Goeie raad vir diensknegte van Christus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-11-17
Teks: 
II Thessalonicense 2
Preek Inhoud: 

Bevestiging ds E.L.van't Foort 17 November 1991

Voor diens: Ps 138: 1, 2, 3
Ps 138: 4
Ps 56: 1, 3, 4
Skb 43: 1, 2
Ps 124: 1-4
Lees: 2 Thess 2
Teks: 2 Thess 2: 15-17

Geliefde gemeente,

In die diens van vanoggend sal 'n nuwe predikant vir ons gemeente bevestig word.

Daar is al heel wat kere gevra wat is ds. van 't Foort nou eintlik, is hy 'n sendeling of is hy 'n predikant?

Miskien is dit goed om 'n kort aanduiding te gee van die verskil tussen 'n predikant en 'n sendeling, nie dat die verskil so vreeslik groot is nie, maar dis tog ook nie presies dieselfde nie.

'n Sendeling is soos die woord sê iemand wat gesend, uitgestuur word. Daarby dink ons dan aan die situasie waarby 'n gemeente iewers op die wêreld 'n persoon na 'n ander plek op die wêreld stuur, waar hy met groot selfstandigheid die evangelie moet verkondig aan die heidene, wat Jesus Christus nie ken nie.

Daarteenoor word 'n predikant aan 'n bestaande gemeente verbonde. Hy werk in samewerking met en onder direkte verantwoordelikheid van 'n kerkraad met wie hy gereeld vergader om al die onderdele van die werk te bespreek.

Dus in die opsig werk 'n predikant minder selfstandig as 'n sendeling.

As ons nou weer na die posisie van die broeder kyk wat vanoggend in sy amp bevestig word, word hy soos 'n sendeling uitgesend? Moet hy alleen in 'n ver land aan heidene die evangelie verkondig? Moontlik sal hy in Belhar ook heidene raakloop, maar in elk geval is daar tans ook reeds lidmate van ons gemeente. Verder sal hy werk onder direkte verantwoorde-likheid van die kerkraad saam net wie al die belangrike beslissings geneem word.

Dit maak steeds duideliker dat ons in ds van 't Foort eerder met 'n predikant as met 'n sendeling te doen het.

Hy word een van die predikante van ons gemeente, maar dan met 'n spesiale opdrag om veel werk te maak van evangelisasie-arbeid onder die inwoners van Belhar en omgewing.

As sodanig sal ons hom dan ook vanoggend bevestig. As 'n predikant met 'n besondere nadruk op die missionêre aspek van sy werk.

Dit alles neem nie weg dat vir ds van 't Foort self sy bevestiging tog sterk die karakter van 'n uitsending dra. Immers hy moet sy werk begin onder mense wie se taal hy nog nie spreek nie, wie se kultuur hy nog nie ken nie. Hy weet nie of daar in Belhar 'n toegeneë oor vir die evangelie is nie of dat daar moontlik sterk verset sal kom teen die prediking van die Woord van die Here.

Dit alles maak die bevestiging tot dienaar van die Woord tot 'n spannende aangeleentheid. Daarom moet hy vanoggend ervaar dat ons almal agter hom wil staan met ons gebede, dat ons hom saam opdra aan die God van sy en ons roeping, sodat hy met goeie moed die werk kan begin en mag volhou.

By so 'n nuwe begin het 'n mens raad nodig. Goeie raad. Ons wil hom vanoggend nie met ons goeie raad vermoei nie maar saam luister na die raad wat die Bybel vir ons het.

Goeie raad vir diensknegte van Christus

  1. Bou op vaste grond
  2. Behou die goeie hoop

Hierdie brief is gerig aan die gemeente van Thessalonika. Die gemeente is vir die meeste van ons nogal bekend omdat ons ons amper 'n halwe jaar agter mekaar elke Sondag met die eerste brief van Paulus aan die gemeente van Thessalonika besiggehou het.

Reeds uit die eerste brief is duidelik dat daar in die gemeente 'n sterk belangstelling geheers het in die sake rondom die dag van die Wederkoms van die Here Jesus Christus. Die gemeente het sterk na die dag van sy koms uitgesien.

