Die ampsdraers as voorgangers in die toewyding aan God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 13
Preek Inhoud: 

Ps 31: 3, 4
Ps 31: 5, 6
Ps 118: 7, 10
Ps 1: 1 - 4
Ps 56: 1, 2
Ps 134: 3, 4
Ps 56: 3, 4
Lees: Deut. 13
Teks: Deut. 13: 1-5

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vandag is daar die bevestiging van 'n aantal nuwe ampsdraers in ons gemeente. In die algemeen is dit dan ook passend dat aan so 'n feit ook in die prediking enige aandag gegee word.

Nou tref dit vandag so dat in ons serie Deuteronomium-preke hoofstuk dertien aan beurt van behandeling is. Nou staan daar as onderwerp aanduiding bo: 'Voorskrifte m. b. t. vals profete en voorstanders van afgodery'.

Dit lyk nou nie juis 'n geskikte teks by die bevestiging van ampsdraers nie. Om aan die een kant ampsdraers te bevestig en in dieselfde asem die gemeente te waarsku vir moontlike valse profete is darem nie juis 'n blyk van vertroue nie.

Maar u sal verstaan dat dit nie die bedoeling is om by voorbaat wantroue te saai teen die pasverkose ampsdraers nie. Inteendeel dit is eerder so dat juis die ampsdraers ekstra verantwoordelikheid ontvang om valse profesie te deursien en die gemeente daarteen te waarsku.

In Deut. 13 word as valse profesie aangemerk elke poging wat gedoen word om onder 'n religieuse dekmantel die volk van God te verlei om ander gode te gaan dien.

En daarmee staan hierdie hoofstuk heel duidelik in die raamwerk van die eerste gebod: Julle mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Die Here eis die alleenreg op die diens van sy volk.

Hy alleen het die monopolie op die liefde van Israel.

M.a. w. hier is in geding die volkome toewyding van die gelowiges aan die diens van die Here.

Ons sal later sien dat juis daarin die ampsdraers 'n leidinggewende en rigtinggewende taak het.

Daarom wil ons vandag die tema van die preek so vir u formuleer:

DIE AMPSDRAERS AS VOORGANGERS IN DIE TOEWYDING AAN GOD

  1. Die krag van die toewyding
  2. Die bedreiging van die toewyding
  3. Die beveiliging van die toewyding

Soos gesê dit gaan in Deut 13 oor valse profesie. Dit is eintlik vanselfsprekend dat daarteen ten sterkste gewaarsku word. Maar nou moet ons bewus wees dat so 'n waarskuwing nie sommer in die lug hang nie. Dit staan heel duidelik in die raamwerk van breeere onderwys.

En daarom moet ons hierdie waarskuwing veral leer verstaan vanuit hoofstuk 12. Ek het vir u eerder gesê dat hoofstuk 12 die sentrale hoofstuk van die boek Deuteronomium is. Dit is die spil waarom alles draai. Immers hoofstuk 12 vertel ons van die plek wat die Here sal verkies om Sy Naam te vestig. Daar waar die ark van die versoening moet kom staan, van daaruit vloei seen en vreugde na die volk toe.

Dus kort saamgevat: Deut. 12 vertel vir ons watter vreugde en voorreg dit is om die Here te dien. En vanuit daardie sentrale boodskap vloei dan allerhande konkrete voorskrifte en praktiese wette voort.

En die eerste wat dan aan die orde gestel word is die saak van die valse profesie. Ons sal wel verstaan hoekom dit die eerste is. Kyk as jy ander gode gaan dien, dit is die einde van alles. Dit sal waar wees dat Israel teenoor allerhande voorskrifte van God tekort sal kom, hul diens aan die Here sal in talle opsigte 'n gebrekkige diens wees, maar as jy ander gode dien, dit is die onmiddellike einde van die diens aan God. Dan help al die verdere wette ook niks meer nie. Dit is nogal logies.

