Skrifoordenking by begrafnis

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-10-09
Teks: 
Psalms 27
Preek Inhoud: 

Begrafnis Oom Paul Verhagen 9 Oktober 1992

Teks Psalm 27: 1

Brs en srs, Paul en Hannie,

Vanmiddag is ons hier by mekaar om as familie en as gemeente die laaste eer te bewys aan Paulus Marinus Verhagen.

Oom Paul soos ons hom geken het.

Hy het die hoë leeftyd bereik van 83 jaar.

'n Geseënde leeftyd noem ons dit.

Want inderdaad kan 'n mens van die seën van God praat as iemand so oud mag word.

Maar nou het aan sy lewe 'n einde gekom. Die laaste jare het Oom Paul verskriklik begin sukkel met sy gesondheid.

'n Aantal beroertes het sy origens sterke liggaam gebreek.

Die laaste weke was van hom amper niks meer oor nie.

Toe het ons geweet Oom Paul se dae is nou vinnig verby.

Toe hy glad niks meer kon doen nie en totaal van hulp afhanklik geraak het en die pyne sy liggaam verskeur het, het ons ook nie meer gebid om herstel nie.

Ons het gevra dat die Here hom nie te lank moet laat ly nie.

En nou het hy gesterf.

Die dood het tenslotte as 'n verlossing gekom.

Oom Paul is daardeur bevry van 'n lewe wat al hoe meer problematies geword het. Daarvoor kan ons dankbaar wees.

En tog, hoewel die dood tenslotte as 'n bevryding gekom het wil ons nie van die dood as die groot Bevryder praat nie.

Immers as ons dit sou doen sou ons ingaan teen die boodskap van die Bybel. Die Bybel leer vir ons om die dood nooit as 'n vriend te beskou nie. Ons moet met die dood ook nie vrede maak nie. Want sê die Bybel, vir die mens bly die dood 'n vyand.

'n Vyand van die lewe.

God is namelik die God van die lewe.

'n Dier wat lewe is bestem om eendag te sterwe. Dit behoort onlosmakelik by sy lewe as dier.

Maar 'n mens is meer as 'n dier. 'n Mens was geskape na die beeld van God. Met die bedoeling dat hy altyd sou lewe om sy God te prys.

Omdat die mensheid vanaf die begin teen daardie roeping gekies het, is van hom die lewe afgeneem. Die mens is nou net so onderworpe aan die dood soos 'n dier.

Sy liggaam sterf af en sal verteer in 'n graf.

Maar een ding staan vas. 'n Kind van die Here hoef sy lewe nie af te lê in die skoot van die dood nie, maar hy mag sy lewe oorgee in die hande van 'n hemelse Vader. Van die God van die lewe.

Ons het vanmiddag saam Psalm 27 gelees. 'n Psalm van Dawid.

Dawid worstel met talle angste.

Hy praat van kwaaddoeners wat uit is op sy lewe, teëstanders en vyande. Wat doen hy?

Probeer hy homself so goed as moontlik daarteen te verdedig?

Beraam hy net planne om sy vyande te slim af te wees?

Nee, Dawid begin om hom te versterk in die Here.

En so begin hy hierdie psalm met die pragtige belydenis: Die Here is my lig en en my heil: vir wie sou ek vrees?

Dit het donker geword in die lewe rondom hom. Van alle kante word sy lewe bedreig.

In daardie situasie bely hy: Die Here is my lig!

Daardie lig is sy oriëntasiepunt in 'n lewe vol onsekerheid.

Die lig bied veiligheid en troos.

Daardie lig is sterker as watter duisternis ook al.

Selfs die mees ondeurdringbare duisternis, die duisternis van die dood, moet wyk vir hierdie lig.

Die Here is my lig en my heil.

Ja ook my heil. My redding en behoud.

Wat ook al gebeur in die lewe. Die Here red.

As daar verdriet kom. Die Here troos.

As daar 'n groot ramp in my lewe plaasvind, die Here laat my nie los nie.

Ja, waarvoor moet ek dan nog bang wees?

Dit word nog sterker onder woorde gebring in die tweede deel van ons teks.

Die Here is die toevlug van my lewe.

'n Toevlug is 'n plek waar 'n mens kan vlug as sy lewe bedreig word.

Waar kry 'n mens in die lewe so'n plek? Dawid se antwoord is nie onduidelik nie. By die Here!

By Hom is lewensbehoud.

My lewe is by Hom altyd veilig.

Niemand kan my uit sy hand ruk nie.

Want God self is die bewaarder, die beskermer van my lewe.

Hoe sou ek dan nog angstig kan wees?

Nou wil dit voorkom dat hierdie belydenis, hoe pragtig verder ook, tog strydig is met die werklikheid van die lewe.

Die Here is die toevlug van my lewe.

By Hom is my lewe altyd veilig.

Hoe kan ons soiets sê met 'n dooie in ons midde?

Met 'n graf wat klaar gedelf is?

Oom Paul het die pad gegaan wat enige sterweling gegaan. Die pad van opgaan, blink en versink.

