By die ingang van Kanaan herinner Moses aan sy lewensreddende voorbede vir Israel

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 9
Preek Inhoud: 

Ps 84: 1, 2
Ps 84: 5, 6
Ps 77: 5, 6, 7
Ps 57: 1, 5
Ps 90: 4, 7, 9
Lees: Deut. 9
Teks: Deut. 9: 25-29

Broeders en susters,

Vandag wil ons 'n begin maak met 'n serie van 'n aantal preke uit die boek Deuteronomium. Dat ons begin met hoofstuk 9 is tamelik willekeurig. Ons kon ewegoed met hoofstuk 8 of hoofstuk 1 begin het. Maar in die boek Deuteronomium is die twaalfde hoofstuk na my oordeel die kern van die hele boek. Dus ek wou in elk geval oor hoofstuk 12 preek. Daarom kies ons vir 'n serie maar 'n paar hoofstukke daarvoor en 'n paar daarna. Dis eintlik al rede om ons vandag met hoofstuk 9 besig te hou.

Nou eers 'n paar dinge oor die boek Deuteronomium as 'n geheel. Die woord Deuteronomium beteken soveel as 'tweede wetgewing'. Hiermee word bedoel dat hierdie boek eintlik 'n herhaling en 'n uitwerking is van eerdere wetgewing by die berg Horeb en in die woestyn.

Wanneer die lesse van hierdie boek aan Israel gegee word bevind die volk Israel hom aan die ooskant van die Jordaanrivier. Onmiddellik voor die grens van die beloofde land. Hulle staan dus a. h. w. by die poort van Kanaan. Klaar om die land binne te trek.

En as 'n laaste prediking, 'n laaste onderwysing word nou al wat in hierdie boek staan aan die volk voorgehou. Dit is tegelykertyd die afskeidstoespraak van Moses, want hy mag nie met hulle die beloofde land binnegaan nie.

Noudat Moses hulle 40 jaar gelei en begelei het, nou moet die volk sonder hom verder. Moses hou sy hart vas as hy aan die toekoms dink. Hoe moet dit gaan? Hoe moet die volk trou bly aan die Here? Daarom kyk Moses in sy slottoespraak terug op die geskiedenis van God met sy volk in die hoop dat Israel daaruit vir die toekoms sal leer.

Tema: BY DIE INGANG VAN KANAAN HERINNER MOSES AAN SY LEWENSREDDENDE VOORBEDE VIR ISRAEL

  1. Waarom hy aan daardie voorbede herinner
  2. wanneer hy die voorbede gedoen het
  3. waarop hy in daardie voorbede gepleit het.

Hoor, Israel, jy trek vandag deur die Jordaan om nasies in besit te gaan neem wat groter en sterker is as jy.

In hierdie eerste vers van hoofstuk 9 lees ons dus wat ek in die inleiding al gesê het. Israel het aangekom by die grens van die beloofde land. Vir die tweede keer, let daarop. Veertig jaar gelede was die volk as volk ook al op dieselfde plek. Ook toen al was daar versterkte stede en reusagtige mense in die land Kanaan. Deur hul ongeloof kon hulle toen die land nie ingaan nie. Al die mense wat 40 jaar gelede daar was het inmiddels afgesterwe. Nou staan hulle daar weer. Nee, nie meer so ongelowig as toe, dat hulle al van tevore nie kans sien vir die groot Enakiete nie, by wie hulle hulself soos sprinkhane gevoel het.

Maar ook 'n gelowige kan nog baie opsien teen iets. Die Here sal wel help, ek glo dit, maar...

Wel, op daardie angs spreek Moses hier in en hy gee vir hulle 'n bemoediging: " Weet dan vandag dat die Here jou God die een is wat voor jou uittrek soos 'n verterende vuur. "

Die Here sal vir hulle stry en die eintlike werk doen. Hy sal die Enakiete voor hulle uit verdryf. Hy sal vir hulle die land gee. Maar ook dan dreig daar 'n groot gevaar.