Bv. om 'n geslaagde huwelik te hê, daarvoor moet jy aan heel wat dinge voldoen, jy moet jou vrou versorg, haar help waar jy kan, haar aandag gee, haar komplimenteer, haar bemoedig, haar stimuleer, ens. Aan die vrou soortgelyke raadgewings teenoor haar man. Maar die begin voorwaarde is: jy moenie egbreek nie. As jy daaraan nie voldoen nie, dan help dit niks om haar te versorg, te help, te komplimenteer ens. nie. Want deur die egbreuk, het jy die huwelik klaar verbreek.

Dus daarom staan hier valse profesie, waarby dit gaan om 'n ander god na te loop heeltemaal voorop. Ander gode dien in die verbond is n. l. dieselfde as egbreuk in 'n huwelik.

En soos gesê: die waarskuwing teen valse profesie moet ons veral verstaan vanuit die Seen waarvan Deut. 12 praat.

As die volk nou regtig ingesien het, hoe ryk hulle is met die diens aan Jahwe, as hulle dit nou werklik gaan besef, dan sal hulle vanself ver weg bly van enige verleiding om in die plek van die Here 'n ander God te gaan dien.

En broeders en susters, seuns en dogters, hiervan moet ons leer. Want so moet dit vir ons ook wees, dat die diens van die Here soveel vir ons beteken dat ons van ganser harte sê: Ek soek glad nie ander gode nie. Ek is so ryk, so bevoorreg met Jesus Christus dat ek Hom vir niks wil verruil nie.

Nou leef ons as christene temidde van talle ander godsdienste en ook temidde van mense wat beweer dat hulle in godsdiens glad nie belang stel nie. Hoe moet ons nou temidde daarvan staan met ons geloof in Jesus Christus?

Ek dink ons moet lewe vanuit die besef van ons groot rykdom in Christus. In Christus het God vir versoening gesorg en daarmee die lewe weer oopgemaak. Daar is geen ryker lewe as 'n christelike lewe nie.

Die geloof in die Woord van God gee antwoorde op die diepste vrae van die menslike bestaan n. l. die vraag van skuld en dood en toekoms van die wêreld. En daarom hoef daar by ons glad nie krampagtigheid in die verdediging van die christelike geloof te wees nie. Eerder is op sy plek 'n vorm van gesonde vanselfsprekendheid: Sou ek so 'n God wat so bevrydend optree in my lewe dan nie dien nie?

Ongeveer dus in die lyn van die antwoord van Petrus op Jesus se vraag vir die twaalf dissipels: Wil julle nie ook weggaan nie? En dan sê Petrus: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe! (Joh. 6)

Dus vanuit die magtige verlossingsdade van God kry die toewyding aan die diens van die Here iets vanselfsprekends. Dit word 'n oortuigde toewyding. En so 'n oortuigde toewyding het groot krag. Ook na buite toe.

Juis dan is 'n waarskuwing baie kragtig. As jy sien watter groot dinge die Here doen en wat Hy vir jou wil skenk, hoe kan jy dan nog so gevoelig wees vir afgodery?

Sien u, die waarskuwing teen afgodery in Deut. 13 ontleen sy krag aan die rykdom van Deut. 12. Dit geld eintlik ook vir enige prediking. 'n Prediking wat maar net waarskuwings bevat teen al die verleidings van die wêreld, is uiteindelik kragteloos. Maar 'n prediking wat die rykdom van die geloof in Jesus Christus skilder kan volstaan met 'n kort waarskuwing: Pasop dat jy so 'n rykdom nie verspeel nie.

Dit geld ook vir al die ampsdraers werk. 'n Ampsdraer wat self leef uit die rykdom van die versoening in Christus en dit onder woorde kan bring bereik baie meer as iemand wat slegs waarskuwend met die vinger omhoog rondgaan.

So gaan dit trouens ook in die gesin. As die ouers teenoor hul kinders wel allerhande waarskuwings oor sekere sake laat hoor, maar tegelykertyd nie in staat is om die rykdom van die lewe in die Verbond in die gesin gestalte te gee nie, dan staan hulle baie swak. Want nie 'n waarskuwing sal jou van sekere dinge laat afsien nie maar veeleer die besef van die rykdom wat jy daarmee in die weegskaal stel.

So verstaan ons ook die krag van die waarskuwing in Deut. 13 vanuit die rykdom van Deut. 12.

