Nagmaalsoordenking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-11-03
Teks: 
Psalms 92
Preek Inhoud: 

Nagmaalsoordenking 3 November 1991
Openbare geloofsbelydenis

Lees: Ps 92
Teks: Ps 92: 14

'Hulle wat in die huis van die Here geplant is sal groei in die voorhowe van onse God. '

Broeders en susters, gemeente van die Here Jesus,

Vandag het ons 'n feestelike Sondag. Die Nagmaaltafel staan weer klaar. Aan die Nagmaal sal deelgeneem word deur 'n aantal jong broers en susters wat nog nie eerder die voorreg gehad het nie. Dit maak alles nog veel feesteliker.

By so'n feestelike gebeurtenis pas ook 'n feestelike preek.

En wat kan feesteliker wees as 'n loflied op die Here soos ons dit kry in Psalm 92?

Hierdie psalm is in alle opsigte 'n feeslied. Dit blyk uit die inhoud daarvan en verder is dit duidelik uit die feestelike melodie waarmee hierdie psalm gesing kan word.

Om die toonhoogte van hierdie psalm te vat moet ons 'n bietjie kyk waaroor dit in die psalm gaan.

U het my bly gemaak deur u dade, o Here, sing die digter.

Blykbaar het die digter deur 'n hele paar probleme gegaan. Hy het geprobeer om iets te begryp van God se weë met die mense. Maar daarin het hy heeltemal vasgeloop. Hy het rondom hom gekyk en gesien, dit gaan goed met die goddeloses. Hulle groei soos plante, hul lewe kom tot ongeremde bloei.

Natuurlik roep dit vrae op vir 'n gelowige, veral as dit met hom maar swaar gaan in die lewe. Sy lewe kan nie tot bloei kom nie want daar is allerhande oorsake wat dit verhinder.

Steeds weer stuit hy op vrae oor die leiding van God in sy lewe. Waarom gaan dit soos dit gaan? Is die Here wel regverdig? Sien Hy wel wat gebeur met my? Hoor Hy wel na die gebede wat ons so indringend opgestuur het?

Maar teenoor al die vrae kom hy met 'n antwoord, die antwoord van vers 9: U is hoog verhewe tot in ewigheid, Here!

Dit is 'n geloofsuitspraak. 'n Mens kan soms niks begryp van God se leiding in sy lewe nie, en tog, hy glo, die Here is hoog verhewe. En dan kom tenslotte alles reg.

Want die goddelose met wie dit tans so goed lyk te gaan sal tenslotte, as 'n vyand van die Here, vergaan. Dit glo hy.

En so kom teenoor die ervaring van vers 8, dat die goddelose mense groei soos plante, die geloofsbelydenis van vers 13 te staan: Maar die regverdige sal groei soos bome.

'n Plant word sommer uitgeruk as dit onkruid is, maar 'n boom staan vas.

Dit is hierdie pragtige beeld van psalm 92 wat ons vandag wil toepas op die gelowiges. Spesiaal natuurlik op die mense wat vandag in die openbaar geloofsbelydenis aflê.

Hulle wat in die huis van die Here geplant is, sal groei in die voorhowe van onse God.

Elke kind van die gemeente is 'n planting van die Here. Hy het elkeen van julle gebore laat word in 'n christelike gesin. En daarby het die Here dit nie gelaat nie. Hy het verder gegaan. Hy het die feit dat julle aan sy volok behoort laat bevestig in die teken van die Doop. Van elkeen van julle het Hy gesê: Jy is myne!

Ek gee aan jou christelike ouers, sodat jy die voorreg van 'n christelike opvoeding kan geniet.

Want dit is tog maar 'n voorreg om in 'n gesin waar die Here gedien word gebore te kan word. Dit is goed om daar op 'n dag soos vandag by stil te staan. Dit is genade van God dat julle uit gelowige ouers gebore is. Onverdiende genade. Daar mag julle nou die vrugte van sien.

