God gaan met ons saam in genade

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 33
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 33: 18-23

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 106: 1, 2
Wet
Ps. 106: 20
Gebed
L. Exodus 32: 31-34: 7
Ps. 106: 8, 9
L. Romeine 9: 14-26
Prediking
Ps. 103: 4
Gebed
Kollekte
Ps. 135: 1, 2, 8

Broeders en susters,

'n Teks soos wat ons vanoggend gekies het, kan maklik ver van ons af bly staan.

So'n wonderbaarlike verskyning van die HERE aan Moses- dit is interessant om 'n keer te lees, maar soiets gebeur mos vandag nie meer nie. Dit is 'n gebeurtenis uit 'n gryse verlede waarmee ons vandag nie so veel meer kan aanvang nie.

Die apostel Paulus bring egter hierdie gebeurtenis sommer baie meer naby ons as hy in sy brief aan die Romeine in hoofstuk 9 op ons teksverse teruggryp.

Paulus skryf in Romeine 9 oor God se vrye verkiesing. Die HERE roep 'n volk na Hom toe om sy volk te wees en met Hom saam te gaan na die totale verlossing van die lewe toe. Maar: Hy roep wie Hy wil en wanneer Hy wil.

Hy het eeue lank net die een volk Israel as sy volk saamgeneem. Maar vanaf die Pinksterdag roep Hy ook heidene om te deel in sy heil. Meer nog, Hy laat talle Israeliete los wat sy Seun nie as die Verlosser van die wêreld wou aanneem nie.

In dié verband vra die apostel: "Is daar miskien onreg by God? ". Die Israeliete mag hulleself dalk veronreg voel noudat die HERE sommer heidene in hulle plek by sy volk inlyf.

Die antwoord op dié vraag is vir Paulus egter nie moeilik nie. God het Israel in die verlede wel baie voorregte gegee, maar uit hulle self het hulle nooit regte gehad nie. Inteendeel, hulle het meer as een keer alle regte om God se volk te mag wees, verspeel.

En dan verwys die apostel na die geskiedenis van ons teks: al dadelik by die begin, toe die HERE nog besig was om 'n verbond met Israel te sluit in die Sinaiwoestyn, het die Israeliete alles verbrou en dit verdien dat God die hele volk in die woestyn sou uitgeroei het.

Maar ook toe alreeds het die HERE indrukwekkend duidelik gemaak dat Hy die God van genade en ontferming is. As Hy met mense wil saamgaan en saamlewe hier op aarde, het niemand dit verdien nie. Dit is alleen aan sy genade te danke.

Paulus skrywe daarom: "Dit hang nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is". Jou goeie wil, jou ywer om in die weë van die HERE te wandel is 'n heeltemal onvoldoende fondament om met God te kan saamgaan. Jy is aan sy genade uitgelewer.

Dié les moes die Jode in Paulus se dae leer.

Van dié les moet u en ek nog steeds lewe, broeders en susters. Dié boodskap wil ek daarom vanoggend weereens aan u voorhou.

Ek verkondig u:

GOD GAAN MET ONS SAAM IN GENADE

DIT HET HY AAN MOSES DUIDELIK GEMAAK

  1. IN 'N NUWE OPENBARING
  2. IN 'N NUWE NAAM

1. In ons teks vra Moses vir die HERE of hy God se heerlikheid mag sien.

Uit die reaksie van die HERE op hierdie vraag begryp ons dat Moses die HERE reg in die gesig wil kyk: hy wil God se aangesig sien.

Hy het die goddelike glans van God se aanwesigheid reeds indrukwekkend sien straal, maar daar het steeds 'n nadruklike afstand gebly: die vuurglans het buite bereik gehang bo op die berg Sinai; of dit was bedek deur 'n wolk telkens as dit verskyn het aan die ingang van die tent wat Moses buite Israel se laer opgeslaan.

Daarom wil Moses nou hê dat selfs dié laaste afstand moet wegval en dat Hy een keer mag deurdring tot in daardie ontoeganklike lig om God 'n oomblik in die oë te mag kyk.

Waarom vra Moses dit?

Hy het dan alreeds so veel van die HERE mag sien! Saam met Aäron en sy seuns en 70 verteenwoordigers van die volk het hy in die troonsaal wat God tydelik op die Sinaiberg ingerig het, mag binnegaan en die HERE daar ontmoet. Die HERE het Homself daarby weliswaar aangepas aan die bevattingsvermoë van die mens en waarskynlik die gedaante van 'n mens aangeneem; maar sy goddelike majesteit was darem indrukwekkend. En hulle mog voor sy aangesig eet en drink.

