Die wagpos is 'n laspos van die Here

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-02-17
Teks: 
Eségiël 3
Preek Inhoud: 

17-02-91

ESEGIEL 3 : 16-21

Votum - seëngroet
Sing: SB. 41 : 1, 2, 4
Wetslesing
Sing: Ps. 119 : 48, 49
Skriflesing: Esegiël 33 : 1-20
Doopsformulier
Sing: SB. 14 : 1, 2
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 127 : 1, 2, 3 [die Here as wagter]
Tekslesing: Esegiël 3 : (15) 16-21 (22-27)
Preek
Sing: Ps. 130 : 3, 4 [wag vir die Here]
Dankgebed
Sing: SB. 41 : 5, 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

vir 'n waarskuwing wat jy kry, kan mens dankbaar wees. Dis die geval, as jy glad nie van 'n groot gevaar bewus was nie. Dié waarskuwing was baie welkom: dit het jou gered! Om sinvol te wees moet 'n waarskuwing soos 'n verrassing kom. Jy was nie van die gevaar bewus nie. Dan is mens bly dat hy gewaarsku is. Maar om sinvol te wees, om te help moet 'n waarskuwing eintlik nie te dikwels herhaal word nie. By 'n herhaling blyk dat die mens wat gewaarsku word, die gevaar ignoreer. Hy sien die gevaar nie mooi raak nie, of hy stem nie met jou saam dat daar so 'n gevaar is nie.

'n Mens wat bly waarsku, terwyl die mense wat hom moet hoor, glad nie wil luister nie, is vir hulle 'n laspos.Hulle vererg hul vir hom. So het die profete van die HERE baie dikwels gevoel. Lasposte is hulle - het die volk Israël stil gedink en hardop gesê. Ja, dan is dit 'n moeilike taak om die HERE se opdrag te bly uitvoer. Lasposte - so voel ampsdraers partykeer, as hulle opnuut by 'n mens se deur kom om hom te vermaam. Terwyl hulle liewers vir 'n mooi gesprek wil kom. Lasposte - so voel gereformeerde mense dikwels, as hulle oor kerklike trou en suiwer Woordbediening moet praat.

Maar ek mag u die Woord van die HERE so bring:

DIE WAGPOS IS 'N LASPOS VAN DIE HERE

Ons sien

  1. God se weg met sy wagters,
  2. God se wens in die waarskuwing
  3. God se werk vir ons redding.

1. GOD SE WEG MET SY WAGTERS

Die HERE sê: "Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israël aangestel". So 'n wag is 'n mens wat op 'n wagpos bo-op die muur, bo die poort van die stad staan en uitkyk vir moontlike gevare. As daar gevaar dreig, moet hy vinnig waarsku. Die mense wat op die land werk en hulle wat in die stad bly, sal reageer. Hulle sal beskerming soek en die verdediging gereed maak. Daardie beeld ken ons uit Psalm 127: "Vergeefs, o wagte, waak jul dán, as God jul nie wil gadeslaan, sy oog nie oor die stadwal gaan". Of in Psalm 130: "Soos een wat op die mure as wagter uitgestel, gedurigdeur die ure met sy gedagte tel: so wag my siel, en sterker, gedurig op die Heer". Dié beeld is duidelik! Maar ... Israël het in ballingskap moes gaan. Israël se wagters het te laat gewaarsku of hulle is soos lasposte geïgnoreer. Nou het dié deel van die volk wat saam met Esegiël in Babel bly, glad nie meer mure nie én nie meer wagposte nie. Onbeskerm, weerloos is hulle. As God hul nie wil gadeslaan ... Maar die HERE gee hulle opnuut 'n wagter! Om hulle betyds te waarsku. Sodat daar nie weer 'n ramp oor die volk sal kom nie.

Ek wil hierdie keer in 'n mate met die toepassing begin. U sou kon dink: wat in die Ou Testament oor die profeet as 'n wagter gesê is, is in die Nuwe verbond op die ampsdraer gerig, die dominees en ouderlinge. Hulle moet iewers die volk van die Here waarsku teen afdwaling. Later sal ek meer oor die spesiale wagters in die kerk moet praat. Nou wil ek vir u sê: die kerk self mag nou die wagpos van die Here in hierdie wêreld wees! Die kerk het die profetiese Woord gekry. Ons het die volle Woord van God uit die hande van ons Here Jesus gekry. Die kerk het van Hom die opdrag gekry om te waarsku, so dikwels as wat dit nodig is. U almal mag die Woord van die Here ken: om te kan spreek. Aan die einde van hierdie hoofstuk kry Esegiël die basisreël van sy taak. Hy sal altyd moet sê: "So spreek die Here HERE" (vs. 27). Dis wat ons, wat die kerk moet sê en kan sê. Dis die Woord van die Here wat ons het: om 'n wagpos in hierdie wêreld te wees, om die mense te kan waarsku vir gevaar.