Blykbaar het na die ontvangs van die eerste brief die belangstelling nog toegeneem, en wel in so'n mate dat daar mense was wat gesê het: die dag van Christus is reeds daar!

Hulle het die tekens van die tye sodanig geinterpreteer dat hulle gemeen het: nou is die tyd vol!

Die koms van Christus kan nie langer as 'n week of moontlik nog 'n maand vat nie.

Met hierdie gedagtes wat blykbaar vol vuur verdedig is het die gemeente in rep en roer geraak. Allerhande fantasieë het die rondte gedoen. Die mense het toe maar opgehou met hul werk, want dit was met die oog op die aanstaande koms van Christus mos glad nie meer belangrik nie.

Dit het geen enkele sin om nog te gaan werk as die dag van Christus voor die deur staan.

So het hulle gedink en gedoen daar in Thessalonika.

Wel met sy brief roep Paulus nou die gemeente tot besinning.

Hy gebruik nogal sterk woorde selfs: (vers 2).. julle moet nie so gou julle verstand verloor nie... Ons sou amper sê: Het julle daar mal geword met mekaar? roep Paulus vir hulle toe.

Ek het julle mos gesê, voor die koms van Christus sal daar nog 'n hele paar dinge gebeur, b. v. eers sal die mens van die wetteloosheid openbaar word, daar sal 'n groot afval kom waarin iemand goddelike eer vir homself van alle mense sal opeis.

Hy sal 'n groot deel van die mensheid verlei, maar moenie bang word nie, julle sal daaruit gered word. Daarvoor sal God self sorg.

Dit is ongeveer die gedagtegang van die gedeelte wat voorafgaan aan ons teks.

En dan volg dus ons teks: So dan, broeders, staan vas.

Staan vas. Dit wil hier sê: Laat julle nie van stryk bring deur al die oorgeestelike praatjies van mense wat beweer dat die dag van Christus reeds daar is nie.

Bly liewers by dit wat aan julle toevertrou is. Die betroubare leer wat ons aan julle geleer het.

In ons vertaling staan hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is. Nou is die woord 'voorskrif' 'n bietjie ongelukkig gekies. Dit klink asof Paulus -hulle 'n aantal welomskrewe reëls nagelaat het, waaraan hulle hul in Thessalonika maar net moet hou en dan kom dit wel reg.

By die woord voorskrifte moet ons eerder dink aan die totaal van die oorlewering, wat Paulus -hulle eers self ontvang het en vervolgens op hul beurt weer oorgedra het. Dus dit is nie soseer voorskrifte in die sin van vereiste leefreëls nie, maar veral die totaal van die christelike tradisie.

Paulus gebruik hier dieselfde woord as wat ons goed ken uit ons Nagmaalsformulier: Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het...

Daarmee gee hy dus aan dat die christelike geloof iets is wat jy moet ontvang uit die verlede en wat jy op jou beurt weer moet oorlewer aan ander.

Dit is jou roeping.

En met die woord roeping sluit ons weer nou aan by die verse wat aan ons teks voorafgaan.

Paulus spreek daar sy dankbaarheid aan God uit dat God in sy liefde die mense van Thessalonika uit die duisternis van die heidendom geroep het tot die heerlikheid van Christus.

Hulle is geroepe heiliges. By hul roeping het die Here gebruik gemaak van diensknegte soos Paulus.

Maar nou is hulle op hul beurt weer instrumente van die roeping deur God. Die evangelie wat aan hulle oorgelewer is moet hulle ook weer oorlewer aan ander.

Daarby kan ons dink aan die oorlewering van geslag op geslag soos dit in die kerk plaasvind. Die ouers dra die evangelie wat hulle gehoor het weer oor op hul kinders. En as hulle volwasse is moet hulle dit weer oordra op hulle kinders. Want niemand ontvang die evangelie net vir homself nie, sodat hy sou kon sê: Ek is nou gered en daarmee is ek heeltemal tevrede.

Nee, wat jy ontvang het moet jy ook weer oorlewer.

Dit geld ook vir die gemeente as geheel. Ons het die evangelie nie ontvang net om dit vir onsself te bewaar nie. Maar ons het dit ontvang om dit deur te gee.

