Jesus beveel die dogters van Jerusalem om oor hulself te ween

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-04-17
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

Goeie Vrydag 17 April 1992

Voor diens: Ps 56: 1-4
Ps 48: 1, 4, 5
Ps 40: 6, 7, 8
Skb 6: 1-7
Skb 7: 1, 2, 39, 10
Lees: Lukas 23: 1-31
Teks: Lukas 23: 27-31

Brs en srs,

In vanoggend se teks ontmoet ons 'n vir ons gevoel baie snaakse rougebruik. As die Here Jesus na sy veroordeling op pad is na die plek waar die vonnis uitgevoer sal word, word Hy begelei deur 'n groot groep mense.

Van hulle is 'n groep vroue wat luidrugtig loop en huil.

Hierdie vrou is nie spesiale vriendinne van Jesus nie, maar hulle is sogenoemde klaagvroue. As iewers 'n dooie te betreur is, dan is in die ou Ooste dikwels die diens van hierdie vroue ingeroep om luidkeels te kla en te ween. Hulle ontvang daarvoor gewoonlik ook 'n sekere vergoeding. Hulle was dus beroepsklaagsters.

Blykbaar voel hulle ook geroepe om in hierdie geval hul trane te laat vloei.

Maar die Here Jesus wys hul klagte af. Hy se: Dames, jammer, maar julle kla nou oor die verkeerde een. Dit is nie vir my en my vriende 'n swart dag nie, maar eerder vir Jerusalem.

Vir my ryk wat kom sal hierdie dag geprys word as die Goeie Vrydag. Maar vir Jerusalem sal dit die dag van die groot oordeel bly.

Dus moet vandag nie oor My ween nie, maar ween liewers oor julle self en julle kinders.

Ek bedien U vandag die woord van die Here soos volg:

Jesus beveel die dogters van Jerusalem om oor hulself te ween

Want

  1. Jerusalem het God se seen geweier
  2. Jerusalem het God se vloek ingeroep

Dit is 'n lang stoet wat op die Vrydag voor die Paasfees langsaam in die rigting van die poort beweeg. Dit is 'n gemengde geselskap. Vooraan gaan 'n groep Romeinse soldate. Tussen hulle stap die veroordeelde Jesus van Nasaret.

Agter hulle gaan 'n klomp deftige mans. Die manne van die Sanhedrin, die Joodse Raad wat 'n aanklag teen hierdie Jesus ingedien het by Pilatus en nou getuie wil wees hoe die vonnis uitgevoer word.

Daaragter kom weer 'n groot massa mense wat op hierdie vrye dag vanwee die feesdae graag wil sien wat gebeur. Almal skreeu en praat deurmekaar.

Wat 'n mens egter van hierdie hele saak ook maar wil se, tog het heel die geskiedenis iets droewigs. Dit is nog maar 'n paar dae gelede dat die mense die Here Jesus met gejuig in die stad ingehaal het. En nou reeds is Hy ter dood veroordeel.

'n Dramatiese afloop van 'n lewe wat so veelbelowend gelyk het.

Baie mense was oortuig van die goeie bedoelings van hierdie Jesus. Moontlik het van hulle voordeel uit sy genesings ondervind. En nou gaan hulle hom doodmaak!

Baie mense kan in hierdie situasie nie meer hulle emosies bedwing nie en breek uit in trane.

Verskriklik, wat hier gebeur het!

Ontsettend vir hierdie man!

Wat die Skrifgeleerdes ook maar wil se, maar hierdie Jesus het mos ook baie goed gedoen.

En nou word hierdie jong lewe sommer vernietig aan 'n kruis.

Wie sou nie huil nie?

Ook die klaagvroue bedryf uitbundig rou. Hul klagte is nie van die lug nie. Hulle kry hierdie jong man verskriklik jammer.

Moet Hy nou sterf? Dis tog te erg!

Hulle leef met Hom mee in sy gang na die kruis.

En brs en srs, wees eerlik, dit doen ons goed. Die Here Jesus is ons geliefde Heiland. Meelewe met Hom in sy swaar en eensame pad na die kruis moet vir Hom troosryk wees.

Nie almal kan saamstem met hierdie vreeslike veroordeling tot die kruis nie! Gelukkig maar.

