Die enigste grens aan gasvryheid is Christus

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-08-25
Teks: 
II Johannes 1
Preek Inhoud: 

25-08-91

2 JOHANNES :10-11

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 122 : 1
Wetslesing
Sing: Ps. 126 : 2, 3
Skriflesing: Mattheus 10 : 5-16, 2 Johannes
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 89 : 12, 13, 17, 18
Tekslesing : 2 Johannes :10-11
Prediking
Sing: Ps. 133 : 1, 2
Dankgebed
Sing: Ps. 122 : 2
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die Psalme wat ons in hierdie diens vir God sing, is op die verdrietige afkondigings gerig: 'n onttrekking van 'n gesin en 'n publieke uitspraak insake sensuur. Hartseer oor die ander en oor my eie tekortkomings mag vir die Here gebring word. Ons gebede en ons liedere styg tog op tot God??! "Ons hulp is in die naam van die HERE". Ons mag egter ook mekaar probeer te help: hoe om moeilike sake soos hierdie te hanteer. Wat moet my houding ten opsigte van 'n broer wat dwaal of 'n suster wat sondig, wees? Eintlik vergeet ons maar daarvan: ons gewete pla ons 'n bietjie, maar aan die ander kant is dit ook so moeilik om iemand te loop vermaan. En: die kerkraad hanteer die saak mos met meer kennis van sake. Hoe sal ons handel?

Aan die een kant word dikwels verwys na Bybeltekste soos in 1 Kor. 5: as Paulus spesifieke, ernstige sondaars opgesom het, sê hy: ook al staan die mens as 'n broeder bekend, "met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie" (vs. 11). 'n Ander sal verwys na ons Here Jesus: Hy het mos met "sondaars en tollenaars geëet"! Kort gelede het ons nog van Levi wat 'n groot feesmaal vir die Here georganiseer het, gelees. Daar is in ons gemeente mense wat selfs sakelike kontak met iemand wat deur 'n ernstige sonde weggedwaal het, vermy. Hoe moet ons handel?

Ons 2de brief van Johannes doen 'n duidelike uitspraak oor hoe om teenoor dwaalleer op te tree. Is dit net dwaalleer waaroor dit gaan? Vers 9 noem tog ook "elkeen wat 'n oortreder is"? Kom ons luister intens en ingetoë. Ek bedien u die Woord van God:

DIE ENIGSTE GRENS AAN GASVRYHEID IS CHRISTUS

Die word

  1. mooi raakgesien,
  2. liefdevol aangewys,
  3. gesamentlik aanvaar.

1. DIE ENIGSTE GRENS WORD MOOI RAAKGESIEN

Voordat ons begin die tekswoorde op ons situasie toe te pas, mag u uself eers in die omstandighede van daardie gemeente probeer inleef. Wat val op aan die gemeente wat 'n brief van Johannes ontvang? Wat opval is dat daar dikwels gaste gekom het. Dit was nie gewone gaste, soos vriende of familie nie. Nee, dit was predikers wat rondgetrek het: evangeliste wat op reis is deur die land om die evangelie te verkondig. Ons teks praat van "as iemand na julle kóm". Dit het dié betekenis: mense wat julle as gemeente kom besoek. Die evangeliste-op-reis speel ook 'n groot rol in die 3de brief van Johannes. Hulle maak wat die Here Jesus vir sy dissipels opgedra het. Kyk met my nog 'n keer in Matt. 10: 5v:

"Gaan preek en sê: die koninkryk van die hemele het naby gekom". En vs. 9v: "Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee stel kledingstukke of skoene of 'n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly daar totdat julle vertrek".

Die evangeliste-op-reis mog staatmaak op die gasvryheid van die mense. Die Here stuur hulle mos! Die gasvryheid van die ou Israel, die volk van God was 'n geloofsdaad. Hoeveel temeer moet dit só wees, as daar mense in naam van Christus kom.

Die situasie het 'n bietjie verander, toe daar gemeentes van die Here ontstaan het. Nou is daar alreeds groot groepe mense wat bekeer is! Hoekom het die evangeliste-op-reis dan nog die gemeentes besoek? Dit kon in die eerste plek wees om deur die gelowiges op hulle reis voortgehelp te word. Voortgehelp, bijvoorbeeld met kos en nuwe klere of met net onderdak om uit te rus. Daar kon 'n ander rede bykom. Daar was ook predikers wat gekom het om iets vir die gemeente te sê. En as jy as gemeente 'n dienaar van die Woord op besoek het, sal jy hom tog laat preek! So maak ons ook met reisende predikante. So kry ons 'n indruk van die lewe rondom daardie gemeente.

