Ook in details oefen God sy mag op groot skaal uit

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-01-13
Teks: 
Eségiël 1
Preek Inhoud: 

Pretoria, 13-01-1991

ESEGIEL 1 : 5-21

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 65 : 1, 2 [of: 104 : 1, 2, 3]
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 65 : 3, 4 [of: 104 : 17, 18]
Skriflesing: Openbaring 4
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 35 : 1, 2
Tekslesing: Esegiël 1:5-21
Bediening van die Woord
Sing: Ps. 103 : 10, 11
Dankgebed
Sing: SB. 35 : 3
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

deesdae is die aandag van baie, baie mense in die wêreld gerig op die president van Irak, Saddam Hoessein. Die een man wat deur sy beslissing dood en ellende oor hele volke sal kan bring. En ons dink aan die groot verdriet wat in een gesin gekom het. Is dit nie onvanpas of ook wêreldvreemd om in die kerk weereens so 'n moeilike visioen uit Esegiël te lees: in pleks van 'n direkte, heldere boodskap te kies nie?

Maar daar is minstens een, en dalk meer, ooreenkomste tussen ons hede en daardie ver verlede. Dis iewers dat Esegiël saam met die ander ballinge in "die land van die Chaldeë" gebly het. Daardie land is die huidige land Irak. Die kinders van die HERE het in die land van die diktator Nebukadnessar gebly!! Dis hierdie ou diktator uit sy geskiedenis met wie Hoessein homself vergelyk: Nebukadnessar, die ou heerser van die hele Midde-Ooste.

Ja, en op hierdie dag vra ons ook: wat is die waarde van die een mens? God heers oor die volke. Wat is dan een enkele menselewe? Hoe kry ons dit saam: die wêreldgeskiedenis, God se werk en ek, so 'n klein, nietige mens? Maar die HERE het in daardie donker tyd gekom! In die ballingskap, die tyd van verdriet, verlies en beproewing.

En die HERE self het na daardie ver land gekom, waar ook sy kinders bly. Die HERE het in daardie hartseer tyd gekom: om sy Woord te spreek en Homself te wys. Kom ons kyk verder in die visioen van hoofstuk 1. Verwag ons baie van God se eie Woord! Luister en kyk net so intens as wat jy die nuusberigte en beelde van hierdie dae volg. Ons het eers die tweede, die boonste deel van die gesig bekyk: die uitspansel, die troon, die mensgestalte en die stem wat spreek. En ons het geleer om te sien: ook op klein skaal is God se heerlikheid nog groots! God se wêreld, sy heiligdom het Hy in een beeld na ons gebring. Nou kyk ons naar die eerste deel. Ons kyk op skaal, ons kyk na details: dinge wat net kleinighede lyk. Maar dan leer ons om te sien en te glo:

OOK IN DETAILS OEFEN GOD SY MAG OP GROOT SKAAL UIT

Wat hier opvallend is, is God se

  1. bont skepping,
  2. sekere rigting
  3. eie beskikking.

1. GOD SE BONT SKEPPING

Kom ons kyk eers rustig naar 'n paar details in die beskrywing. Ons begin by die beskrywing van die "wese". As jy net kyk na die plek van elke detail in die geheel, kry jy snaakse, onvoorstelbare prentjies. Watter wese is dit: met vleuels, hande, vier gesigte, kalfpote? 'n Figuur uit 'n riller?! Maar ons kan lankal weet dat ons so nie moet kyk nie. As die Openbaring - ook in 'n visioen - spreek van "die Lam wat staan, asof Hy geslag is", dan pas dit na ons wete nie in een beeld nie: staan en tog geslag, lewend en tog dood. Nee, jy moet elke detail bekyk soos dit op sigself betekenis het. Elke detail is soos 'n beeld wat spesiaal belig word.

Die wesens het vier aangesigte. Jy kan ook sê: ons kyk die wesens viermaal in die gesig. En ons sien: 'n mens, 'n leeu, 'n bees en 'n arend. Of: die mens, 'n wilde dier, 'n mak dier en 'n voël, die samevatting van die geskape lewe. Ons kyk in hierdie visioen God se skepping in die gesig! Dit sê die getal ook: vier. Ons ken dit van die 4 hoeke van die aarde, die windstreke. Noord, suid, oos en wes. Of soos die visioen sê: die ene aangesig het regs gekyk, die ander vorentoe, ens. Hulle kyk na al die kante, oor die hele wêreld. Hier sien ons God se hele bont skepping: vol van mense en voëls, wilde en mak diere. Dis ons wêreld, die ryk natuur soos ons dit baie goed mag ken.

