Skrifoordenking by begrafnis

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-10-13
Teks: 
Psalms 86
Preek Inhoud: 

Begrafnis Dirk Quist 13 Oktober 1992

Teks: Psalm 86: 11
"Here leer my U weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van U Naam"

Brs en srs, sr Quist, familie en vriende,

Vanmiddag moet ons broeder Dirk Quist begrawe. Hy het 71 jaar oud geword.

'n Vreeslike siekte het hom in 'n paar jaar tyd heeltemal gebreek.

Veral die laaste drie maande het die proses vinnig gegaan. Juis deurdat hy hom so teen sy siekte verset het en beslis nie kerkdienste wou versuim nie, was ons as gemmente almal getuies van die feit dat sy kragte baie vinnig afgeneem het. Elke week het hy nog slegter gelyk, nog meer gewig verloor.

Dit was vir almal duidelik dat hy reeds die dood in sy liggaam rondgedra het. Sy slopende siekte het dan hier, dan daar die vreeslikste pyne veroorsaak. Totdat hy hom tenslotte moes oorgee omdat hy nie meer kon nie. 'n Verdrietige afloop van 'n vergeefse stryd.

Wat kan 'n mens dan nog sê?

Jy is maar geneig om te swyg by so'n siekte en daarop volgende afsterwe. Wat help woorde daar? Dis verby. Hy is dood. En geen mensewoord kry hom weer terug nie.

En tog moet ons hier praat.

Want hoe verdrietig ook die siekbed van broeder Quist was, vanweë die voorspelbaarheid van die afloop, tog was daar ook lig rondom sy siekbed.

Hy het meermale daarvan getuig dat hy graag nog 'n tyd sou geleef het. Maar tegelyk was hy deurdronge van die feit dat sy lewe op aarde slegs 'n tydelike lewe was. Hy het geweet sy lewe is in die hande van God.

As die Here besluit het, dit is sy tyd, dan is hy bereid om te gaan.

In die geloof het hy geleef, in die geloof het hy ook gesterf.

Toe hulle hom uit die hospitaal huistoe laat gaan het met die boodskap dat sy dae getel is, het sy vrou hom nog 'n tyd kon versorg. Toe eenmaal definitief was dat dit binnekort sou afloop en hulle dit saam bespreek en aanvaar het, het hulle nog 'n mooie tyd saam gehad. 'n Kosbare tyd. Juis omdat jy weet dat elke uur slegs een uur is.

In die tyd het hy my by 'n besoek gevra om 'n bybelgedeelte wat hy gereeld sou kon lees en oordink in die situasie waarin hy toe was. Ek het vir hom 'n aantal gedeeltes genoem. Onder andere hierdie psalm 86.

Ek het dit toe ook gelees en stilgestaan by die vers wat nou die teksvers van ons oordenking is.

"Leer my Here u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam. "

Hierdie psalm is 'n gebed om hulp. Dawid, die digter van die Psalm is blykbaar in een of ander noodsituasie.

Hy sien self nie meer 'n oplossing nie.

Hy sien net teëstanders en vyande wat hom bespot en vra: Waar is nou die God van jou op Wie jy so vertrou?

Gaan Hy jou hieruit help?

Kan Hy jou nou nog red?

In die situasie roep Dawid tot die Here.

Hy begin met 'n erkenning dat God goed en vergewensgesind is. Niemand kan by God aansprake oefen dat God hom moet red uit al sy probleme nie.

Niemand het van God beloftes ontvang dat hy van enige siekte genees sal word as hy maar net gelowig bid nie.

Jy kan maar net Hom aanroep onder erkenning dat jy 'n sondaar is wat niks verdien nie. Jy kan maar net vra: Here, vergeef my sondes in U goedheid en genade.

Meer regte het jy nie.

En tog is ons daarmee nie klaargepraat met God nie.

Dawid bid dan ook verder. Here u is groot!

U doen wonders, U alleen is God.

So spreek hy sy geloof en vertroue uit in die Here.

Here, u is die God wat wonders werk.

Daarom wil ek my saak aan u voorlê.

U verhoor mos u kinders! U red hulle uit hul benoudheid.

So het die Here ook die gebed van broeder Quist gehoor.

En Hy het hom gered uit sy benoudheid. Toe die kwaal in sy liggaam sover voortgewoeker het dat die lewe net nog 'n las geword het, het die Here hom uit sy benoudheid bevry.

Hy het broeder Quist tot hom geneem.

Maar nou bly daar wel 'n vraag. Het ons tydens die siekteproses nie vir genesing gevra nie? Daardie gebed, wat het dit nou gehelp? Die gebed is tog nie verhoor nie?

Die Here het tog nie 'n wonder van genesing gewerk in die deur kanker aangetaste liggaam nie?

Nee Hy het nie. Daardie wonder het Hy vir broeder Quist onthou.

Maar op so'n wonder mag 'n mens dan ook nie reken nie.

Daarom het ons nadruklik vers 11 van Psalm 86 as ons teksvers gekies.

"Here leer my u weg"

Die Here gaan met elke mens 'n weg in die lewe.

Elke mens is self verantwoordelik vir die keuses wat hy op daardie weg maak. Jy kom steeds weer op kruispunte in die lewe en moet jy kies. Hoe kies jy?

Dawid sê dan: Here leer my u weg. Ek wil in u waarheid wandel.