En om daardie gevaar te besweer, daaroor gaan dit in heel hierdie hoofstuk. Die gevaar is n. l. dit:

Wanneer die volk nou in die land kom en die Here inderdaad hulle vyande wegjaag en Hy vir hulle heel die stryd voer, dan sou hulle kon sê: O, maar die Here het my terwille van my geregtigheid my hierdie land gegee.

Verstaan u wat dan gebeur: Dan gee hulle God nog wel die eer dat Hy die land vir hulle verower het, maar sê hulle dan: ons is ook 'n besondere volk. Dit is vanwee ons regverdigheid, omdat ons beter is as die heidene wat voor ons in die land gebly het. Die argument lê natuurlik 'n bietjie voor die hand. Dit staan so in vs. 4. Die heidene word vanwee hul goddeloosheid die land uitgegooi.

Ons kom in - dus ons is beter!

Omwille van ons geregtigheid het God ons die land gegee! Dan klop jy jouself op die bors. Vanwee my geregtigheid!

Wel, daardie gevaar is glad nie denkbeeldig nie. Die volk hoef die Here maar vir 'n oomblik los te laat en dan praat jy so. Om my geregtigheid! Dit kan met die kerk ook gebeur, gemeente.

Ons hoef Jesus Christus maar vir 'n oomblik los te laat en die kerk praat onuitstaanbaar. Die oorgang van die een na die ander kom mens amper nie agter nie. En dit gebeur sommer maklik. 'n Voorbeeld uit ons eie kerkgeskiedenis.

In die tyd van die vrymaking in 1944 is gesing en gesê: Die Here het ons vrygemaak! Dit was geloofstaal, jy hoor die verwondering en dankbaarheid vir die uitredding daarin: Die Here het ons vrygemaak! Maar die groot gevaar is dat die geloofservaring van die begin na 'n aantal jare ongemunt word in 'n uitspraak waarin selfvoldaanheid en selfversekerdheid gaan deurklink.

Die Here het ons vrygemaak! word dan: Die Here het ons vrygemaak! Dis net 'n aksent verskil. En tog lê 'n wêreld daartussen. Tussen geloofsdankbaarheid en selfvoldaanheid.

Laat ieder dit maar op homself toepas en hom afvra: Hoe ervaar ek my verlossing? Sê ek: Ek is gered! Danksy Christus! of sê ek: ek is gered! Natuurlik!

Voel u?

Gemeente, genade, dis al. En gebed.

Dit moet Israel goed weet, Dat dit enkel, enkel genade is dat hulle vandag hier staan en dat die pad na Kanaan ooplê.

En laat hulle nooit, maar dan ook nooit meer meen dat dit terwille van hulle geregtigheid was, dat hulle nou die beloofde land ontvang nie. Nee, die redding deur God is altyd: redding uit puur genade.

Hoeveel genade en watter gebed daarvoor nodig was sien ons in punt

2. WANNEER MOSES HIERDIE VOORBEDE GEDOEN HET

Voordat ek nou verder gaan moet ek nou eers verduidelik wat die struktuur is van Deut. 9. Ons het tot nou toe veral stilgestaan by vs. 1-6. Daarin word die vrees uitgespreek dat Israel sal meen dat God hulle vanwee hul geregtigheid die land ontvang het.

Wel, om hul daardie argument te ontneem bewys die Here vanuit die geskiedenis dat hulle 'n hardnekkige volk is, vol ongeregtigheid. Dit gebeur in die verse 17 - 24. Daar word aangetoon dat hulle wederstrewig was teen die Here. vergelyk vs 7 en vs 24.

Dit is selfs so dat die Here vasbeslote was om hulle te verdelg vanwee daardie sonde wat in vs 7 - 24 beskryf word. Hul ondergang kon slegs deur indringende gebed van Moses afgewend word. Die gebed kry ons in vs 25 - 29.