Maar wat is nou die vier wesens? Hulle het vlerke, en dus dink ons aan engele. En in Eseg. 10, waar dieselfde verskyning geteken word, héét hulle ook: gerubs. Ons weet: serafs en gerubs is verskillende engele. Ook in Openbaring, die groot gesig van die Nuwe verbond, sien ons die vier wesens. Daar sing hulle die lof van die Here. Hier moet ons ook sê: daar is ook iets van die engele in hierdie verskyning. Dis nie sommer engele nie. Maar daar is baie wat by die engele hoort, soos die Skrif ons oor hulle vertel. Engele is besig vir die HERE: dis hoekom die wesens hier met hande, voete, gesigte geteken is. Hulle is besig in God se hele wêreld. Hulle kan God prys, soos in Openb. 4, maar ook is hulle baie besig in die wêreld. Soos die brief aan die Hebreeër sê: "is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word nie" (1:14).

God se bont skepping: mense van God se aarde en engele uit die hemel, voëls van die lug en diere van die aarde! Die vervolg van die visioen (vs. 22v.) toon ons God se wêreld, die hemel. Ons wêreld, hier, én sy wêreld saam in God se verskyning! Maar in die vervolg het ons ook God se heiligdom gesien: die troon. Hier sien ons dan ook God se heiligdom, soos dit op aarde was, die tempel. Want al die details, al die besonderhede van hierdie visioen is bekend vir die oë en die geheue van almal wat die tempel in Jerusalem gesien het, vir almal wat hul Bybelse geskiedenis mooi onthou.

Onthou jy nog? In die allerheiligste was die ark van God se verbond. En op die deksel het twee gerubs, twee engelfigure uitgebeeld gestaan. En daar was nog twee op die grond. Saam: vier! Ook was daar die koper see, die groot waskom met 'n onderstel van twaalf beeste (1 Kon. 7:44). Op die waskomme vir, ja, die heilige skottelgoed was "gerubs, leeus en palmbome gegraveer" (7:36). Enige detail wat ons in hierdie visioen sien, was bekend vir die mense wat die tempel gesien het. En vir ons, wat die beskrywing van die heilige huis van God kan lees. En waar was die mens, die ander detail wat in hierdie visioen in die aangesig van die wese verskyn? Nee, die mens was nie in die tempel uitgebeeld nie. Die mens mag daar rondloop: in die huis van sy God! Maar as die HERE verskyn in al sy heerlikheid, wys Hy die bont rykdom van sy skepping. En die mens het 'n pragtige plek daarin. Sy aangesig word eerste gewys. Sy hande en bene, verdere details van die wesens, is 'n voorbeeld van aksie en besig wees vir sy Skepper.

Daar is eenheid in God se werk. Die wesens vorm saam 'n vierkant. Hulle is een geheel wat die troon van God mag dra. In God se werk is net eenheid. Ja, maar hoekom is ek in die hele skepping dan so klein? As ons na die Golfkrisis kyk, hoe klein word 'n menselewe daar geag? As daar oorlog uitbreek, word duisende doodgemaak. Of wat moet ons dink van die hongersnood hier in Afrika? Miljoene mense wat net die dood in die gesig kyk. En ek? Watter waarde het my moeisame, my klein daadkrag vir God se groot plan? Die lewe waarvan ons so baie skerp besef dat God dit sommer kan wegvat. Glo dit: God wys u in hierdie visioen die details. Ja, jy lyk net 'n detail, as jy na die groot werklikheid kyk. Maar jy mag dit weet: God se mag is so groot. Vir Hom is daar nie details nie. God ken almal en regeer al lewe. Elke mens het vir God in sy Seun 'n oneindige waarde. Ook in een enkele menselewe oefen God sy mag op groot skaal uit. Want Hy weet watter plek Hy u wys, Hy weet hoe om u te gebruik, Hy alleen kan u waarde bepaal. U mag sy heerlikheid al dra. Dis al groot genoeg.