Dit is dan ook die dryfveer vir ons sendingwerk. Dit wat ons ontvang het wil ons ook deurgee.

Die ketting van oorlewering mag deur ons nie verbreek word nie.

En daarom is dit ook belangrik hoe dit oorgelewer word.

Want wat kan sommer gebeur as 'n woord van mond tot mond oorgelewer word? Presies! So 'n woord kan maklik misvorm word.

Moontlik ken u wel die fluisterspeletjie wat kinders in 'n groot kring kan doen. Iemand aan die begin van die ry fluister 'n boodskap in die oor van sy buurman, die buurman moet dit wat hy hoor weer aan die volgende een deurgee. Wel, gewoonlik as die woord aan die einde van die kring is het dit totaal misvorm, die mees snaakse dinge kan dan uitkom.

Met dit in gedagte verstaan ons hoe belangrik dit is dat die oordrag van die christelike tradisie op 'n suiwer manier plaasvind.

'n Mens kan namelik die christelike tradisie oordra met allerhande menslike byvoegsels, moontlik selfs geheel te goeder trou. Dit is een van die groot probleme op die sendingveld, 'n mens kom daar altyd voor die vraag is iets werklik die eis van die Woord van God, of is dit eintlik meer iets vanuit ons eie westers bepaalde tradisie?

Dit kan heel maklik gebeur dat die eintlike boodskap, die verkondiging van die genade wat God bewys in Jesus Christus, ondersneeu deur allerhande sake wat ons vanuit ons eie tradisie as normaal leer beskou het. Dan gaan ons op grond van die eie tradisie meer van mense vra as wat God van hulle vra. En dit is natuurlik lewensgevaarklik.

Die omgekeerde kan ook gebeur, dat ons van die evangelie begin afdoen deurdat ons minder oordra as wat ons uit die Woord van die Here self ontvang het. In die situasie verswak ons die stem van God wat in die Woord klink.

En ook daarmee ontneem jy aan 'n ander die vaste grond van die Woord van God.

Daarom wil ons die waarskuwing van ons teks ook as goeie raad aan ons nuwe predikant vir Belhar saamgee. Staan vas en hou jou aan die voorskrifte wat aan jou geleer is.

Dra self suiwer oor wat jy van die Here ontvang het. Voeg aan sy Woord nie toe nie en doen van sy Woord nie af nie. Dan staan jy self op vaste grond en dan kan jy ook aan 'n ander vaste grond bied. Want geloof kan nie op die wankele basis van mensemenings gebou word nie maar benodig die vaste grond van die Woord van die Here.

Ons tweede goeie raad is:

Behou die goeie hoop

Ek het nie die teks spesiaaal uitgekies vanweë die woord 'goeie hoop' wat hier voorkom, maar nou dit daar staan wil ek daar nie sommer aan verby gaan nie. Ds van 't Foort het met sy gesin heeltemal vanuit Nederland gekom om aan die Kaap die Goeie Hoop te kom werk.

En daar is by ons vandag baie goeie hoop. Ons het goeie hoop dat u en u gesin sal tuisvoel in die Kaap. Ons het goeie hoop dat u u werk in Belhar met vreugde sal kan doen. Ons het goeie hoop dat ons broeders en susters uit Belhar hulle met graagte deur u sal laat onderwys. Ons het goeie hoop dat u arbeid soveel vrug sal dra dat ons kerkgebou in Belhar binnekort te klein is om al die hoorders na die evangelie te kan herberg.

Goeie hoop genoeg vandag.

Maar goeie hoop beteken nog nie dat dit alles vanself sal gaan nie. Ons en u goeie hoop sal nog heel wat beproef word.

En dan sal dit daarop aankom om die goeie hoop van vandag vas te hou.

En dit kan niemand van ons in eie krag nie.

En daarom wil ons ons tans afvra waarvandaan kom ons goeie hoop?

Ons teks is daaroor nie onduidelik nie. Die bron van ons goeie hoop is onse Here Jesus Christus en onse God en Vader wat ons liefgehad het.

Let veral op die laaste woorde, God wat ons liefgehad het.

Die liefde van God is die fondament waarop ons staan.