2. DIE BEDREIGING VAN DIE TOEWYDING AAN DIE HERE

In vs 1 van Deut 13 gaan dit oor 'n profeet of 'n dromer. 'n Vooropmerking: 'n dromer is iemand wat d. m. v. droomopenbaring seker profetiese gawes het. Die woord is ongeveer vergelykbaar met die woord 'siener' soos dit b. v. van Samuel gebruik word.

By 'n profeet moet ons nie onmiddellik aan 'n toekomsvoorspeller dink nie maar veel eerder aan iemand wat in staat is om 'n gelowige kommentaar te lewer op die dinge van die dag. So iemand kyk ook dikwels terug na die verlede en wys b. v. die hoofmomente aan waar die Here ingegryp het tot redding van sy volk. En ook oor die toekoms kan hy iets sê: Kyk, volgens sy belofte sal die Here so en so verder gaan met sy volk.

Ons verstaan dat dit moeilike, maar tog ook belangrike en verantwoordelike werk is, om te sê: Kyk, daarin sien jy die hand van die Here! Hy is besig met die uitvoering van sy plan om sy volk te verlos.

Maar nou kan dit natuurlik ook gebeur dat jy as profeet die groot lyn van God se heilsplan uit die oog verloor en dat jy tog bly optree as 'n profeet.

Dan gaan so 'n profeet hom besig hou met details. Allerhande klein dingetjies word opgemerk en daaruit word God se wil verklaar. Dan word b. v. gesê: As nou die eerste robot vanaf jou huis vir jou op groen staan dan kan jy maar reken: God sal jou vir jou eksamen laat slaag. U ken daardie tipe profete vas wel.

Maar bedink dit, dit is 'n karikatuur van ware profesie.

Dit is verskuiwing van waar dit om gaan. Immers ware profesie wys net 'n groot lyn aan. Daar werk die Here, en verwys vervolgens na God se gebooie: Bly dus gehoorsaam! Maar valse profesie is lief vir klein details. Hulle werk graag met tekens of nommers.

As dan so 'n aangekondigde teken nie deurgaan nie, dan word dit met 'n skouerophaling afgedoen. Bad luck!

Maar as dit toevallig reg was, dan basuin die profeet dit voor hom uit: Sien, ek was darem reg! Ek is altyd reg. Luister die volgende keer weer!

Nee, sê die Here dan. Luister nie na die woorde van so 'n profeet nie! Julle (vs 4), julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en aanhang. Daarom gaan dit altyd: Die Here navolg en na sy stem luister.

En ware profesie sal jou daarby help. Immers ware profesie wys jou altyd op die beloftes en die gebooie van die Here. Beloftes en gebooie wat ons vind in Sy Woord. Daar in Sy Woord alleen kry ons normatiewe openbaring. God bind ons aan sy beloftes en gebooie.

Maar as jy aan tekens of wonders gesag gaan verleen kom jy op baie gevaarlike terrein. Sê nou iemand spreek met God af (inderdaad so word in daardie kringe dikwels gepraat): as nou die eerste meisie wat ek vanaand by 'n fees sal ontmoet 'n rooi rok dra, dan sal ek weet: God het vir my hierdie meisie as vrou bestem. Nou goed, hy gaan na die fees en inderdaad dra die eerste meisie wat hy ontmoet 'n rooi rok.... Wel, dan is dit duidelik, nê?

As hy vervolgens met sy trouplanne na die pastorie kom sê ek: maar daardie meisie wil van Christus en Sy Woord niks weet nie, dit is dan onmoontlik om met haar te trou... Dan sê hy: Jammer dominee, die Here het dit te duidelik gewys. Ek moet sy aanwysings opvolg.

Sien u wat gebeur, die gebod van God word weg geskuiwe ten gunste van 'n teken of wonder. Valse profete doen dit altyd. Ware profete daarenteen bind aan beloftes en gebooie.

Die grootste gevaar is eintlik dit: Deur baie aandag vir tekens en wonders raak mense weerloos teenoor die antichrist.

