Nagmaalsoordenking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1993-02-14
Teks: 
Psalms 19
Preek Inhoud: 

Nagmaaloordenking 14 Februarie 1993

Voor diens: Ps 20: 1-6
Ps 23: 1, 2
Ps 23: 3 (na wet)
Ps 19: 4, 5 (na oordenking)
Geloofsbelydenis (voor tafel)
Ps 19: 6, 7 (aan tafel) lees Ps 16: 5-11 + lof
Ps 33: 1, 10, 11 (kollekte)
Lees: Psalm 19
Teks: Psalm 19: 8a

Brs en srs!

"Waar haters loer, stel u tot my beskikking
'n tafel tot versading en verkwikking"

'n Tafel van verkwikking.

Psalm 23, wat ons sopas gesing het, is nie 'n psalm wat spesiaal oor die Nagmaal gaan nie.

Dit is 'n psalm wat gaan oor die sorg en die nabyheid van die Here in die lewe van 'n gelowige. Maar waar kan jy die nabyheid en die sorg van die Here sterker en tasbaarder ervaar as juis aan die Nagmaalstafel?

Daarom kan juis die Nagmaalstafel vir die gelowige voluit 'n tafel van verkwikking genoem word.

Trouens die woord verkwikking is 'n woord wat in die liturgie van die Nagmaal 'n prominente rol speel.

U onthou wel die bekende sin uit die HK: "soos ons liggame met gewone brood gevoed word so verkwik Hy ons siele met sy liggaam en bloed tot die ewige lewe. "

Of uit die Nagmaalsformulier self: "ons lewe word net so werklik deur die werking van die Heilige Gees met sy liggaan en bloed gevoed as wat ons die tekens van brood en wyn tot sy gedagtenis ontvang. "

Kortom, daar is veel rede om die Nagmaalstafel 'n tafel van verkwikking te noem.

Ons wil voor ons tot die viering van die Heilige Nagmaal oorgaan, kort stilstaan by 'n Psalmvers.

Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.

Ook hier staan die woord verkwikking sentraal.

Ons siel word verkwik.

Waardeur? Psalm 19 sê: dit is die wet van die Here wat 'n mens se siel verkwik.

Ons het hier 'n loflied op die wet.

Baie mense voel by so'n loflied op die wet effens 'n aarseling.

'n Loflied op die wet?

Wat is so lofwaardig aan 'n wet?

'n Wet gee vir jou 'n hoeveelheid moets en moenies, dit is seker maar nodig, maar om 'n loflied op 'n wet te maak, dit lê nie juis voor die hand nie.

Tog besing ons psalmboek met groot oorgawe die heerlikheid van die wet.

Nee nie op die manier soos die Joodse Skrifgeleerdes en Fariseers later by die wet gesweer het nie.

In die Psalmboek is die lof op die wet nie sommer lof op die wet nie, maar is dit in die eerste plek 'n loflied op die God van die wet.

Kyk, as jy die wet gaan losmaak van die God van die wet dan is daar nie soveel meer te sing nie.

Maar wie agter die wet die God van die wet sien, kan hom intens oor die wet verbly. Want Hy besef hierdie wet kom van iemand wat die goeie met ons voorhet. Dit kom van die God wat ons lewe geskape het en wat graag sien dat dit goed met ons gaan. Daarom gee Hy sy wet.

En daarom kan die psalmdigter sing: Die wet van die Here is volmaak.

Volmaak beteken: dit is presies goed. Dit is net wat 'n mens nodig het.

Immers die wet is 'n onderwysing van God vir jou lewe.

God se wet is bedoel om jou lewe in die ruimte te stel.

God staan agter die wet. Want Hy wil vir jou die lewe laat geniet soos Hy dit bedoel het.

