Dat die ewige Seun van God by die mense gekom het, bly 'n wonder

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-12-27
Teks: 
Johannes 1
Preek Inhoud: 

27-12-92

JOHANNES 1 : 14

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 84 : 1, 5 [die nabyheid van die HERE]
Gebed
Skriflesing: Johannes 1:1-18
Tekslesing : Johannes 1:14
Prediking
Sing: SB. 5 : 1, 2
Geloofsbelydenis van Nicea
Sing: Ps. 27 : 3
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 23 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

"Kyk, die lam van God!" het Johannes die Doper uitgeroep. Dit is Hy "wat die sonde van die wêreld afneem". Daarmee wou hy sê: die daaglikse nabyheid van die HERE was altyd verseker deur die daaglikse offer van 'n lam in die môre en een teen die aand. In Jesus is God self daagliks naby. As die Lam van God sou Hy die pad loop om die las van die sonde van die wêreld af te neem. Op 'n andere wyse kom in ons teks van vanaand opnuut die nabyheid van God ter sprake.

Ja, dit gaan oor God se nabyheid in die persoon van die mens Christus. Want "die Woord het vlees geword en onder ons gewoon". Die woorde ken elke christen. Dit is woorde wat diep in die hart van die kerk ingesink het. Dié spreke oor God se nabyheid is so mooi dat jy as predikant bevrees is dié mooie woorde nie duideliker te kan maak nie. Ek dink dikwels: dit is so mooi, wat moet ek nog meer sê? In SB 15 sing ons dié woorde sonder toevoeging of uitlegging. Dit is genoeg, want dis pragtig. Die Woord het vlees geword ...! Kom ons probeer saam om die diepte van die woorde maar net te oordink, sodat ons die skoonheid mooi besef. Dit is wat die Bybel noem "om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref" (Ef 3:18v).

Ek preek vir u oor:

DAT DIE EWIGE SEUN VAN GOD BY DIE MENSE GEKOM HET, BLY 'N WONDER

Ons dink oor

  1. sy menswording,
  2. sy tentwoning en
  3. sy uitstraling.

1. DIE MENSWORDING

"Die Woord het vlees geword". Dié hoë woorde is in die belydenis van die kerk ingebrand. Die mooi belydenis van Nicea praat oor sy godheid en sê dan eers: Hy - die eniggebore Seun van God! - het terwille van ons, mense, en van ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword". Dan word nog nadruklik toegevoeg: Hy het mens geword. In die NAB lees jy in Joh 1:14: "die Woord het méns geword". Die ou belydenis het altwee woorde langs mekaar: vlees en mens.

Die woordjie "vlees" sê: 'n mens van vlees en bloed, soos jy is. Die mens soos God ons geskep het. Terselfdertyd druk die woordjie ons swakheid, ons sterflikheid uit. Die "vlees" soos dit swak geword het, soos jy dit in jou liggaam voel en in jou siel weet. En tog is daar niks wat sê: die Seun van God het eintlik maar 'n swak mensekind geword. Nee, die woorde van vs 14 is 'n lofprysing! Die Woord het vlees geword! God het dit so verkies dat sy Seun die goddelike heerlikheid as 'n werklike mens sou dra. Hy neem die menslikheid van ons oor. Dat Hy ook ons swakheid op Hom neem, is nie 'n verhindering vir sy heerlikheid nie. Nee, Christus sal God se heerlikheid juis onder ons verteenwoordig. So naby!

In die voorafgaande gaan dit oor mense wat in Hom mag glo. "Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy naam glo" (vs 12). Dit is mense "wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is" (vs 13). "Die bloed", "die wil van die vlees" of "van 'n man": dit is alles woorde om die natuurlike lewe aan te dui, die liggaamlike moontlikheid om nuwe lewe te verwek. So is ons almal verwek en gebore: menslik, lewend. Dit bring jou egter nog nie by God nie. Dié mag het die menslike vlees nie. Nee, die Woord het vlees geword! Die nuwe kans lê vir ons daarin dat die Seun van God ons menslike lewe oorgeneem het.