In daardie situasie het Johannes sy brief geskryf. Hy het iets uit te waai met die rondreisende predikers, omdat die predikers nie sommer so vertrou kan word. Daar het in die jong kerk 'n dwaalleer ingesluip wat die hart van die evangelie verwoes. Daar was mense wat begin dink het: dit kan nie waar wees dat God mens word nie. Ja, daar was wel 'n besondere mens, Jesus. Die godheid het homself met dié besondere mens vir 'n tijdjie verbind, sodat hy die werk van God kon doen. God kan egter nie sterf en nie ly nie, dus moet die godheid Jesus weer verlaat het, voordat die kruislyding begin het. Dié dwaalleer aangaande die menswording van die Seun van God het uit heidense filosofië ontstaan. Dit is wat ons die "gnostiek" noem. Dit verwoes egter die christelike geloof! Dit haal die fondament onder jou vertroue weg. Dit maak die Heiland onwerklik; die tasbaarheid is weg.

"Ontvang hom nie in die huis nie", raai Johannes die gemeente. Julle moet die verkeerde leer mooi identifiseer. Maar wie kán dit? Om dit reg te verstaan moet ons ook luister: hoe spreek die apostel daardie gemeente aan? "Die ouderling aan die uitverkore vrou", sê die opskrif. "Vrou": die Grieks het die woord "kuria". En Kuria is die vrouelike vorm van "kurios". Dit is die naam van Jesus Christus: ons Heer, die Kurios. Die gemeente moet daarvan bewus wees dat sy deel van Christus is. Sy is uitverkies om dit te wees, die uitverkore vrou. Ja, ons weet dat die Bybel dikwels die kerk die vrou, die bruid van die Here noem. Nou sien u: dit lê ook in die erenaam "Kuria"!! U moet as gemeente van dié ereposisie bewus wees. Dit is die eerste, duidelike betekenis. Ek dink egter daar is nog 'n tweede. In die gewone Grieks sê "kuria": die vrou van die huis, the lady of the house. Dit is 'n respekvolle, eerbiedwaardige naam: sy het die sê in haar huis! Identifiseer elke gevaar mooi, want u het 'n pragtige waardigheid. Die gemeente behoort by die Heer én sy het die sê in haar huis. U mooiste sê is dat u die wáárheid oor Jesus mag verkondig en mag beskerm.

2. DIE ENIGSTE GRENS WORD LIEFDEVOL AANGEWYS

Ja, die gasvryheid is 'n hoë plig en 'n waardevolle talent in die kerk. Die enigste grens aan die gasvryheid is die waarheid oor Christus. Christus self staan aan die grens, soos Hy sowel die goeie Herder én as ook die deur van die skaapstal is. Is dit egter wel liefdevol om so iemand selfs nie te wil groet nie? Om die "nie groet nie" te verstaan moet ons opnuut teruglees in die evangelie self, soos Mattheus dit verhaal. Lees met my nog 'n keer vers 12v:

"En as julle (sê die Here vir sy apostels) die huis ingaan, groet dit! En as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer".

Dit is dus die evangeliste-op-reis wat die eerste groet, die vredegroet uitspreek. Soos ook hierdie brief met 'n vredegroet begin: "genade, barmhartigheid, vrede sal met julle wees van God die Vader en van die Heer Jesus Christus, die Seun van die Vader, in waarheid en liefde" (vs. 3). Kyk hoe baie word in daardie paar woorde gesê. Dit bevat 'n mooi getuienis van die inhoud van die geloof. Dit bevat ook 'n verwysing na die waarheid en liefde wat die wat groet, met die wat luister, verbind. Daar lê waarheid én liefde in die christelike groet. "Groet" is dus baie meer as net dat vir jy iemand "goeiemôre" sê. Wie in die gemeente groet, sê: jy is baie welkom! As daar dus dwaalleraars kom, mag jy hulle nie welkom in die gemeente heet nie! Jy mag op hul seën nie reageer, asof jy dankbaar kan wees nie.