2. GOD SE SEKERE RIGTING

Maar daar is baie meer om te sien as om net rustig te kan kyk. Die visioen is vol beweging. Van die vleuels word gewys dat hulle die uitspansel dra. Maar ook word spesiaal u aandag gerig op die beweging van die vlerke. Die wesens wat die skepping verteenwoordig, het opgestyg en neergedaal. En met die voete het hulle gegaan en teruggekeer. Esegiël het die hele verskyning sien kom! Dit was met die eerste indruk, uit die verte soos "'n stormwind, 'n groot wolk met onophoudelike vuur", sê vers 4. En as die verskyning naby gekom het, sien Esegiël die vlerke beweeg. Telkens weer noem die profeet spesiaal die bewegings. Maar dit was nie onwillekeurige, grillerige bewegings nie. Alles spreek van 'n sekere, doelbewuste beweging. "Hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan; waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie" (vs.12). Terwyl hulle die uitspansel met die troon dra, is daar baie doelgerigte spoed. Totdat die wesens stil bly staan, omdat God hê wil dat daar rus en stilte kom. Sodat Hy kan spreek. En ek kan luister. En kan kyk.

'n Snaakse ding in hierdie verskyning is ook die wiele. In dieselfde hoofstuk uit 1 Kon., waar die inrigting van die tempel beskryf is, lees ons van afspoelwaentjies (vs. 32): wasbakke op wiele. Maar daardie dinge het nie anders as 'n praktiese waarde gehad nie. Nee, ons moet aan 'n ander ding uit die Bybel dink om die betekenis van die wiele te vind. Die wiele in die hele beeld dra in 'n mate die engele. Nee, saam met die engele dra die wiele die boonste gedeelte: die uitspansel met die troon van God! Soos ook in 'n visioen van Daniël wiele by die troon behoort (7:9): "die wiele by die troon was 'n brandende vuur". Moet jy dan nie dink aan 'n verskyning soos by die profeet Elia nie? Hy is opgeneem in die hemel met "'n wa van vuur" (2 Kon. 2:11), wat sy God gestuur het om hom op te laai. Ook lees ons in die Ou Testament 'n hele paar keer van God se strydwa. "Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind", het Jesaja lankal geprofeteer. "Die HERE sal kom in vuur en sy waens soos 'n stormwind". Nou het die HERE gekom! Hierdie visioen begin met 'n stormwind. Hier sien ons vuur én wiele. Sou ons dan nie aan 'n strydwa dink nie? Nee, nie 'n egte wa nie, maar die betekenis van God wat kom: met spoed en sekerheid, om te red en te oordeel.

Dat is ook die betekenis van vers 16b: "hulle maaksel was asof daar 'n wiel binne-in 'n wiel was". Dit het gelyk asof twee wiele in mekaar gedraai het, die een groot, die ander kleiner. En kyk vir die waaiers: kan u sê in watter rigting die blaaie draai? Dalk weet u dit, as u 'n tegniese mens is. Maar kan ons sién in watter rigting hulle draai? Nee. En dieselfde verskynsel kry mens ook as jy 'n wiel onder 'n spesifieke beligting sien draai. As so 'n wiel draai, kan dit lyk asof die binnenste gedeelte na die ander kant, die teenoorgestelde rigting draai. Die wiele wat draai: dis die spoed van God wat kom om te red en te oordeel. Die God wat seker sal kom. Vir hulle wat bid om genade. En vir hulle wat vergeet of nooit geweet het hoe om intens te bid nie.

Ja, ook om te oordeel. Want dit is die betekenis van die vuur wat partykeer genoem word. Soos ons in vers 13b lees: "die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het 'n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgegaan". Dan word dit op die spoed van die bewegings toegepas: "En die wesens het heen en weer gesnel, in aansien soos 'n bliksemstraal" (vs. 14). Die vuur sal later ook die teken van God se toorn blyk te wees. Ook in Openbaring, soos ons dit in hoofstuk 4 gelees het, is die blitse die teken van God se oordele. God kies 'n sekere rigting, as Hy kom. Vir sy kinders het Hy daaroor baie meer geopenbaar. As Hy in genade kom, op watter wyse ook, kom Hy om te red. Om lewe te gee, ook as Hy neem. Ek verstaan partykeer die details, die verskriklike besonderhede nie. Maar ek mag weet: in die besonderhede loop vir my duidelik die groot lyn van God se mag en genade.

