God wil met jou swaktes en met Christus se krag in jou werk

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-09-15
Teks: 
II Korinthiërs 12
Preek Inhoud: 

15-09-91

2 KORINTHIERS 12 : 1-10

Votum - seëngroet
Sing: SB. 34 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 69 : 1, 3
Skriflesing: Galasiërs 1 : 11-24, 2 Korinthiërs 12 : 1-10
Lesing van die formulier vir die bediening van die Heilige Doop
Sing: Ps. 105 : 5
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 73 : 1, 2, 6
Teks: 2 Korinthiërs 12 : 1-10
Prediking
Sing: SB. 34 : 3
Dankgebed
Sing: Ps. 69 : 12, 13
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

ek dink almal van ons het wel bewondering vir 'n ander mens. Veral vir sulkes wat sterk lyk: daar is mense wat indruk maak en wat baie presteer. Dit is mense met 'n ongelooflike werkkrag en uithoudingsvermoë. Hulle lyk altyd rustig, oortuigend. Ook onder christene is daar sulke mense. Dit is mense wat skynbaar moeiteloos werk, hul gesin pragtig lei, 'n wonderlike huwelik het of op opvallende wyse hul alleenwees gebruik, en in die kerk nog baie werk doen. Daar is mense wat 'n indrukwekkende lewenswerk reg kry, pragtige planne verwerklik.

Wie is ek? Wat bly daar van my oor, wanneer ek myself aan so iemand spieël? Niks. Ek dra my hartseer en die mense vra net of ek dit nou al aanvaar het. Ek wil wel graag hard werk, maar ek is nie so sterk nie. Ek wil wel graag saampraat op vereniging en in geselskap, maar die dinge kom altyd anders uit my mond as wat ek dit wou gesê het. Ek wil ook die Here dien, maar wie vra vir my om saam te maak? Ja, hy, die ander is altyd vrolik, almal is lief vir hom. En ek? Wie is ek vir die Here? Ek beteken mos niks vir die diens van die Here.

Dit is 'n goeie vraag, 'n mooi vraag: wie is jy voor God se aangesig? Nie: hoe lyk die ander, maar jy! Wat is die sterk kante wat die Here vir jou spesiaal gegee het? Nee, nie die punte wat jy graag sou gehad het nie, maar dié wat jy spesiaal ontvang het. En vraag ook maar rustig: wat is die swak plekke waarvan die Here jou nog nie bevry het nie? Die swak plekke waarmee jy so sukkel. Het God ook daarmee dalk 'n bedoeling? Met jou, soos jy is?

Ek bedien u vanmôre God se Heilig Woord:

GOD WIL MET JOU SWAKTES EN MET CHRISTUS SE KRAG IN JOU WERK

Ek lees in ons teks drie dinge, naamlik:

  1. geloofservaring: God gee dit (vs. 1-5),
  2. swakhedes: God hanteer die (vs. 6-8),
  3. genade: God sterk my (vs. 9-10).

1. GELOOFSERVARING: GOD GEE DIT (vs. 1-5)

Ons teksgedeelte behoort by die grotere geheel van hoofstuk 10-12. Dit gaan oor een onderwerp, naamlik die verskil tussen: spog oor jouself en roem in God. Is daar in christene ook dinge om groot van te praat? Nee, grootpratery is, as dit net oor mense gaan, 'n verkeerde ding. In 'n christen se lewe, 'n mens van God, is daar egter werklik groot dinge: hoe mag jy daaroor praat? Dus: grootpraat oor opvallende dinge wat God in jou lewe, maar dan wel met jou persoon tot stand gebring het. Dit gaan dus oor dié verskil: tussen spog oor wat jyself presteer én roem oor wat jy in die diens van die Here tot stand gebring het.

Paulus skryf hierdie brief, noudat hy eindelik vaste planne het om binnekort die gemeente in Korinthe te besoek. Hy berei met dié brief sy aanstaande besoek voor. Om die aankoms voor te berei praat hy oor die menslike verhoudings wat daar tussen hom en die gemeente bestaan. Paulus weet: daar is in sy afwesigheid oor hom geskinder in Korinthe. Lees byv. in hfd. 10:10: "Want sy briewe (sê hulle) is wel gewigtig en kragtig, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks werd nie". Paulus se naam beteken al: klein mannetjie, die klein aposteltjie. Hy was nie 'n opvallende figuur nie. En hy het ook nie 'n groot sprekerstalent gehad nie. Sy uiterlike verskyning is swak! Hy is die teendeel van 'n indrukwekkende gesant van God aan wie se lippe almal hang. Nou was daar in Korinthe manne wat self respek wou ontvang en dit ten koste van hom probeer reg kry. Wat maak jy dan: dan evalueer jy iemand se optrede. Nee, jy skinder nie, want dat mag mos nie! Nee, jy beoordeel net die ander. Dit is die omstandighede: die selfbeoordeling van die andere leiers in Korinthe is spog. Paulus worstel met sy lesers met die vraag: in watter mate mag jy groot praat? Mag jy as 'n christen grootpraat oor die christelike gawes wat die Gees in jou gelê het?

