Die Here ontneem aan sy volk die verkeerde vertroue op die verlede

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Amos 9
Preek Inhoud: 

PREEK OOR AMOS 9: 7

LITURGIE:
Ps. 105: 1, 2
Wet
Ps. 105: 3
Gebed
L. Amos 6
T. Amos 9: 7
Prediking
Ps. 50: 7, 8, 11
Gebed
Kollekte
Ps. 105: 23, 24

Broeders en susters,

Hierdie jaar is dit in elk geval nie nodig om daaroor te stry of ons vandag nog altyd gebonde is aan 'n gelofte wat 'n klompie Trekboere meer as 150 jaar gelede vol gelowige vertroue op die HERE gedoen het nie. Hierdie jaar hoef ons nie daaroor te stry of ons die 16de Desember nog steeds as 'n sondag moet vier nie.

Die 16de Desember is dié jaar klaar 'n sondag.

Vandag is dit presies 152 jaar gelede dat by Bloedrivier 'n paar honderd Boere 'n aanval van derduisende Zoeloes afgeslaan het. 152 Jaar gelede dat die Impi's van Dingaan deur Pretorius se manne teruggedrywe is en Dingaan se oppermag in Natal gebreek is.

Dis 152 jaar gelede dat Sarel Cilliers sy volksgenote in 'n Gelofte voorgegaan het dat hulle, indien die HERE die oorwinning sou skenk, vir Hom 'n bedehuis sou oprig en voortaan daardie dag as 'n gedenkdag sou vier in hulle geslagte.

God hét die oorwinning gegee.

Ja, mág ons dit so sê, gemeente? Het Gód die oorwinning gegee? Of was dit maar net 'n gevolg van 'n aantal uiterlike omstandighede in die voordeel van die blanke Boere? Hulle het modernere wapens gehad, hulle het 'n belangrike strategiese plek gekies om die aanval van die Zoeloes op te vang....

Vir dié vraag moet ek vanoggend u aandag vra.

Mag ons wel praat van God se besondere leiding in die geskiedenis van die Afrikanervolk? Mag ons sê dat dit God is wat Dingaan se Impi's die neerlaag laat ly het?

Ja, ons mag. Ons glo tog in God se voorsienigheid? Ons glo mos dat niks per toeval nie, maar dat alles uit God se vaderhand na ons toe kom. Ook die oorwinning by Bloedrivier het nie buiten God se leiding omgegaan nie. Sy hand was ook daarin.

Die ding is egter: hoé sê ons dit? Wat maak ons met hierdie geloofsbelydenis?

So'n erkenning van die hand van die HERE in die geskiedenis kan naamlik baie gevaarlik word. Want die dankbaarheid wat daar aanvanklik was, kan algaande in eiedunk verander. Mens kan op 'n heeltemal verkeerde manier op daardie feit uit die verlede begin vertrou in die hede. Jy kan uit God se hand in die verlede allerhande verkeerde afleidings begin maak vir die hede en die toekoms.

Dié gevaar is daar nie net by die herdenking van Geloftedag nie, broeders en susters. Die gevaar is daar eweseer by ons ander gedenkdae. Ons gedenk heelwat historiese gebeurtenisse waarin ons die hand van die HERE erken. Ons kerkgeskiedenis is vol feite waarin ons God se leiding sien.

Ons het hierdie jaar as gemeente byvoorbeeld die stigting van die Vrye Gereformeerde Kerk, 40 jaar gelede, gevier en die HERE daaroor geprys.

Die groot vraag is egter: wat beteken vandag, in die hede, daardie belangrike gebeurtenisse in die verlede vir ons? Hoe kyk ons terug en hoe gaan ons verder?

Ons teks van vanoggend help ons om op dié vraag 'n antwoord te vind.

Ons hoor in ons teks:

DIE HERE ONTNEEM AAN SY VOLK DIE VERKEERDE VERTROUE OP DIE VERLEDE

  1. ONS KAN UIT 'N BLOTE FEIT UIT DIE VERLEDE NIKS AFLEES
  2. ONS MOET ONS GROTE GOD IN DIE HEDE VREES

1. U weet natuurlik: een van die gevaarlike afleidings wat wel gemaak is uit die feit dat God by Bloedrivier die oorwinning aan die Boere gegee het, is dat die Afrikanervolk die uitverkore volk van God is. God se Israel vandag. En dat die swartes soos die Kanaäniete is: volkere waarmee God se uitverkore volk nooit en te nimmer mag vermeng nie.

