In Dawid se reaksie op Absalom se dood behaal die gees van Christus die eindoorwinning op Absalom se opstand

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-12-09
Teks: 
II Samuel 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 2 SAMUEL 18: 33

LITURGIE:
Ps. 3: 1, 2
Gebed
L. 2 Samuel 18: 1-8 & 18: 24-19: 8
Prediking
Ps. 141: 4, 5, 8
Geloofsbelydenis
Ps. 145: 2, 12
Gebed
Kollekte
SB. 21: 4, 5

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons teks wys ons opnuut 'n huilende koning Dawid.

Ons het vanoggend/verlede week gesien hoedat hy 'n seun moes verloor. Die kind wat uit sy owerspel met Batseba gebore was. Dawid het met die HERE geworstel om daardie kind te mag behou, maar die HERE het dit nogtans laat sterwe.

In ons teks sterf daar opnuut 'n seun van Dawid: Absalom. En weer moet Dawid 'n vreeslike rouproses deurmaak.

Tog is daar 'n groot verskil in die wyse waarop Dawid die verdriet van die dood van albei seuns verwerk het.

Solank die eerste kind nog gelewe het, was die koning ontroosbaar. Hy het verslae op die grond gelê. Hy wou niks eet of drink nie. Hy het maar net gebid en gehuil.

Maar toe daardie seuntjie eenmaal dood was, het Dawid opgestaan, gebad, ander klere aangetrek en hom by die feite neergelê.

By Absalom se sterwe lyk egter presies die omgekeerde te gebeur: Solank die rewolusionêre Absalom nog lewe, sien Dawid die feite onder die oë en neem hy sy noodsaaklike maatreëls.

Maar wanneer dit blyk dat Absalom dood is, is die koning ontroosbaar. Hy sluit homself in 'n bovertrek op. En soos 'n leeu in 'n kooi loop hy rusteloos van wand tot wand: "Absalom, my seun, my seun, my seun Absalom".

Hoekom so'n teenoorgestelde reaksie?

Ons gaan vanaand daarop ons gedagtes konsentreer, broeders en susters. Maar dan kyk ons nie net na Dawid nie. Ek moet vir u wys dat dit die Heilige Gees is wat hierdie voorvader van ons Here Jesus Christus tot so'n heeltemal ander reaksie op die dood van sy seun Absalom bring as by die dood van Batseba se seuntjie.

Ek vat my boodskap so saam:

IN DAWID SE REAKSIE OP ABSALOM SE DOOD BEHAAL DIE GEES VAN CHRISTUS DIE EINDOORWINNING OP ABSALOM SE OPSTAND

  1. DAWID BESTRY SY SEUN WANNEER HY AS 'N OPSTANDELING LEEF
  2. DAWID BEWEEN SY SEUN WANNEER HY AS 'N OPSTANDELING STERF

1. Daar is meer as een verklaarder, gemeente, wat glo dat Dawid se hartverskeurende verdriet na Absalom se dood 'n heeltemal verkeerde reaksie van die koning van God se volk was. Dit was tereg en noodsaaklik dat Joab sy koning hardhandig tot die orde geroep het. Dawid het van sy koningsamp vergeet en homself in vadersmart verloor. En dit mag 'n ampsdraer in die diens van die HERE nie doen nie. In die kerk geld daar mos die reël: die wat vader of moeder, broers of susters, seuns of dogters liefhet bo My, kan My dissipel nie wees nie.

En hoe 'n slegte seun was Absalom! Dawid het mos maar net ellende van hierdie kind beleef.

Uiterlik was hy 'n aantreklike mens. 'n Pragtige seun. Maar agter daardie aantreklike buitekant het 'n trotse en wraaksugtige hart skuilgegaan.

Hoe lafhartig het Absalom sy broer Amnon vermoor. Ek weet, Amnon het Absalom se suster Tamar verkrag, maar dit het vir Absalom nie die reg gegee om op hierdie wyse wraak te neem nie.

