Die Here vra van sy verloste volk die offer van die eersgeborenes

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 13
Preek Inhoud: 

Ps. 72: 1, 2
Ps. 72: 10, 11
Ps. 90: 1, 2, 8, 9
Ps. 78: 2, 3
Ps. 98: 1, 2
Lees: Eks. 12: 29 - 13: 10.
Teks: Eks. 13: 11 - 16.

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Vandag het ons ons Skriflesing begin by die uitvoering van die tiende plaag. Die dood van alle eersgeborenes van Egipte.

Die volk is ondanks alles wat gebeur het, nog steeds in Egipte.

Hulle is nog steeds onder slawerny van Farao.

Nou wil dit voorkom dat in hoofstuk 12 en 13 die verhaal oor die uittog skielik onderbreek word. Nog voor hulle die land verlaat, op pad na Kanaän, volg daar ineens die afkondiging van 'n aantal wette. Ons lees van drie wette: Die instelling van die Pasga, vervolgens die wet om elke jaar gedurende 7 dae slegs ongesuurde brood te eet en derdens: die offer van die eersgeborenes.

Dus drie wette middein die Evangelie van die uittog.

Dit is eintlik maar 'n vreemde plek. Die volk is nog nie eens bevry nie, en dan staan die Here al klaar met 'n hele paar wette.

Is dit nie strydig met mekaar nie? Word die Evangelie van bevryding nou nie onmiddellik beperk deur die instelling van wette nie?

Nee tog nie. Eerder die teenoorgestelde.

Hierdie wette wat God gee, is net 'n onderstreping van die vertelde heilsfeite.

Die Here sê vir Sy volk: Ek sal julle vandag verlos.

Maar nou wil Ek dat julle daardie verlossing nooit meer sal vergeet nie.

My verlossingsdade moet van nou af jul hele lewe gaan beheers.

God se wette is nie 'n belemmering van die Evangelie van bevryding nie, maar juis 'n onderstreping en bewaring van daardie Evangelie.

Julle mag nooit weer vergeet, dat Ek dit was, wat julle met 'n sterke hand uit Egipte gelei het nie.

Van die drie wette wat die Here in hierdie verband gee, wil ons vandag een nader bespreek, en wel die wet op die eersgeborenes.

DIE HERE VRA VAN SY VERLOSTE VOLK DIE OFFER VAN DIE EERSGEBORENES.

  1. Hierdie wet herinner aan lewensredding in Egipte.
  2. Hierdie wet herinner aan lewensbehoud in Kanaän.

1. Van die drie wette wat in onmiddellike verband staan met die uittog uit Egipte, die Pasga wet, die fees van die ongesuurde brode en die offer van die eersgeborenes, kan ons wel sê, dat die laaste, die meeste voorgekom het. Die Paasfees en die fees van ongesuurde brood, was uit die aard van die saak, slegs een keer per jaar.

Maar die offer van die eersgeborenes het die hele jaar deur voorgekom. Natuurlik nie die offer van 'n eersgebore kind nie. Dit gebeur gewoonlik net een keer in jou lewe. Maar in die geval van 'n boere ekonomie, soos in Israel, het natuurlik onder die vee, waarvoor die wet ook gegeld het, 'n eerste geboorte baie dikwels voorgekom.

So dring die Here met hierdie wet, baie diep deur in die daaglikse lewe van 'n Israelitiese boer.

Wat in ons teks vertel word, is uitwerking van die voorskrif wat die Here in vers 1 en 2 van hoofstuk 13, al kort saamgevat het: Heilig vir My al die eersgeborenes! Alles wat die moederskoot open onder die kinders van Israel, van mense en van diere, dit is myne.

Blykbaar maak die Here 'n besondere aanspraak op die eersgeborenes, en dan wel die eersgeborenes van die manlike geslag.

Dit sê vir ons twintigste eeuse Suid-Afrikaners dalk nie so baie nie, maar ons moet bedink dat die eersgebore seuns in Israel 'n besondere posisie inneem. As daar byvoorbeeld 'n erfenis verdeel moet word, het die eersgeborene, die grootste regte. Daarby het hy 'n sekere gesag oor die ander kinders uit die gesin. 'Die eersgeboorte reg'. Hy was die eersteling wat uit sy vader en moeder voortgekom het, en daarmee min of meer die verteenwoordiger van heel die nageslag.

Dieselfde geld vir die vee. Wie die eersgeborene aan die Here afstaan, hy sê daarmee: "Eintlik behoort alles wat gebore word aan die Here". Ons sal daarop later terugkom.