Die Woord: ja, dit is Christus, jou Here in sy goddelikheid. Dit is hoe Johannes oor Hom begin en skryf het. "In die begin was die Woord, en die Woord van by God". Johannes begin sy evangelie by die hoogheid, die ewigheid en goddelikheid van die Seun. Hy noem Hem "die Woord": dit wil sê God soos Hy Homself bekendmaak. Dit is mos deur sy Woord dat God alles geskep het: deur die mag van sy spreke, deur alle krag wat van Hom uitgaan. Dat die Seun ook geskep het, sê vs 3: "alle dinge het deur hom ontstaan". Die Woord is mos ook "lewe", soos vs 4 sê: "In die Woord was lewe en die lewe was die lig van die mense". Hy gee lewe, Hy gee lig in die lewe. Hy is die Woord en vertel ons oor God, oor die Vader, sy Vader. Hy maak alles bekend wat Hy as Seun van God weet en is. Daarom eindig die inleiding van Johannes met die woorde van vs 18: "Geen mens het ooit God gesien; die eniggebore Seun wat die naaste aan die Vader is, Hy het Hom verklaar". Verklaar: verduidelik, bekendgemaak. Van mens tot mens. Ja, dié Woord het vlees geword: God het Homself as mens onder die mense bekendgemaak.

Art 8 van ons NGB sê oor die Seun: Hy is "die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader". Heel die pragtige waarheid oor wie die Seun van God is, het menslike werklikheid geword. Dit bly 'n wonder, die diepste waarheid en die uitstaande kenmerk van die christelike geloof: die menswording van die Seun van God.

2. DIE TENTWONING

"Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon". Ons kom nou op 'n punt wat spesiale aandag verdien. Ons moet proe watter mooi betekenis, watter diepte daar in die woord skuil. Die Grieks sê hier letterlik: die Seun van God het onder ons "tent opgeslaan". Met hierdie woord haak die evangelis Johannes die nuwe wonder van die menswording van die Seun van God aan die ou gedeelte van ons Bybel vas.

Ons ken die woord "tent" as uitdrukking vir: die tydelike woning op aarde. Die aardsvaders het in tente gewoon. Dié feit moes hulle leer: die vaste plek op aarde, die beloofde land is nog nie bereik nie. Elke dag weer moes jy jou tente afbreek en verder trek. Die apostels gebruik dié woord dan ook as beeldspraak vir die sterflikheid van ons liggaam. "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou van God het" (2 Kor 5:1, 4; vgl. 2 Petr 1:13). Sterflikheid, tydelikheid: is dit wat Johannes oor Jesus as die Seun van God wil wys? Nee. Dat die Woord sy tent onder die mense opgeslaan het, wys ons terug op die ou geskiedenis wat God met sy volk gegaan het.

Die HERE het mos saamgetrek, toe Israël in tente gewoon en deur die woestyn getrek het! Wat was al die jare die hart van die tentekamp? Die tent van die samekoms! Ja, God het ook 'n tent gehad. Daar kon die volk vir die HERE ontmoet. Onthou julle nog van die lammers wat in die môre en teen die aand geoffer moes word? Ons het daaroor gelees in Eks. 29: twee keer per dag moes 'n lam geoffer word "by die ingang van die tent van die samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek" (vs 42). So was die HERE jare en jare saam met sy volk op pad: met 'n tent, soos hulle. Naby en bereikbaar.

Dié herinnering word in jou hart losgemaak, wanneer jy hoor: nou het die Seun van God mens geword "en onder ons sy tent opgeslaan". Die HERE het al eerder "onder ons gewoon en sy tent opgeslaan". God het opnuut by sy volk gekom, maar nou op 'n nuwe wyse. Want nou het die wonder gebeur: God die Seun het mens geword! Op dié wyse het God nou temidde van Israel sy tent opgeslaan. Die Seun van God gaan met die mense saam: deur die lewe, daagliks. Ja, die tempel was na die woestynreis die huis van die HERE. Dié huis se waarde neem af, noudat Christus gekom het. Want die Here is nou op 'n wonderlike wyse naby. Dit is die heilshistoriese betekenis van "sy tent opslaan": Israel moes dit kan verstaan. Ons wat die geskiedenis van God ken, kan dit verstaan. God in ons midde! Hoe heerlik moet dit wees. Jesus het saamgreis deur die lewe.