En wanneer Absalom danksy Dawid se goedhartigheid en vergewings- gesindheid na jare na Jerusalem mag terugkeer en vervolgens ook weer sy plek as prins in die paleis mag inneem, begin hy sy pa met skynheilige praatjies by die volk swartsmeer. Totdat hy dit op die ou end regkry om sy pa uit sy paleis te verdrywe sodat hy self die troon kan bestyg.

En selfs dit is nog nie genoeg nie. Want daarna vertrap hy nog 'n keer ekstra sy pa deur oop en bloot voor die oë van Jerusalem se inwoners sy pa se vrouens te vat en met hulle gemeenskap te hou.

Hierdie Absalom is dan ook nie minder nie as 'n instrument van die satan in Dawid se huis om die reformasiewerk van Dawid te vernietig. Onder koning Dawid het God se volk eindelik weer geleer om met God in die verbond te lewe. Uit hierdie Dawid wil die HERE daarom eendag die Christus, sy eie Seun, gebore laat word wat die verbond van God met sy volk 'n nuwe en ewige inhoud sal gee.

Mens mag Absalom gerus 'n Antichrist noem. 'n Pion van die bose om Dawid se werk en Dawid se huis te gronde te rig. En om so God se werk te gronde te rig.

So'n kerkvyand moet tog bestry en uitgeroei word? Het Dawid dit nie self met die oog op ánder kerkvyande gesing nie:

    "My ywer sal met 'n gestrenge hand
    die bose daagliks uitdelg uit die land,
    sodat die Godstad welbewaak en vry
    van onreg sy".

In die Gees en die krag van die HERE moét die stryd aangebind word met elkeen wat God se Gesalfde durf aanrand. Ja, 'n geveg soos Dawid se manne onder leiding van Joab, Abisai en Ittai teen Absalom se volgelinge gevoer het, was 'n voluit Geestelike stryd. Die geveg van die Gees van Christus teen die bose geeste van die satan.

Maar dan mag die stem van vlees en bloed die roep van die Gees mos nie oorstem nie? ! Al sny dit ook diep, baie diep in jou vlees, die Gees moet die laaste woord kry.

So is dit vandag nog, broeders en susters. Dit kan gebeur dat 'n predikant of 'n ouderling geroep word om die tug te help bedien aan 'n eie kind wat homself aan die sonde oorgegee het. Dit kan gebeur dat ouers gedwing word om hulle te keer teen een van hul eie kinders en 'n harde stryd te voer teen die sonde in sy of haar lewe. Partymaal moet 'n vrou 'n harde stryd voer met haar eie man wat in die strikke van die bose vasgevang geraak het. Of andersom.

Dan mag daar geen selfmedelye wees nie.

En dan help dit ook nie om maar net te kla nie: "My kind, my kind", of: "My man, my man".

Ons moet nie net kla nie. Ons moet áánkla. Die sonde aanwys en met woord en daad bestry.

God gee ons die wapens van die Gees in die hand om die kwaad te keer en indien moontlik uit te roei. Ook as dit ingaan teen jou eie vlees. Ook as dit jou eie kind betref.

Moes dus ook Dawid nie die stem van die bloed die swye opgelê het nie? Moes hy nie as koning oor God se volk die stryd teen hierdie duiwelse seun gesteun het nie?

Maar Dawid hét dit gedoen, gemeente. Hy het die opstandeling Absalom bestry. Solank Absalom nog geleef het, het koning Dawid sy verantwoordelikheid raakgesien en alle maatreëls getref wat maar getref kon word om Absalom se duiwelse rewolusie te breek.

Toe die berig van die opstand sy paleis bereik het, het Dawid homself nie in smart verloor nie. Toe het hy nie in sy troonsaal as 'n verslae mens loop en huil "Absalom, my seun, my seun" nie.

