'n Loflied by die inhuldiging van Koning Christus

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-05-15
Teks: 
Psalms 47
Preek Inhoud: 

Hemelvaartdag 1992

Voor diens: Psalm 93: 1-4
Ps 99: 1-5
Ps 97: 6, 7
Ps 47: 1-4
Ps 68: 12, 13, 15, 16
Lees: Psalm 47 Ou vert.
Teks: Psalm 47 Nuwe vert.

Brs en srs,

Hemelvaartdag. Dit is een van ons christelike feesdae. Dit beteken dat ons vandag as gemeente 'n fees kan vier. Dit is nou pragtig. Maar die vraag is wel, wat is daar eintlik om te vier?

Die hemelvaart van die Here Jesus. Ja, maar wat is so feestelik daaraan?

Uit ons belydenis weet ons dat die hemelvaart van Christus onmiddellik verbonde is met die feit dat Christus aan die regterhand van God gaan sit het. Hy ontvang 'n plek in die troon van God.

Dus die hemelvaart van Christus het iets te doen met die posisie van mag waarin Hy gestel is.

Nou goed, maar dit klink so teoreties. Hy sit aan die regter-hand van God. Dit is so iets onvoorstelbaars dat ons nog steeds nie goed raad weet met die hemelvaart as 'n feestelike gebeurtenis nie.

Maar gemeente, geloof kan nooit teoreties wees nie. Anders is dit mos nie geloof nie. Waar geloof is doen 'n mens iets. As jy in iets of in iemand glo dan durf jy iets. Dan het jy vertroue dat dit reg kom. Werklike geloof is daadwerklike geloof.

En anders beteken dit as geloof nie baie nie.

Daar is 'n mooi beeld in een van die psalms: Met my God spring ek oor 'n muur. Die bedoeling is, deur jou geloof in God kan jy dinge doen wat jy anders nooit sou gewaag het nie.

Kom ek haal 'n woord aan uit psalm 47: 10, Nuwe vertaling: 'Die heersers van die aarde is onderworpe aan God. Hy is bo almal verhewe. '

Glo ons dit, ja of nee?

Kom ons neem die proef op die som. Ons weet almal wat Codesa beteken. Ek hoop dat ons ook almal bewus is dat dit 'n baie risikovolle onderneming is. Daar is 'n vergadering vol van potensiele heersers, magsoekers en partygangers. Na die mens gesproke is die goeie afloop van so'n konferensie op sy minste gese, baie onseker. As jy nie geloof en vertroue op God sou he nie, sou jy maar liewers weghardloop.

Maar geloof maak alles anders.

Want ons weet van Psalm 47: 'Die heersers van die aarde is onderworpe aan God. Hy is bo almal verhewe. '

Wel, dit is waaroor dit gaan in die hemelvaart van Jesus Christus. Hy regeer as Koning. En dit maak vir ons die toekoms oop. Ons het inderdaad iets om te vier op die Hemelvaartdag.

Ek bedien u vanoggend die Woord van die Here uit Psalm 47 soos volg:

'n Loflied by die inhuldiging van Koning Christus

  1. Sy koningskap is ten volle verdien
  2. Sy koningskap moet ten volle erken word

God vaar op met gejuig. Die Here met basuingeklank.

So lees ons in vers 6 van Psalm 47.

Nou is dit nogal 'n snaakse teks vir 'n hemelvaartdag.

God vaar op, die verband ons nog insien. Christus vaar op.

Maar 'n opvaart met gejuig?

Onder basuingeskal?

Het daar nie eerder 'n asemlose stilte geval onder die dissipels van die Here Jesus, toe Hy van hulle af wegbeweeg het? Onbegrypend het hulle mekaar aangekyk...

En nou? ... Wat is dit? ...

Daar was eerder vraagtekens as gejuig.

Daar was eerder angs en onsekerheid as vrolik basuingeskal.

En tog het die Kerk vanouds Psalm 47 beskou as 'n Psalm wat te doen het met die Hemelvaart van die Here Jesus.

Om dit te verstaan moet ons eers 'n bietjie kyk na die ontstaanstyd van hierdie psalm.

Hierdie psalm is kenmerkend 'n geleentheidspsalm. Hy is geskryf by een van die mees indrukwekkende gebeurtenisse uit die geskiedenis van Israel. Dit gaan daaroor dat die ark van die verbond in 'n feestelike optog die stad Jerusalem binnegebring word.

U onthou waarskynlik dat die ark na die binnekoms in die beloofde land 'n groot omswerwing gemaak het. 'n Paar eeue lank was die ark ondergebring in tydelike onderkomens. Silo, die dorp wat ons ken uit die geskiedenis van Eli die hoëpriester is die bekendste plek wat baie lank die ark van God gehuisves het.

Vanuit Silo raak die ark in hande van die Filistyne. Hulle stuur hom gou terug en dan word die ark bewaar in Kirjat-Jearim. Totdat Dawid Jerusalem as die hoofstad van Israel gemaak het.

Die grootste wens van Dawid was om nou ook die ark van die Here daar in Jerusalem te kry.