U verstaan natuurlik ook: op dié wyse bepaal nie meer jou gelóóf nie, maar jou velkleur of jy tot God se volk behoort. Blank-wees word vereenselwig met uitverkies-wees.

Geen volk op aarde mag hom egter as vólk, as násie, as rás met die volk Israel in die Ou Testament gelykstel nie. Vandag vergader God sy volk uit alle volke, stamme, tale en nasies.

Die volk Israel se posisie in die Ou Testament was uniek en nie herhaalbaar nie.

Dié volk mog as vólk, as ras, homself God se uitverkore volk noem. Dié volk mog terugkyk op baie duidelike verlossingsdade van God in sy geskiedenis. Toe dié volk uit die slawerny van Egipte verlos is, het God self duidelik gesê dat sy hand, sy uitgestrekte arm hierdie volkie bevry het.

Die HERE self is dit ook wat aan hierdie volkie heel duidelik beveel het om in afsondering in die land Kanaän te lewe en om beslis nie met die Kanaäniete te vermeng nie: geen verdrae, geen huwelike, inteendeel, al die Kanaäniete moes uitgeroei word.

Hierdie volk het daardie wonderbaarlike uitredding uit Egipte gevier as 'n jaarlikse gedenkdag. Hul Pasgafees. En dit was nie as gevolg van 'n vrywillige gelofte nie. Nee, die HERE self het dit as 'n gebod aan sy uitverkore volk opgedra. "Doen dit tot my gedagtenis".

Maar hoor dan nou wat sê die HERE in ons teks deur middel van sy profeet Amos, gemeente! Dit lyk asof die HERE sommer 'n streep trek deur die wonderlike uitredding uit Egipte. Dit lyk asof hy weer 'n streep trek deur sy verkiesing van hierdie volk. Dit lyk asof hy weer 'n streep trek deur die eis om in afsondering onder die ander volke te lewe.

"Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel? ", spreek die HERE.

Moet u probeer voorstel watter indruk hierdie woord van die HERE op die Israeliete gemaak het.

Wég is skielik hulle uitsonderingsposisie. Die God wat vir hulle afsondering beveel het, praat skielik van nivellering. Hulle word sommer met 'n ander volk op een lyn gestel.

En watter volk: die Kusiete!

Die Kusiete was die volk van die huidige Ethiopië, broeders en susters. Deur die eeue gevaarlike en gevreesde vyande van Israel. In Israel se geskiedenis moes daar meer as een oorlog teen die Kusiete gevoer word. Verskeie Kusiete het hulle ook as huursoldate verhuur in die leërs van ander vyande van Israel.

Maar wat dalk die ergste was: hulle was swartmense. Met 'n heeltemal ander tipe beskawing. Primitief in die oë van die ontwikkelde Israeliete.

Met dié mense stel God sy volk sommer gelyk! Julle is vir My dieselfde, sê God.

Maar God het sy volk Israel dan spesiaal uit Egipte uitgehaal? !

Ek weet, sê God. Ek weet julle gedenk jaarliks my hand in jul geskiedenis, hoedat Ek julle uit die slawehuis uitgelei het. Maar het julle al mooi na die geskiedenis van daardie swartes gekyk? Ook in hulle geskiedenisboeke kan Ek skrywe: "Ek is die HERE, die God wat julle uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het".

Ja, gemeente, want juis in daardie dae, toe Amos sy profetewoorde moes spreek, het die Ethiopiërs afgereken met die land Egipte wat hulle telkens probeer tiranniseer het. Hulle is selfs nie net uit die slawehuis uitgelei nie, hulle het self die slawehuis verower en die slawedrywers tot slawe gemaak. Egipte is aan Kus onderwerp en 'n hele ruk was Kusiete koning oor Egipte.

Ja, die kinders van Israel kan spog met 'n wonderlike uitredding uit Egipte. Maar die kinders van Kus het nie minder rede om met wonderlike geskiedkundige feite te spog nie. Josef was wel 'n onderkoning oor Egipte. Maar geen Israeliet het ooit Farao van Egipte geword nie. Hulle het die slawehuis nooit heeltemal verower nie. Die Kusiete wel.

En die HERE het in ons teks met sy verwysing na die Kusiete nog nie eens klaargepraat nie. Dit was nog maar die begin.