Paulus staan egter voor die feit dat die grootkoppe in die gemeente van Korinthe wel gespog het. Wel, dan gaan hy ook een keer "spog" (in aanhalingstekens). Nou gaan hy iets noem waaruit blyk: ek sou ook kon spog, en met baie meer rede as wat julle dit maak. Dan vertel hy oor 'n ervaring wat God hom veertien jare gelede geskenk het. "Hy is weggeruk tot in die derde hemel, tot in die paradys en het onuitspreeklike woorde gehoor". Ons lees in die boek Handelinge 'n hele paar keer dat die Here Homself aan sy apostel geopenbaar het. 'n Stem en 'n lig uit die hemel: toe die Here hom tot apostel geroep het. En in Gal. sê hy dat Christus aan hom die Evangelie self geopenbaar het. Daardie een keer egter, 14 jaar gelede, staan in sy herinnering gebrand. Plotseling was hy in 'n visionêre ervaring in die hemel (die 3de hemel is: die eintlike woonplek van God - na die 1ste, die wolkehemel en die 2de, die sterrehemel). Hy het toe geweet: dit is die paradys. Hiér, by God, is nou die paradys wat op aarde nie kon bly nie. Hy het dinge gehoor wat hy op aarde nie mag en daarom ook nie kán weergee nie: so wonderbaarlik groot en mooi. Dié visioen het hom oorweldig!! Hy kan eintlik glad nie sê hoé of hy dit beleef het nie: liggaamlik of, buite sy liggaam, net geestelik.

Hoe mooi die ervaring ook was, Paulus wil nie verder daaroor praat nie. Dit was heeltemal God se gawe. Daarin was nie een persent eie prestasie nie. Dit is die rede hoekom hy oor homself in die 3de persoon praat: "Ek weet van 'n man". "Oor so 'n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie", sê hy om die kort verslag af te sluit. Oor myself, soos ek is en soos julle my ken, sal ek nooit spog nie. Ek sou oor my wonderbaarlike geloofservaring kon spog, maar ... daar was niks van my by nie. Ek het dit wel ervaar, maar ek is "weggeruk". God het hom oorweldigend begenadig met dié ervaring.

Daar is onder ons, mense wat almal die teken van die doop ontvang het, verskille in geloofservaring. Die ervaring is 'n ding wat mag groei. Ons registreer nie altyd hoe sterk die Gees in 'n mens werk nie. Sommiges kry 'n besondere genade waardeur hulle besonder gesterk word. Mag ek een voorbeeld noem? Juis as daar baie hartseer oor 'n mens gekom het (byv. deur die afsterwe van 'n geliefde), kan die krag en troos van God homself juis dan openbaar. Dit gebeur dat mens dan ervaar hoe dit nooit jou krag kan wees dat jy oorend bly nie en dit dus God se krag is. Daar is ook ander wonderbaarlike ervarings. 'n Intense gebed wat aanhou. Sing wat jou hart warm maak. Paulus sê egter: besondere ervarings is nie om oor te spog nie. Dit is iets om in jou hart te bewaar en des te meer die Here te dien. Dit is nooit om groot te praat, om jouself beter as jou naaste te voel nie. Want wat baie belangriker is, is: om te erken dat God dit gegee het. Dat Hy jou begenadig het ... om Hom te dien.

2. SWAKHEDES: GOD HANTEER DIE (vs. 6-8)

As ek hier met die preek sou ophou, sou u teleurgestel kon wees. Kyk, dink u dan, ek was myself nog nooit van 'n spesiale ervaring in die geloof bewus nie. Ek sukkel altyd. U mag egter weet dat die apostel net 'n aanduiding oor 'n besondere ervaring gegee het om des te sterker te kan sê: kyk vir die werk van God wat altyd daar is! Gaan nie sit en wag op 'n ervaring wat eenmalig is nie! Hoe jy in die daaglikse lewe, in die stryd van die geloof lyk: dit is belangrik!