Natuurlik is daar ook 'n noue verband tussen die offer van die eersgeborenes in Kanaän en die dood van die eersgeborenes in Egipte.

Dit was die tiende en tewens beslissende plaag oor Egipte gewees. Die Here het Sy hand gelê op die eersgebore seun van Farao, en verder op alle eersgeborenes van Egipte.

En nou in verband met die voorgaande word duidelik wat dit beteken: In die eersgeborenes doen die Here 'n greep na die verteenwoordigers van die gesinne. Hy bring die dood oor heel die volk van Egipte.

Die Here pas groot geweld toe by die uitleiding van Sy volk.

Dit word nie verniet so gesê: Die Here het Sy volk met 'n sterke hand uitgelei nie. U moet daardie uitdrukking goed oplet broeders en susters.

Dit is 'n kernwoord in die Eksodus verhaal.

In Eksodus 13: l-16 vier maal. Verse 3, 9, 14 en 16.

As 'n refrein keer dit terug. Dit word daarin gehamer.

Met 'n sterke hand: Dit beteken ongeveer: God het die uittog geforseer. As Hy nie soveel geweld toegepas het nie, het dit nooit gebeur nie.

Met 'n sterke hand. Hy het die Egiptenare platgeslaan.

Dit is wat die volk goed moet onthou. God het al die eersgeborenes in Egipte in daardie nag in Sy hand geneem.

Ook die Israelitiese seuns in Egipte. Maar deur 'n wonder het die Here hulle nie doodgemaak nie, maar het Hy die eersgeborenes van Israel op besondere wyse aan Sy diens toegewy.

Hulle het nie onder die algemene eersgeborenes sterfte in Egipte geval nie, enkel en alleen vanweë die feit dat hulle aan God se Volk behoort.

Dit moes vir Israel 'n ontsaglike indrukwekkende saak gewees het. Dat God met die dood oor Egipte gekom het, maar aan hulle, aan Israel, verbygegaan het.

Daarmee het die Here aan daardie eersgebore seuns, maar tewens aan heel die volk Israel, in een keer geleer, om dankbaar te wees. Dankbaar vir die lewe.

Vanaf daardie oomblik is die lewe vir 'n seun in Israel nie meer 'n vanselfsprekendheid nie. Nou weet hulle eens en vir altyd: As God Hom met jou gaan bemoei, dan is dit ernstig: Dit beteken of jou lewe of jou dood.

Jy ontvang die lewe as jy presies doen wat Hy vra. In hierdie geval: soek veiligheid agter die bloed van die Lam.

En anders verloor jy jou lewe.

En daardie boodskap moet hulle saamneem na Kanaän.

Die feit dat hulle lewe, dank hulle uitsluitlik aan God se genade.

Aan God se reddende ingrype ten behoewe van Sy volk.

Wel, hierdie besef wil die Here lewendig hou onder Sy volk, en daarom sê Hy: Julle moet alles wat die moederskoot open, vir My heilig.

Dit beteken dus eintlik: Jy moet die eersgebore seun afstaan, teruggee aan die Here. In 'n godsdiens waaraby die offer 'n belangrike rol speel, beteken dit eintlik dat jy sy lewe weer offer aan die Here.

Maar dit wil die Here definitief nie. 'n Kinderoffer is vir Hom 'n gruwel.

Daarom kom daarvoor in die plek 'n lossing, of loskoping.

Dit beteken: In die plek van die kind, as 'n plaasvervanger, moet 'n dier geoffer word. 'n Bokkie, of by groot armoede, twee duiwe.

So word betaal vir die lewe van die kinders.

So gee die Here hul lewe weer vry, teen betaling van 'n losprys.

Elke keer as dit gebeur, is dit 'n herinnering aan die uitleiding uit Egipte. Ook toe het die Here die lewe van die eersgeborenes van Israel gespaar.

Die offer van die bokkie, het elke keer teruggewys na Egipte.

Maar dit het ook vooruit gewys.

Eendag sal God Self Sy Eersgebore Seun gee, as 'n losprys vir baie.

Dit is Jesus Christus. Die Seun van die Mens wat gekom het om Sy lewe te gee, as 'n losprys vir baie.

Hy, die eersgebore Seun van God, moet sterf, as 'n plaasvervanger, 'n representant vir heel die huisgesin van God. Deur die dood van God se eersgeborene, sal daar lewe wees vir heel die volk van God.

Deur Sy betaling gee God die lewe weer vry.