Want met die geboorte in 'n christelike gesin is julle ook geplant in die huis van die Here. Want elke gelowige gesin is 'n huis van die Here. Immers daar word sy Naam aangeroep, daar in huis leer jy as klein kind jou hande te vou en jou hoof te buig vir die Here.

Jy leer van huis uit ook die kerk met sy eredienste te sien as die huis van die Here. Immers daar hoor jy van die versoening wat God bewerk met die gelowiges.

Daar leer jy steeds meer van die Here Jesus Christus. Langsamerhand gaan jy besef hoe bevoorreg jy is dat jy as kind gedoop is, en die Here jou by name geroep het.

Dit is werklik wonderlik om 'n plantjie van die Here te wees.

Maar 'n plant is iets anders as 'n kruidjie wat sommer spontaan hier en daar groei. As iets geplant word dan word dit geplant met 'n bedoeling. Met die bedoeling namelik dat daar iets groots uit sal groei en dat as die tyd ryp is daar ook vrugte sal kom. Palmbome en sederbome wil die Here laat groei.

Hulle moet groei sê ons teks in die voorhowe van onse God.

Dat hulle in die voorhowe moet groei is ook weer 'n mooi beeld. Die plantjies word nie soos kasplantjies blywend binne in die huis gehou nie, maar hulle word buitekant uitgeplant.

Want slegs daar kan hulle vrugbaar wees. Slegs daar kan hulle vrugte vir die Here voortbring.

As ons die beeld toepas op ons belydenisdoeners van vanoggend beteken dit dat hulle kasperiode waarin hulle sorgvuldig beskerm is nou beëindig word. Van nou af aan staan hulle as mondige gelowiges in die wêreld. Want daar sal moet blyk wat hulle belydenis van vanoggend werd is. Die Here wil dat sy kinders in die wêreld moet vrugdra.

Dit beteken nie dat hulle vanaf vandag uit die huis van die Here verwyder word nie, nee hulle mag bly in die voorhowe van onse God. Daar moet hulle verder groei.

Hulle sal in die voorhof nog steeds gevoed word vanuit die huis. Die katkisasie periode is nou verby. maar die kerk as leerhuis bly nog steeds oop.

Die kerk as plek waar die versoening van die sondes deur Jesus Christus verkondig word bly die voedingsbron waaruit julle jul lewe lank sal moet bly put.

En dan mag ook vrugte verwag word. Uit die volgende vers is duidelik waaruit die vrugte besytaan. Namelik om met heel jou lewe die lof van die Here te verkondig.

Dit is julle roeping wat jul hele lewe sal bly: om die lof van die Here te verkondig op alle maniere waaroor 'n mens beskik.

Daarby kan ons dink aan 'n lewenswyse wat die Here behaag of ons kan dink aan die sing van lofliedere tot eer van God of aan 'n gebedslewe waarin jy steeds met vertrouwe die Here aanroep. Dit alles is verkondiging van die Naam van die Here.

Vandag mag ons op 'n besondere manier die Naam van die Here verkondig. Ons doen dit in die viering van die Heilige Nagmaal.

Daar verkondig ons saam met die hele gemeente die dood van die Lam van God.

Want ons weet dat die dood van die Lam van God vir ons almal die verlossing bewerk het.

Dit maak hierdie dag tot 'n dag van groot vreugde.

Want of 'n mens nou jonk of oud is ons het almal die versoening deur onse Here Jesus Christus hard nodig.

Daarom wil ons in hierdie feestelike diens ook met blydskap die Heilige Nagmaal vier. Ons wil ons laat vul met die vreugde van die besef dat ons die eiendom van Jesus Christus is.

En dan mag ons mekaar vandag as nagmaalgangers almal gelukwens. Baie geluk broer dat jy die brood as teken van die gebreekte liggaam van ons Jesus Christus mag eet!

Baie geluk suster dat jy die wyn as teken van die vergote bloed van ons Here Jesus Christus mag drink!

Baie geluk gemeente! Die Here is goed vir ons almal. Dit blyk keer op keer.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)