Maar wag 'n bietjie, laat ons ons nie teveel op ons gevoelens laat dryf nie. Laat ons liewers hoor wat die Here Jesus self van hierdie trane se. En dan blyk dat die Here hierdie beklag met sy lot heeltemal afwys!

Wat hier gebeur is nie lot wat Hom ongelukkig tref nie, maar dit is vrywillige daad.

Hier is niks sieligs nie. Maar hier is die Here Jesus besig met sy werk!

Hierdie lyde neem die Here Jesus op Hom, as hoepriester van sy volk.

Dit moet ons goed sien gemeente as ons vandag stilstaan by sy lyde. Dit gaan vanoggend nie daarom dat ons ons die lyde van Christus so moet indink, dat ons nou en dan 'n traan laat gaan vanwee die afskuwelike lot wat ons Here Jesus getref het nie.

Nee dit gaan daarom dat ons moet insien dat hierdie gang van sake noodsaaklik was vanwee ons sondes.

By ons oordenking van Christus lyde mag ons nooit se: O wat vreeslik vir Hom! en vervolgens begin ons huil. Nee, sulke trane soek die Here nie. Dit is trane van sentiment. Dit is veels te goedkoop trane.

Die Here vra van ons vandag iets heeltemal anders. Naamlik dat ons moet kom van die lyde van Christus, tot ons eie sondes.

Dat ons leer se: Maar is ons sondes dan so erg dat dit moes gebeur?

Dat onse Here Jesus Christus so'n lydensweg moes gaan vanwee my oortredings?

En laat ons dan maar ween. Laat ons dan maar kla. Nie oor ons lot nie, nie oor die lot van Jesus nie, maar oor ons sondes!

Ons neem aan dit was goedbedoelde trane van die vroue uit Jerusalem. Maar van die lewe en sterwe van Jesus het hulle net niks verstaan nie.

Hulle begryp nie dat Hy as 'n priester hierdie gang moet gaan.

En daarom gaan hierdie priester nog een keer praat. Vir oulaas maak Hy sy mond oop om aan Jerusalem te verduidelik wat hier gebeur.

Die priester word nog een keer profeet!

'n Snaakse plek vir 'n preek!

'n Mens sou ook se: Hierdie prediker het nou wel genoeg aan homself. Jerusalem het sy kans gehad. Laat Hom sy kragte spaar.

Maar nee, Jesus weet hom geroepe as 'n profeet. En daarom kan Hy nie swyg nie.

Die Skrif gaan oop. Die Here Jesus kry 'n gedeelte uit die Skrifte en pas dit toe op die konkrete situasie.

Hoor maar: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders.

Julle dink, Ek is hier 'n beklaenswaardige persoon. Maar julle maak 'n fout! Julle huil oor die verkeerde!

Nie vir my is dit 'n kwade dag nie, maar vir julle!

Deurdat Jesus hierdie vrou aanspreek as dogters van Jerusalem, betrek Hy nadruklik heel die stad daarby.

Want dit is verskriklik om te woon in 'n stad wat sy eie Koning verwerp.

Jerusalem, Jerusalem, stad van Dawid. Stad van uitsonderlike seeninge van die Here. Alles het julle van God ontvang! In sy liefde en sy verlange om julle te red, het God steeds weer nuwe profete na julle gestuur. Tenslotte het God selfs sy eie Seun gestuur.

Groter seen kon God vir julle nie gegee het nie.

Maar wat doen die stad?

Sy verwerp die seen van God.

Hulle soek Hom nie, hierdie deur God gestuurde Profeet.

En daarmee maak hulle 'n onvergeeflike fout.

En dit is wat die Here Jesus in sy laaste woord aan Jerusalem hulle voorhou.

Met My werp julle die seen van die Here uit die stad uit.

Hulle is in hul haat so verblind dat hulle die seen selfs 'n vloek noem.

Immers hoekom moet teregstelling altyd buitekant die poort van Jeusalem plaasvind?

Dit is hierom: Die Jerusalemmers was daarvan oortuig dat die Here in die stad maar net seen gee. Die psalmboek is vol daarvan. Van seen vir Jerusalem. Kyk na haar mure, aanskou haar transe. Die Here gee seen!

Maar op hierdie oomblik sluit Jerusalem sy oe vir die grootste seen ooit deur God binne die poorte van die stad gebring.