Nadat Paulus tog iets oor sy ongelooflik heerlike ervaring laat deurskemer het, swyg hy verder daaroor. Vers 6b: "Ek laat dit na, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien en wat hy van my hoor nie". Kyk maar rustig hoe ek lyk! Luister vir wat ek sê! Dit is waarop ek beoordeel wil word, want dit is hoe God my gemaak het. Ons het al gehoor hoe die mense in Korinthe oor Paulus gepraat het. "Sy briewe lyk wel gewigtig en kragtig, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks nie". Nou wil hy nie op sy ervarings spog nie, maar inteendeel op sy swakhedes! Dit doen hy in so 'n sterk mate dat hy selfs ekstra oor sy ergste swak plek praat. Uiterlik is daar dinge wat die mense pla? Paulus vertel van sy innerlik. God "het hom 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan om hom met die vuis te slaan".

Wat is dit wat hom so gepla het? Dit woord "doring" beteken letterlik: 'n skerp ding wat in jou vel indring en 'n oorgevoelige plek laat ontstaan, dikwels gevolg deur 'n ontsteking. Paulus sê dus nie wat dit is nie, maar hoe swaar dit hom pla. Dit is so erg dat hy ook omskryf: dit is 'n engel van die Satan asof ek met die vuis geslaan word. In die Nuwe Testament word siektes dikwels aan die werking van 'n spesifieke bose gees toegeskryf. Iemand wat nie kan praat nie, het 'n "stomme gees". Dit is ook werklik 'n gees wat regtig deur die Heiland uitgedryf kan word. Ons dink by die Satan vandag net nog aan sonde en versoeking om te sondig. Paulus bedoel egter nie so 'n swak plek, nie 'n swakheid wat jou laat sondig, wat 'n bron van versoeking is nie. Nee, dit is 'n swakheid as mens wat die duiwel misbruik.

Daar is uitleggers wat dink Paulus het aan 'n siekte gely. In Gal. skryf hy: "julle het my beproewing in die vlees nie verag of verfoei nie" (4:14). Blykbaar wat daar iets in sy probleem wat mense opgeval het en sou kon afstoot. Paulus voel homself verneder: dit is "asof 'n engel van die Satan my met 'n vuis slaan". 'n Vuisslag is vernederend. Andere uitleggers sê: dit was nie 'n siekte nie. Die doorn in die vlees is die vervolgings waaronder die apostel gely het, die duidelike teenwerking van die Satan. Paulus skryf aan die Thessalonisense: ons wou baie graag by julle gekom het, maar "die Satan het ons verhinder" (2:18). Die apostel wou so graag hard werk vir die Here, maar het altyd 'n feilbare mens gebly. Die teenwerking van die satan en sy eie swakheid, sy menslikheid het hom gehinder. Hy het die teenwerking van die Bose nie kon oorwin nie. Dit was asof daar 'n bose engel teenoor hom gestaan en hom agteruit geslaan het. En gedurende drie periodes het Paulus die Here om bevryding daarvan gesmeek het.

Hoekom vertel Paulus eers oor 'n wonderbaarlike ervaring wat hom in die hemel gevoer het, en vervolgens oor sy menslike, pynlike probleem? Omdat die Here veral die aanhoudende probleem in sy lewe 'n doel gegee het. "Sodat ek my nie sou verhef nie", sê hy. Hy mag as apostel nie hoogmoedig word nie. Hy doen God se werk! Hy ontvang vir die werk wel 'n besondere genade. Dit moet hy altyd besef: dit was met die oog op die werk. Veertien jare terug: dan kom ons in die periode voor die eerste sendingreis, 'n periode van meer as vier jare waarin Paulus op die groot werk voorberei is. Oor dié periode het ons in Gal. 1 gelees. Na sy bekering was hy 'n tyd lang in Arabië, later in Syrië. Toe het sy groot sendingwerk begin. Intusse het hy egter ook die daaglikse beproewing leer ken: 'n doorn in die vlees. Die apostel Paulus het ook geleer: só moet die mense my sien! Dit maak nie saak watter uiterlike indruk ek maak nie. Die mense moet leer om God se werk in mense raak te sien!