Was dié ontmoeting nog nie genoeg nie? Of het dié ontmoeting Moses dalk nuuskierig gemaak. Wil hy nou alles weet, weet hoedat dit is om die HERE in sy ware goddelike gedaante te aanskou?

Wat soek Moses?

Om Moses se vraag te kan verstaan, moet ons daarmee rekening hou, gemeente, dat daar na dié indrukwekkende ontmoeting wat Moses en Aäron hulle onlangs nog met die HERE gehad het, weer 'n groot afstand tussen God en Israel ontstaan het.

God het 'n verbond met Israel gesluit. Hy wou hul God wees, hulle mog sy volk wees. Hy wou voortaan in liefde met hulle saamgaan. Ja, onder hulle woon en sy aanwesigheid wys.

Maar terwyl die HERE nog besig was om die bou en die inrigting van sy woning in Israel se midde te bespreek, maak die volk die samelewing al dadelik onmoontlik deur terug te val in die heidendom. Hulle bou 'n goue kalf en verval tot 'n afgodiese feesviering.

Daarmee het hulle die verbond wat die HERE met hulle gesluit het, meteens weer verbreek sodat Moses besluit om ook die twee kliptafels waarop die HERE die verbondswet geskrywe het, maar te verbreek. Daardie wet was bedoel as die fondament waarop God die verbond wou bou. Dit moes daarom onder God se troon in God se tentwoning gebêre word. Maar deur hierdie sonde van Israel is alle grond vir 'n verbond van God met hierdie mense weggebreek.

Wie is u en ek, broeders en susters, om ons hier te verbaas en te vererg oor Israel? So is die mens na die sondeval! Soos Israel toe was, so is ons. Die een oomblik is ons diep beïndruk deur die blyke van God se aanwesigheid in ons lewe, die volgende oomblik het ons heeltemal van sy gebooie vergeet en krenk ons Hom deur ons handel en wandel. Eintlik kán ons glad nie met God saamwoon en saamgaan nie.

Die HERE dreig dan ook om die hele volk Israel uit te roei. Hy beskou dit nie meer as sy volk nie. Kyk hoe praat Hy met Moses (32: 7): "Jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel".

Dié ramp, dat God die hele volk in een keer deur sy vuurgloed verteer, kan Moses afweer deur 'n beroep te doen op God se groot Naam onder die volkere. Hoe sal hulle spot as hulle hoor dat Israel wel uit Egipte uitgelei is, maar nooit die beloofde land Kanaän bereik het!

Maar daar bly 'n demonstratiewe afstand tussen God en sy volk. Dit was die bedoeling dat die HERE in die midde van Israel se laer 'n eie tent sou ontvang, die tent van samekoms, soos Hy dit self op die berg vir Moses genoem het. Daarin wou Hy in die midde van sy volk woon.

Maar nou slaan Moses so'n tent van samekoms êrens buitekant die laer op, ja, ver van die laer af. Te midde van so'n goddelose volk wil Hy nie meer woon nie.

Net as Moses in daardie tent ingegaan het, daal die HERE in 'n wolk 'n oomblik neer voor die ingang van die tent om met Moses te praat. Daarna trek God Homself dadelik weer terug.

God weier ook om langer met hierdie volk saam te gaan Kanaän toe. Hy sál hulle in daardie land bring, soos Hy eendag beloof het. Ter wille van sy groot Naam, sodat die volke rondom geen rede kry om te spot nie.

Maar die HERE gaan nie langer persoonlik saam nie. Hy sal 'n engel saamstuur. Dié moet hulle maar Kanaän bring.

Maar dan gaan Moses in die bres staan vir die volk. En hy probeer stap vir stap die afstand tussen die HERE en sy volk verklein. Hy hét reeds voorkom dat die HERE die hele volk in een keer verdelg het. Hy het daarby so ver gegaan dat hy homself in die plek van die volk voor God geplaas het. Hy was as borg bereid om vir ewig uit God se boek uitgedelg te word, as die volk daardeur vergewing kon kry.

Dié offer het God nie aanvaar nie. Geen sondige mens kan vir ander mense die losprys betaal nie. Daarvoor moes daar eendag 'n beter Borg, die volmaakte Mens, God se eie Seun, aarde toe kom.

Maar Moses se offerbereidheid het wel tot gevolg gekry dat die HERE belowe het om Israel darem in die beloofde land te bring.

Dog nie God self nie, maar 'n engel sal saamgaan.

Daarom werp Moses hom opnuut in die stryd. Met net 'n engel vooraan wil Moses nie optrek nie. Nee, die HERE Sélf moet persoonlik weer met Israel optrek.

