Op klein skaal is God se heerlikheid nog groots

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-01-06
Teks: 
Eségiël 1
Preek Inhoud: 

Pretoria, 06-01-91

ESEGIEL 1 : 25-28

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 29 : 1, 2
Wet
Sing: Ps. 29 : 5
Skriflesing: Esegiël 1: 1-28
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 93 : 1, 2, 3
Tekstlesing: Esegiël 1:22-28
Preek
Sing: SB. 29 : 4, 5
Dankgebed
Sing: SB. 41 : 1, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die profesieë van Esegiël is dalk die mees onbekende van die hele Bybel. Ons lees liewers Psalms, ons luister baie graag na die Evangelies, ons dink dieper na oor Paulus se briewe. Die geskiedenis van die Paradys, die verhale van Israël of die boek Handelinge oor die jong kerk kan ons gedagtes vasvang. En met verlange (en dikwyls baie moeite) probeer ons om Openbaring te verstaan.

Ja, hoekom is dit so moeilik om die laaste boek van die Nuwe Testament, die Openbaring te verstaan? U is tog christene wat "vanweë die tyd (van u omgang met die Bybel) leraars behoort te wees"? Die heilige Gees het nie moeite gedoen om u 'n oorbodige bybelboek te gee nie. Doen ons van ons kant regtig moeite om die rykdom van God se Woord te verstaan! Ons het 'n groot God: en dis hoekom Hy ons 'n veelsydige Bybel gegee het. En ek belowe u: as u hierdie profesieë en visioene van Esegiël kan verstaan, sal dit u baie help om die Openbaring te deurgrond. Nee, dis nie ek wat dit belowe nie: die Gees wat al die skrywers gestuur en jou hele Bybel uitgegee het, belowe dit.

Kom ons luister en kyk na die eerste visioen: God se wonderbaarlike verskyning aan Esegiël. Ek bring vir u God se Woord, so kort samegevat:

OP KLEIN SKAAL IS GOD SE HEERLIKHEID NOG GROOTS

Ons hoor en sien

  1. 'n stilte om te kyk (vs.22-24),
  2. gestamel om te aanbid (26-27)
  3. 'n stem om te luister (25, 28).

1. 'N STILTE OM TE KAN KYK (vs. 22-24)

Kon ons luister en kyk na hierdie visioen. Jy kan nie sê: "dis net oudtestamentiese openbaring" nie. "Laat ons dit liewers los en na die Nuwe Testament luister". Ja, God se Woord is vir ons om te luister. Maar daar is ook 'n hele paar redes om te kyk. Ons neem ons uitgangspunt in die belofte van Pinksterdag: "Ek sal van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom" (Hand. 2:17). Nee, dis nie net 'n belofte nie, dis 'n vervulde belofte: die werklikheid van die heilige Gees, wat Christus uitgegiet het op almal wat glo! God praat van alle ouderdomme: ou en jong mense, seuns en dogters. U sit langs mekaar in die kerk, omdat dit die werklikheid vir almal kan wees. Sê vir mekaar en vir jouself: Jy kan profeteer! En ek kan gesigte sien! Profeteer: praat maar soos God se Woord praat. Gesigte kom sien: kyk maar na wat God jou wys in sy Bybel.

Ja, ons kan ook kyk in die Bybel. Maar daar vind ek nie illustrasies of prentjies nie. Die Gees kan wel kunstenaars gebruik om te probeer om die beelde uit te teken: en te verduidelik. Hulle het eers gekom nádat die Bybel klaargeskryf is. Maar die Gees het visioene of gesigte gegee: in woorde het Hy beelde, kleure, vorme en bewegings laat uitteken. Wat profete werklik gesien hét, mag u lees: om te kan kyk in die groot, geestelike werklikheid van God: "wat geen oog gesien het en geen oor gehoor het en wat in geen mensehart opgekom het nie. Dis dit wat God berei het vir die wat Hom liefhet" (1 Kor. 2:9). God se werklikheid: dis wat ons mag leer hoe om te aanskou, as ons die visioene sien.