God hanteer jou swakhede. Dikwels stry ons teen en sug ons onder die swak plekke. Kyk by uself maar vir swak plekke: dit waarin u menswees nie sterk is nie. Dalk het die Here u deur die leë plek van 'n geliefde 'n kruis opgelê. Of u het 'n swak plek in u karakter wat jou goeie voornemens elke keer opnuut breek. Die wilskrag ontbreek, terwyl jy dit so graag sou gehad het. Nee, sit en soek nou nie vir sondige trekke nie, maar net vir dié tipe swaktes wat by jou persoon behoort. 'n Siekte, gestremdheid, 'n verlies, 'n moeite wat jy nie regkry nie: dit waarin die swakheid van ons menswees nou uitkom. Dit is die Here wat jou nie bo die swaktes van hierdie lewe uitgetil het nie. Hy doen dit nie: om jou wel bewus te maak van sy krag temidde van jou swakheid, sodat jy jou nie verhef nie en sodat jy in jou kleinheid sy grootheid agterkom.

3. GENADE: GOD STERK MY (vs. 9-10)

Paulus het die Here dringend gesmeek om hom van die plaag te verlos. Die Here het egter laat weet: nee, jy moet leer dat My genade vir jou genoeg is. Toe het Paulus opgehou met bid om van sy las ontslae te raak. "My genade is vir jou genoeg": dit is hier nie net die genade wat jou vryspreek van jou sondes nie. Dit is die hele werking van God se genade! Dit is die genade dat hy gekies is om apostel, dienskneg te wees. Is Paulus se gebed dus 'n onverhoorde gebed, omdat sy eie swakheid teenoor die teenwerking van die duiwel hom bly plaag het? Nee! Die Here het nie gedoen wat Paulus gevra het nie, maar hom wel die betekenis van sy swakte duidelik gemaak. "Want My krag word in swakheid volbring", sê die Here! Die swakheid van Paulus kom duidelik uit, ja, maar daarom kom veral dit uit: dat dit die krag van Christus is wat in daardie swak man werksaam is. Glo dit maar: God is so magtig dat Hy sy krag ook in jou swakhede kan volbring. Sy krag: dit is wat Hy in jou lewe wil volbring, wil bewerk.

Moet u ook ophou om daarvir te bid dat die Here jou van jou swak plekke bevry? Ja, dit kan wees dat mens op 'n stadium besef dat hy nie langer so moet bid nie. 'n Egpaar wat kinderloos bly, sal baie, baie jare bid vir die kinderseën. Totdat hulle nie meer daarvir bid nie, omdat hulle geleer het op die ander take in die lewe te konsentreer. Daar is gestremdhede waaroor mens glad nie kan bid nie, omdat die Here dit in hierdie lewe nie van hom wegvat nie. In baie ander gevalle mag jy egter bly bid! Bid om 'n rustiger mens te word, om gesond te word en geeskrag te kry. As u maar nie wag met werk, terwyl u bid! Ook terwyl die swakheid nog daar is, wil die Here vandag sy krag in u swakheid volbring!

Noudat Paulus ontdek het wat die waarde van die aanhou van swakheid is, wil hy baie meer wys. Hy gee 'n breë opsomming in vs. 10! "Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede ... om Christus ontwil". Hy sê nie dat sulke kwellings aangenaam is nie. Dit sou dwaas wees. Hy sê egter wel: "ek het behae in sulke dinge". As dit werklik waar is dat Christus se krag spesiaal temidde van menslike swakhedes en moeites duidelik uitkom, alright, dan kies ek daarvir!! Dit vra baie geloofsmoed om so te kan praat: om te besef hoe goed dit is om helder God se krag teen die kontras van my swakheid te sien. Daar is dinge wat u kan oorkom. Kom ons vat die voorbeeld van armoede. 'n Tyd van armoede is baie swaar. Die Here kan egter in dié tyd tog krag aan u geloof gee, sodat sy krag ook in daardie swaar tyd geduld en liefde gee. Daardie tipe swakhedes: is hulle uiteindelik sleg vir jou?

Ons Skrifgedeelte eindig met 'n pragtige belydenis van die geloof: "Want as ek swak is, dan is ek sterk". Kan jy dit sê? Is dit wat u geleer het, terwyl die Here aan u gewerk het? Of staar u uself altyd blind op die swak plek? Hy vul die leë plek nie op nie: en tog is Hy daar, langs u, om u oorend te hou. Hy maak u dalk nie 'n indrukwekkende mens nie: juis daarom is Hy indrukwekkend liefderyk by u. Hy gee u misskien nie die gawe om mooi te kan getuig nie: en daarom klink die eenvoudige woord wat u uit u Bybel herhaal, so ontroerend en sterk in eenvoud. Hy maak u kinders nie tot die maklikste nie: en daarin lê u taak om hulle met hul swakhedes te leer lewe. Tot eer van die Here. Sy eer: dit is tog waaroor dit ook in u lewe gaan?!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)