Dawid se geestelik-politieke testament vir Salomo

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 2
Preek Inhoud: 

Ps. 36: 2
Ps. 36: 3
Ps. 101: 1 - 6
Ps. 21: 5, 6
Ps. 21: 1, 9
Lees: 1 Kon. 2: 1 - 11
Teks: 1 Kon. 2: 1 - 6

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Wanneer 'n mens 'n taak waaraan hy 'n groot deel van sy lewe gewy het moet oordra aan 'n ander, kom hy onvermydelik vir die vraag: hoe sal my opvolger die werk doen? Sal hy voortgaan in die lyn wat ek gevolg het? Of sal hy 'n heeltemal ander werkwyse toepas? Sal ook hy benadruk wat ek onbelangrik gevoel het, of sal hy 'n heel ander belangstelling vertoon?

Daarby kom nog die vraag: sal my opvolger bekwaam wees vir sy taak? Veral as die opvolger baie jonger is, is dit vrae waarmee 'n mens hom besighou.

Wel, met al die vrae is die ou koning Dawid besig op sy sterfbed. Sal Salomo wat nog maar pas tot koning gesalf is, in staat wees om die volk te regeer? Vir iemand wat nog maar twintig jaar oud is, is die koningskap 'n swaar taak.

Kan die jong Salomo dit aan? En sal hy voortgaan op die pad wat Dawid self gegaan het? Toe Dawid koning geword het, was hy al heel wat jare ouer, en het ook al baie meer lewenservaring opgedoen.

Dus Dawid het sorge daaroor, en daarom wil hy graag iets vir Salomo saamgee vir die toekoms. Hy wil hom help vir sover dit nog binne sy vermoë is. 'n Aantal aanwysings waarmee Salomo sy wins kan opdoen.

En so lees ons in ons teks vir vandag se prediking, dat Dawid sy testament maak vir Salomo. Nie 'n testament vir wat Dawid se besittings aangaan nie, maar meer 'n geestelike testament. Ons sou ook kon sê: Dawid maak sy politieke testament op. Dit is naamlik in Israel presies dieselfde.

Israel se koning is naamlik 'n koning wat God moet verteenwoordig op die aarde. Ongewyfeld is Salomo die erfgenaam van 'n politieke koninkryk, maar tegelyk is dit ook 'n geestelike koninkryk. Die Ryk sal, wil dit aan sy bedoeling beantwoord, geregeer moet word met God se wette.

En daarom is daar ook 'n koning nodig, wat beantwoord aan God se bedoelings. Dan slegs kan dit goedgaan in Israel, met die koning en die volk van die Here. Oor 'n gedeelte van die inhoud van Dawid se testament sal dit gaan in vandag se prediking.

Tema: DAWID SE GEESTELIK-POLITIEKE TESTAMENT VIR SALOMO.

  1. Salomo moet as koning God se genade vertoon.
  2. Salomo moet as regter God se oordeel voltrek.

Om wat meer insig te kry in die posisie van Israel se konings, wil ons eers nog 'n bietjie stilstaan by die ontstaan van daardie koningskap. Soos u weet het Israel nie van die begin af 'n koning gehad nie. Die Here het dit nie nodig gevind nie. Hy is mos Self koning van Sy volk. Dus daarom was daar nie onmiddellik 'n koninklike paleis en 'n koningstad in Israel nie. Daar was maar net 'n tent met daarin die verbondsark waarop die Here op die gerubs getroon het.

En daarmee het die volk as volk 'n groot eie verantwoordelikheid gehad. Hulle moes altyd weer vra na die Here en Sy verordeninge. So wou die Here dit hê. Nie 'n volk wat blindelings 'n aardse koning volg nie. Ook nie 'n volk wat met hulp van die dwangmiddele wat 'n koning kan toepas, die goeie pad loop nie, maar 'n volk wat sonder dwang, in eie verantwoordelikheid die Here volg. Dis wat Hy soek: 'n Volk wat God se koningskap erken en vrywillig God se wette volbring. Maar die verantwoordelikheid was vir die volk voorlopig nog te groot. Al gou na Josua se dood, dwaal die volk by die Here af weg. Seker daar bly mense wat die Here trou dien, maar die groot massa gee homself oor aan afgodediens met al die verskriklike gevolge daarvan. Die boek Rigters vertel ons daardie geskiedenis. 'n Ellende geskiedenis. As God 'n rigter stuur, gaan dit vir 'n tydjie weer beter, maar daarmee is dit spoedig weer heeltemal fout. Wat is die oorsaak?

Die Here weet dit en wys dit aan. Hulle wil net nie luister na die gebooie van die Here nie, en daarom gaan dit verkeerd. Daarom word hulle gedurig deur vyande gepla. Dit was alles nie nodig nie, as hulle maar net wou lewe na God se wet.

