Ons mag die God van die verbond ontmoet

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 24
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 24: 9-11

LITURGIE:
Ps. 5: 3, 5
Geloofsbelydenis
Ps. 5: 9
Nagmaalssformulier
Ps. 36: 2 by die voorbereiding vann die tafel
Ps. 35: 3 by die beëindiging van die tafel
Kollekte
Ps. 103: 2, 3
L. Exod. 24: 1-11
Prediking
Ps. 23: 3
Gebed
Ps. 65: 2, 3

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Elke erediens is 'n ontmoeting van die HERE met sy volk. Ons ontmoet dus ook vanmiddag weer hier in die kerk ons Verbondsgod.

Maar wie kom dit agter? !

Ons sien onsself. Ons sien mekaar. Maar wat sien ons hier vandag van die HERE?

In ons teks lees ons hoe dat die HERE eendag 'n aantal verteenwoordigers van Israel wou ontmoet êrens op 'n plato op die Sinaiberg. Dit was 'n indrukwekkende ontmoeting! Onbeskryflik. Die Bybel soek na woorde om te beskryf hóedat Moses hulle die HERE mog aanskou.

Wat beteken ons eenvoudige eredienste elke Sondag in vergelyking met daardie oogverblindende ontmoeting met die HERE?

Daardie ontmoeting van ons teks was inderdaad heerlik, broeders en susters. Ons wil vanoggend 'n slag daarna kyk. Maar ek mag aan u verkondig dat ons eredienste nog baie heerliker is.

My boodskap na aanleiding van ons teks is:

ONS MAG DIE GOD VAN DIE VERBOND ONTMOET

  1. HY KOM ONS DAARBY TEGEMOET
  2. HY SPAAR ONS DANKSY VERSOENENDE BLOED
  3. ONS WORD MET SY GEMEENSKAP GEVOED

1. Wat het Moses, Aäron, Nadab en Abihu en die ander 70 verteenwoordigers van die volk eintlik gesien, broeders en susters, toe hulle na die bergplato opgeklim het?

"Hulle het die God van Israel gesien", vertel ons teks; en nogmaals in vs. 11: "hulle het God aanskou". Maar hoe kan dit?

Die Bybel vertel mos op verskeie plekke dat niemand ooit God gesien het.

Johannes sê dit aan die begin van sy Evangeliebeskrywing: "Niemand het ooit God gesien nie", ons is aangewese op God se Eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus- Hy moet vir ons duidelik maak hoedat die Vader is.

'n Mens kán die almagtige God ook nie aanskou nie. Hy "bewoon 'n ontoeganklike lig, wat geen mens gesien het of kán sien nie", het Paulus aan sy helper Timotheüs geskrywe (6: 16). Hoe sou 'n klein en nietige mens dan hierdie alomteenwoordige en hemelhoog verhewe God kan sien?

Nogtans vertel ons teks van 'n egte ontmoeting van Moses hulle met die HERE persoonlik. En daar staan heel eenvoudig: "Hulle het die God van Israel gesien".

Hier het 'n wonder plaasgevind. God het hier vir 'n oomblik moontlik gemaak wat eintlik onmoontlik is. Hy het sy volk vér tegemoet gekom, om te onderstreep dat Hy, die heilige God, regtig 'n verbond met sondige mense wil sluit en instandhou.

Want die ontmoeting waarvan ons in Exodus 24 lees, was nie sommer 'n ontmoeting tussen die God van die hemel en die aarde en 'n klompie willekeurige mense nie.

Hierdie ontmoeting het plaasgevind in die kader van die verbondsluiting tussen die HERE en Israel. Hierdie ontmoeting was die beseëling van daardie verbondsluiting.

Aanvanklik was daar net die ene afstand tussen God en sy volk. Hy het wel na hulle neergedaal op die top van die berg. Maar sy aanwesigheid daar was so indrukwekkend en skrikwekkend dat niemand van die volk die moed gehad het om naby te kom nie. Hulle móg ook nie naby kom nie. Die gebied rondom die berg was van te vore deur Moses afgepaal en God het gewaarsku: "Pasop dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word". Elkeen wat dit sou gewaag het om na die HERE toe deur te breek om te sien, sou sterwe.

Daardie afstand was noodsaaklik sodat Israel van die hemelse majesteit van God nie aards moes dink nie.

Maar God het darem nie na sy volk toe gekom om afstand te skep nie. Hy het gekom om 'n verbond te sluit. En 'n verbond beteken mos toenadering! God het 'n samelewing in liefde gesoek. Daarvoor het die HERE hulle uit Egipte gehaal.