Sonder hierdie leiding van God maak ons almal 'n gemors van ons lewe. Ons begin ronddwaal soos skape wat nie 'n herder het nie. Ons volg voortdurend die lus van ons eie begeertes omdat ons meen dat ons dan die lewe regtig sal kan geniet, maar inmiddels mors ons dit op.

En daarom kan die psalmdigter 'n loflied op die wet skryf.

Hy het eers die grootheid en majesteit van God in die natuur besing. Maar net met die natuur kom ons nie reg nie.

Ons het meer nodig. Die openbaring van God se Woord.

Saam met die digter kan ons sê: Die wet van die Here verkwik die siel. Seker.

Hierdie wet gee ruimte in ons lewe.

Hierdie wet van die Here soek ons lewe te bevorder, te bevry oop te maak.

Ja, ook nadat jy daardie wet tot jou skade veronagsaam het.

Soos ons sondaars almal steeds doen.

Dan nog kan ons sê: U wet verkwik die siel.

Juis nadat ons gesondig het en ons dit bewus geword het.

Verkwikking is 'n pragtige woord.

Immers 'n woord soos verkwikking kom in jou gedagte nadat jy swaar gekry het.

Iemand wat ver in hitte en sonskyn gestap het en tenslotte 'n plekkie kry met koel water en skaduwee, hy weet wat verkwikking is. Binne minute voel jy sommer 'n ander mens. As jy die gevoel gehad het, jy kan nie nog 'n tree verder nie, na die verkwikking voel jy weer lus.

Dieselfde as jy na inspanning honger gekry het. Jy voel siek en naar van die hongergevoel. Maar 'n paar stukkies brood doen 'n wonder aan jou. Jy word verkwik. Jy sien weer kans.

Verkwikking. 'n Kostelike woord vir 'n heerlike ervaring.

Die woord van die Here verkwik die siel dit is die ervaring van die psalmdigter.

Daarom is die woord verkwikking ook 'n besonder passende woord by die Nagmaalsviering.

Dit is die tafel van verkwikking.

Dit is weer drie maande terug dat ons die Heilige Nagmaal gevier het.

  • Ons het almal in die tussentyd weer 'n stryd gehad met ons sondes en swakhede. Ons het gebid vir hulp in daardie stryd. Ons het geprobeer, maar steeds weer gefaal.
  • Ons het geprobeer om meer erns te maak in ons omgang met die Here. Maar skaars het ons 'n plan gemaak of ander dinge het weer ons energie gevra. Ons voel sleg oor ons gebrek aan vordering.
  • Ons het gestry teen ons eie karaktergebreke. Maar ons was maar dikwels aan die verloorkant.
  • Ons het geprobeer om werklik as christene met mekaar om te gaan, maar ons pogings het nie gewerk nie.
  • Ons wou as gemeente iets meer wys van ons rykdom wat ons in die geloof het, deur dit na mekaar en na ander mense uit te straal, maar wat het ons nou feitlik bereik?

Is dit nie om moedeloos van te word nie?

Ja dit is. Hopeloos lyk dit wel. Ons sien nie langer kans nie. Dit gaan tog nie werk nie.

Nie met die gemeente nie.

Nie met myself nie. Dit gaan steeds weer verkeerd.

Wel gemeente, as u so voel en ek hoop u voel so, dan het ek goeie nuus vanoggend.

Hier staan 'n tafel van verkwikking.

As u moeg geraak het in die stryd teen u sondes sê die Here: Kom sit hier aan my tafel.

Laat jouself voed en verkwik.

Sodat jy weer kans sien vir die pad vorentoe.

Daardie pad sal weer 'n pad van stryd wees. 'n Pad van struikel en opstaan. Maar hou goeie moed.

Ek sorg dat langs daardie pad ook verversingsposte is.

Elke nou en dan wil Ek jou siel verkwik aan my tafel.

Dit is 'n tafel vir vermoeides in die stryd teen die sonde.

Dit is 'n tafel van verkwikking vir almal wat honger en dors na die geregtigheid.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)