Daardie liefde het God ons op allerhande maniere laat blyk.

Hy het mos sy eniggebore seun oorgegee as 'n offer vir ons sondes. Groter blyk van liefde is nie dinkbaar nie. Sinds Golgota het niemand ooit nog rede om aan die liefde van God te twyfel nie.

En op daardie God wat ons liefgehad het beroep Paulus hom om die Tessalonisense te bemoedig. Immers die God is 'n God van 'n ewige troos.

Hy is altyd daarby. Dit is ook die betekenis van die woord troos hier. God is daarby met sy troosryke, sy kraggewende aanwesigheid.

En daarom mag ons ook goeie hoop hê. Ons mag goeie hoop hê dat die Here ons goeie hoop sal laat behou.

Om sendingwerk te doen ken sy eie vreugde en moeites. Watter groot vreugde is dit as jy dit as dienaar van die Woord sien gebeur dat mense kom hoor na die prediking. Watter blydskap gee dit in die lewe van 'n sendeling as hy sien hoe die duisternis in die lewe van 'n heiden langsamerhand plek maak vir die lig van Jesus Christus.

En dit kan jy as missionêr dienaar van die Woord gereëld mee maak. Dis nouliks aan 'n ander te vertel watter blydskap soiets gee in jou lewe.

Maar die lewe van 'n missionêr dienaar ken ook sy spesifieke probleme en moeites.

Vir 'n gewone predikant is dit min of meer vanselfsprekend dat as hy in die kerk kom dat die kerksaal volsit met gemeentelede wat elke sondag weer daar is. Maar in 'n missionêre situasie moet jy elke sondag weer afwag, gaan die persoon kom wat jy die week so dringend genooi het? Gaan die broeder aanwesig wees wat jou so ernstig beloof het om die volgende sondag weer daar te wees? Gaan daar inderdaad mense die kursus besoek wat jy met soveel inspanning voorberei het?

Dit is nou maar deel van sendingwerk dat veel van jou inspannings nie met sigbare resultate bekroon word nie.

En dan val dit nie mee om die teleurstellings steeds weer te verwerk en die volgende keer met eweveel geesdrif jou voorbereidings weer te tref.

Dan het jy as sendeling die troos van die Here self hard nodig. Dan word jy steeds weer teruggewerp op jou eie geloof.

Dan moet jy steeds weer begin met die besef: En tog het die Here my geroep en Hy staan by my!

Om so te kan werk is veel geloof en veel gebed nodig.

Immers jy moet self leef vanuit die troos van die evangelie om ander mense werklik daarmee te kan troos.

Jy moet self ryk voel met die Woord van God om 'n ander die rykdom daarvan te kan wys.

Maar hou goeie hoop. Die Here sal jou hart vertroos en jou versterk in alle goeie woorde en werke, soos die slotvers van ons teks sê.

Goeie woorde, dit sal jy as dienaar van die Woord beskikbaar moet hê om mense te kan bereik. Immers die geloof is uit die gehoor, daarom maak dit baie saak of jy op die regte tyd die regte ding vir iemand kan sê.

Maar oor goeie werke sal jy ook moet beskik anders gaan jou woorde verlore. Juis in 'n sendingsituasie is dit van kardinaal belang dat jou woorde en jou werke 'n eenheid vorm.

Jy sal moet vertel van die oorweldigende liefde van God, maar daardie woord kom slegs oor as jy self iets van daardie liefde probeer wys. As ons daaraan dink staan ons vir 'n amper onmoontlike opdrag.

Maar moenie moed verloor nie. Moenie hoop opgee nie.

Begin eenvoudig met die werk. Dan sal die Here in teleur-stellings en frustrasies ook op tyd jou weer wonders van Sy werk laat ervaar. Want so werk sy vertroosting dikwels.

As jy die een keer 'n moeilike teleurstelling moet verwerk mag jy die ander keer tot jou verbasing bemerk dat die Heilige Gees kragtig werksaam is.

So sal die Here jou hart vertroos.

En daarom wil ons die goeie raad van ons teksverse nog een keer saamvat: Bou op die vaste grond van die evangelie, dan sal jy steeds in staat wees om goeie hoop te behou.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)