Hierdie eerste visioen uit Esegiël se boek is tegelykertyd die eerste uit sy lewe. Hy word hier daadwerkelik tot profeet geroep. Later, in hoofstuk 2 word hy bekwaam, gereed gemaak om sy werk te doen. Om hierdie mens ('n gewone mens soos jy en ek) te roep het die HERE 'n grootse verskyning gebruik. God het self gekom! Maar hoe kan 'n mens God sien? Hoe kan ons God ontmoet, as Hy homself nie 'n bietje kleiner maak as wat Hy is nie? Ja, met hierdie woorde kan u probeer verstaan wat God in hierdie tipe openbaring ('n gesig) doen: God maak Homself kleiner. Dis hoekom ek gesê het: die heerlikheid van God op klein skaal. Die groot werklikheid van God vat Hy saam in 'n kleiner beeld: sodat my klein menseverstand 'n bietjie kan begin begryp - en elke keer meer kan begryp - hoe my HERE is.

Ek het vir nou die eerste helfte van hierdie visioen uitgelos (vs.4-21). Ons begin vandag om te kyk by wat die hoogtepunt is: God se heerlikheid word op 'n besondere wyse gedemonstreer. Dit is die hoogtepunt: die belangrikste is die verskyning van God self. Maar dis ook die hoogste punt: die boonste gedeelte van die verskyning wat geteken word. Eers sien Esegiël die vier ongewone wesens. Daarna sien hy die 4 wiele.

Maar as hy boontoe kyk hy, sien hy "iets in die vorm van 'n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal". Hier staan ook regtig die woord wat partykeer vir die hemel gebruik word: soos ons die hemel as 'n gewelf bo die aarde sien. "Die uitspansel", die lug soos die HERE dit volgens Gen. 1 op die tweede dag geskep het. Die NAV vertaal: "soos 'n gewelf, blink en skrikwekkend soos 'n ysberg". Ja, die ys bedoel in die Ou Testament partykeer die hoë, kou luglae waar sneeu en haelstene gevorm word. Hierdie hemelkoepel word deur die vier wesens (wat engele is) gedra: die uitgestrekte vleuels ondersteun die hemeldak. Maar, ek het gesê: dis God se heerlikheid op 'n klein skaal. Ja werklik, in hierdie een beeld kom die hemel, God se wêreld op die aarde. Ons noem ons wereld soms die makrokosmos, terwyl een stad dan 'n mikrokosmos kan wees: 'n hele wêreld in 'n kleiner gebied. Of: "A world in one country". Maar die hele kosmos kan 'n mens nooit sien nie. En God se hele wêreld kan geen mens ooit sien nie. Maar in hierdie visioen toon God sy makrokosmos op klein skaal! Vir ons, wat dit anders nooit sou kon sien, bring God sy wêreld naderby. "Gods world in one vision".

En u mag kyk. En om dit moonlik te maak dat Esegiël dit rustig kon beskryf en ons dit rustig kan lees, het die aankoms van God se heerlikheid stilgestaan. Die beweging, die spoed en die krag waarmee God gekom het was oorweldigend. "As die vier wesens gegaan het, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige, 'n gedruis soos die gedreun van 'n leër" (:24). Esegiël moet drie vergelykings gebruik om net 'n aanduiding te kan gee oor hoe indrukwekkend God se koms was. Maar dan kom daar ook rus. Dis die betekenis van die woorde in vers 24-25: "As hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak'. Daar het rus, stilte gekom: en ons kan vandag nog kyk, omdat die profeet tyd gekry het om te kyk en te beskryf. Ons kan sommer tyd neem om eerbiedig te word, en te wil lees, om te kan verstaan. Dis hoekom ek hierdie eerste punt verwoord het met: ons kry 'n stilte om te kyk.

Maar dan moet Esegiël verder. Hy moet verder beskryf wat hy gesien het; en dit word al hoe moeiliker. Daarom het ek die tweede punt, waarin ons na vers 26v. kyk, so verwoord: daar word ....