Maar die volk het 'n ander gedagte. Ons het nie 'n koning nie, en daarom loop dinge verkeerd.

Daarom eis hulle van Samuel, dat hy vir hulle 'n koning moet gee. Soos u weet, was die Here baie boos oor die versoek. Hulle het nie jou verwerp nie Samuel, maar hulle het my verwerp om koning oor hulle te wees!

Die volk het dus die Here baie teleurgestel, deurdat hulle dit nie met Hom alleen as koning wil waag nie.

Maar tog sal die volk 'n koning hê. Vanweë hulle kleingeloof.

Die volk is skynbaar nie ryp vir so 'n groot verantwoordelikheid nie.

En daarom sal die Here vir hulle 'n koning gee. Samuel moet die volk nog duidelik waarsku, dat 'n koning seker nie ideaal is nie. Onder so 'n koning sal hulle swaarkry. Die koning benodig 'n paleis, 'n hofhouding 'n leër ens. Dus ideaal is so 'n koningskap nie. Dit is eerder 'n bewys van swakheid van die volk dat hulle nie met die Here alleen kan regkom nie. Dus die vraag om 'n koning word deur die Here wel afgekeur, maar tog nie afgewys nie.

God kan foute en sondes van mense ombuig en tog gebruik in Sy verlossingsplan.

So is ons God, broeders en susters. Gelukkig maar is ons God so. Ook vir ons. Want wat sou dit anders verskriklik verkeerd gaan in ons lewe. As God elke beslissing wat ons neem sonder Hom, of elke beslissing wat ons neem teen Sy wil, sou straf, dan was ons lewe gou-gou 'n puinhoop. Seker daar kan gevolge wees van 'n verkeerde stap in ons lewe, wat ons ons lewe lank pla. Maar daar is ook 'n ander kant. God is so groot: Hy kan selfs uit sondige, verkeerde dade van ons iets goeds laat voorkom.

Dalk kan u uit u eie lewe daarvan voorbeelde bedink.

Maar ook die Bybel is daar vol van.

In ons teksverband is dit byvoorbeeld treffend. U onthou die sonde van Dawid en Batseba. Sonde teen die 10de, 8ste, 7de, 9de en 6de gebod. En dan nog teen die eerste tafel.

Dawid het die gevolge van sy sonde ondervind. Kind dood. Absalom se staatsgreep regstreekse gevolg.

Maar tog het die Here uit die aanvanklik sondige verhouding van Dawid en Batseba, later toe hulle getroud is, iets goeds laat voortkom. Hul seun Salomo. Vredevors!

So is ons God.

Dit beteken natuurlik nie, dat ons maar kan aangaan met 'n sondige lewe, en dat die Here wel sal sorg dat alles reg kom nie. Dit sal duidelik wees.

Maar dit gaan nou hierom, dat God ook ons sondes en ons skuld kan opneem in Sy beleid.

So was dit ook met die koningskap in Israel. Dit het 'n verkeerde oorsprong. Die volk wou gelyk wees aan ander volke, en daarom ook 'n koning hê.

Daardie motief is duidelik sondig, maar die Here weet om dit gebruik in Sy verlossingsplan.

Maar dan is dit wel nodig dat konings hulle gedra soos God wil. Dan alleen kan dit goed gaan.

Wel, hierdie insig wat Dawid deur sy groot ervaring verwerf het, wil hy oordra op Salomo.

Want wat is 'n goeie koning in Israel? Dit is hy wat laat sien dat die Here die eintlike koning is.

'n Koningskap wat hom losmaak van God, word 'n ramp vir die volk.

Maar 'n koning wat in sy beleid die genade van God vir sy volk vertoon, hy oefen reg en geregtigheid. Dan word die bronne van die hemel oopgesluit, en vloei daaruit heil en vrede vir die volk.

Daarom lê Dawid hier so sterk nadruk op die onderhouding van die wette, insettinge en getuienisse van die Here.

Die koning in Israel het nie 'n wetgewende mag nie. Hy het slegs 'n uitvoerende mag, naamlik om God se wette uit te voer.

In die weg sal die land, die volk en sy koning geseën word.

So oefen God Sy Koningskap uit deur middel van 'n koning in Jerusalem.

En dan is daar ook toekoms vir die volk en vir die koningshuis. Dan sal daar altyd 'n man uit die huis van Dawid op die troon kan sit.

Dit is die testament van Dawid vir sy seun Salomo.

Dawid gee die pragtige beloftes deur wat hyself eendag van die Here ontvang het, maar Dawid maak ook duidelik dat vervulling van die beloftes afhanklik is van die trou van Israel se konings aan God se wette.

Ons weet dat nie al die konings van Israel na hierdie testament geleef het nie. Dikwels het hulle teenoor die wet van God, hulle eie sin gedoen. En daarmee het hulle die sig van die volk op die ware koning van Israel verduister.