Esegiël het in 'n moeilike tyd die taak gekry om wagter vir sy volk te wees. God se mense is deur Hom swaar gestraf. Die seun van Dawid was net nog 'n kneg van Babel. Die geestelike leiding van die volk van God het lankal in politiek weggesak. Hoe sou die Verlosser ooit kan kom, as daar nie 'n volk is wat vir Hom wag nie? In Jerusalem het Jeremia in daardie dae nog gewerk, maar bykans niemand het na hom geluister nie. In die ballingskap het dit ook net erger geword. Ons Skriflesing was uit hoofstuk 33: nadat Esegiël lang jare onder die ballinge gewerk het, is dan eindlik in die vaderland die val van Jerusalem naby (die tweede gedeelte van hoofstuk 33 vertel dat die berig van die val in Babel bekend geword het). Opnuut word Esegiël dan as wagter aangestel: om die troos van die HERE te bring. Maar noú veral om te waarsku, om die volk van die HERE in hierdie wêreld regop te hou as 'n volk met 'n mooi betekenis vir die wêreld.

Dis God se weg met sy wagter. Hy gee mense om betyds met die Woord van God te kom. Dis mense wat so deur die heerlikheid van God beïndruk is dat hulle die moed het om te sê: maar dis die HERE wat dit sê! Nee, ons het nie die heerlikheid gesien soos hy aan Esegiël verskyn het nie. Maar ons het die getuienis, 'n lewendige tekening van dié verskyning in ons Bybel. Bo alles is dit die heerlikheid van ons Here Jesus Christus wat jy in die Skrif mag sien. Hy wat met liefde, met sy lewe die mense gewaarsku het: om hulle die liefde van God te wys, voordat die toorn van God sal moet kom. Hy het ons geleer om eers van sy liefde te getuig. So wil God iewers voorkom dat mense blind en doof deur die wêreld gaan. So moes Esegiël die volk na God se liefde terugroep, ookal het hy dit net nog met swaar waarskuwings kon doen. Ookal kan dit 'n moeilike taak wees, omdat mense nie wil hoor nie, u mag met mekaar as kerkgemeenskap bly wees dat u die Woord van die HERE het. Om in die blydskap te getuig. En om as dit nodig is betyds mense wat in hul lewe sonder God se vrede bly, te waarsku.

2. GOD SE WENS IN DIE WAARSKUWING

Kom ons kyk nou na die inhoud van die waarskuwing. Die verse 18-19 gaan oor die geval van 'n mens wat "'n goddelose" genoem word. Die verse 20-21 gaan dan oor 'n mens wat "'n regverdige" mag heet. Dis 'n baie absolute teenstelling. Is dit die werklikheid dat mense so maklik in twee tipes verdeel kan word? Is dit dan kerkmense teenoor ongelowiges? Nee, die mense, álle mense word met hierdie woorde na hul uiterlike lewe beoordeel. Hoe lyk hulle? Lewe hy as 'n regverdige of as 'n goddelose mens? Ja, in die beoordeling deur die HERE is dit absoluut: of jy is regverdig of jy lewe as 'n goddelose. Op daardie beoordeling sal Sy beslissing ook op die jongste dag gegrond wees: vryspraak vir die mens wat regverdig is vir God óf veroordeling vir wie God as 'n goddelose mens moet beoordeel. Maar ook die tussentydse oordeel, die balans wat God vandag opmaak, beslis so: regverdig óf goddeloos.

Nee, hoe mense na hulself kyk is dikwels nie dieselfde as hoe God hulle beoordeel nie. Jy kan dink: ek lewe glad nie sleg nie. Alright, ek is ook nie 'n model-gelowige nie, maar tog glo ek. Of u sal dink: nee, feitelik is ek nie 'n regverdige mens nie. Net om Jesus ontwil sal God my regverdig verklaar. Ek hoop u sal so dink. Want ook kerkmense is nie almal regverdiges, terwyl mense sonder die VGK nie almal goddelose is nie. As ons Kategismus oor die Nagmaal praat, gaan dit tog ook oor die vraag of ons mense wat goddeloos lewe ook sal toelaat? Dit gaan oor ál die mense wat hulself christene noem. God se tussen-beoordeling kan wees: jy is of 'n regverdige in Christus of jy is buite Hom soos 'n mens sonder God. Ons lewe is nie klaar nie. Ons stry daagliks die stryd van die geloof. Dis hoekom die HERE 'n wagpos gee: om die mense wat in sy bereik lewe, betyds te waarsku! Sodat niemand uit God se bereik uitraak nie. Dis hoekom die waarskuwing van God se heilige Woord ook na buite die kerk moet uitgaan. Sodat mense hulself laat terugroep na die veiligheid van God se verbond, die herkenbaarheid van die verbond in die kerk.