Daarom oorbrug God vervolgens, nadat die verbond plegtig tot stand gekom en in die Wet op 2 kliptafels en in 'n aanvullende verbondsboek vasgelê is, die afstand en maak vir 'n oomblik 'n ontmoeting moontlik tussen Hom en 'n verteenwoordiging van die volk.

74 Mans mag na Hom toe opklim en aan sy tafel eet en drink.

Wat het Moses hulle gesien, gemeente?

Uit die Skrifgedeeltes wat ek sopas genoem het, is dit duidelik dat hulle nie die HERE is sy volle heerlikheid aanskou het nie. Dit is vir enige mens onmoontlik.

Die HERE het Hom aangepas aan die bevattingsvermoë van 'n mens. Hy het sy ontsagwekkende heerlikheid ingekrimp. Hy vertoon sy goddelike grootheid op menseskaal.

Daar is verklaarders wat meen dat Moses en Aäron hulle slegs die onderkant van God se troon gesien het. Hulle reken dat die vloer van hemelsblou saffierstene wat in ons teks beskryf word, hoog bo Moses en Aäron hulle sigbaar geword het en dat hulle daardeurheen net die onderkant van iets wat soos voete gelyk het, gesien het. hulle was dan nie in God se troonsaal nie, maar daaronder.

Ons teks wek by nugtere lesing egter eerder die indruk dat hulle wel deeglik in die troonsaal wat God tydelik op die bergplato ingerig het, mog binnegaan om daar aan God se tafel te eet en te drink.

Dis opvallend dat die teks van God se voete praat.

En is vs. 11 word gesê dat die HERE "sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek het nie". Ek weet: daardie laaste uitdrukking het so'n gangbare manier van sê in die Hebreeus geword, dat mens daaruit nie teveel gevolgtrekkings mag aflei nie. Maar nogtans bly dit opvallend dat hier twee keer in menslike beelde van die HERE gepraat word.

Ons weet uit ander Skrifgedeeltes dat die HERE, as Hy heel regstreeks na 'n mens toegekom het, Homself in die gedaante van 'n mens vertoon het.

As 'n Man het Hy in Abraham se tent geëet en gedrink en met Hom gepraat oor die geboorte van Isaäk en die verwoesting van Sodom. As 'n Man het Hy snags by die Jabbokdriwwe geworstel met Jakob. In dié ontmoeting het God aan Jakob die naam "Israel" gegee.

Dit is die aanneemlikste dat die HERE opnuut in die gedaante van 'n mens Hom aan die verteenwoordigers van Israel hier vertoon het.

Die verhewenheid van God bly nadruk ontvang. Moses en Aäron hulle sien onder God se voete 'n tipe van vloer van helderbloue saffiersteen, so helder soos die hemel self. Asof die hemel hom onder sy voete bevind. Want God is bo die hemel verhewe- ons, mense, leef onder die hemel.

Daar bly ook by hierdie baie intensiewe ontmoeting steeds 'n nadruklike afstand tussen God en die mens.

Moses en daardie ander manne moes na die HERE toe opklim. Ek het 'n bietjie getel, maar dit is alreeds die 5de keer dat Moses die berg moet uitklim! God kan nie dieper na sy volk afdaal nie.

Die hele volk mag ook nie in God se tydelike troonsaal op die berg verskyn nie. Net 'n 74 verteenwoordigers. En ook hulle moet, kyk vs. 1, hulle "van ver af neerbuig".

Maar nogtans maak God 'n egte ontmoeting moontlik. Want Hy wil 'n God van naby wees, en nie 'n God van ver nie. Israel se verteenwoordigers mag voor God se troon die verbond 'n oomblik beleef. Sien en ondergaan dat die hoogverhewe God hul God wil wees en dat hulle regtig sy volk wil wees.

So is ons God, gemeente. Hy is die God wat, ten spyte van sy goddelike majesteit, by die mens wil woon en met die mens wil wandel. Hy wil in liefde met ons saamgaan en saamlewe.

Ons kan nie na Hóm toe kom nie. Ons kan ons nie by Hom aanpas nie. Daarom kom Hy na ons toe en pas Hy Hom by ons aan.

Dit het Hy daar op die Sinaiberg ontroerend gedemonstreer.

Maar Hy het dit nog veel indrukwekkender gedemonstreer toe Hy in ons Here Jesus Christus na sy volk toe gekom het. Toe het God nie net vir 'n oomblik in die gedaante van 'n mens op aarde sigbaar geword nie. Toe het God regtig as 'n mens onder ons gewoon en gewerk. Gebore soos 'n mens, geleef soos 'n mens, gewerk soos 'n mens, geëet en gedrink en geslaap soos 'n mens. Gesterf soos 'n mens.