Die konings het nie met hul hele hart en hele siel by die Here gebly nie, en daarom het hulle uiteintdelik ook die volk verloor. Die koningshuis van Israel het roemloos ondergegaan in die tyd van die ballingskap.

Ons weet maar van een seun van Dawid wat aan al die vereistes vir 'n koning, wat Dawid in ons teks noem, voldoen het. Dit is die groot Seun van Dawid, Jesus Christus.

Hy was met Sy hele hart by die gebooie van die Here.

Hy het Hom nooit van God losgemaak nie.

Hy het nooit Homself en Sy koningskap belangriker as God se Koningskap gevind nie.

Hy het nooit die sig van die volk op die Ware Koning verduister nie. Hy kon werklik sê: Die werke wat Ek doen, is nie My werke nie, maar die werk van My Vader.

Of: Wie My gesien het, het My Vader wat in die hemel is gesien.

Die genade van God vir Sy volk het in alles wat Jesus Christus gedoen het, sigbaar geword. En so is Hy die ware Koning vir Sy volk soos die Here dit altyd bedoel het.

In verbinding met die koning, Jesus Christus, mag ons ook koning wees. Dit beteken nie dat ons nou reeds 'n troon mag beklim nie.

Maar wel dat ons in navolging van koning Christus, na die koningswet wat Dawid vir sy seun Salomo voorskrywe, sal lewe: ofwel, dat ons wandel in God se weë, Sy insettinge en gebooie onderhou.

As ons dit doen, broeders en susters, op die plek waar die Here ons gestel het, dan straal deur ons die Koningskap van Christus uit in die wêreld.

En die Koningskap word nog altyd gekenmerk deur genade en vrede. Wie as Christen nie verder kom as net sy eie belang en sy eie voordeel in die wêreld te soek nie, hy verduister vir 'n ander die sig op Jesus Christus, die Vredevors.

2. Salomo moet as regter God se oordeel uitvoer.

Nadat Dawid hierdie testament aan Salomo oorgedra het, is daar nog 'n drietal sake uit Dawid se regeringstyd wat nog afgehandel moet word, naamlik die kwessie Joab, die belofte aan Barsillaï en die saak Simeï.

Die eerste van die drie wil ons 'n bietjie nader beskou.

Vir ons gevoel kom ons nou in 'n heel ander wêreld.

Dit klink alles so heeltemal anders, dat ons die indruk het dat die twee helftes van Dawid se testament met mekaar strydig is.

Die grys hare van ou Joab mag nie met vrede in die doderyk neerdaal nie. Die mes moet daarin, maar nie 'n haarkapper se mes nie.

Dit klink vir ons nogal gruwelik.

Maar tog maak ons as ons so dink 'n vergissing. In die eerste plek: ons lewe in 'n ander tyd as Dawid en Salomo. Ons mag nie sonder meer ons maatstawwe toepas nie. Tweedens. Ons ken ons Bybel nie voldoende nie. Want wat hier moet gebeur is 'n gebod van die Here.

Kom ons lees 'n paar verse uit die Bybel. Num. 35: 30 - 34.

In die verse gaan dit oor die straf vir 'n moordenaar.

'n Moordenaar moet sy moord met sy eie lewwe betaal. Dit het ons reeds geweet, maar belangrik is nou die motivering van die doodstraf hier. In vers 34 word gesê: Bloed wat onskuldig vergiet is, ontheilig die land. Dit kan net versoen word deur die bloed van hom wat dit vergiet het.

En dan volg die eintlike argument: Want ek die Here woon in die midde van die kinders van Israel.

Daarom mag die land nie met onskuldig vergote bloed verontreinig word nie. God woon daar.

Sy heiligheid straal uit oor Sy omgewing. Soos by die brandende braambos, heilige grond was, so het Kanaän heilige land geword, want die Here woon daar.

Daarom kan Hy nie aanvaar dat onskuldig bloed vergiet word nie. In Ou-Testamentiese woorde: dan rus daar 'n bloedskuld op die land.

'n Kenmerkende voorbeeld daarvan is dat Saul eendag die Gibeoniete vermoor het. Josua het hom met 'n eed verbind om die inwoners van Gibeon geen kwaad te doen nie. Maar Saul het 'n groot aantal Gibeoniete om die lewe gebring. En daarmee rus 'n bloedskuld op die hele volk van Israel. Die onskuldig vergote bloed het die land verontreinig, en daarom besoek God die land in Dawid se tyd met 'n hongersnood.

Ook daar is Num. 35 in geding. As Dawid dan vonnis vel oor 7 seuns van Saul, dan ontferm die Here Hom weer oor die land (2 Sam. 21). Wel, hierdie saak is ook die agtergrond van Dawid se oprdrag om vonnis te vel oor Joab.