En daarmee bid hy dat elke keuse wat jy op die weg maak 'n keuse van die geloof mag wees. Die Here het sy waarheid bekendgemaak in sy woord. Daarin staan nie vir elke mens presies uitgespel watter route hy moet volg nie. So maklik word dit vir jou nie gemaak nie. Jy sal dikwels op punte kom waarop jy jouself afvra hoe nou verder?

Gelukkig hy wat dan die weg van die Here vind.

Daardie weg word vir jou duidelik as jy jou hou by die leiding van die woord van die Here. Dan kan jy in die waarheid wandel.

Nie dat dit nie dikwels offers van jou vra nie. So maklik is dit nie om steeds in die waarheid te wandel nie.

Soms weet jy baie goed wat die Here van jou vra, maar is daar in jou ook iets werksaam wat vir jou 'n andere pad wil wys. En hoe dikwels volg ons dan maar nie die keuse van ons gevoel, of die keuse van ons eie begeertes, of die keuse wat die meeste mense maar maak.

Daarom bid Dawid, wat heel goed weet waarvan hy praat, onmiddellik daarby: Verenig my hart tot die vrees van u Naam.

Verenig my hart.

Ons hart is dikwels maar verdeel.

'n Deel van ons hart kies vir die Here. Ons wil Hom graag dien. Maar daar is ook nog 'n deel van ons hart wat trek na ander dinge. Na sondige dinge. Na dinge wat ons by die Here afwegvoer.

En dit gee dikwels maar baie stryd in die lewe van 'n gelowige.

Daarom is hierdie gebed so van pas: Verenig my hart tot die vrees van U Naam. Gee dat ek met heel my hart my aan u diens wil wy. Dan sal ek met vreugde my weg kan gaan. Want dan is my weg ook die weg van die Here.

Om jou weg die weg van die Here te laat wees kan van 'n mens stryd vra. Want dit is die stryd van gehoorsaamheid van die geloof. Om te leef soos die Here van jou eis, vra van 'n mens dikwels selfverloëning.

Maar daar is ook nog 'n ander kant aan ons teks.

"Here, leer my u weg" beteken ook dat jy moet leer om die weg van die Here met jou lewe te aanvaar, as die weg anders loop as wat jy graag sou gegaan het.

Broeder Quist het lank gehoop op so 'n wonder waarvan in vers 10 van hierdie psalm sprake is. In sy geval dus 'n wonder van genesing. Ons het agtergekom, die Here het nie rede gesien om die wonder in sy lewe te gee nie.

En toe moes br Quist en sy vrou klaarkom met die weg van die Here, wat teen hulle verlange ingaan. Toe moes hulle hul voorberei op 'n naderende afskeid.

En hulle het. Dit was die lig rond die siekbed wat ek eerder genoem het.

Sowel broeder Quist as sy vrou het vasgehou in die moeilike maande wat agter ons lê, dat die Here 'n weg gaan met 'n mens.

Die weg het Hy gegaan met ons oorlede broeder. 'n Sware weg soms.

Sy eerste huwelik b. v. het nooit die vreugde van die kinderseën geken nie. Daarby moes hy op 55- jarige leeftyd sy vrou reeds afstaan.

Daarin het die Here 'n sware weg met hom gegaan.

Die weg het ook weer blye verrassings opgelewer.

Hoe dankbaar was broeder Quist nie toe hy na die oorlyde van sy eerste vrou uit die hand van die Here 'n tweede vrou mog ontvang.

Hy het met haar nog elf goeie jare kon beleef.

Hy was die eerste om te sê dat ook hierdie huwelik maar tydelik sou kan wees. Immers 'n mens kan wik, maar God beskik.

God gee vir elkeen 'n weg om te gaan.

Nie almal gaan dieselfde weg nie.

Een ding is egter vir ons almal dieselfde, ons bestaan hier op die aarde is slegs tydelik. Maar in die tyd leef ons almal met een en dieselfde roeping, namelik om die Naam van die Here te prys ons lewe lank.

Soos vers 12 van onse psalm sê: Here, ek wil U loof met my hele hart en u naam vir ewig eer.

Broeder Quist het op sy manier aan daardie roeping probeer voldoen. Sy pogings om die Here die eer van Sy Naam te gee het hier op aarde tot 'n einde gekom. Maar ons vertrou dat sy lofprysing deurgaan tot in 'n ewige lewe toe.

Hy kan nou in volmaaktheid die Here prys.

Ons wat agterbly, hou hier ons taak.

Ons wil die Here prys vir sy genade.

Die genade wat Hy betoon het in die lewe van broeder Quist.

Ons wil Hom prys vir Sy genade wat Hy betoon het in die lewe van suster Quist.

Daardie genade sal haar ondersteun en staande hou nou sy alleen verder moet.

In haar lewe sal weer veel dinge verander.

Maar een ding bly dieselfde. Die Here is daar om haar die kragte te gee.

En wat ook al gebeur in ons lewe.

God wil van ons almal die eer van sy Naam ontvang.

Want sy Naam moet geprys word van nou af tot in ewigheid.

Amen.

Sing: Psalm 43: 3, 4, 5
Gebed
Lees: Psalm 86
Teks: Psalm 86: 11
Sing: Psalm 86: 2, 3, 6
Gebed
Sing: Psalm 73: 10, 11
Mededelings: Stoet vorm (ligte)
Koffie en tee

Liturgie: 

(kyk in preek)