'n Mens wonder hoekom dit vir Dawid so belangrik was. Jy kan dink: hy wil sy eie koningskap kompleet maak. As Jerusalem die staatkundige sentrum van Israel is, dan moet dit ook die godsdienstige sentrum word. Dit gee 'n ekstra beveiliging vir die posisie van die koning in die land.

Ek dink nie dat Dawid op die stadium so politiek geredeneer het nie.

Nee vir Dawid was dit 'n voluit geestelike wens.

Hy het baie goed besef: ek is nou wel koning van Israel, maar eintlik is dit nie ek nie, maar is dit die Here. Hy is die Koning wat regeer.

En van oudsher is die regering van God onder Israel so omskryf: Hy troon op die gerubs van die ark van die verbond.

Daar is Hy teenwoordig. Die ark is die troon van God op aarde.

En daarom moet die troon in Jerusalem kom.

Nie as die kerklik-geestlike aanvulling op Dawid se politieke koningskap nie, maar as die eintlike troon vanwaar God regeer.

In Jerusalem is die setel van die Here die God van Israel. Maar nie alleen van Israel nie, nee, Hy is Koning van al die volke van die aarde.

So het Dawid sy eie koningskap ervaar. Nie as 'n oppermagtige heerser wat kan doen wat hy wil nie, maar as 'n koning onder God. As 'n regeerder by die grasie van God.

En daarom was dit vir Dawid die grootste gebeurtenis uit sy lewe dat die ark van die verbond in Jerusalem aankom. Want nou kan Dawid wys hoe hy koning wil wees. 'n Koning onder God.

Daarvan het Dawid 'n groot fees gemaak. Daar word 'n enorme optog georganiseer.

Met priesters en soldate, met voertuie en met perde, met kinders en met diere. Dit alles begelei met musiekkorpse en dansgroepe.

'n Wonderlike, kleurryke skouspel. Hulle kon darem feesvier in daardie tyd!

En dit was nie 'n fees ter ere van die koning, van koning Dawid nie, o nee!

Hoor maar:

Alle volke klap met die hande;juig tot eer van God met 'n stem van gejubel!
Want die Here, die Allerhoogsye, is gedug, 'n groot Koning oor die hele aarde.
Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete.
Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Jakob wat Hy liefhet.
God vaar op met gejuig, die Here met basuingeklank!

Dawid self loop in die optog. Nie met groot koninklik vertoon nie. Nee agter die ark ken hy sy plek. Hy dra net 'n linne lyfrok. Want hier soek hy geen aandag vir homself nie. Hier is hy net 'n dienskneg. En so is hy die man na God se hart.

Klein van gestalte maar groot van geloof.

So 'n koning soek God vir sy volk.

'n Koning wat self steeds bely: God is Koning!

Dawid het self baie goed besef, hy is nie 'n volmaakte koning nie. Daar is 'n groter koning nodig as wat hy kan wees.

Daar is 'n Koning nodig wat ook priester kan wees.

'n Priester wat vir sy volk alle geregtigheid sal vervul.

Dawid kon wel 'n leier van sy volk wees, maar nie 'n verlosser van sy volk nie.

Die Verlosser moet kom. En God sal die Verlosser gee.

Dit is die perspektief van hierdie psalm.

'n Perspektief wat veel verder reik as die sigbare van daardie oomblik.

Immers wat is daar op die oomblik te sien?

'n Groot versierde kis wat na Jerusalem gebring word.

Maar op die oomblik spreek die psalmdigter sy geloof uit ten aansien van die betekenis van hierdie gebeure: God die Here beklim sy troon!

En dan nie om die koningskap oor Jerusalem of Israel te aanvaar nie, nee, Hy is koning van die hele aarde. Hy regeer oor al die volke.

Kan jy dit sien?

Nee. Die heersers oor die aarde is nog glad nie onderworpe nie.

En tog word fees gevier! 'n Uitbundige fees.

Klap met die hande! Psalmsing tot eer van God, psalmsing!

Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!

Wel tot so'n loflied kan ons mekaar opwek op die hemelvaartdag.

Psalmsing tot eer van ons Koning, Jesus Christus!

Christus vaar op na die hemel. Hy verdwyn uit die gesig van die mense. Tot ons glad niks meer sien nie.

Maar dit gaan vandag nie oor sien nie. Dit gaan oor geloof!

Ons glo, die Here Jesus het sy troon beklim.

Jesus Christus is Heer!

Dit is met hierdie boodskap dat die dissipels na die Hemelvaart die wêreld ingestuur is. Hulle glo daarin. Christus is Heer!

Sonder die geloof sou hulle aan die verkondiging van die evangelie in 'n vyandige wêreld nie eens begin het nie. Hoe moet hulle, 'n paar gewone mense begin aan so'n wêreld- omvattende opdrag?

Maar in die geloof dat Christus Koning is begin hulle aan die skynbaar onmoontlike opdrag. En met groot gevolg!