Hulle keer die seen om in 'n vloek.

Hulle laai op Jesus se skouers 'n kruishout.

Die simbool van die vloek van God.

Hulle maak van die geseende van die Here 'n gevloekte.

Seker dit moes so gebeur, die Seun van die mens moes ly en sterf, maar wee hom deur wie die lyde sal kom.

Hierdie 'wee hom!' vind nou toepassing op Jerusalem.

Wee jou Jerusalem!

Nou dat jy die seen van God verwerp nou kan jy maar net reken op die toorn van God.

Daar is dus vandag inderdaad rede om te ween vir die dogters van Jerusalem. Maar hulle moet die voorwerp van hul klagte hersien.

Ween nie oor my nie.

Ween oor jouself en oor jou kinders.

Want wie die seen van God verwerp, trek die vloek van God na hom toe.

Daaroor in punt 2.

2. Jerusalem het die vloek van God ingeroep

Dogters van Jerusalem, moenie oor my huil nie, maar huil oor julleself en oor julle kinders.

Die Here Jesus spreek hierdie vroue aan op hul moederskap deur hul kinders daarby te betrek.

Dit is heel kenmerkend hier. Ons het sopas gepraat van die seen van God wat Hy in Jerusalem steeds gegee het. Wel, in Israel is die seen van God altyd heel sterk ervaar in die kry van kinders. Jou seen sien jy veral in die nageslag wat jy mog voortbring.

En kinderloosheid is in Israel steeds as 'n vloek ervaar. Soms het die Here self ook so gese: As julle gehoorsaam is sal ek julle seen met 'n talryk nageslag, maar indien nie dan kom die vloek in die vorm van onvrugbaarheid.

Dus so is dit in Israel ervaar:

Vrugbaarheid: Ons ontvang seen van die Here.

Onvrugbaarheid: Die Here straf ons.

Hierdie sterk geestelike ervaring van kinderseen in Israel het natuurlik alles te doen met die belofte van die Messias. Die Messias sou voortkom uit die volk Israel en elke vrou in Israel het gehoop dat sy daarin haar kant kon bring.

En dus is vroue in Israel wat kinders gebaar het, altyd gelukgewens: Gelukkig die vrugbares en gelukkig die moederskoot wat gebaar het en gelukkig die borste wat gesoog het. Heel Israel het graag met hierdie gelukkigprysing ingestem.

Maar hoor nou hoe hierdie seen in 'n vloek verander word. Die Here Jesus keer die spreekwoordelike gelukwensing om en se:

Daar sal dae kom waarin hulle sal se: Gelukkig die onvrugbare. Gelukkig die moederskoot wat nie gebaar het nie. Gelukkig die borste wat nie gesoog het nie!

Probeer voorstel wat dit beteken in Israel!

Dit is omkering van alle waardes in Jerusalem!

Israel se seen sal verkeer word in 'n vloek!

As Jesus Christus die voorpoort uitgedryf word, kom die vloek die agterpoort in.

Daar sal vir Jerusalem 'n tyd kom dat hulle sal wens, hulle het nooit kinders gehad nie.

Hierdie oordeel het ook in vervulling gegaan. In die jaar 70, ongeveer 35 jaar na hierdie voorsegging van Jesus, is Jerusalem deur die Romeinse leer eers uitgehonger en vervolgens met die grond gelyk gemaak. Daar het nog beskrywings bewaar gebly van die gruwelike dinge wat toe plaasgevind het. Toe was dit inderdaad baie beter om maar alleen te wees en die verskrikking te ondergaan as dat jy ook nog die sorg vir 'n gesin gehad het wat een vir een 'n ellendige dood gesterf het.

Toe het in vervulling begin gaan die vloek wat die Jode oor hulself ingeroep het toe hulle vir Pilatus geskreeu het: Laat sy bloed maar oor ons en ons kinders kom!

In vers 30 word die wanhoop onder die oordeel nog skerper geteken met die woord van die profeet Hosea.

Dan sal hulle vir die berge begin se: Val op ons!, en vir die heuwels: bedek ons!

Hierdie woord uit die tyd van Hosea vorm 'n aankondiging van oordeel oor die volk Israel. Hulle het al die profete wat God gestuur het, verwerp. Nou is die wraak van God onontkombaar.