En die wonder gebeur, broeders en susters: ook hiertoe láát God Hom vermurwe.

Ten spyte van alles wat gebeur het, beloof die HERE om weer self met Israel saam te gaan. "Sy aangesig" sal weer meegaan, staan daar as ons die Hebreeuse teks letterlik vertaal.

God se aangesig- u sal die betekenis verstaan: God draai nie langer die rug vir sy volk nie. God se vriend'like aangesig straal weer vrolikheid en lig. Die HERE sal weer persoonlik betrokke wees by hierdie volk en hulle weer fyn dophou. Met ander woorde: dit is weer goed tussen God en sy volk.

U ken daardie Hebreeuse segswyse uit die seën wat u elke Sondag saamkry as u die kerk verlaat: "Die HERE sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees. Die HERE sal sy aangesig oor u verhef en u vrede gee".

Moses het die pleit gewen. God gee Hom aan hierdie pleitbesorger gewonne.

Israel kan verder met God na Kanaän toe.

En dan kom daar die opmerklike vraag van ons teks: "Laat my tog u heerlikheid sien". Ek het alreeds gesê: dit beteken Moses wil die HERE 'n oomblik reg in die gesig kyk.

Waarom vra Moses dit?

U verstaan nou natuurlik, broeders en susters, dat dit regtig nie 'n persoonlike nuuskierigheid van Moses is nie. Moses is nog nie heeltemal gerus nie. Hy soek die duidelikste sigbare demonstrasie dat God inderdaad weer persoonlik met sy volk sal saamgaan; en dat dit regtig weer heeltemal goed is tussen God en sy volk. As God dan belowe dat Hy sy gesig weer na Israel sal draai, wil Moses God ook in die gesig kyk.

Moses gaan tot aan die grens met sy versoek, gemeente. Maar eerder is sy hart nie gerus nie.

En dan word die wonder nog groter. Want God is bereid om ook aan hierdie verregaande versoek van die voorbidder vir sy volk tegemoet te kom.

Ook Hy gaan tot die uiterste toe en sál die oortuigende bewys gee dat Hy opnuut in liefde met Israel wil saamgaan.

Sy totale heerlikheid kan Hy nie wys nie. Dit sou Moses se dood word. Selfs die engele kan die glans wat die HERE uitstraal nie sommer verdra nie. U weet mos: Jesaja het hulle gesien met 3 pare vleuels, waarvan een paar nodig is om hul gesig te beskerm teen God se heerlikheid.

Maar die HERE sal Moses in 'n skeur in die rots plaas en aan hom verbygaan sodat Moses die naglans mag sien nadat God verby is. Miskien kan ons dit met die son vergelyk: niemand kan sommer in die stralende son kyk nie. Wie so probeer sal blind word. Maar wanneer die son ondergaan, is dit wel moontlik om na die agterblywende gloed en glans te kyk; en daardie aandlug kan 'n wonder van skoonheid wees.

So ontvang Moses die asemberowende bewys dat die HERE in liefde na sy volk teruggekeer het en opnuut in 'n verbond met Israel wil saamlewe. Moses moet twee nuwe kliptafels in sy hand hou as die HERE verbykom. Twee nuwe kliptafels waarop opnuut die wet van die verbond vasgelê sal word. Tog weer 'n verbond, ondanks soveel sondes!

Waarom het God Moses so ver tegemoet gekom, broeders en susters? Ter wille van Moses? Nee, ek het reeds gesê dat Moses se offerbereidheid vir die HERE nie die deurslaggewende rede kon wees om Hom weer oor Israel te ontferm nie.

Daar is maar een rede: God se wonderlike genade!

Hierdie nuwe openbaring van die HERE aan Moses stempel voortaan die geskiedenis van God met sy volk. God gaan met sy volk saam..... uit genade alleen.

Die geskiedenis vorentoe word 'n geskiedenis waarin daar nog talle konflikte sal uitbreek vanweë Israel se verbondsontrou. En daar sal nuwe situasies kom waarin die HERE Hom uit die midde van sy volk moet terugtrek omdat die sonde vir Hom onverdraaglik geword het. Dink byvoorbeeld aan die dae van Hofni en Pinehas, toe die HERE opsetlik sy troon, die verbondsark, laat buitmaak het deur die Filistyne en sy woning in Silo tot 'n leë huis gemaak het. Tereg het toe die weduwee van Pinehas haar seun "Ikabod" genoem, wat beteken: weg is die heerlikheid van die HERE.