Want hulle onsigbare koning het hulle ondersteun en die pad steeds weer gewys. Die evangelie het teen alle menslike verwagting in sy pad oor die wêreld gegaan. Ja selfs verset van die heersers van die aarde teen die boodskap en die verkondigers daarvan, kon dit nie keer nie.

2. Sy Koningskap moet ten volle erken word.

Na sy opstanding uit die dood, kort voor sy hemelvaart hoor ons die Here Jesus die volgende woorde vir sy dissipels sê: 'Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde'.

Wel dit is 'n magtige uitspraak. Want dit beteken dat Hy hulle maar kan stuur en elke ding wat Hy beplan het, kan uitgevoer word.

Maar so'n uitspraak vra wel geloof. Want kan hulle iets daarvan sien op daardie oomblik? Dat Jesus inderdaad alle mag het in die hemel en op die aarde?

Nee. Daarvan is op die oomblik absoluut niks te sien nie.

Net so min trouens as wat Dawid iets daarvan kon sien toe hy die ark in 'n triomftog na Jerusalem laat kom het.

En tog het hy dit so geglo. God is Koning oor al die volke.

En daarom kon die feestelike psalm gedig word by die koms van die ark.

Ons mag tans van die Here Jesus bely dat aan Hom al die mag in die hemel en op die aarde gegee is.

Hy is koning van die wêreld. Maar hierdie koningskap van Christus geld natuurlik heel in die besonder vir die kerk.

Daar word sy koningskap nou reeds sigbaar. Waar ons almal Jesus Christus erken as ons koning, daar laat ons ons in die kerk beheers deur die wette van sy koninkryk.

En daarom gaan ons in die kerk op 'n heel ander manier met mekaar om as in die wêreld. In die wêreld heers die reg van die sterkste of die slimste of die magtigste.

Hier laat ons ons lei deur die liefde.

In die wêreld is dit belangrik om jou gelyk te kry.

In die kerk ag ons 'n ander uitnemender as onsself.

In die wêreld word 'n fout gestraf.

In die kerk word mekaars foute vergewe.

In die wêreld gaan jy om met soortgenote.

In die kerk met geloofsgenote.

Ons staan almal onder een en dieselfde Heer.

Onder Koning Christus. Die Koning van wie ons glo dat Hy eendag openbaar sal word as die Heer van heel die wêreld.

In die sin het die kerk 'n groot voorsprong op die wêreld.

Ons weet al van die nuwe Heer en die wette van sy Ryk.

Ons weet reeds hoe heerlik dit is om te leef onder 'n Koning wat heers in geregtigheid en vrede.

Die wêreld weet dit nie. Weet dit nog nie.

Maar wat ons betref mag dit nie so bly nie.

Ond leef nie in 'n afgeslote koninkryk nie. Ons leef nie in 'n veilige reservaat op 'n afgesonderde plekkie nie.

Ons leef middein die wêreld.

En midde in die wêreld staan ons met die onbewysbare geloof: God regeer oor die nasies.

Jesus Christus sit op sy heilige troon.

Hoe onwaarskynlik dit ook klink: Ons glo dat die heersers van die aarde aan God onderworpe is.

Daar is konings en maghebbers in tal van soorte en kwaliteite. Maar almal regeer by die grasie van God. Dit wil sê solank as wat die Here dit toelaat.

Ons kan soms maar benoud kry as ons sien watter persone of partye probeer na die mag te gryp om dit vir hulle self uit te buit.

Hoe moet dit in die toekoms word?

Maar gemeente, na die hemelvaart van Jesus Christus is dit nie ons taak as christene om bekommerd te wees oor moontlike grieselrige ontwikkelings in die wêreld nie, maar is dit ons taak om te bid om die voortgang van Christus Koninkryk.

Ons moet bid vir die maghebbers en tegelykertyd vrymoedig getuig van die Koninskap van Jesus Christus.

Hy is hoog verhewe ! jubel psalm 47.

En hier mag ons die Naam van Jesus Christus invul. Inderdaad Hy is hoog verhewe.

En daarmee is Psalm 47 'n Hemelvaartspsalm by uitstek.

Op ons almal rus nou die taak om die werklikheid van Sy koningskap ook inderdaad te aanvaar as 'n realiteit.

Dan mag ons nou nie alleen maar bekommerd wees oor die toekoms van die land en van die wêreld nie.

As ons die Bybel moet glo dan sal die wêreldse mag al hoe meer in hande van die heidene kom wat met God en sy gebod nie reken nie.

Maar dieselfde Bybel leer vir ons ook dat alle aardse mag tenslotte beperk is. Beperk deur die oppermag van ons ten hemel gevare Heer Jesus Christus.

En daarom kan ons vanoggend met groot vrymoedigheid en blymoedigheid Psalm 47 sing.

Dit is 'n psalm oor die mag van ons Heer en Heiland.

Dit gee vir ons vertroue vir die toekoms.

Waar ons leef in die vertroue kan ons verder.

Daar hoef ons nie steeds ons vreugde uit angs vir die onsekerheid van die toekoms te laat temper nie, maar ons kan onbekommerd bly wees want ons weet dit: Jesus is Heer!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)