Volgens 2 Thess. 2 sal die koms van die antichrist vergeseld gaan van tekens en wonders van die leuen om mense tot ongeregtigheid te verlei. Mense laat hulle maklik vang met tekens en wonders en hoe meer aandag daarvoor is, hoe makliker laat mense die openbaring in die Bybel los. Want saam met die tekens kom sommer saam die verleidelike woord: Kom laat ons ander gode agterna loop!

Dus as ons in die geloof 'n oormatige aandag skenk aan allerhande opvallende, indrukwekkende dinge dan berei ons daarmee onbedoeld die pad vir die Antichrist.

Jy ontneem daarmee die wapens aan jou kinders. Hulle word heeltemal weerloos teenoor allerhande verleidings.

Maar die Woord van God met sy beloftes en gebooie maak jou weerbaar. Dan glo jy nie sommer enige profeet of wonderdoener nie. Daar is vandag by baie mense 'n oorgevoeligheid vir tekens. Jy kry vandag meer mense bymekaar vir 'n al dan nie egte genesingswonder as vir 'n gesonde bybelse prediking.

Mense wat tekens naloop val sommer in hande van dwaalligte. Dit het al ontelbare kere gebeur. Die tragiek is dat allerhande sektes waar reklame gemaak word vir wondertekens vir baie mense die oorgang na die volstrekte ongeloof is. Immers in daardie sektes word hooggespanne verwagtings gewek van allerhande wonders... jy moet glo in die wonder... maar as dan die wonder nie kom nie, ondanks jou geloof en gebed, dan is die gevolg dit: jy glo niks meer nie! 'n Prediking waar geen belofte van God agter staan nie moet altyd deur die mat val.

En die ergste is dat so 'n prediking in die Naam van God en dikwels ook met 'n beroep op die Bybel gedoen word.

Dus, broeders en susters, seuns en dogters, wees baie versigtig met die s. g. 'leiding-geloof'. Soek nie in allerhande dinge vingerwysings van God nie. Hou liewers vas aan sy nie mis te verstane beloftes en gebooie.

Luister na Sy stem en nie na die stem van iemand wat tekens aankondig nie. Want as jy inderdaad gaan let of voorspelde tekens gaan uitkom of nie dan is jy al vir die helfte verlore en is jy besig om ander gode na te loop.

Pas op vir mense wat so presies die leiding van God in die lewe van elke dag kan aanwys. Vanoggend het die Here my so gelei en vanmiddag lei Hy my so... dit klink alles vroom, maar dit is bedenksels van mense.

Seker, dat God ons lewe lei, dit is 'n geloofsaak. En bly dit ook! Maar daarby besef ons, dit is tegelyk die moeilikste van die geloof. Ons bely in Sondag 10 dat niks by toeval oor ons kom nie, maar dat alles uit sy Vaderhand na ons toekom.

Maar om dit te glo en dit te bely is nog iets anders dan dat jy dit in allerhande details kan aanwys. Immers die Here laat sy kinders dikwels deur die duisternis gaan, waarin die waarom? waarom? van alle kante ons toeklink, sonder dat ons 'n antwoord weet.

Maar ook sonder dat die Here 'n sigbare teken van sy nabyheid gee, glo ons nogtans dat Hy ons in alles baie naby is. Sê die Bybel nie: Salig hulle wat glo, sonder om te sien.

Ons sluit ook hierdie punt af met 'n woord spesiaal vir die ampsdraers: Van julle word werklik nie tekens of wonders verwag nie. En ook nie dat julle op die moeilike waarom-vrae van alle gemeentelede 'n antwoord kan gee nie. Dis nie julle taak om die waarom van alles te bepaal nie.

Nogtans is julle aangestel as profete. As profete om die duidelike beloftes en gebooie van die Here aan die gemeente voor te hou. As julle dit doen dan is u ware en troue profete.

Of met die woorde van vs 4 van ons teks: Julle het maar een boodskap vir die gemeente: Julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.

3. DIE BEVEILIGING VAN DIE TOEWYDING AAN DIE HERE

Teenoor valse profete moet Israel duidelik stelling inneem. Nie luister nie! Nou bring vs 3 dit in verband met die toewyding aan die Here. Die Here beproef julle of julle werklik die Here liefhet.