Nou sal ons ook God se wens in die waarskuwing raaksien. Dis dat almal hul bekeer en dat almal in sy vrede kom bly. Dis hoekom die HERE vir Esegiël vier moontlike gevalle teken, vier tipes van gevalle wat Hy onder God se volk, in God se wêreld sal raakloop. As hy aan die werk spring, sal hy ontmoet: goddelose mense wat gewaarsku moet word, maar wat nie sal luister nie, én goddelose mense, wat gewaarsku word, en hulself bekeer. Esegiël sal ook regverdiges ontmoet wat struikel en in sondes begin lewe én mense wat deur die vermanings van God se Woord in sy vrede sal bly. In alle gevalle is dit God se wens: dat ons sy toorn ontvlug en na sy waarskuwings luister, dat ons gered word van die toorn. Hy doen die uiterste, Hy bly waarsku. Soos die formulier vir die doop al sê, al oor klein kinders wat 'n kans kry om in die veiligheid van God se vrede op te groei. Hierdie opdrag vir Esegiël herhaal die HERE in hoofstuk 33. Daar sê Hy ook baie duidelik, in Nuwe-testamentiese woorde: "Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat so 'n mens hom bekeer van sy weg én lewe" (vs. 11). Dan volg die mooi uitroep, reguit vanuit die hart van die HERE God: "Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog sou julle sterwe, o huis van Israel?!".

Is dit nou 'n eerlike ding om die situasie van Israel in die ballingskap op die kerk toe te pas? In die eerste punt het ek tog die profeet in sy werk as wagter met die taak van die kerk vandag vergelyk? Ja, ek het. Maar ons ervaar tog daagliks die onderskeid tussen die kerk as die draer van die Woord en onsself as mense wat die Woord baie nodig het. U hoef glad nie te verwonderd te wees nie - nie oor uself of oor andere - dat ons as mense so moet stry teen die sonde dat dit ons nie begin oorheers nie. Dis hoekom u baie bly mag wees dat die HERE met sy Woord ook kom om te waarsku. Sy wens in die waarskuwing is iewers: dat u volhard in die stryd om te bly in sy vrede. Sy wens is dat u vir mekaar én vir die mense buite wil bly stry. Want watter mens kan beter besef hoe belangrik dit is as jy: 'n mens wat in die wens van God ook Sy erns raaksien?! God soek nie die dood nie, maar die lewe. Hy doen baie om te voorkom dat mense in hul sondes sterwe.

3. GOD SE WERK VIR ONS REDDING

Kom ons kyk nou nog na die doel wat God het, die doel met sy volk in hierdie wêreld én met sy mense wat spesiaal as wagters aangestel is. Laat ek begin by die mense wat 'n spesiale taak in die kerk gekry het: die dominees wat u die Woord aanhoudend verkondig, die ouderlinge wat u lewe en die diakens wat u liefde dophou. Gee hulle ruimte om te kom praat, ook om te kom waarsku. Noem hulle nie lasposte nie, want hulle kom as wagposte vir die Here self. As jy so 'n ampsdraer 'n laspos vind, mag u weet dat hy 'n laspos van die Here is. Dis die Here wat vir jou kom pla. Totdat jy luister en besef dat Hy nooit pla nie. Sodat jy uit jou eie denke uitgehaal word en in God se denke verplaas word. Ja, dis baie beter om as ampsdraer te kom, terwyl jy 'n goeie gesprek verwag. Dis baie hartseer om te kom en 'n strydgesprek te kry. Natuurlik, ons kan in ons menslike swakhede soos lasposte lyk: ons benadering is nie altyd fyngevoelig nie. Maar dink altyd, juis dan, aan die Here wat ons swak mense 'n taak gegee het. Omdat Hy werk vir u redding, vir u wat ook swak is.