Dink ook aan die dae waarin Esegiël geprofeteer het. Hy het die heerlikheid van die HERE uit die tempel sien verdwyn vanweë die totale terugval in die heidendom by sy volk.

Maar die hele geskiedenis is ook vol van God se terugkeer in ontferming. Telkens het die HERE die afstand tot sy volk weer van sy kant af oorbrug en besluit om tog weer in liefde met hulle saam te gaan. Waarom? Uit genade alleen! Omdat sy liefde té sterk is!

Hy het op die ou end sy eie Seun as 'n beter bemiddelaar as Moses gegee. Een wat nie net kon pleit nie, maar wat wel in die plek van die hele volk Homself deur God se toorngloed kon laat verteer. Sodat Hy dit kon bewerk dat God vir ewig met sy volk kon bly saamgaan.

Toe Hy gebore is, was daar dan ook weer die heerlikheid van die HERE op aarde: herders naby Betlehem is skielik omstraal deur die heerlikheid van die HERE. God wil weer woon by sy volk- het dit beteken! Die Immanuel was mos gebore: God met ons.

Maar opnuut moet ek sê: uit genade alleen. Niemand het dit verdien nie.

Wanneer ons dan hier vandag in 'n erediens bymekaar is en die HERE hier by ons mag weet in die Persoon van die Heilige Gees, ons wat deur God uit die heidene geroep is om ook met Hom saam te gaan en om ook te deel in sy heil - wanneer die ou wet van die Tien Gebooie hier vanoggend weer mog klink as die omgangsreël in die verbond wat die HERE met ons gesluit het - wanneer ek u aan die einde van die diens die seën van die HERE mag saamgee met die woorde: "Die HERE sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees" - sal u dan bewus wees daarvan dat dit nog steeds die ene genade van God oor ons lewe is?

Wie is u en ek dat ons dit sou verdien? Wie van ons hier het regte by God van homself? Het die HERE inteendeel nie talle redes om vir goed sy rug op ons te draai nie?

Nogtans wil Hy met ons in 'n verbond saamlewe.

Wanneer Hy Self ons by dié verbond bewaar en ons eendag in die nuwe Jerusalem die heerlikheid van die HERE mag aanskou, mooier as ooit tevore, sal ons 'n ewige lewe benodig om die HERE ewig te dank vir dié onverdiende genade.

2. Die nuwe openbaring van die HERE aan Moses kon maar van korte duur wees. Hy trek Hom netnou weer terug in die ontoeganklike lig, onsigbaar.

Maar sy Naam bly agter. In sy Naam bly Hy naby. En Hy sal daar wees so dikwels hulle sy Naam aanroep.

Want sy volk moet nie leef by dit wat hulle van Hom sien nie. Hulle moet leef by dit wat hulle van Hom weet soos Hy onder hulle Naam gemaak het.

Daarom lê die HERE die betekenis van sy genadige nuwe verskyning aan Moses vas in 'n nuwe Naam. Dit wil ek in die tweede plek nog uit ons teks aanwys.

Voordat Hy Moses Egipte toe gestuur het, het God reeds sy Naam aan Moses saamgegee: in Hebreeus: JAHWE. In ons Bybels is dit met HERE (almal hoofletters) weergegee, maar eintlik moes dit vertaal gewees het met: EK IS REGTIG DAAR!

EK IS PRESENT EN JY SAL DIT AGTERKOM.

Met dié Naam wou God by sy volk bekend staan. En dié Naam het God vervolgens in alle opsigte eer aangedoen deur die indrukwekkende wyse waarop Hy sy volk uit Egipteland uitgehaal het. Vir vriend en vyand het die HERE sy Naam waargemaak.

Maar aan daardie Naam voeg die HERE nou 'n nuwe element toe. Hy lê nou ook die feit dat Hy 'n God van genade en ontferming is, in sy Naam vas.

In ons Bybelvertaling word dit nie mooi duidelik nie, sal u daarom nog 'n slag met my na ons teks kyk asseblief? Die HERE sê in vs. 19: "Ek sal voor jou die naam HERE uitroep... " en dan moet daar nie die woordjie "maar", of, soos in die Nuwe Vertaling: "want" staan nie, maar 'n dubbelpunt: "Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. "

Dit is God se Naam voortaan: Hy is 'n God van genade en ontferming. Kyk ook maar hoofstuk 34: 6, waar die HERE aan Moses verbygaan en dan sy Naam uitroep: "JAHWE, JAHWE, BARMHARTIGE EN GENADIGE GOD, LANKMOEDIG EN GROOT VAN GOEDERTIERENHEID EN TROU... ".