Dit is opvallend met watter sterk bewoordinge Moses (en deur hom die Here) praat oor die selfvoldaanheid van Israel. Die toorn van die Here kom weer bo as Hy daaraan dink en daaroor praat.

Want die selfvoldaanheid (vanwee my geregtigheid) dit was nie net een keer maar hulle hele houding is so en was altyd so. Dit is kenmerkend vir die volk om so te doen.

Jy hoor die Here weer boos word as Moses vertel van wat hy by Horeb gebeur het, en dan vs 22: Ook by Tabera... en by Massa... en by Kibrot-Hataawa... en in Kades-Barnea... presies dieselfde!

Wederstrewig teen die Here - julle het Sy liefde en sorg vertrap. Anders niks. Maar Horeb was tog van alles die ergste.

Dit het Moses 'n tweede periode van veertig dae se vas en bid gekos om die dreigende vernietiging van Israel af te keer.

Ons wil nou kyk hoekom die sonde by Horeb so verskriklik was. Moses vertel daarvan vanaf vs 9. Moses word deur die Here geroep om die berg uit te klim, nadat die Here vanaf die berg regstreeks tot die volk gespreek het. 'Die dag van die vergadering' noem Moses dit in vs 10. Dit is dus die indrukwekkende dag, waarop die Here vanuit die vuur en donderslae op Horeb, tot die volk gespreek het en die tien Woorde van die Verbond afgekondig het. Die tien gebooie.

Dit was 'n grootse en kolossale gebeurtenis. En dan belowe die Here om eiehandig daardie wet op kliptafels te skrywe. Moses alleen moet hulle kom haal daarbo op die berg.

Veertig dae en nagte berei Moses hom voor op daardie grootste gebeurtenis van die wêreld waarin die Almagtige God eiehandig aan 'n mens 'n geskrewe dokument oorhandig!

Die twee kliptafels van die Verbond!

Daardie twee tafels sal die blywende herinnering wees aan die ontmoeting van God met Sy volk. Die dag waarop Hy ten aanhore van almal verklaar het, julle is my volk! Die volk waarna my liefde uitgaan! Wel, daardie openbare liefdesverklaring sal nou vasgelê word op die kliptafels. Eiehandig skryf die Here die Verbondswoorde in klip, sodat dit nooit uitgewis kan word nie.

Die kliptafels dien dus eintlik as 'n trou-akte van die liefdesverbond tussen God en Sy volk. Soos van 'n troue tussen twee mense ook 'n amptelike akte opgestel en geteken word. Eindelik is dit sover. Moses onthou nog goed (vs 11): En aan die einde van veertig dae en nagte het die Here my die tafels van die verbond... Voel u die spanning van die grootoomblik? Eindelik is dit sover. God stel sy beloftes, wat ons tot nou toe slegs via die mond van Moses gehoor het, vir sy volk op skrif.

So ontvang Moses, diep deurdronge van die magtige van hierdie oomblik, uit God se hand die kliptafels, die tafels van die verbond...

Maar dan, wat hy dan hoor is soos 'n yskoue stort.

Staan op, klim hiervandaan gou af, want jou volk wat jy uit Egypte uitgelei het, het verderflik gehandel.

Met daardie woorde word eintlik die handtekening op die trouakte van die Verbond onmiddellik weer deurgeskrap.

Sal Israel My volk wees? Nee, jou volk Moses! Red jouself met daardie volk Moses. Jy het daardie mense uit Egypte gehaal. Jy is met hulle op pad. Sien maar waar jy uitkom. Maar Ek wil met hulle niks meer te doen hê nie. Amper sarkasties volg nog: Hulle het wel gou afgewyk van die weg wat ek hulle beveel het.

Om te trou en op die dieselfde dag egbreuk te pleeg, dit is inderdaad gou. Dis glad nie 'n wonder dat die Here die hele ding onmiddellik wil stopsit nie. Hy haal 'n streep deur die verkiesing. En dat Israel nakomelinge is van Abraham, Isak en Jakob, dit help ook niks meer nie. Dis klaar!