Natuurlik, hy het baie geskok en seergemaak gevoel. Ook in sy gevoelens as vader. Maar hy het terselfdertyd as koning sy kop bymekaar gehou en besluitvaardig opgetree. Hy het die kanse afgeweeg en hom voorlopig uit die bedreigde stad teruggetrek. Terwille van sy volk. Om dit teen Absalom se oormag te beskerm. Want hy trek hom wel terug. Maar sy terugtrekking is geen vlúg vir die duiwelse aanval op sy koningskap nie. Dawid begin dadelik met die teenaanval. Husai word ingesit, daar word 'n strategie beraam....

En as Absalom met 'n groot leër uitruk, stuur koning Dawid vol vertroue sy manne in die stryd. Hy vra wel of hulle sy seun wil spaar, maar dit beteken nie dat Joab hulle hom nie moet beveg nie. Dawid staan self in die poort en laat die manskappe aan hom verbytrek. Hy spreek hier en daar 'n bemoedigende woord. Die opstand teen die Gesalfde van God moet beveg word. Terwille van Sion, terwille van God se verbond met sy volk. Terwille van die Christus wat God in die vooruitsig gestel het.

In dié ure het Dawid ook Psalm 3 gedig, broeders en susters. Ons het die Psalm gesing. 'n Psalm vol vertroue op die God van die verbond. Want die HERE is 'n skild wat hom beskut, die Een wat sy hoof ophef al staan daar ook tienduisende vyande rondom hom. Maar in die Psalm het Dawid ook gesing: "Staan op, HERE. Verlos my, my God. Want u het al my vyande op die kakebeen geslaan. U het die tande van die goddelose stukkend gebreek". Dawid verwag ook van die HERE dat Hy, soos Hy dit in die verlede so dikwels gedoen het, ook nou die vyande van Gods gesalfde 'n vernietigende neerlaag sal toebring- al is Dawid se eie seun Absalom dié keer ook die leier van daardie goddelose vyande.

2. Dawid het hom dus regtig nie soseer deur sy vadersmart laat lei dat hy nagelaat het om Absalom se duiwelse aanval op die kerkstad te weerstaan nie.

Maar wanneer breek die hartverskeurende klag in hom los: "Absalom, my seun, my seun"? Eers wanneer hy die berig kry dat Absalom dood is. Dan breek die angstige spanning wat Dawid die hele dag reeds verteer het, na buite en is hy ontroosbaar.

Dat sluit hy homself op in die bovertrek en soek tevergeefs na 'n uitweg vir sy smart. Eers dan lê die koning se hartseer 'n skaduwee oor die aanvanklike oorwinningsroes van die volk. Die mense sluip verby. Sodate skaam hulle.

Is Dawid dan nie bly met die oorwinning nie? ! Is Dawid nie dankbaar dat die duiwel dit nie gewen het nie, maar dat God sy gebed van Psalm 3 verhoor het nie? !

Ja, hy is. Maar Dawid sien meer as die oorwinning. Hy sien dat die duiwel in sy neerlaag tog 'n slagoffer na die ewige dood saamgesleep het.

As hy jammer: "My seun Absalom, Absalom, my seun, my seun", klink daar by Dawid geen selfmedelye nie. Hy kla nie: "Hoekom moes my dit oorkom? " nie. Maar sy smart konsentreer heeltemal op Absalom. Hierdie seun het nie net as 'n goddelose geleef nie. Hy het nou ook as 'n goddelose gesterf. Hoe vreeslik is dit! Dis mos nie afgeloop as mens sterf nie. Dawid kyk verder as die kliphoop waaronder Absalom begrawe is. Wie sterf, moet voor God se regterstoel verskyn. En dan is daar nooit meer 'n pad terug nie. Dan is daar nooit meer die moontlikheid om jou te bekeer nie. En hoe moet Absalom voor God staan?

Juis nou blyk dat koning Dawid hom teenoor die opstandeling Absalom nie deur die vlees nie, maar die die Gees laat lei het. Absalom se lewe was deur haat geregeer. As iemand hom beledig of seergemaak het, het hy medoënloos teruggeslaan.