Ja, die grens van die gasvryheid moet wel deur liefde gedra word. Die woorde "waarheid en liefde" is nau aan mekaar verbind. Ons het dit in Johannes se vredegroet gehoor, ons sien dit byv. ook in vers 1: die gemeente "wat ek in waarheid liefhet". Dit sê die liefde is in die waarheid gewortel. Dit is nie medemenslikheid nie, dit gaan baie dieper. Die gebod van Christus is: broederliefde! Dit vind uitdrukking in die gemeenskap wat met mekaar geniet word. Daarom het hulle hul huise ook oopgestel. Dit is nie net vir familie en intieme vriende nie, maar dit is oop vir die werk van Christus. "Want", sê vers 11, "wie so iemand groet, het deel aan sy bose werke". Ja, die liefde moes homself ook uitstrek na vreemdelinge: die kenmerk van die gasvryheid is werklik baie breed. Die een grens is net: die liefde moet wel deur die liefde van Christus gedra word. Naasteliefde as dit in naam van Christus gewys word. As sy persoon verduister word, is daar nie gemeenskap en erkenning moontlik nie.

Ons moet dit op vandag toepas. Die eerste is dat dit teen dwaalleer gesê word. Daar is egter ook 'n sterk herinnering aan die gebooie van Christus in hierdie brief. "En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie", sê vers 6. Jy bewys die mense 'n eerste diens van liefde deur as christen opreg en sigbaar te lewe. In die waarheid wandel is dan baie breed: in alles wat die Here Jesus gesê en gewys het. Dit is die ontsaglik ryk inhoud van die geloof in die Vader en sy Seun. Dit is ook die aanwysings vir die lewe: in die navolging van ons Heiland. Hierdie brief praat egter nie verder oor sondes op die etiese vlak nie. Nee, vanuit die lewende geloof word nou oor dwaalleer gepraat. Die "oortreder" waaroor vers 9 praat, is iemand wat in die geloof dwaal!! "Elkeen wat 'n oortreder is" is iemand wat "nie bly in die leer van Christus nie". Hy verbaster die geloofsinhoud oor Jesus as die Seun van God wat werklik mens geword het. Hy is 'n "oortreder", omdat hy oor die grense van die geopenbaarde waarheid gestap het. Hy het nie "gebly in die leer van Christus nie".

Daar is ook vandag dwalings wat bo die eenvoud van God se Woord uitgaan. Daar is groeperings wat sê dat hulle net Christus predik, maar wat daarby bindings bo die Bybel oplê. As ek dan die APK noem, die Afrikaans Protestanse Kerk, doen ek dit met liefde. Dit is mense wat soos u vir hierdie land gekies het. Die mense wat hierdie kerkgenootskap gestig het en wat hulleself daarby aansluit, wou met allerlei dwaalleer in die groot NG-kerk breek. Hulle het daarvan weggebreek met die opregte bedoeling om tot die waarheid terug te keer. Daarby het hulle egter 'n nuwe dwaalleer gevoeg: dit is "'n kerk vir blanke Afrikaners". Die apartheid kry sy laaste, nou kerklike beveiliging. Hulle wil so graag Suid-Afrika as 'n christelike nasie verdedig dat die politieke onsekerheid hulle 'n houvas, 'n bolwerk laat soek. Die kerk word nou 'n maatskaplike bolwerk. Die Bybel, God se Woord skei egter nêrens die rasse en velkleure in so 'n mate dat dit 'n wet vir die lewe, 'n wet vir die kerk word. Ook kerklike apartheid gaan uit bo die leer van ons Heer, Christus. Dit is, volgens vs. 9, 'n oortreding van die leer van Christus. Ja, daar sal mooi in die kerke gepreek word. Is die "mooi" die kriterium of die waarheid?! As die liefde van Christus in hokkies verdeel word, sal dit 'n aanstoot vir die Evangelie wees.

Die gevaar is dat toepassings soos hierdie te persoonlik is en dat u vir 'n ander gaan luister. Die groot voordeel van die noem van 'n saak is egter dieselfde as die noem van die naam van 'n broer wat in sy sonde dwaal: nou màg daaroor gepraat word. En nou kàn net nog in liefde oor hom gepraat word. Ieder kan mos vir jou vra, as jy net praat: het jy al vir hom gebid of 'n brief geskryf? Ook die noem van 'n saak soos die APK s'n het die uitwerking: ja, u mag daaroor praat, maar doen dit in liefde en waarheid saam. Soek met mekaar in waarheid én in liefde die pad van die geloof in Afrika.