Wat die mooiste kon gewees het, het nou tot die verskriklikste geword. En as Moses dan met sy tafels die berg afkom en sien wat by die volk aangaan, dat hulle inderdaad 'n goue kalf gemaak het om dit te aanbid, dan smyt hy die tafels stukkend.

Uit woede, teleurstelling, drif? Ek vermoed Moses was 'n driftige mens, maar dit was tog die enigste regte reaksie?

Gooi stukkend die kliptafels! Vat die trouakte - en skeur dit middeldeur en versnipper dit in duisend stukkies!

Die kliptafels beteken mos niks meer nie. Terwyl die bruidegom bo op die berg besig was om sy handtekening in te vul, bedryf die bruid onder aan die berg skaamteloos owerspel. Dit is wat hier gebeur het. Wel, erger, onterender, beledigender, profaner is nie denkbaar nie.

Klaar! Vergeet daarvan, die hele verbond.

Daar is nog een ding te doen, weg met die volk. Gaan eenkant staan Moses, dat Ek hulle kan verdelg. Want hulle is vir my erger as die Kanaaniete, met hul goddeloosheid!

Daarmee die 3e punt: WAAROP MOSES IN SY VOORBEDE PLEIT

"En ek het neergeval voor die aangesig van die Here", vs 25. Vir die tweede keer begin Moses 'n periode van 40 dae se vas en bid.

Ongelooflik eintlik, gemeente. As ons onsself 'n bietjie die posisie van Moses probeer indink, dan moet tog Moses se eie teleurstelling seker so groot wees as die Here se teleurstelling. Hy het tog maar leiding gegee aan die volk. Hy het vir hulle steeds gesê: Die Here is met ons. Hy is julle God en julle is sy volk.

Vir Moses was tog die bevestiging van God se beloftes, swart op wit, in klip gegraveer, die hoogtepunt van alles wat tot nou toe gebeur het. Al die inspanning en opoffering wat hy gegee het, sal nou vergoed word as hy die verbondsakte kan saamneem en vir die volk wys. En dan so 'n teleurstelling.

Moses self moet hom ook bedroe gevoel het deur die volk. Ook vir hom was dit die einde. Klaar met die volk! Ek is nie lange beskikbaar as leier nie! Vir so 'n volk!

En tog, buig Moses hom neer. Weer vas hy en bid hy veertig dae en nagte om God tot ander gedagtes te beweeg.

In hom sien ons iets van die krag van die Middelaar wat met God stry oor die redding van die volk. Die Middelaar wat homself heeltemaal wegsyfer terwille van die behoud van die volk. Liewers wil hyself gedood word as wat die Here die volk verdelg.

En so sien ons hier in Moses al iets van die Christus wat met sy voorbidding intree by die Vader. Alleen die verskil is natuurlik: dit is Christus wat steeds met die voorbidding in tree by die Vader omdat Hy altyd lewe om vir die gelowiges te pleit.

Moses kan nie steeds tussen tree nie, want sy lewe is nie ewig nie. Dus 'n volmaakte Middelaar kan Moses nie wees nie, maar in sy optrede hier as Middelaar bewerk hy tog baie, die behoud van die volk, die afwending van die doodsdreiging.

Nee, Moses bid nie om vergewing van die sonde by Horeb nie. Dit sou op hierdie oomblik te goedkoop wees. Vergewing is 'n te kosbare woord, 'n te dure saak om hier ter sprake te bring. God sal vir vergewing later sy eie Seun beskikbaar moet stel.

Nee, Moses vra maar net afwending van die onmiddellike doodsdreiging. Afwending van die totale vernietiging van die hele volk.

Want toe die Here gesê het: Jou volk, wat jy uit Egypte uitgelei het, toe het Moses geweet hoe laat dit is. Die hele verbond staan tans op die spel. Jou volk!... Dit klink baie onheilspellend.

Ook Aaron was direk by die sonde met die goue kalf betrokke, dus ook van sy kant, kan nie 'n bemiddelingspoging verwag word nie (vs 20).