Joab het naamlik twee moorde op sy gewete. Naamlik die moord op Abner (2 Sam. 3), en die moord op Amasa (2 Sam. 20).

En dit nog wel in vredestyd!

En vir die moorde is Joab tot nou toe nie gestraf nie.

Daarom is die land nog altyd vanweë die onskuldige vergote bloed verontreinig. Die bloed van Abner en Amasa roep nog vanaf die aarde tot die Here!

En daarmee is die woning van God onder sy volk in geding.

Daar is maar een manier waarop versoening gedoen kan word: Joab sal tereggestel moet word, volgens Num. 35.

Nou kan ons die vraag vra: Waarom het Dawid dit nie self gedoen nie?

Dawid het indertyd wel goed duidelik gemaak dat hy nie 'n hand in die moordsake gehad het nie. Hy het hom daarvan gedistansieer. Maar hy het Joab nie gestraf nie. Waarom nie?

Dawid gee self as rede: Ek is te swak, alhoewel ek as koning gesalf is. (2 Sam 3). Blykbaar was Dawid te sterk afhanlik van die bevelhebber van sy leër, Joab. Hy kan hom nie mis nie. En daarom durf hy hom nie te vonnis nie. Maar nou op sy sterfbed is hy homself pynlik bewus daarvan, dat hy daar te kort gekom het, en dat daar nog 'n onbetaalde rekening oopstaan. En die bloedskuld vorm 'n bedreiging, sowel vir die volk van Israel, as vir die troon van Salomo.

En daarom sê hy vir Salomo: Die dreiging moet afgewend word. Joab moet sy verdiende straf ondergaan.

Die gebod van God van Num. 35 moet as nog uitgevoer word. En daarom pas die tweede helfte van Dawid se testament geheel by die eerste helfte. Salomo moet God se gebooie handhaaf.

Dan pas kan daar seën oor sy regering verwag word.

Ons kom nou by die vraag: wat het dit nog vir ons te sê?

Die antwoord is nie so maklik nie.

In die eerste plek dit: die gedagte dat onskuldige bloed die aarde onrein maak, en dat dit vanweë God se aanwesigheid versoen moet word, is vir 'n deel kenmerkend Ou-Testamenties. Vanweë die ongeregtigheid van een sal nie weer 'n hele land byvoorbeeld hongersnood moef te ly nie.

Maar aan die ander kant: wanneer in 'n land moordaanslae ongestraf bly, omdat byvoorbeeld bekende en belangrike persone hulle daaraan skuldig gemaak het, dan is dit vir die Here 'n ernstige saak.

Daar is in ons tyd voorbeelde genoeg van regerings wat internasionale terrorisme ondersteun, en in eie land 'n skrikbewind oefen deur aan moordkommando's die vrye hand te gee om mense spoorloos te laat verdwyn. Lande waar dit gebeur het nie 'n toekoms nie.

Die Here wil dit nie aanvaar as onskuldige bloed vergiet word nie.

In hierdie verband kan ons ook dink aan die bloedstroom oor die hele wêreld, waar ongebore lewe sonder meer vernietig word, en wel omdat 'n kind deur ouers nie gewens word nie.

Is ook dit nie onskuldige bloed wat roep vanaf die aardbodem nie? Waarnatoe gaan ons met 'n wêreld waarin dit aanvaar word? Hoe lang sal die Here nog geduld hê met so 'n wêreld?

Daar sal eendag 'n oordeel kom oor die ongeregtigheid!

Dan kom die Regter Self, Jesus Christus om te oordeel oor lewendes en dooies.

Met die oordeel kan deur Salomo in sy ryk, slegs 'n klein begin gemaak word. Hy moet opkom vir die reg van wees en weduwees.

Hy sal moet toesien dat daar in sy Ryk nie onskuldig bloed vergiet word nie.

Maar sowel sy koningskap as sy regter wees is slegs voorlopig.

Want die volmaakte Vrederyk kan eers kom nadat weer onskuldig bloed vergiet is. Die bloed van Jesus Christus Self.

Die wonderlike is: in die bloedvergieting is Jesus sowel sy slagoffer as veroordeelde.

Onskuldig is Hy veroordeel. Maar daarin dra Hy die straf vir al diegene wat skuldig staan aan die vergieting van Sy bloed.

Sy bloed is slagofferbloed - omdat ons oortredings aan Hom toegereken is.

Dit is die verrassing van Golgota.

Die bloed wat ons aankla omdat ons mee skuldig is aan die vergieting daarvan, word bloed dat ons vryspreek, naamlik in die weg van die geloof.

Geregverdig deur daardie bloed kan ons ontkom aan God se oordeel.

Want deur die bloed is die vrede met God vir altyd bevestig.

Dan sal geen sonde die aardbodem ooit meer verontreinig nie, en kan die Here vir ewig by Sy volk woon.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)