Die Here is die toevlug van my lewe- geld dit net vir solank as wat ons die lewe op aarde ontvang?

Mag die een mens 30jaar in die vesting bly, 'n ander 50 jaar en 'n derde 83 jaar. Totdat God ons uit daardie vesting verwyder en ons tog maar uitlewer aan die dood of ons wil of nie?

Nee gelukkig nie.

Die Here is die toevlug van my lewe. Dit beteken: Hy bewaar my lewe en daardie bewaring is so sterk, die bewaring bly selfs deur die dood heen.

Hy hou ons lewe vas terwyl ons deur die uitgangspoort van die aardse lewe gaan.

By die dood word lewensbande deurgesny, die band met familie, vriende, broeders en susters.

Maar een lewensband, die lewensband, die band met God bly bestaan. God sny daardie band nie deur nie. Inteendeel. Hy versterk daardie band nog.

Die Here is tog die toevlug van ons lewe!

By Hom is ons Lewe (hoofletter!) veilig.

Dawid het dit reeds geweet en geglo. Ook al het hy nog maar net onder die ou bedeling geleef.

Ons, wat gehoor het van die dood en die opstanding van die Here Jesus weet nog baie meer. Jesus Christus het eens vir altyd bewys dat die dood nie die laaste woord het nie!

God soek die lewe van sy kinders!

Hy is inderdaad 'n skuilplek vir elkeen wat sy lewe aan hom toevertrou.

Dawid het al geweet: By God is my lewe veilig.

Sinds Pase weet ons nog veel meer. God is in staat om selfs ons liggaam uit die dood op te wek!

Hy het dit aan Jesus bewys en dit aan ons belowe!

Hoe en wanneer weet ons nie.

Maar dat Hy dit sal doen is belowe. En daarom vertrou ons vanmiddag Oom Paul se liggaam toe aan die aarde.

In die geloof dat ons hom daarmee aan die Here en sy belofte toevertrou.

Dit is ons troos vandag.

By die Here vind Oom Paul sy laaste skuilplek.

In God se vesting is hy veilig. Want God bewaar daar ook die lewe van Oom Paul.

As gemeente het ons vir jare vir Oom Paul geken.

As lidmaat het hy baie vir ons beteken. Oom Paul het altyd klaar gestaan met 'n woordjie. Of liewer nog met 'n daad van hulp.

Hy het daarby sy eienaardighede gehad.

As jy hom gevra het kon dit sommer gebeur dat hy meer beloof het as wat hy sou doen.

As jy hom nie gevra het nie, dan was hy skielik daar om te help.

Die laaste vier jare het hy in 'n verpleeghuis moet deurbring.

Wie sal kan sê hoe eensaam hy hom daar dikwels gevoel het?

Wie sal kan sê hoe hy gely het onder die pyne wat hom gepla het?

Wie sal kan sê wat daarby in sy binneste aangegaan het?

"Wat ken je doen? " het hy dikwels geantwoord as jy vir hom vra hoe dit nou met hom gaan.

Daardie woord was aan die een kant 'n woord van protes. Hy was nie gelukkig met sy situasie nie. Wat ken je doen?

Maar dit was tog ook 'n woord van aanvaarding van die weg wat hy moes gaan.

As jy hom gevra het of hy hierin ook die weg van die Here ervaar dan was sy antwoord altyd 'n instemmende ja!

Verlede week het ek hom nog kon besoek. Vir die eerste keer in 'n paar weke was hy toe baie helder. Agteraf 'n laaste opflikkering van die lewe.

Nog eenmaal kon ons saam 'n bybelgedeelte lees. Ek is seker hy kon dit baie goed volg. Toe ek hom vra Oom Paul gee my jou hand dan bid ons saam, toe kom sy linkerhand wat nog sterk was onder die kombers uit. Nadat ons gebid het het hy dankbaar gesug.

Asof hy toe reeds besef het, dit is die laaste keer.

Toe was hy ook klaar om te gaan.

Klaar om homself toe te vertrou aan die God van die lewe.

En daarom is ons vandag wel verdrietig by die begrafnis van Oom Paul. 'n Stuk lewe is verby. Nie net van Oom paul nie, maar van ons almal.

Die jare dat Oom Paul deel van die gemeente was is tans geskiedenis.

Maar ons is nie verslae in ons verdriet nie.

Ons kan Oom Paul toevertrou aan die hande van onse Vader in die hemel.

Daar is sy lewe veilig.

Die lewe van ons almal.

Ook die lewe van sy kinders en kleinkinders. Daarom is ons bly dat ons Oom Paul kan begrawe in die bysyn van sy seun uit Nederland.

Dan kan ons saam ons troos en steun soek by die genade van die Here onse God. Aan daardie genade het ons Oom Paul opgedra. Aan daardie genade wil ons ook onsself toevertrou.

Amen.

Programma van samekoms:
Sing: Psalm 42: 1, 2, 3
Gebed
Skriflesing Psalm 27
Meditasie Psalm 27: 1
Sing Psalm 27: 1, 6
Gebed
Sing Psalm 34: 1, 2
Aan die graf Skb 27

Liturgie: 

(kyk in preek)