Hy wys na nog twee aartsvyande van Israel:

Kyk ook 'n bietjie na die Filistyne, sê Hy vervolgens. Julle het uit Egipte dwarsdeur die see Kanaän toe gegaan. Deur my hand. Dit was 'n indrukwekkende volksverhuising waarvan destyds al die volkere gepraat het, Ek weet.

Maar wat van die Filistyne?

My hand het die Filistyne ook oor die see Kanaän toe gebring. Daardie mense het mos eendag op die eiland Kreta gebly. (Kaftor, sê die Hebreeuse teks partymaal). Hulle massale verhuising na Kanaän was feitlik 'n nie minder groot volksverhuising nie. Ook hulle het deur die water gegaan. En dit was in daardie dae regtig 'n groot ding.

Waarin verskil julle dus feitlik van daardie Filistyne?

En die Arameërs? Verskil julle van hulle? Ek het julle deur 'n groot en vreeslike woestyn saamgeneem na Kanaän toe. En Ek het julle wonderlik gespaar tydens daardie reis. Maar weet julle nie dat ook die Arameërs eendag deur 'n groot woestyn getrek het na hul huidige woonplek toe? Hulle het mos van Kir afgekom, daar ver in die Noord-Ooste. Dwarsdeur 'n woestyn, baie groter en aie gevaarliker as die Sinaiwoestyn.

Dus Israel, watter grond het julle feitlik om julle meer as die ander volke te beskou? ! Julle is vir My eenders.

God maak vir sy volk die belangrike historiese feite uit die verlede skielik wel baie onseker, broeders en susters. Mens kan uit daardie feite dus eintlik niks aflees nie! Want jy kan ewesoveel ander feite daarteenoor plaas waarin die HERE ewegoed die hand gehad het. En ook die vyande van God se volk kan hulle op belangrike historiese gebeurtenisse beroep.

Dis vandag nog presies dieselfde.

Pretorius hulle het by Bloedrivier 'n groot oorwinning op Dingaan se Zoeloes behaal. Maar daarna het die Engelse tog oor die Boere geseëvier? Die HERE het 'n Hendrik Verwoerd aan Suid-Afrika gegee wat die politiek van Apartheid kragtig deurgevoer het. Die HERE het ewegoed De Klerk as staatspresident aan ons land gegee wat die Apartheidspolitiek weer afbreek.

Sadam Hoessein van Irak het in een of twee dae die land Koeweit verower en by sy land ingelyf. En ons sal moet erken dat ook dit nie buiten die HERE omgegaan het nie.

En wat van ons Kerkgeskiedenis? Ja, ons kan wys na God se hand in die groot Reformasie van die 16de eeu in Europa waardeur die hele lewe 'n christelike karakter gekry het. Maar die Mohammedane kan ewegoed wys na hulle bekeringsveldtogte waardeur die hele Midde-Ooste en Noord-Afrika onder die invloed van die Islam gebring is.

Ons glo dat die HERE sy Kerk bewaar en weer in die ruimte geplaas het deur die Vrymaking en Wederkeer in 1944 en volgende jare in Nederland. Maar die kerke wat destyds hulle aan die sinodale hiërargie bly onderwerp het, sal sê dat die HERE ten spyte van 'n gees van rewolusie sy kerk in daardie stryd instandgehou het, al het ook talle kerke en kerkmense hulle aan die kerkverband onttrek.

Ons het die stigting van 'n Vrye Gereformeerde Kerk hier in Suid-Afrika in 1950 as 'n noodsaaklike daad van gehoorsaamheid. En ons het vanjaar die HERE gedank dat Hy sy kerk alreeds 40 jaar instandgehou het. Maar die Dopperkerke kan sê dat die stigting van 'n Vrye Gereformeerde Kerk 'n heeltemal onnodige daad was en dat die geskiedenis van die VGK en die feit dat daar nie meer as net 3 kerk gekom het nie, wel bewys dat God se seën nie op hierdie kerke rus nie.

Blote feite, getalle, voorspoed- wie daarop wil bou gaan dit nie lank volhou nie.

En as ons tog probeer, stel die HERE daar ewesoveel feite, getalle, en voorspoed by ons teenparty teenoor, waarin Hy ook die hand het, dat ons heeltemal van stryk raak.