Dit moes in Israel reeds gewys word. Elke keer weer. Steeds weer as daar 'n eergeborene losgekoop is deur die offer van 'n lam. Sodat dit vir Israel nooit 'n vanselfsprekende saak sal word dat hulle mag lewe, en dat hulle in vryheid kan lewe nie.

Elke keer is hulle daaraan herinner: Geen lewe behalwe 'n losgekoopte lewe nie.

Dit was ook die bedoeling van die offer van die eersgeborene onder die vee.

Vir die Israelitiese boer beteken dit: God lê beslag op heel my lewe. My besit, my inkomste.

As hy die eersgeborene nou teruggee, beteken dit: Alles is van die Here. Wat ons het, dit is alles genadegawe.

Want in Egipte het ons dit nie gehad nie. God se sterke hand het dit vir ons gegee.

So moet Israel dankbaarheid leer. Want 'n mens, ook 'n Israeliet in Kanaän, is sommer geneig om tydens voorspoed, te vergeet om dankbaar te wees. 'n Mens vind God se genadegawes sommer gou vanselfsprekend.

Of erger nog: 'n Saak waarop jy reg het. Reg op lewe, reg op voedsel, reg op vryheid.

Wie enkel nog van regte kan praat, het by voorbaat alle dankbaarheid afgesny. Maar dit mag onder Israel nie gebeur nie. Deur hierdie wet is hulle steeds daaraan herinner: Dit was Ek, die Here, wat julle met 'n sterke hand uit Egipte gelei het. Daarom het Ek reg op die dankbaarheid van My volk. Daarom het Ek reg op julle toewyding in die diens van die Here.

Ons teks noem nog apart die eersteling van 'n esel.

'n Esel is een van die bekendste huisdiere in Israel. Maar vir die offerdiens was dit nie geskik nie.

Dit was onrein. En daarom moet 'n esel losgekoop word. In die plek daarvan moes 'n lam geoffer word. En as 'n mens die esel om watter rede ook al nie wou loskoop nie, dan moes sy nek gebreek word.

Want in 'n Israelities huis mag geen ongeloste lewe voorkom nie. Geen lewe behalwe 'n losgekoopte lewe.

2. Hierdie wet herinner aan lewensbehoud in Kanaän.

Ons het nou gesien hoe die Here hierdie wet ingestel het, vir die volk Israel. Geen Israeliet mag dit vergeet nie: Alle lewe is losgekoopte lewe.

Alle gawes is genadegawes.

Maar dit gaan die Here nie net om die volwasse Israeliet nie. In hierdie wet dink Hy ook aan die kinders van Sy volk. Aan die volgende generasie. Want ons kan maar so verstaan, dat as 'n vader hierdie wet op die eersgborenes uitvoer, dat dit onmiddellik vrae oproep by 'n kind wat dit sien.

Vader, hoekom slag u nou daardie mooi kalfie, hoekom mag hierdie liewe bokkie nie bly lewe nie?

Hoekom moet dit, en wie het so gesê?

Dit is logies dat kinders daardie tipe vrae stel. Hierdie vrae wat ongetwyfeld sal kom, moet nou deur die vaders benut word om hul kinders te onderwys. Dit is 'n plig wat die Here die vaders oplê.

Juis daarom, het die Here opdrag gegee om die Pasga te vier, die week van ongesuurde brode te onderhou, en die offer van die eersgeborenes te bring. Juis met die doel dat die kinders sou vra: Wat beteken dit?

U kry dit by elk van hierdie drie wette. Eksodus 12: 26, 13: 8, 13: 14.

Wat beteken dit, vader?

En dan moet vader vertel, die verhaal van die uitleiding uit Egipte.

Hy moet vertel van die sterke hand van God. Van die wonderlike verlossing, toe God die onmoontlike moontlik gemaak het.

Hy moet vertel dat God die lewe geskenk het aan Israel, toe die engel van die dood oor Egipte gegaan het.

En hy moet vertel van die heerlike bevryding uit die slawerny.

Jou kinders vertel van die groot dade van die Here. Dit is die eerste taak van ouers teenoor hul kinders.

Ook vandag nog.

Dit is nie die allerbelangrikste om te sorg dat jou kinders so ver as moontlik kom in die samelewing nie. Dit gaan ook nie daarom om jou welvaart en die welvaart van jou kinders, so groot as moontlik te maak nie.

As dit om welvaart gegaan het, kon die vaders in Israel mos hul eersgeborenes maar beter nie offer nie - want dit het baie geld gekos.

Maar dit gaan om die verder dra van die groot werk van God in die lewe van die ouers en die kinders.