Maar Dawid laat hom deur 'n andere Gees beheers. Hy beantwoord Absalom se haat en hardheid met opregte liefde.

Noudat hierdie vyand van God en sy gesalfde dood is, kom daar geen triomfantelike juigkreet oor Dawid se lippe nie. Dawid lag nie vol leedvermaak oor Absalom se dood, soos Simeï en ander oor hom gelag het toe hy uit Jerusalem moes vlug nie.

Nee, in plaas van 'n trotse oorwinningsroes is daar by Dawid die ontsetting oor Absalom se lot.

Joab begryp nie Dawid se reaksie nie. Joab sê verwytend: "U het lief diegene wat u haat, en u haat diegene wat u liefhet". Maar dié verwyt is nie tereg nie. Natuurlik haat Dawid nie dié wat hom liefhet nie. Maar dis wel waar dat Dawid liefhet dié wat hom haat. Daarin verskil Dawid van Joab. Joab lyk in heelwat opsigte na Absalom. Daar woon ook in hom 'n gees van wreedheid en wraaksug. Hy het op 'n lafhartige manier Saul se vroeëre leërowerste Abner vermoor uit wraak oor die dood van sy broer Asahel. Hy het bewus Dawid se wens om Absalom te spaar geignoreer en Absalom met gelyke munt betaal.

Dawid is anders. Inderdaad: Dawid kan selfs liefhê die wat hom haat. Ook teenoor die vyande van die volk van die HERE laat hy hom deur die liefde lei.

Daardie liefde was daar steeds teenoor Saul. Sodat hy by Saul se dood 'n klaaglied kon sing pleks van 'n oorwinningslied. Dawid se liefde blyk opnuut wanneer Joab Abner vermoor. Weer klink daar 'n klaaglied.

En wanneer twee moordenaars Dawid se teëstander Isboset om die lewe bring, ontvang hulle van Dawid die doodstraf as beloning. Dawid is nie bly oor die dood van sy teëstander nie. Dawid is bly oor die bekering van sy teëstander.

En dis hoekom nou sy hart ineenkrimp by die gedagte dat Absalom hom nooit meer sal kan bekeer nie. Watter troos bly dan oor?

Toe die ander seun van hom gesterf het, kon Dawid sê: "Hy sal na my nie terugkeer nie; maar ek gaan eendag na hom". Dawid het geglo in 'n weersien eendag in die hemelse heerlikheid by God.

Maar met dié woorde kan hy homself vandag nie troos nie. Vir Absalom geen hemelse heerlikheid nie. Maar die ewige godverlatenheid. Dawid het die deur van die ewige dood agter sy seun sien diggaan.

As ons Dawid se verdriet nie kan verstaan nie, broeders en susters, maar dit feitlik afkeur, laat óns ons dan wel deur die liefde regeer? Stry ons dan wel die Geestelike stryd?

In hierdie wêreld na die sondeval ontkom ons nie daaraan om teenóór ander mense te moet staan nie. Dit kan gebeur dat ons moet stry teen die sonde in ons eie man of vrou, in ons liefste kind, in 'n broer of suster, 'n vroeëre vriend. Maar hoe 's dit dan met ons hart gesteld? Hoe, in watter gees, stry ons die stryd? Hard en onverbiddelik? Of vol liefde en verdriet?

Ons houding aan die einde van die stryd verraai ons:

as 'n lidmaat na veel geharwar hom aan die kerk onttrek en in die wêreld verdwyn, hoe reageer ons dan? Haal ons die skouers op en sê: "Hy wou mos nog altyd sy eiewyse kop volg? Wel dan moet hy die gevolge maar agterkom!" Of trek kommernis en angs ons hart saam?

As een van jou kinders jou op die hart trap en sy rug op jou, op die Here en sy kerk draai, hoe reageer ons dan? Voel ons beledig? Sê ons: "as hy so maak is daar vir hom in my huis geen plek meer nie"? Of is daar dan die rustelose klag: "My kind, my kind"?