2. Maar hét die HERE met Israel dan nie 'n heel spesiale weg gegaan nie?? Was die uitredding van Israel uit Egipte dan nie iets heeltemal anders as verowering deur Kus van Egipte nie? Was die deurtog deur die Rooisee van Israel dan nie iets heeltemal anders as die volksverhuising van die Filistyne nie? En kan mens regtig Israel se reis deur die woestyn vergelyk met die reis van die Arameërs van Kir na Syrië?

Inderdaad kan mens dit nie sommer op een lyn stel nie.

Want Egipte was vir Israel die slawehuis van die sonde, en die uitredding uit Egipte was 'n verlossing uit die greep van die sonde. Dit was 'n voorspel op ons verlossing deur Christus van die heerskappy van die sonde.

Maar toe die kinders van Kus Egipte ingeneem het, het hulle slawe van die sonde gebly.

Die wonderbaarlike deurtog deur die water van die Rooisee was vir Israel alreeds 'n aanduiding van die afwassing van hul sondes deur Jesus Christus en 'n belofte van 'n nuwe lewe met die HERE.

Maar toe die Filistyne oor die see van Kreta na Kanaän verhuis het, het hulle ewe vuil en sondig gebly soos wat hulle was.

Israel het in die woestyn die HERE ontmoet, sy stem uit die donder en die vuur hoor klink en God het met sy volk daar in die woestyn 'n verbond gesluit. Die verbond wat later deur sy Seun vir ewig regskrag gekry het.

Maar toe die Arameërs in die woestyn was, het hulle hul afgode saamgedra en geoffer vir die bose geeste.

Natuurlik het die HERE dit nie vergeet nie.

Maar sy volk in Amos se dae het daarvan vergeet! O ja, hulle ken nog die feite uit hul geskiedenis. Maar hulle ken nie meer die Gód van hul geskiedenis nie. Hulle ken nie meer God se bedoeling met dié destydse gebeurtenisse in die geskiedenis nie. Hulle sien al lank nie meer dat hulle deur die gebeurtenisse op die pad na Christus toe, by die sonde vandaan, saamgeneem is nie.

Waarom het God sy volk so wonderbaarlik uit Egipte uitgehaal?

    Die HERE wou dat hul in trou
    voortaan sy wet sou onderhou
    en in hul weë Hom sou eer:
    Loof, halleluja, prys die HEER!

Dit was die aanhoudende oproep van Moses en Aäron aan die Farao: "Laat my volk trek dat hulle My kan dien".

Daarin het Israel van al die ander volke op aarde verskil.

So het Hy aan geen volk gedaan

    Húl ken sy ryksverordening
    hul moet uit dank sy grootheid sing.

Maar hoe is dit in Amos se dae? Ons het iets daarvan gelees in hoofstuk 6. Amos moet God se volk onthullend die Leviete lees oor hul goddelose lewensstyl. Hulle wys dit in hul lewe glad nie meer dat hulle uit die dienshuis van die sónde verlos is nie. Hulle het Kanaän tot 'n nuwe slawehuis van die sonde gemaak. Hulle het die wet van die HERE verwerp, hulle laat hul deur leuengode verlei. Pa en seun gaan na dieselfde prostituut. Hulle baad in weelde en oorvloed, hou uitspattige partytjies, maar vertrap onderwyl die arm man; hulle stoot die behoefiges weg in die poort. Selfgesentreerde, losbandige, ligsinnige mense het hulle geword met meer liefde vir genot dan vir God. Uiterlik lyk hulle nog baie vroom, hulle bring getrou hul offers, maar in werklikheid is daar skaars meer plek vir God in hul lewe.

Maar as God se volk so self die grote God van die verlede in die hede eenkant skuif, verloor ook die blote feite in hulle geskiedenis hul besondere betekenis.

Dan kan hulle hul daarop nie meer beroem nie. Dan kan hulle daarop nog minder vertrou vir die toekoms.

Vir hulle is daardie feite duidelike bewyse van hul eie grootheid en belangrikheid en besonderheid. En hulle reken dat daardie gebeurtenisse ook voortaan 'n veilige lewe waarborg. Hulle is mos God se uitverkore volk!

Maar die HERE laat deur Amos weet dat hulle op die groot feite uit die verlede maar nie meer moet vertrou nie. Die HERE sal heel ander feite daarteenoor stel. Die oë van die HERE is reeds teen hierdie sondige nasie gerig en Hy sal dit van die aardbodem verdelg. Het Hy hulle eendag uit die slawehuis uitgelei? Hy sal hulle binnekort na 'n nuwe slawehuis toe bring.

