Hy wat tot bekering roep, dra Sy taak oor aan die Lam

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-12-20
Teks: 
Johannes 1
Preek Inhoud: 

20-12-92

JOHANNES 1 : 29

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 40 : 3, 4
Gebed
Skriflesing: Johannes 1 : 1-18; 29-37
Tekslesing : Johannes 1 : 29
Sing: SB. 7 : 5
Preek
Sing: SB. 8 : 1, 2
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 51 : 8
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 8 : 4, 5
Seën

Gemeente van ons Heiland, die Here Jesus Christus,

in die eredienste van die afgelope 3 Sondagoggende het ons gehoor en gesien hoe ons Here Jesus in die Openbaring aan Johannes as die Kind, die seuntjie gewys is. Die blote feit dat nog in die Openbaring ons Here in die hemel as 'n Seuntjie gewys word, sê vir ons: hoe belangrik sy koms was en hoe baie beloftes in Hom vervul is. Nou wil ek opnuut by 'n naam en 'n omskrywing van ons Here stilstaan: 'n naam, 'n omskrywing wat ook iets oor die klein wees en oor sy onskuld sê. Dit is die naam "die lam van God".

'n Lam is vir die Israëliet 'n bekende diertjie, 'n jong uit die troppe kleinvee: van skape of bokke. Dit het dieselfde gevoel van ontroering en tederheid by hulle gewek as wat ons dit ken. Ek dink aan die voorbeeld van Natan se gelykenis. Toe koning Dawid die vrou van sy buurman in Jerusalem verlei het, kom Natan by hom en vertel 'n storie: oor 'n arm man "wat niks gehad het, behalwe een ou ooilammetjie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter" (2 Sam 12). Die lam is vir die Israëliet sy besit. Terselfdertyd kan dit meer wees, naamlik die wonder van die nuwe lewe. Dit wat God vir jou gee.

Opnuut kry ons 'n beeld oor Jesus by Johannes, die evangelis en apostel wat ook die visioen van die Seuntjie gesien het. En in die hele gebeure van die Openbaring het Johannes ook dikwels die Here in die hemel as die Lam gesien. Iets van die agtergrond kry ons in sy beskrywing van die Evangelie. Ek preek vir u oor:

HY WAT TOT BEKERING ROEP, DRA SY TAAK OOR AAN DIE LAM

Ons sien in dié naam:

  1. die daaglikse geskenk van die offer
  2. die eenmalige draagkrag daarvan.

1. DIE DAAGLIKSE GESKENK VAN DIE OFFER

Die evangelis Johannes begin sy beskrywing van Jesus se lewe nie soos Mattheus en Lukas by die geboorte nie. Johannes is die laaste wat 'n evangelie begin skrywe. Die geboorteverhale is dus bekend. Hy kan dus maklik op 'n ander punt begin. Hy vertel vanaf die heel eerste begin: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God" (1:1). Hy leer ons dink vanuit die godlikheid van ons Here Jesus. Vanuit die hoë begin sê hy dan ook: "Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon" (1:14). Nee, Johannes vertel nie die geskiedenis van Jesus se geboorte - en ook nie dié van Johannes, sy familielid en ouderdomsgenoot nie. Die heel eerste wat ons apostel van die gebeure vertel is: die voorwerk wat die ander Johannes, die Doper vir Jesus gedoen het.

Johannes die Doper tree eerste op: hy is vanaf 1:15 besig om van die komende Verlosser te getuig. Uit die ander evangelieë ken ons die uitdrukking dat hy "die doop van bekering tot vergewing van sondes" verkondig het. Die onderwys het 'n sekere tyd geduur. Die Jode in Jerusalem het selfs priesters en leviete gestuur om by hom uit te vind: "Wie is u?". Op die agtergrond van dié vraag lê die verwagting dat eendag die Messias Homself sou bekend maak. Is hy dit dalk? Maar die Doper het erken: "Ek is nie die Christus nie". Op daardie wyse het hy onder die volk 'n groot spanning opgebou: wie is die Christus, die Gesalfde van God dan wel?? Hy het dissipels rondom hom versamel, lees ons in 1:35. Dit is mense wat so beïndruk is deur Johannes se boodskap dat hulle by hom bly en gehelp het die prediking deur te gee. Dan kom daar 'n dag waarop Johannes die Doper vir Jesus sien kom. Hy is op pad, blykbaar om Johannes te ontmoet. Oor dié ontmoeting vertel die evangelie niks nie. Dit vertel net wat Johannes gesê het toe hy Jesus op hom af sien kom. "Dáár is die lam van God!", het hy gesê.