Dit was so gewoon, so menslik dat talle mense dit nie kon aanvaar dat hierdie Jesus van Nasareth Immanuel, "God met ons", was nie. "Maar óns het sy heerlikheid aanskou", skryf die apostel Johannes. Ons het agtergekom dat in hierdie mens die Eniggebore Seun van die Vader op die aarde gekom en onder die mense gewoon het.

Vandag is ook Jesus nie meer op aarde nie, broeders en susters. Maar God het ons nog meer naby gekom. Sy Heilige Gees het in ons almal kom woon en werk. Gewone mense is vandag die middele waarmee God die verbond met ons onderhou, ons aanspreek en ons vervul van sy liefde. Dit is nog gewoner en nog minder opvallend as die mens Jesus van Nasareth. En daar is steeds mense wat vanweë daardie vergaande eenvoud God nie raaksien nie.

Maar die kerk het dit eeuelank reeds ervaar as die wónder van die gewoondheid.

Sy ervaar God se tegemoetkomende liefde daarin. Soos Calvyn dit uitgedruk het: "God kom ons swakheid op so'n wyse te hulp dat Hy ons liewer deur middel van uitleggers op menslike wyse wil toespreek, om ons te lok, as om deur te donder ons van Hom af te verdrywe".

Wat ons vanoggend en in elke erediens ervaar is nie so oogverblindend soos die ontmoeting op die Sinaiberg nie. Maar dit is des te indrukwekkender aangesien God ons nog baie meer tegemoet gekom het.

2. En die wonder daarvan word nog veel groter, as ons bewus is daarvan dat God die volste reg het om ons in die ontmoeting met Hom dood te laat neerval.

Ons teks benadruk ook dít.

Vs. 11: "Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie... ".

Kort tevore het die HERE nog vir Moses gewaarsku dat enigiemand wat dit sou probeer om deur die omheining rondom die berg te breek om God te sien, dadelik sou sterwe. Want die HERE is 'n verterende vuur. En mense is opstandige en eiewyse skepsele. Onverdraaglik in God se nabyheid.

Maar hierdie 74 manne wat tot in God se troonsaal deurdring en hulle voor God se troon neerbuig, bly darem lewe.

Waarom?

Is dit omdat die volk, soos ons vlak voor ons teks lees, vs. 7, die verbondseise van die HERE aanvaar het en gesê het: "Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister"?

Nee, selfs dié belofte was nie voldoende om 'n ontmoeting met die HERE moontlik te maak nie. Dit sal ook al gou blyk dat die volk hierdie belofte glad nie getrou bly nie.

Daar is maar een rede hoekom die HERE se verterende vuur nie uitskiet en daardie verteenwoordigers van Israel verslind nie. En dit is die verbondsbloed wat sopas gevloei het. Toe Moses van die berg af by die volk teruggekeer het, na sy eerste kontak met die HERE, het hy alles wat die HERE vir Hom gesê het in verband met die verbondsluiting gaan sit en opskryf. Gelei deur die Heilige Gees het hy alles feilloos onthou en op skrif vasgelê.

Vervolgens het hy offers laat bring en die bloed van die offerdiere opgevang en daarmee die boek, maar ook alle mense besprinkel, met die woorde: "Dit is die bloed van die verbond".

Die bloedspatsels is nog op hulle klere wanneer Moses hulle voor die HERE neerbuig op die bergplato.

Die hele verbond rus op daardie bloed. Slegs danksy daardie bloed mag hulle God sien en bly lewe.

Want daardie bloed sê dat Iemand anders eendag in hul plek sal sterwe: God se eie Seun, wat deur sy dood alle sondes uit sal wis en 'n beter en ewige verbond van God met die mense sal moontlik maak.

Toe alreeds moes dit vir God se volk baie duidelik wees dat daar maar een weg is om sonder verskrikking tot God te mag nader, en dit is die weg wat deur die versoenende bloed gebaan is. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Voortaan moes daar daaglik bloed vloei by die tent van ontmoeting waarin God sy intrek onder sy volk wou neem. Net so lank totdat ons Here Jesus Christus sy bloed tot 'n volkome versoening van al ons sondes sou vergiet.

En wee elke Israeliet wat die weg van die bloed sou ignoreer en meen hy kan ook daarsonder wel in God se nabyheid verkeer!

Ons leef inmiddels na daardie bloedvergieting op Golgotha, gemeente. Christus het God se toorn vir goed gestil en dit moontlik gemaak dat ons vir ewig in 'n verbond met God mag lewe en op hierdie oomblik Hom mag ontmoet sonder om in dié ontmoeting dood neer te val.