En nou dus ons, gemeente.

Sal ons nog Geloftedag hou? God se hand in die geskiedenis van die Afrikanervolk prys?

As u in geloof, by die lig van God se Verbondswoord, kan sien en aanwys dat daardie gebeurtenis deur die God van die geskiedenis gebruik is om die Koninkryk van sy Seun Jesus Christus te bevorder - as u in geloof kan sien een aanwys dat daardie gebeurtenis daaraan meegehelp het dat daar vandag in Suid-Afrika 'n volk van God is wat Hom dien en vrees en wat sy Evangelie met woord en daad uitdra onder die heidene- hoekom sal Geloftedag dan nie 'n gedenkdag vir u wees nie?

Maar dan moet u viering van Geloftedag u ook aanspoor om met des te meer erns en ywer in die verbond met u God te lewe. Dan moet viering van Geloftedag u des te meer na ons Here Jesus Christus toe drywe. En dan moet die wette van sy Koninkryk ook u alledaagse lewe en u alledaagse verkeer met u naaste regeer. Ook u swart naaste in hierdie land.

Maar as die Geloftedag moet gaan dien om die grootheid en belangrikheid en besonderheid van die blank Afrikanervolk te besing - as Geloftedag 'n dag word waarop rassistiese elemente onder ons volk hul hoogmoedige haat teen anderskleuriges met brallende woorde of vroom praatjies propageer - as die Geloftedag wel nougeset as 'n sabbat inaggeneem word, maar die afstammelinge van die Boere en almal wat hulle met hulle vereenselwig, die res van die jaar nie as sondagkinders leef nie, maar, soos Israel in Amos se dae, die lewe in die verbond met die HERE algaande inruil vir 'n oppervlakkige en ligsinnige lewenstyl vol partytjies en drank, vol selfsugtige weelde en nie bereid is om die welvaart van die blanke deel van die bevolking te deel met die anderskleurige deel van die bevolking nie - as blank Suid-Afrika met afsku terugdink aan die wrede moord deur Dingaan se Zoeloes op swangere vrouens en klein kindertjies, maar onderwyl self vandag ongewenste babas vermoor in die moederskoot en nie meer sinvol geagte lewens van bejaardes deur 'n inspuiting beëindig - dan sê God: "Is julle nie vir My soos die Zoeloes van Dingaan of die Matabeles van Sikaats nie".

Dan het die slag by Bloedrivier vir ons alle betekenis verloor.

En ek kan dieselfde sê met betrekking tot ons herdenking van belangrike gebeurtenisse in die kerkgeskiedenis.

Sal ons van die Vrymaking in die Gereformeerde Kerke in Nederland in 1944 e. v. bly praat as 'n daad van die God van die verbond waardeur Hy sy kerk van valse leer en menslike heerskappysug verlos het? Sal ons volhou dat as gevolg van daardie Vrymaking die Nederlandse immigrante hier in Suid-Afrika wel gedwing was om 'n Vrye Gereformeerde Kerk te stig toe die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hulself een in leer, diens en tug met die afgedwaalde kerke in Nederland bly beskou het? En dat daarin die leiding van die HERE was?

Ons mag dit as ons in geloof en by die lig van God se Woord kan sien en aanwys dat daardie feite uit die verlede deur God gebruik word tot eer van sy naam en tot heil van sy kinders vandag.

Maar as daardie feite in die verlede ons in die hede al hoe minder dwing tot 'n gehoorsame en opregte lewe in die verbond met die HERE - as ons daardie feite gebruik om ons eie belangrikheid en voortreflikheid te predik, terwyl ons ons onderwyl in ons alledaagse lewensstyl hoegenaamd nie van die ander christene onderskei nie - dan sê die God van die verbond vir ons: "Is julle vir My nie soos die Jehova's Getuies of soos die Roomses nie? ".

Nie die feite uit die verlede nie, maar ons lewe met die HERE in die hede beslis of die hand van die HERE vandag nog beskermend oor ons is, broeders en susters.

Alleen as ons van Christus is, en ons daarvolgens gedra, kan ons terugkyk op 'n pad vol wonderlike uitreddings, en kan ons vol vertroue vorentoe kyk.

AMEN.

(Pretoria, 16 Desember 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)