Die sinskonstruksie in Hebreeus is dieselfde as by die Naam JAHWE. U weet: in ons Bybelvertaling is dit in Exodus 3 weergegee as: EK IS, WAT EK IS. Daaruit kan u aflei dat die werkwoord nog 'n keer herhaal word. Vir ons klink dit taamlik snaaks, maar dit gebeur in Hebreeus om die betekenis van die werkwoord ekstra te benadruk. Dis hoekom ek JAHWE liever vertaal met: EK IS REGTIG DAAR, of: EK IS DAAR, REGTIG!

U ken die konstruksie ook uit die woord van Pilatus tot die Jode as hulle die opskrif boaan die kruis wil laat verander: "Wat ek geskryf het, het ek geskrywe". Met ander woorde: "Ek het dit een keer geskrywe- klaar!".

Op dié wyse moet ons ook die aanvulling wat God op sy Naam JAHWE gee, vertaal: God beklemtoon die twee werkwoorde "genadig wees en ontferm". Dalk mag ons dit, gesien hoofstuk 34: 6, so weergee: "EK IS 'N GOD VAN GENADE, REGTIG. EN EK IS 'N GOD VAN ONTFERMING- JULLE KAN MAAR DAAROP STAATMAAK".

Alle aksent lê dus op God se genade en ontferming.

In die aanvulling wat die HERE in ons teks op sy Naam gee, gaan die hart van die HERE vir ons oop, gemeente.

So moet God se volk voortáán sy Verbondsgod ken. Hy is present, Hy gaan in liefde met sy volk saam en bewys aanhoudend indrukwekkend sy aanwesigheid by sy volk, maar waarom? Dit is die ene genade en ontferming! Die hele verbond rus op sy ontfermende genade. En nêrens anders op nie.

So wil Hy voortaan by sy volk bekend staan.

Hy wil hê ook ons moet Hom so ken en liefhê, broeders en susters. As die God wat in genade met ons saamgaan. So dikwels ons sy Naam in die mond neem, moet ons Hom só naby weet. En ons kán Hom so ken, want die kerkgeskiedenis is inmiddels vol voorbeelde dat die HERE sy nuwe Naam nagekom het.

Dié Naam van ons God hou ons klein, broeders en susters. Niemand van ons het die reg om hom- of haarself beter te voel as ander nie. Ons leef almal van God se genade alleen.

Ons sit hier bymekaar as 'n kerk vol sondaars. Die HERE weet dit nog beter van ons as wat ons dit van onsself en van mekaar weet. Ons verdien dit dat daar vuur uit die hemel val en dat ons almal met kerk en al verteer word. Maar ons mog ons aan die begin van dié diens beroep op die Naam van die HERE: "Ons hulp is in die Naam van die HERE..... ". En die HERE is die God van genade en ontferming. Daarom alleen kan ons hier wees.

Sal u so God se Naam bly ken, broeders en susters?

Dan mag u ook op sy Naam staatmaak.

As ons na onsself kyk, kan ons dikwels net wanhoop aan die houbaarheid van die verbond met God. Maar as ons na Hom kyk, is daar altyd 'n weg terug en 'n weg vorentoe, al het u ook in die ergste sondes geval. U hoef slegs sy Naam aan te roep.

'n Pragtige voorbeeld van so'n beroep op die Naam van die HERE lees ons in Numeri 14: 17, 18. As die HERE opnuut dreig om die hele volk uit te roei, hierdie keer omdat hulle weier om in geloof die beloofde land binne te gaan, spring Moses weer vir hulle in die bres. Maar nou kan Hy die HERE herinner aan die Naam waarmee Hy Homself benoem het in ons teks. Hoor wat sê Moses: "Laat dan nou tog die krag van die Here groot word, soos u gespreek het deur te sê: Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid... " As Moses Hom so beroep op daardie Naam wat Hy Self gekies het, kan God nie anders nie as om te sê: "Ek vergewe, volgens jou woord".

God kan vandag nog veel minder die vergewing aan ons weier, noudat sy eie Seun vir ons in die bres spring en met 'n beroep op sy dood vir ons vergewing bepleit.

Hy het mos Self sy Seun vir ons in die dood oorgegee en daarmee sy Naam as die God wat genade en vergewing wil gee, mooier as ooit tevore eer aangedoen.

Sal u so die HERE ken, broeders en susters?

Ek het 'n teks uit 'n ver verlede met u gelees. Maar uit daardie teks kom u God na u toe wat vir u 'n God van naby wil wees, ten spyte van al u sondes. En wat met u wil saamgaan, vandag en môre en tot in ewigheid.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)