Uit ons teks word ook duidelik dat jy as vader nie uit gemaksugtigheid jou van die hoekom-vrae van jou kinders mag afmaak nie.

Een ding mag 'n vader in Israel, by vrae oor hierdie seremonie, in elk geval nie doen nie. Hy mag hom nie slegs op tradisie beroep nie.

Op die manier van: Ja kind, ons maak in Israel nou maar so. Ons mense doen dit so, en het dit altyd al so gedoen.

Want dit was nie altyd so, dat die Israeliete die eersborene geoffer het nie.

Hulle doen dit eers sinds die groot ingrype van God in Egipte.

Daaroor moet die ouers vertel: Toe in Egipte het die Here so en so gedoen. Die heilsgeskiedenis moet aan die kinders deurvertel word.

Die Bybelse geskiedenis en ook die kerkgeskiedenis. Die kinders moet daarvan iets weet, as hulle ooit iets wil sien van die krag van God, wat Sy volk uit die nood uitredding gegee het. Die Here wat Sy Kerk altyd bewaar het. Die Here wat in onmoontlike situasies tog die regte ding gedoen het.

En dan mag ons nooit sê: Hoekom sal ons nog iets moet weet van die Reformasie in die 16de eeu? Of wat het ons te make met die Afskeiding, die Doleansie of die Vrymaking nie. Dis mos geskiedenis wat al lankal verby is. Ons lewe vandag!

Wie so praat vergeet dat hy in 'n lang geskiedenis staan.

'n Lang geskiedenis van God, met Sy volk.

Reeds in Israel wou die Here dat Sy groot werke vertel moes word. Want dit is wat die kinders nodig het om te weet, watter God hulle het. Hulle moes gedurig weer daaraan herinner word, dat hul lewensbehoud by die God van die Verbond is.

U moet goed let op vers 14: Die vader moet vir sy seun antwoord: Die Here het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei.

Let veral op die woordjie 'ons'. Daar staan nie ons vaders is uitgelei nie, of, ons voorgeslag is uitgelei uit Egipte nie. Maar die Here het 'ons' uitgelei. Daarmee wys jy dat jyself onmiddellik daarby betrokke is.

Die vader moes vir sy seun sê: Jou lewe vandag is onlosmaaklik verbonde met wat God in Egipte gedoen het. Daar is een geskiedenis, een volk, een en dieselfde God.

Die geskiedenis van God met Sy volk is altyd aktueel.

Hy het ons uit slawediens uitgelei, daarom het Hy reg op ons erediens. Reg op ons lewe.

En die reg van God op ons lewe is, dat dit nie 'n knellende band is nie, maar dat dit 'n reg is wat na die Lewe lei.

Sy aanspraak op ons lewe beteken ons bevryding van die slaafse diens aan die sonde.

In daardie aanspraak op ons lewe betrek die Here onmiddellik ook ons kinders.

God het ons en ons kinders opgeneem in 'n lang geskiedenis.

En dit is wat die kinders moet weet, en dis in die eerste plek die ouers wat dit vir hulle moet vertel.

Net soos in Israel is elke vraag van 'n kind 'n kategetiese kans.

Hoekom moet ons kerk toe?

Hoekom moet ek na katkesasie?

Waarvoor is die doop van 'n kind bedoel?

As ouers mag jy jou nooit van daardie vrae afmaak nie.

Ons maak nou maar so! of: So is ons maar gewoond. Of: Dit of dat doen ons nie. Dit is geen opbouende onderwys nie.

As ouers sal jy jou kind moet vertel van die sterke hand van God. Die groot beslissings vir die kind het al geval, toe die kind en ook die ouers nog nie eers gebore was nie.

Jy is lankal gekoop en betaal.

Losgekoop deur die Here Jesus Christus.

Jou lewe is nie maar net joune nie, maar is al van Christus.

Laat dit jou troos wees in lewe en in sterwe. Daarin is vir ons en ons kinders lewensbehoud.

Laat u kinders dit maar goed leer, ouers, en let daarop dat hulle dit goed weet:

    Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
    Dat ek aan my Heiland Jesus Christus toebehoort.
    Hy het my lewe gekoop en daarvoor betaal met Sy kosbare bloed.

As so die kinders by die huis onderwys word, dan sal hulle ook verstaan wat dit is: Lewe van genade alleen.

God het ons al genade bewys voor ons gebore was.

En God bewys ons genade noudat ons lewe.

En God sal ons genade bewys, selfs as ons moet sterwe.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)