2. GESTAMEL OM TE KAN AANBID (vs.26-27)

Esegiël kyk boontoe. Eers sien hy iets soos die lug, die hemelkoepel. "En bokant die uitspansel wat oor die hoofde van die 4 engelwesens was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die vorm van 'n troon". Maar dis nie onbekend nie. Ons het in ioe boek Exodus al geleer: toe Moses, Aäron en die sewentig oudste van Israël een dag by die HERE op 'n berg mog kom, het hulle "die God van Israël gesien: onder sy voete was 'n plaveisel soos safiersteen, so blou soos die hemel self" (24:10). Safiersteen, lapis lazuli is ligblou, die kleur van die hemel. Maar die hemelkoepel het Esegiël al beskrywe. Nou gaan dit oor iets wat soos 'n troon lyk: die troon het die kleur van die hemel! Die kleur weerkaats op God se troon. So kry ons 'n volledige beeld: soos ons in die Nuwe Testament, in Openbaring - opnuut in 'n visioen - lees: "en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal" (4:6). Glas of ys: dis mos dieselfde bedoeling. Alles het geskitter van God se heerlikheid. Hoe hoër jy kyk, hoe indrukwekkerder alles is.

Maar dit word ook moeiliker om duidelik te beskryf. Elke keer kies Esegiël woorde wat sy beskrywing, sy tekening beskerm: "dit het gelyk soos" of "soos die vorm van". Maar dis begryplik dat die navertelling vir Esegiël al hoe moeiliker geword het. Hy begin eintlik stamel. Want hy sien nie net God se wêreld op klein skaal nie. Hy mag ook God se heiligdom op klein skaal sien! Want dis nie net die lug wat ons as blou ken nie. Hy moet wat hy nou sien identifiseer as: God se troon. Hoe sou 'n mens dit regtig kan bekyk en rustig kan beskryf? Hoe kan ons oë 'n korrekte indruk kan kry? Met wat op aarde moet ons God se heerlikheid vergelyk? 'n Mens kan net dinge kies wat 'n bietjie daarna lyk. Op klein skaal is God se heerlikheid nog groots. En die profeet begin al hoe meer stamel, as hy verder moet teken wat hy mag sien. Hy kyk asof hy reguit in God se heiligdom sien. "En op die troongestalte was 'n gestalte wat soos 'n mens gelyk het". God soos een mens? Ja, uit die verskynings van die HERE aan die aartsvaders weet ons: partykeer kies Hy die gedaante van 'n engel of 'n mens. Nee, Esegiël sê nie: "ek het 'n mens op die troon gesien" nie. Hy kan net stamel by die gesig van God se grootheid. Maar wat hy kan sê, is: dit het gelyk soos die voorkoms van 'n mens. Dit beteken: as God verkies om sy grootheid "op skaal" bring, doen Hy dit sodat ons kan verstaan wie Hy is. Dan kies God: die gestalte van 'n mens! Nee, Hy lyk nie soos 'n mens nie, maar ons is geskape na die beeld van God. Dit lyk snaaks: God lyk nie soos ons nie, maar ons mag soos Hy lyk. Maar aan ons openbaar God homself: aan die mooiste skepsel van God se hande! Dan kies Hy ook die gedaante wat ons ken en kan verstaan. In al sy grootheid en heerlikheid maak God homself klein, sodat ons kan glo. Sodat ons Hom wat so groot is, baie graag aanbid.

Maar die verskyning is meer as 'n mens. Want, sê Esegiël, ek "sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy heupe gelyk het boontoe soos vuur". Die bolyf het 'n duidelike vorm: "die vuur was rondom in 'n omhulsel gevat". En "van wat sy heupe gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met 'n glans daarom". Die onderlyf het gestraal! Die samevattende woord "iets soos blinkende metaal" word ook vertaal met: witgoud. Bo is dit ontsagwekkend, onder lyk dit ook mooi: dit het gestraal. So mooi en teselfdertyd indrukwekkend soos die reënboog, sê vers 28 nog. Die laaste vergelyking haal ook die kosmos terug: God troon bo die wêreld. Alles wat mooi is, is net 'n afstraling van Homself. En ons dink aan die openbaring aan Johannes. Die apostel van die Here Jesus het in die hemel "rondom die troon 'n reënboog gesien" (4:3). En in die eerste visioen word Jesus se bolyf beskryf as met "oë soos 'n vuurvlam" en sy onderlyf met "voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond" (1:14).