Kom ons neem direk die derde punt daarby:

3. DIE UITSTRALING

Want vs 14 besluit met die woorde, die belydenis: "en ons het sy heerlikheid aanskou"! Die heerlikheid van die Seun van God het duidelik uitgekom: in die woorde en in die wonders. Om een voorbeeld te noem, ter afsluiting van die wonder met die wyn op die troue in Kana konkludeer die apostel: "hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galilea gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar ...!, en sy dissipels het in Hom geglo" (2:11). Dit is heerlik, wanneer God by sy volk is. Hulle mog dit ervaar in blye en droewe dae. Johannes bely: ons het dit gesien!

Die heerlikheid van God: dit ken ons in die OT as alles wat van God afstraal, alle goeds en moois. Die heerlikheid is sigbaar gemaak deur byv. die wolk wat hulle gelei het: tot in die nagte. Dit was die lig! En wanneer Moses met die HERE gepraat het, het dit van hom afgestraal: sy gesig was verlig. Nou hoor ons van die Woord: dit is die lig van die mense. "Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld". Onthou julle nog wat ons oor die tent van die samekoms in die woestyn gelees het? Die HERE het self gesê: "en daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word" (Eks. 29:43).

Dieselfde heerlikheid het die mens Jesus uitgestraal. Dit het die wonder gewys dat God werklik by die mense, in hul lewe gekom het. Want in Jesus kon hulle die Eniggeborene van die Vader sien, "vol van genade en waarheid". Alles het God se genade gewys, alles wat Jesus gesê het, was betroubaar. Hy ken mos vir die Vader. So mog mense met eie oë God sien: in die mens Jesus Christus. Moses het gewens hy sien die HERE, maar hy kon nie. Toe die Woord vlees geword het, toe Jesus daagliks onder die mense was, toé het sy heerlikheid gestraal.

Nee, dit is nie hoe ons die Here Jesus meemaak nie. Sy verblyf op aarde was tydelik. Sy aardse tent is ook, om Paulus se woorde toe te pas, afgebreek. Hy het 'n huis by God in die hemel. Weet julle egter dat die woorde oor "tent opslaan" in die Openbaring aan Johannes, die evangelis en apostel terugkom?! In Openb 7:15 staan al oor die gelowiges wat by God in die hemel rus: "en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan". 'n Tent oorkoepel mos dié wat daarin beskerming vir die nag soek. Dit is oudtestamentiese woorde wat ons byv. uit Psalm 27 ken: "God steek my weg in sy hut op die dag van die onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent". God bied beskerming, ja. Vervolgens sien Johannes in die hemel: "die tempel van die tent van die getuienis" (15:5). Die hemel word afgebeeld soos dit in die woestyntyd was, sodat jy weet: die HERE is wel in die hemel, maar tog naby! Want jou Here Jesus is daar en wil jou lewe lei. Hy het nie sy engel saamgestuur op pad nie, maar sy Heilige Gees. God die Heilige Gees woon in jou hart. Dit is sy tempel, terwyl jy op pad mag wees.

Tenslotte klink dan in Openb 21:3 die belofte oor die nuwe aarde: "Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God". Dit gaan oor die nuwe wêreld, as ons Here terugkom. Die pragtige woorde neem ons teks uit Joh 1:14 op: "en Hy sal by hulle woon". Opnuut staan daar letterlik, presies soos in ons teks: "en God sal sy tent by hulle opslaan"! Die beskerming van God sal ons oorkoepel soos die hemel self. God se nabyheid is dan weer terug, wanneer Jesus weerkom! Vir ewig! Soos dit in die menswording van ons Heiland was, so sal dit opnuut word. Dus kyk ons nie op Kers terug met 'n gevoel van verlateheid nie, maar vol verwagting: Christus kom weer! Ons is met ons lewe en met al ons dae op pad na Hom. In Hom het God gekom en sal Hy kom: meer naby as Hy ooit kon wees. Ons sal dan meer sy volk wees as ons ooit reggekry het. Laat dié wete altyd liefde tot God in jou hart wek.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)