Die details wat ons nou gesien het, wys almal op beweging. Ook in hierdie details oefen God sy mag op groot skaal uit. Ek kan nie direk vasstel met watter doel die HERE kom nie. Of dit 'n beproewing in een menselewe of 'n oorlog op groot skaal is. Maar ek kan vir Hom wag! Ek kan weet dat Hy kom en dat Hy nie aarsel of vertraag nie. Jy mag glo dat jy nie net deel van God se skepping en sy sorg is nie, jy is deel van God se werk! Wat jy doen en sê en bid lyk partykeer maar 'n klein ding, 'n detail. Maar God het die mag om sy skepsels, en veral sy kinders, almal vir sy planne te gebruik. Hy gaan 'n sekere pad.

3. GOD SE EIE BESKIKKING

In die een verskyning het ons nou kon onderskei: die details van 1. die tekening van wat God se bont skepping verteënwoordig (die engele en mense, diere en voëls). Ook 2. die details wat die beweging van die geheel wys (vleuels, wiele, vuur). Nou mag ons ook nog hierdie een onderdeel onderskei: die details wat wys dat God 3. volkome beskikking oor sy werk het.

Dis veral duidelik in die verse 12 en 20. Eers word van die wesens gesê: "waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan". So ook van die wiele: "waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan in die rigting wat die gees wou gaan; ... want die gees van die wese was in die wiele". Die woord "gees" kan jy met 'n klein letter en in hoofletters skryf. Met 'n klein letter sê "gees": die lewe, soos asem. In hoofletters sou dit die Heilige Gees wees. Daar is lewe in die wesens. Dit lyk soos bewuste lewe, omdat hulle gehoorsaam. Dit kan ook onbewus wees, soos 'n enjin sy krag uit petrol kry. Maar u onthou dat al die details saam die hele skepping verteenwoordig. So sê Ps. 104 dit: "as U u aangesig verberg, word die skepsele verskrik; as U hulle asem wegneem, sterwe hulle. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut". God se heilige Gees werk veral in sy kinders. Maar Hy werk normaal in die lewe wat al die skepsele mag kry. Daar is nie lewe as die Gees dit nie gee nie.

Nou kan ons sê: in al God se skepsels én in God se hele werk is dit Hy, die heilige Gees deur wie God regeer! God Drieënig het homself so gewys, toe Hy in die donker tyd van die ballingskap, die tyd van verdriet, verlies en beproewing gekom het. Hy het gewys dat al sy skepsels in sy hand is. God wil hulle almal en ook altyd bestuur. Ja, ook as daar verdriet en beproewing is mag die gehoorsaamheid ons hier tref. Ja, die diere leef en reageer soos hulle natuur is. Maar wat van die mense wat God na sy beeld geskape het? Reageer hulle ook sonder wil, omdat hulle net nie anders kan nie? Nee! Van hulle, van jou verwag Hy gehoorsaamheid in en uit liefde. Ons is glad nie wesens wat net kan gehoorsaam nie. God het u geskape: dit was en si sy wil dat jy van harte, vol liefde vir Hom sou reageer! Op sy verskyning, sy Woord, deur die Gees.

Nee, ek kan nie sê dat Saddam Hoessein die HERE gaan gehoorsaam nie. As Hy sy volk in 'n oorlog stort, is dit teen die wil van die HERE. Maar in die sondes van mense kan God sy eie beskikkinge maak. Ons vertrou Hom wat so groot mag het dat Hy die klein detail, die kleinste mens in sy hand kan vashou. Ons bid of Hy sy goedheid wil bewys oor volke en mense wat Hom nie ken nie. Mag Hy sy kinders in daardie wêreld en ons gebede hier gebruik. Gebede lyk klein, maar kan by God baie groot wees.

God het in hierdie wonderbaarlike visioen verskyn en Homself wou wys. Dit was nie minder as die verskyning van die heerlikheid van die HERE nie. En dis ook God se eie beskikking in watter mate sy skepsels die heerlikheid mag dra. God se heerlikheid straal in die wesens: in die diere, die voëls, die engele. Maar bo alles in die mens! In die aangesig van ons Here Jesus Christus mag 'n mens nog duideliker van God se heerlikheid praat. In Christus het Hy iewers sy heerlikheid naby gebring. Ons mag glo en so die heerlikheid van die Here weerspieël, sê die Nuwe Testament. Dis hierdie heerlikheid wat baie duidelik blyk as God sy kinders beproef én die geloof teselfdertyd bly lewe. Dis sy mag wat in ons werk. Deur sy Gees wat so wonderbaarlik in ons woon. Dan is ons nooit meer details nie. Jy wat glo is 'n mens soos Christus en 'n kind van God.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)