Dit is 'n toets: Daar waar jy werklik die Here liefhet daar is Hy en sy Woord baie meer werd as 'n teken of 'n wonder.

'n Teken of wonder daarvoor is ons almal wel 'n bietjie gevoelig natuurlik. Dit sluit n. l. aan by 'n sug na sensasie wat ons almal wel 'n bietjie in ons het. Maar dit gaan nie om bevrediging van jou lus vir sensasie nie, dit gaan om liefde vir die Here.

Juis daarom sal die Here ook toelaat dat daardie liefde op die proef gestel word, want beproefde liefde word alleen maar sterker. Elke keer as ons gedwing word tot 'n keuse tussen ons eie begeertes en ons liefde vir die Here, groei die liefde as ons vir Hom kies.

Dus die boodskap is: Bly by die beloftes en gebooie van die Here!

Maar teenoor die persoon wat die middel geword het om kinders van God te verlei om ander gode te dien, moet opgetree word.

Hy kry die doodstraf, sê ons teks. Sy stem moet definitief tot swye gebring word. Anders sal hy dalk nog die hele volk verlei.

Die straf is hierom so streng omdat die toekoms van die kerk daarmee in geding is. As die hele volk agter afgode aanloop, kom God met sy volk nie verder nie. Die doodstraf dus vir so 'n vals profeet.

So was dit in die Ou Testament.

In die Nuwe Testament is dit anders. Daar het die kerk nie die reg om die doodstraf aan die vals profeet te gee nie, maar binne die kerk moet wel die stem van die vals profeet tot swye gebring word. Hy moet monddood gemaak sodat hy nie die hele gemeente tot afval van die Here kan verlei nie. Hy mag b. v. nie meer spreekreg op die kansel hê nie.

So moet jy dan die kwaad uit jou midde weg doen.

Heel duidelik gaan dit hier oor die tugoefening onder die volk van God. As jy die kwaad uit jou midde moet wegdoen is die veronderstelling natuurlik dat daar met die res nog iets goed is.

Die Here heilig werklik die gemeente sodat daar deur Sy genade iets van die nuwe lewe sigbaar word. Seker, mense bly sondaars, maar ek bedoel die lewe van die gemeente gaan iets vertoon van 'n christelike lewensstyl.

As gelowige christene hou ons vas aan sekere waardes in die lewe b. v. met betrekking tot die huwelik, en die kerkgang, ons vryetydsbesteding ens. Daarin wys ons 'n gesamentlike christelike lewensstyl.

En as dit nie meer daar is nie, dan word dit verskriklik moeilik om nog kwaad uit jou midde weg te doen. Kyk, 'n kerk kan so geinfekteer raak deur die sonde dat die hele liggaam bederf, dan kan jy die kwaad nie meer uitsny nie, want dan moet jy alles wegsny. In 'n volkskerk kan so iets gebeur. Op die ou end kan jy geen kwaad meer uitsny nie. Die middel van die tug kan nie meer gebruik word nie. (Kenmerk van die ware kerk, art. 29 NGB!)

Ek sou nou weer 'n spesiale woord tot die ampsdraers kon rig m. b. t. die handhawing van die tug. Dit vloei sommer voort uit Deut. 13 veral vs 5. Maar ek rig my nou liewers tot heel die gemeente.

Ons moet saam oplet dat ons gemeente van Christus bly. Dit vra die toewyding van van ons almal. Want as heel die gemeente verslap in die diens van die Here, dan is daar geen kwaad meer uit te sny nie. Daar kan 'n oomblik kom dat die operasiemes van die tug nie meer baat nie omdat die kankergeswel te ver uitgesaai het.

En daarom is ons almal saam verantwoordelik om toewyding te toon vir die diens aan die Here. Terwille van ons gesin en terwille van ons swak broeder of suster.

Ons is vir meer verantwoordelik as net vir onsself. Ons is verantwoordelik vir die vlak van die christelike lewensstyl van die gemeente as geheel. Of ons sink met mekaar weg in 'n lewe wat steeds meer verwêreldlik of ons neem mekaar saam na 'n lewensstyl waarin die heerlike Naam van Christus ons Verlosser al hoe meer sigbaar word.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)