Sal ons 'n leraar wat die gemeente kom besoek, wegstoot? Nee, die ampsdraers sal met hom praat. Ja, ons sal hom nie op die kansel toelaat nie. Iemand word eers na ondersoek tot die bediening van die Woord toegelaat. Lidmate van 'n gemeente van blanke emigrante kan maklik aangetrek voel tot die APK. Hoe praat u met mekaar? Of praat u net oor wat u oor mekaar gehoor het? Hoe praat julle, seuns en dogters onderling? In liefde mag mens oor die waarheid praat, sonder liefde moet jy liewerste swyg. Kom ons wys die grens van die gasvryheid in liefde: die liefde van Christus wat soek.

3. DIE ENIGSTE GRENS WORD GESAMENTLIK AANVAAR

Daar is 'n merkwaardige afwisseling in hierdie brief. Aan die een kant is die gemeente die vrou, the lady of the house, wat in die enkelvoud aangespreek word. Aan die ander kant is dit duidelik alle lidmate saam wat moet luister. Vers 8 sê: "Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie". Die apostel voel homself een met die gemeente: daarom sluit hy homself in. Die gemeente is ook een: die vrou wat die Here se naam mag dra, wat 'n sê het in die huis. Saam die sê hê: dit vra eensgesindheid, totale ooreenstemming in die waarheid.

Daar lê nog meer gesamentlikheid in die naam "vrou". Dit is sy wat kinders het, vir wie sy verantwoordelik is. Die natuurlike proses van die lewe is dat die kinders sal uitswerm. Laat dit dan so wees, soos in vers 4 staan, dat die mense agterkom "dat van u kinders gevind word wat in die waarheid wandel". Daarom moet die voedingsbodem ryk wees, vol van die leer en die lewe van die Here. Die sorgvuldigheid en eensgesindheid benodig ons as gemeente: veral ons ons nadink oor die pad van die VGK in Suid-Afrika. Ons het 'n neiging onsself, maar veral ons kinders van die buitewêreld af te skerm. Ons soek op die manne- en vroueverenigings nie 'n spreker wat nie ook 'n VGK-lidmaat is nie: om die gevare te vermy. Ja, dit is goed om die waarheid te beskerm, dit is fout om nie in die waarheid sterk te staan nie. Die waarheid van Christus moet die grens wees: kom ons soek vrymoedig vir wat en wie almal binne die mooiste, enigste grens bly! As ons saam en eensgesind met mense praat, is ons al waaksaam.

Die "huis" waarin die gemeente dwaalleraars nie mag ontvang nie, is nie omskryf nie. Is dit die huis van die gemeente, die kerkgebou? Of is dit elkeen se huis? U moet onthou dat daar nie kerkgeboue in die eerste tyd was nie. Die groei van die kerk het vanuit die huise van die bekeerdes, die christelike huise begin. Daar het huisgemeentes ontstaan wat in die huis die uitgangspunt en 'n bymekaarkomplek gehad het. "Ontvang hom nie in julle huis nie" kan dus algemeen vir die hele gemeente geld. Dit is al die huise by mekaar opgetel, die gasvryheid as kenmerk van die hele gemeente. 'n Gesamentlike kenmerk en 'n gesamentlike taak om te waak oor die grense en terselfdertyd ook in die geloof gasvry te wees.

Ons kinders moet, sê sommiges, maar liewerste nie vriende buite die kerk hê nie. Maar u het tog 'n huis? Dit is tog ook 'n christelike huis! Ja, maar die Sondae is vir die gesin en die familie, sê iemand. Hoekom, vra ek? Is die christelike huis en die dag van die Here en ons samekomste nie ook daar om die liefde en waarheid van ons Here te deel nie: ook met ander mense te deel?! As ons maar eensgesind is en die geloof tussen ouers en groot kinders, tussen broers en susters gedeel word. Kom ons leer hoe om in liefde en waarheid die enigste grens te soek. Dan kom ons altyd by Hom uit: die Here Jesus persoonlik, soos Hy was en soos Hy is. Hy is die grens én die inhoud van jou lewe.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)