En dan begin Moses self bid:

Here HERE. Let op daardie dubbele Naam.

Hy spreek God aan as die Almagtige. (kleine letters: Here)

En tegelyk as Jahwe - Die Naam wat so nou verbonde is met die uittog uit Egypte. God se Verbondsnaam: HERE.

Here HERE, stort u volk en u erfdeel nie in die verderf nie.

Hoor u: u volk en u erfdeel. Teen die Here se woorde in: Moses, jou volk, wat jy uit Egypte gelei het, sê Moses: Here, dis u volk, u erfdeel.

Moses gebruik die mooiste woorde uit die Verbond. Dalk durf hy tans nie die woord: u uitverkore volk gebruik nie, maar die woorde wat hy gebruik is is tog baie na daaraan.

In die verband noem hy ook die Vaders Abraham, Isak en Jakob. God se verkiesing het na hulle uitgegaan. En daarom sê Moses hier: Let, Here, op die vaders en sien nie na die kinders nie!

Nou, hier klink dit vir ons dalk 'n bietjie vreemd. Hoe goed is dan die Vaders wel? Maar hulle was tog ook groot sondaars? Soos ons bid: Doe dit om Christus ontwil, bid Moses amper: Doen dit omwille van Abraham, Isak en Jakob!

Maar dis nie wat Moses bedoel nie. Hy wil eerder sê: Here, u het tog 'n begin gemaak met hierdie volk deur Abraham, Isak en Jakob te roep. Laat dan nie los wat u hand begin het nie. God se genade moes ook al betoon word aan die sondaars Abraham, Isak en Jakob. En tog het God met hulle ook verder gegaan.

Moses het nog 'n tweede argument, 'n tweede pleitgrond: Here, wat van U Naam in die wêreld? Veral onder die Egyptenare. Juis die Egyptenare moes diep hulle nekke gebuig het onder die geweld wat die Here toegepas het by die uitleiding van sy volk. Hulle sal nog steeds op wraak bedag wees, om die Naam van Jahwe as 'n magtelose voor te stel. Jahwe sien nie kans om 'n volk te verlos nie. Hy is 'n hatende God wat verteer almal wat in Sy nabyheid kom. Die Egyptenare sal nooit kan verstaan wat die Here beweeg het om sy volk te vernietig nie.

En so pleit Moses: Here, die eer van u Naam is in geding!

U Naam in die wêreld. U Naam as Almagtige en U Naam as Jahwe. En daarmee pleit Moses op die enigste wat iets kan help.

Nie terwille van ons, uiteindelik ook nie terwille van ons vaders nie, maar terwille van Uself en die heerlikheid van U Naam.

Daarom Here, moenie die volk verdelg nie!

Hulle is tog u volk en u erfdeel. Nie myne nie. Uwe!

En so is die toorn afgekeer. En met hierdie les moet die volk van God Kanaan ingaan.

Julle lewe, volk van God, is 'n lewe wat ternouernood gespaar is.

Praat asseblief nooit weer van julle 'eie geregtigheid' nie, want dan breek die toorn van God sommer weer los.

En dat is vir ons almal 'n spieel, gemeente, om onsself te sien.

Julle lewe is ternouernood gered! Nie om julleself nie, maar omdat daar 'n Middelaar was, wat vir julle sy lewe opgegee het! Leef uit die besef daarvan, dat daar 'n Middelaar was (Jesus Christus) wat hom onder die brandende toorn van God begeef het met die gebed: Here, stort u volk en u erfdeel, hoe seker hulle dit ook al verdien, nie in die verderf nie. Spaar hul lewe.

Vergewe hul sonde kon Jesus Christus sê, want Hy was meer as Moses. 'n Nog groter Middelaar as Moses, deurdat Hy self die doodstraf op Hom geneem het.

Laat ons ons daarom steeds ootmoedig buig, en klein dink van ons eie geregtigheid en groot spreek van God se genade oor ons.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)