"Kyk, die lam van God"! Vir gelowiges is dit 'n pragtige omskrywing van ons Here Jesus Christus. Kon egter die Jode verstaan wat bedoel Johannes?? Kom ons dink 'n bietjie daaroor. Want hierdie uitroep is 'n profesie waarin Johannes die Here by die begin van sy werk op aarde op 'n spesiale wyse aanwys. Dan sal ons nog beter die diep betekenis van dié naam kan verstaan. Ons dink maklik eerste aan die Paaslam: die spesiale offer wat vrywaring van die doodsengel in Egipte beteken het. Oor die Paaslam sal ons, as die Here wil, in 'n volgende preek hoor. Daar was vir die volk van die Jode volk egter 'n ander offerlam wat daaglikse betekenis gehad het.

Elke dag moes daar naamlik in die tempel van Jerusalem twee keer 'n lam geoffer word. Ons weet: Johannes was die seun van 'n priester, Sagaria. Hy was dus van jongsaf aan bekend met die daelikse werk in die tempel. Die daaglikse offer is in Eks. 29:38-46 beskrywe en is al by die berg Sinai ingestel. Elke dag moes twee jaaroud lammers gekies word. In die môre is die eerste en teen die aand die tweede as 'n offer gebring. Aan die begin van die dag en by die oorgang na elke nag, soos 'n gebed in die oggend en in die aand. Die plek waar die offer gebring moet word, is veelseggend. Dit is "by die ingang van die tent van die samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek" (:42). Dit gaan dus oor die plek waar die HERE die meeste naby is, daar waar die mense Hom kon kom ontmoet. Dit gaan oor die daaglikse aanwesigheid van die HERE temidde van die volk.

In die wet waar die daaglikse offer van 'n lam beskrywe is, lees jy opvallende woorde: "En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word" (:43). Die heerlikheid van die HERE: dit is alle goeds wat van Hom afstraal. En by die tent van die samekoms: alles wat sy aanwesigheid wys. Nou moet ons dink aan die woorde wat die apostel Johannes in die heel eerste begin van sy evangelie skryf: "die Woord het vlees geword én onder ons gewoon; en ons het sy heerlikheid aanskou ..." (1:14). Die daaglikse offer van die lam in die môre en die een teen die aand was: om God se teenwoordigheid af te smeek. Nou sien Johannes die Doper Jesus kom. Hy herinner die volk aan dié offer deur te sê: "Dáár is die lam van God"! Dit is Hy in wie God teenwoordig is. Hy is "die Seun van God", sê hy afsluitend in vs 34. God se heerlikheid woon in Hom by ons: alle goedheid wat van God afstraal. Soek jy die ontmoeting met God die HERE soos jy dit vroeër in die tent van samekoms of nou in die tempel gesoek het? Hy is hier! "Kyk, dit is die Lam van God"!

Ons hoef nie meer vroeg in die oggend en nog eens, teen die aand, te offer nie. Ons mag die dae begin en besluit met 'n eenvoudige gebed. Ons weet hoe Jesus die pad na die Vader oopgemaak het. Ook in dié betekenis is Hy vandag nog: die lam van God wat Hy vir ons gegee het. Jesus Christus is daagliks God se geskenk. Hoe Jesus dit presies sou wees, mag ons ook nog in die tweede gedagte uit ons teks hoor:

2. DIE EENMALIGE DRAAGKRAG VAN DIE OFFER

Johannes wys Jesus aan. Die volgende dag blyk duidelik dat hy dit vir sy dissipels doen (vs. 36-37). Hy dra sy taak aan Jesus oor met die woorde oor die lam. Dié uitspraak was blykbaar baie belangrik, want Johannes het dit op die volgende oggend herhaal: "Dáár is die lam van God!" (1:36). Hy het bewustelik sy dissipels só op Jesus gewys.