Israel kan probeer wegvlug van daardie wraak, maar dit is onmoontlik. Hulle angste sal so groot raak dat hulle hul geboortedag sal begin vervloek, was ons maar nooit gebore nie!

Berge val op ons, heuwels bedek ons!

Hierdie skreeu is 'n wanhopige poging om aan die ontmoeting met God te ontkom, om die wraak van sy verbond te ontgaan.

Want so sal dit gaan: Wie God nie wil ontmoet ten lewe nie, sal Hom eendag moet ontmoet ten dode.

Dit is 'n vlymskerp prediking, gemeente.

En dit nog al teen Jerusalem. Die Godstad van die O.T.

Die plek waar die Here temidde van sy volk wou woon.

As hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droe hout gebeur?

In hierdie woorde vat die Here Jesus nog vir oulaas die erns van die situasie saam.

Wat hier gebeur, het alles te doen met die toorn van God oor die sondes van die mens.

Jesus self is die groen hout. Die lewende hout. Dit is nie bestem om gekap te word nie, maar moet tog val vanwee die sondes van ander.

Met hierdie woorde kenmerk die Here Jesus homself as die onskuldige. Die groen hout.

As die Regverdige dit alles reeds moet ondergaan vanwee die toorn van God, wat dink julle van die dor hout?

Het dit dan enige kans om te oorleef? Sal die droe hout oorleef as die vuur van die toorn van God ontbrand?

Met dat jy hierdie vraag stel, het jy die antwoord.

Dit is 'n laaste oproep tot bekering wat Jesus hier doen.

Moenie oor My ween nie, maar probeer verstaan wat hier eintlik gebeur. Dan het jy werklik rede om te huil. Oor jou sondes. Oor die vloek wat julle oor julle haal.

Wat die Here Jesus hier eintlik vir die stad Jerusalem se is dit: Julle kan julle nie ontslaan van My nie. Julle kom so nie met die Seun van God klaar nie.

As jy die seen van God deur die een poort die stad uitjaag, haal jy deur die ander poort die vloek van God binnekant die stad.

Op hierdie punt, gemeente, staan die stad Jerusalem model vir die kerk van Christus.

En wel so: Niemand kan elke week die evangelieverkondiging aanhoor, dit langs hom neerle en meen dat dit verder nie saak maak nie.

Juis daar waar die Here die meeste met sy seen gekom het, daar sal Hy die hardste ingryp.

Het die profete nie altyd gese: Die oordeel begin by die huis van God?

Dit is 'n skerp prediking brs en srs, ook vir vandag.

Ons moet almal weet: Ons kannie neutraal bly onder die prediking nie.

Verkondiging van die evangelie maak vir jou die lewe oop, of maak dit toe vir jou. Dit is 'n seen om die Woord te kan hoor, maar... as jy dit verwerp, word dit vir jou tot 'n vloek.

Dit maak dus die prediking tot 'n saak van die hoogste erns.

So maan ons teks ons vandag tot droefheid. Nee, nie tot droefheid oor die trieste lot wat Jesus getref het nie.

Nee dit maan ons tot droefheid oor ons sondes wat Jesus aan die kruis gebring het.

Wie wil ween hy moet nie ween oor die dood van Jesus nie, laat hom ween oor die erns van sy sondes en hom bekeer.

Trane wat gehuil word oor ons sondes wil God kom en afdroog.

Hy wil selfs so'n droefheid in blydskap omkeer.

Hy wil verdriet omkeer in vreugde..

Want die droe hout van ons lewe wat verdien om uitgekap en verbrand te word word lewend gemaak deur die lewende hout Jesus Christus.

Deurdat Hy Hom as die lewende hout laat kap het, het Hy aan ons, dooie bome, nuwe lewe geskenk.

Takke wat in Hom ingeplant is sal vrugte dra tot in ewigheid.

Bid dat julle almal daarby mag behoort.

Vra dat die Heilige Gees jou hart so oopmaak dat jy kan huil oor jou sondes en dat jy vervolgens jou kan verbly oor die Goeie vrydag. Die dag waarop die Here Jesus vir jou sondes sy lewe gegee het.

Laat die droe hout uit jou lewe uitkap en bring vrugte van dankbaarheid voort.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)