As 'n vrou haar man sien verdwyn in owerspel, wat vervul dan haar hart? Groei daar die haat oor die vernederende verwerping sodat sy sê: "Ek wil nooit en niks meer met hom te make hê nie"? Of kreun haar hart vol christelike liefde: "O my man, my man"?

Dawid se verdriet was die oorwinning van die Gees oor Absalom se haat teen die kerk. Dawid se liefde was so groot dat hy kon sê: "Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het!".

Ook dit verstaan Joab nie. Hy sê: "Ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het". Maar dít het Dawid nie gesê nie. Hy sê nie: "Ag, as die vólk maar in jou plek gesterf het". So het Dawid ook nie gehandel nie. Hy het juis die volk so veel as moontlik probeer spaar. Dawid wou regtig nie dat die volk geoffer was om die antichristelike Absalom te spaar nie.

Maar hy wou wel dat hy Absalom hierdie dood-in-sy-sonde kon bespaar het. Hy wou self wel gesterf het, as Absalom nog mog lewe en die kans kry om hom te bekeer.

Dawid is nie bang vir die dood nie. Hy durf wel voor God te verskyn. Hy kan sy God en Vader vrymoedig in die oë kyk.

Om dit te kan sê, broeders en susters, dan moet daar wel 'n Ander die ewige dood in jou plek gesterf het. Dawid kon so sê, omdat hy vas geglo het dat eendag sy groot Seun, terselfdertyd God se Seun, Homself vir al Dawid se sondes in die dood sou opoffer. Anders kon ook Dawid nie vrymoedig voor God verskyn nie. Dawid was self 'n ewegroot sondaar as Absalom. Ja, Absalom se opstand is welbeskoud 'n gevolg van Dawid se eie sonde, sy owerspel met Batseba en sy moord op Uria. Die HERE het mos deur die profeet Natan laat weet dat die swaard vir ewig nie meer van Dawid se huis sou wyk nie.

Maar Dawid het sy kop en sy knieë gebuig en hom bekeer. Dawid mag glo dat al sy sondes vergewe is, terwille van die dood van sy Seun wat eendag die skuld van sy hele volk op sy skouers sal wegdra.

Dawid het van vergewing gelewe. En juis daarom het hy vergewing vir sy seun gesoek. Hy het die blinde muur van die dood afgesoek na 'n opening om Absalom daaruit te kan terughaal. Want saam met sy God het hy geen behae gehad in die dood van die sondaar nie, maar liewer daarin dat hy hom bekeer en lewe.

Hierin het koning Dawid die styl van sy komende Seun vertoon, gemeente. Sy stryd teen die sonde was terselfdertyd 'n stryd om die behoud van die sondaar.

So het ook ons Here Jesus Christus gestry. Hy kon selfs sy vyande liefhê en nog bid vir die soldate wat Hom aan 'n kruis gespyker het.

Sy Gees roep ons vandag om saam met Christus teen die sonde, die duiwel en sy ganse ryk te stry, en te oorwin. Maar dan: in liefde.

Moenie bang wees om te moet stry in hierdie wêreld nie, soms selfs teen mense van wie jy baie hou. As u nié stry teen die sonde in hul lewe nie, is daar by u ook geen egte liefde nie.

Moet eerder bang wees om in die stryd die Gees van liefde te verloor en daardeur die stryd te verloor. Laat dit maar blyk dat, as u moet stry, daar by u nog altyd 'n hart vol verdriet en oë vol trane is.

Die verdriet is nog niet uit die kerk uit nie. Daar is nog telkens mense wat in hul goddeloosheid sterwe. Kinders van ons, familie, vriende.

Wie sou daaroor nie vol ontsetting huiwer nie?

Maar laat die huiwer ons dan des te verwonderder maak dat ons die dood sonder verskrikking tegemoet kan sien, danksy Jesus Christus.

En laat dit ons des te meer aanspoor om nog baie mense van hul goddeloosheid te probeer red noudat daar nog tyd vir bekering is.

AMEN.

(Pretoria, 9 Desember 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)