In sy eerste uitroep het Johannes die Doper iets toegevoeg, naamlik die woorde: daar is die lam van God "wat die sonde van die wêreld wegneem"! Dit is 'n uitspraak wat so breed is soos die wêreld wyd is. "Die sonde" staan in enkelvoud. Dit is eenvoudig dit wat tussen God en die mens instaan. Dit is in een woord alles wat die hele mensheid al sedert eeue teen God se gebooie in doen. Dit het die hele wêreld geraak: die skepping van God, bewoon deur al die volke. Die daaglikse offer was alleen op Israel gerig. Dit is in Jerusalem gebring om vir een volk versoening te doen. Nou is daar 'n lam wat God vir die hele wêreld gee! Hy is 'n mens wat sommer op 'n dag kon aanstap. En tog is dit Hy wat die sonde van die wêreld optel. Hy neem dit op sy skouers: dis omtrent wat die woord "wegneem" beteken. Hy tel die sondelas sommer op om dit weg te dra.

Dié offer is dus iets anders as om bloot geoffer te word, soos 'n weerlose dier. Hy neem bewustelik en vrywillig dié las op Hom. Die lam is 'n persoon! In die wet op die môre- en aandoffer soos dit in Numeri beskrywe staan, lees ons nadruklik: ook dié lammers moet "sonder liggaamsgebrek" wees (Num 28:3). Johannes sê dus ook Jesus is die mens wat lam vir God kán wees. Dit is ook die inhoud van sy volgende woorde. "Dit is Hy van wie ek gesê het: ná my kom 'n man wat voor my geword het, want Hy was eerder dan ek". Alles wys op die feit dat Jesus deur God gestuur is. En dat Hy meer is as wat jy normaalweg van mense kan verwag. Daarom herinner Johannes ook aan Jesus se doop. "Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly". God self het toe gepraat en die Doper het dit alles gehoor. Die Gees het op Jesus neergedaal en, het Johannes gesê: "ek doop slegs met water, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees".

Nee, Johannes praat nie verder oor Jesus se lyding en die offer van sy lewe wat Hy aan die kruis gebring het nie. Dit alles lê nog weggebêre in die toekoms. Hy vertel van Jesus as die Een wat met alle krag deur God gestuur is en wat vrywillig die las van die sonde sal optel. "En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is" (1:34). Die eenmalige offer sou wees: 'n mens wat God gestuur het. Wat suiwer is en meer as enig ander mens. Wat Homself heeltemal toewy aan God en wat vrywillig instaan vir die wêreld.

Hierdie woorde oor "die lam van God wat die sonde van die wêreld opneem", het in die kerk 'n plek in die liturgie gekry. Dit het 'n lied geword wat deur die eeue in baie tale gesing is. Ja, met dié woorde het die Evangelie 'n geweldige krag vir die hele wêreld gekry. Dit is die draagkrag van Christus se eenmalige, unieke offer. Die kerk sit nie stil op 'n klein plekkie nie. Nee, ons weet dat dié Evangelie die wêreld kan red. Dit kan baie mense se sondes wegneem. Dit het geweldige betekenis vir die hele wêreld, selfs vir die hele skepping, wanneer die Sonde in sy geheel van die wêreld afgeneem word. Ons weet dit gaan gebeur op die dag waarop Jesus weerkom. Dan sal nie net die kinders van God nie, maar die skepping self bevry word van die diensbaarheid aan die verganklikheid.

Oor Johannes het ek gesê: hy wat tot bekering roep, dra sy taak oor aan die Lam. Met dié woorde begin die apostel Johannes sy beskrywing van Jesus se werk. Die eerste dissipels word rondom Hom versamel. Sy aanwesigheid onder die mense het begin. Dit is vandag die kerk van ons Here Jesus Christus wat die mense tot bekering roep. Dit is ons wat op Jesus as die Lam van God wys. Ons woorde het betekenis vir die wêreld en dus ook vir die toekoms van die land. Dit is die draagkrag en die geskenk van die Evangelie wat jy mag glo en mag deurgee. Die kerk roep die wêreld tot bekering. Die Lam gee ons daagliks rede daartoe deur sy unieke plek in God se wêreld. Vanuit die hemel garandeer Hy die teenwoordigheid van God en sy heerlikheid oor ons kinders.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)