Ja, dit glo ons: soos die HERE homself aan Esegiel gewys het ("in 'n gestalte wat soos 'n mens gelyk het"), so het Hy verdergegaan. Ons mag die groot wonder ken wat die profeet van die Ou verbond net stamelend en in aanbidding geteken het. Ons mag weet dat die Seun van God regtig 'n mens soos ons geword het. Sonder om te stamel kan u dit reguit bely! So mag u Hom aanbid. En oor Hom praat en Hom teken vir die oë van die mense: God wat homself in ontferming neergebuig het, wat gekom het in nederigheid; en so sy grootheid gewys en bewys het! Moet ons nou ook sê: hierdie verskyning is die Seun van God, lank voordat die Woord vlees geword het? Moet ek sê: eintlik is dit Jesus? Nee, want Jesus het eers gekom, toe Maria swanger geword het. Maar God het daardie pad lank tevore oordink. En wat God dink, het Hy al 'n bietjie gewys in hierdie verskyning. Sodat ons eers sou leer om God se grootheid te aanbid. Sodat ons eers sou leer om te stamel, vol diep eerbied: om God Drie-enig te aanbid. 'n Mens wat kan stamel, weet wat dit is om te mag glo. Om dan ook te kan bely en duidelik te praat oor die God wat Homself regtig klein gemaak het.

Maar dan kom die openbaring, die verskyning van God self tot die hoogtepunt. Want ons hoor ook ....

3. 'N STEM OM TE KAN LUISTER (vs. 25, 28)

In vers 24 is dit al aangedui: die spoed, die koms van die engele was "soos die stem van die Almagtige". Dis kan donderweer beteken. In daardie ontsagwekkende verskyning was alles beweging, aksie. Maar die verskyning het tot stilstand gekom. Wanneer daar rus is, dan sê vers 25 al: "En daar het 'n stem gekom bo van die uitspansel". Eers beskrywe Esegiel wat hy gesien, maar nou ook wat hy gehoor het. Hier word hierdie visioen baie duidelik. Want so ken ons die HERE: Hy wat vir mense praat! Daarom vat hy saam in die laaste vers: "So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek 'n stem gehoor van Een wat spreek".

Toe ek dit sien: wat ons vers na vers rustig kan lees en kan oordink, was vir Esegiel een groot, indrukwekkende, oorrompelende gebeurtenis. Maar deur sy verwarring het die Stem deurgekom. Dit moes deurkom, want God het gekom om Esegiël as sy profeet aan te stel. Hy moes instruktie kry om God se volk te kan bereik met die lewensbelangrike Woord. Maar om profeet te kan wees, moet 'n mens beïndruk wees deur God se grootheid. Om te kan glo, moet elke mens 'n bietjie van die heerlikheid gesien het. Vat dan jou tyd: om in die stilte by God te wees. Nee, God praat nie met ons nie. Dit is die verwagting wat jy van die nuwe aarde mag hê. Maar God praat vir jou! Dis wat jy kry van die God wat so groot is. Wat so groot is dat ook as Hy homself op klein skaal bring, nog altyd te groot is om heeltemaal te kan verstaan. Toe God die kleinste skaal gekies het, toe die Seun werklik 'n mens soos ons geword het, toe was Hy nog groots. Toe was Jesus so klein en swak, maar teselfdertyd so groot en magtig.

God het in hierdie visioen gekom, toe niemand meer kon hoop nie. Want die volk van die HERE het die donkerste tyd ervaar. Die ballingskap het Israel oorspoel. Maar as alles donker lyk, kan God se heerlikheid lig bring. Nee, nie Israel het hierdie visioen gesien nie, net sy profeet het dit mag sien. Dis hy wat dan ook getuie kan wees. En hulle, julle mag glo: want die heilige Gees het hom die moontlikheid gegee om dit darem duidelik te kan beskryf. Duidelik genoeg om te kan glo. Om te kan glo dat God sy Woord gespreek het en dat Hyself gekom het om dit naby te bring. Ons het die stilte sien kom en gehoor, ons het die profeet in aanbidding hoor stamel en ons het gesien wie die stem het. Eerbied vir hierdie Woord aan Esegiel, aandag vir hierdie visioen sal vir jou gee: stilte, aanbidding en stem om God die Vader, die Seun en die Gees te kan ontmoet en sy grootheid te kan bely. As dit vir jou 'n donker tyd is, en as jy in die lig van God se goedheid mag lewe.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)