het gelag toe vir haar gesê is: Sara jy sal swanger word en 'n kind kry.

Onmoontlik!, lag Sara. Dit kan nie wees nie.

Maar dan lees ons: sou vir die Here iets onmoontlik wees?

En dan verrig God die groot wonder. Sara baar haar seun Isak.

Isak die wonderkind. Uit hom stam die hele volk Israel.

En so is die volk van die Ou Verbond uit 'n wonder gebore.

In die Nuwe Verbond gaan dit nie veel anders nie.

Die engel kondig vir Maria aan dat sy swanger sal word en die Seun van God sal voortbring uit haar liggaam.

En dan reageer Maria: Maar hoe kan dit nou? Ek het mos nie omgang met 'n man nie?

Ook vir haar word gesê: Geen ding sal vir God te wonderlik wees nie.

En vervolgens geskied aan haar die wonder van die onmoontlike.

Uit haar word 'n hele nuwe volk gebore. Die volk van die Nuwe Verbond.

Gemeente, U is 'n volk wat uit 'n wonder gebore is.

Dan moet u ook bereid wees om te leef van die wonder.

Die wonder namelik dat God mense kan red wat nie na Hom gevra het nie.

Die wonder dat God liefde wil losmaak by mense wat nie in staat is tot so'n liefde nie.

Besef u nou dat God se genade vir ons 'n wonder is?

Hy wil vir ons in sy liefdestrou genade gee.

Hy het daarmee klaar begin deur ons as klein kinders tot sy volk te roep. Tot die volk van sy verbond.

Hy wil daarmee voortgaan deur nou vir ons te leer dat sy genade nie vanselfsprekend is nie.

Hy wil vir ons leer om die heil wat Hy skenk ook in bewustheid te aanvaar.

En daarom hou Hy vir ons sy wet voor.

Sy volmaakte wet. Daaruit leer ons ons ellende te verstaan. En leer ons ook om om genade te roep.

En so dryf die volmaakte wet van God ons na die enigste troos.

Ons besef nou temeer hoe ryk die boodskap van Sondag 1 wel is.

Ons besef nou wat dit is om van genade te moet lewe.

Die Koninkryk van God is nie bestem vir mense wat dit self so goed weet nie.

Die Koninkryk is nie vir hulle wat hulself so vroom inspan nie.

Die Koninkryk is nie vir heel netjiese mense wat meen dat hulle so ordentelik lewe nie.

Nee, die Koninkryk van God is vir sondaars.

Vir mense wat van hulself besef hoe min hulle daarvan maak elke dag.

Vir mense wat kan sug onder die besef dat hulle steeds weer terugval in sondes wat hulle eintlik lankal moes oorwin het.

Die Koninkryk is vir mens e wat met leë hande by God kom en stamel: U genade is genoeg, Here.

Laat my daarvan kan lewe.

Meer het ek nie nodig nie. Met minder kan ek nie klaarkom nie.

Amen.

Sondag 11 Okt. 1992

Liturgie: 

(kyk in preek)