Is u bewus daarvan? Sonder versoening geen ontmoeting.

U mag aanhoudend die HERE ontmoet. Danksy die nuwe en lewende weg wat Christus deur sy bloed vir ons ingewy het.

Ondergaan u 'n kerkdiens nog vol ontsag, broeders en susters? Met vrees en bewing? Vol verwondering dat u danksy Christus se bloed God mag sien en bly lewe? En dus ook een en al ore om die HERE te ontmoet soos Hy in die prediking na u toekom?

Wie nou nog Hom wat spreek afwys en die ontmoetinge met die HERE nie as 'n wonder ervaar nie, vertrap die Seun van God en verag die bloed van die verbond waardeur hy aanvanklik gereinig was, waarsku die skrywer van die Hebreërbrief. En Hy sê dit nadat hy ons opgeroep het om ons onderlinge byeenkomste nie te versuim nie. Daar immers mag ons die HERE ontmoet.

Dis lewensgevaarlik om hier in die kerk te sit sonder skuldbesef, sonder vrees en verwondering. Want onse God is nog steeds 'n verterende vuur en vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God! Ook dié waarkuwing kan u lees in daardie brief aan die Hebreërs.

3. Ek sluit nie met daardie waarskuwing my preek af nie. Want die hoofboodskap van ons teks is nie dat die HERE 'n verterende vuur is nie. Inteendeel, in ons teks kom die HERE na ons toe as die God wat geen behae in die dood van die sondaar het nie, maar juis daarin dat hy lewe.

Kyk hoe eindig ons teks. Pleks van dat daardie 74 Israeliete dood voor God se troon neerval, mag hulle aan sy tafel eet en drink.

Ek weet nie of Moses en Aäron hulle self daardie kos saamgebring het van die diere wat kort tevore geoffer was, of dat die HERE vir hulle 'n maaltyd voorsien het nie.

Dit maak ook nie eintlik saak nie.

Die belangrikste is, dat mense in God se troonsaal as 't ware aan sy tafel mag eet en drink.

Dit is 'n hoë eer om deur die koning van die ganse aarde aan sy tafel genooi te word.

Maar 'n gemeenskaplike maaltyd is veral 'n teken van gemeenskap met mekaar.

Alle afstand in oorbrug. Jy eet van dieselfde tafel, jy deel dieselfde kos.

So naby wil die HERE met sy volk verkeer. Ek aanvaar dan ook dat die HERE, in die gedaante van 'n mens soos in Abraham se tent, saamgeëet en saamgedrink het.

In daardie gemeenskap het Hy hul vertroue en verwagting gevoed. Dit is regtig moontlik om met die heilige God in 'n verbond saam te lewe!

Dié maaltyd van die HERE met 'n aantal Israeliete was 'n hoogtepunt onder die Ou Verbond, gemeente. Maar dit kon ook slegs 'n insidentele saak wees. 'n Uitsondering. So intiem as daar op die Sinaiberg kon dit nie bly nie. Daar moes eers nog 'n lank pad geloop word om so'n ontmoeting tot 'n permanente saak te maak.

Wel is voortaan op 'n reëmatige basis 'n maaltyd gehou by die tent van ontmoeting en later die tempel as 'n afskaduwing van daardie maaltyd op die berg.

Ons in die Nuwe Verbond hou so'n maaltyd elke derde maand as ons saam die nagmaal vier. Ons glo mos dat by elke Nagmaal ons Here self die Gasheer is wat ons met sy gemeenskap wil voed en verkwik?

Ook dan bly daar die nadruklike herinnering aan Christus se versoenende bloed. "Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed", het Christus by die instelling van die nagmaal vir sy dissipels gesê.

Maar danksy daardie bloed mag ons in gemeenskap met die God van die verbond lewe en ons aan sy tafel laat voed en versterk.

Ons wat dit verdien om dood neer te val, mag die voorsmaak van die ewige lewe geniet.

Aan die nagmaalstafel kry ons ontmoeting met die HERE 'n ekstra dimensie. Dit is elke keer 'n hoogtepunt in ons ontmoetinge met die HERE. Ons ontvang 'n ekstra versekering dat die HERE wil hê dat ons moet léwe!

En dan mag u weet dat die HERE inmiddels reeds baie verder gekom het op sy pad met sy volk na die dag toe waarop alle sonde oorwin is en die afstand wat daar vandag nog oorgebly het, ook oorbrug is; die dag waarop ons mag aansit aan die tafel in God se Koninkryk en vir ewig ononderbroke die gemeenskap van God mag geniet.

Ons hoef ons dus regtig nie armer te voel as Moses hulle in ons teks nie!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)