Kom ons dink ook oor die emosies wat die profeet ervaar het, toe hy sy opdrag gekry het. Onthou u nog: die boekrol wat hy in daardie visioen geëet het was "soet in sy mond soos heuning". God se Woord is wonderlik. Ja, maar nadat die groot verskyning verby is, lees ons in 3:14-15: "Toe het die Gees van die HERE my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees. En ek het by die ballinge gekom ... en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit". Sy emosies het hom oorspoel, omdat sy taak so swaar sou word. Om te moet waarsku en mense te moet vermaan wat jou as 'n laspos ervaar, is 'n moeilike taak. Om oor die toorn van die HERE te moet praat, is nie die wens van jou hart nie. Tog sal ons so moet praat en nie net na ons eie moeite moet kyk nie. Jy mag in liefde die mense soek, die mense wat deur die HERE self gesoek word, solank as jy Sy Woord mag kom bring.

Maar nie net die ampsdraers deel in die taak en in die emosies nie. U, broeders en susters, en julle is tog ook hartseer oor die situasie van hierdie land? U mag 'n kerk wees wat met die Woord van God 'n wagpos vir Hom moet wees. Is u bewus van u roeping om saam die woord van God te spreek? Is u hartseer oor almal wat op 'n pad gaan wat God uiteindelik goddeloos noem? Ja, sal u dink, maar ek is tog maar net een mens. Wat kan ek doen? Ons is net 'n klein kerk. Wat sal ons maak? Is dit dan ook vir ons die werklikheid: "as 'n goddelose mens nie deur jou gewaarsku word nie, dan sal hy deur sy eie ongeregtigheid sterwe, maar sy bloed sal Ek van joú hand eis"?

Kom ons kyk na die woorde van die HERE wat lyk of dit soos 'n dreiging bô die kop van Esegiël lyk hang. As hy nie waarsku nie, soos dit sy taak is, sal die profeet die skuld van die ander in 'n straf vir homself dra. Nie net vir die mens wat as 'n gelowige afgly nie, maar ook vir 'n mens wat ons as goddelose ken en tog nie waarsku nie. Is ek persoonlik, is ons as kerk ook in die mate verantwoordelik vir die spreek van God se waarskuwings? Ja, ons is! Maar ons het 'n groot voorreg: ons Here Jesus Christus het die swaarste taak van God gekry. Hy het dit gedra, Hy het dit volbring. Dan sê die apostel van die Here Jesus: "Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie" (1 Kor. 9:16). Dis die evangelie wat ons mag bring: dis die heerlikheid van die Here Jesus Christus! Dit mag ons die eerste bring. Daarin sal dan die waarskuwing van die Here self saamkom.

Ja, ons het as kerke 'n taak teenoor die wêreld. Daarom sal ons saam moet soek hoe om die taak te volbring. Dis nie genoeg as ons net sê: "die kerkdeure staan mos elke Sondag oop" nie. Jesus Christus het sy dissipels in die wêreld gesit. Dan moet ons ook soek die wat verlore is. Nee, ek sal nie vir een ampsdraer alleen sê: jy is so verantwoordelik soos Esegiël nie; of: God eis die lewe van die mense wat jy nie gewaarsku het nie, van jou hand. Nee, maar ons is saam as 'n gemeente van ons Here Jesus verantwoordelik om die evangelie uit te dra. Ons het min kragte, maar ons het mos sy Woord! Die Woord van God wat sy kerk as 'n wagpos aanstel, sy werk is die redding van mense. Ons mag nie bang wees om lasposte te wees nie. Dis kan ook die skande van die kerk wees dat ons nooit mense lastig geval het nie, omdat ons nie 'n wagpos van die Here was nie.

Die ampsdraers het 'n roeping om die gemeente ook hierin te lei. Die apostel sê: "Let op jouself en op die leer; en volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor" (1 Tim. 4:16). Nee, ek red myself nie deur die dade wat ek uit die krag van die geloof doen nie. Dis Christus wat my red. Maar Hy doen dit op die pad, waarop Hy u en my geroep het om die werk van die geloof te doen. Ek kan my eie redding nooit losmaak van sy opdrag vir my nie. Die opdrag wat God ons uit genade om Christus ontwil gegee het. Dis die Gees wat die nuwe lewe in my gewek het. Dis ook Hy wat die gawes gegee het, saam met die opdrag om die werk te kan doen. Weereens mag u beïndruk wees deur die heerlikheid van God in ons Here Jesus: om vrolik en ernstig 'n wagpos te wees in hierdie wêreld. Ernstig vanweë God se toorn en vrolik deur die Evangelie.Amen!

Liturgie: 

(kyk in preek)