Nadat God in Egipte die dood gebring het, eis hy in Israel alle lewe vir hom op

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 13
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 13: 11-16

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 105: 1, 20, 24
Wet
Ps. 105: 3
L. Exodus 13
Gebed
Kollekte
Ps. 78: 16-19
Prediking
Ps. 78: 3, 4
Gebed
Ps. 136: 1, 2, 9, 10, 11
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

Die wat 'n boek skryf, gee baie aandag aan die komposisie, die ordening van sy verhaal. Daar moet 'n duidelike lyn in sy betoog wees en die verhaal moet nie telkens deur hinderlike tussenvoegings onderbreek word.

Dit lyk asof Moses hom by die skryf van die verhaal van die uittog uit Egipte uit glad nie aan soiets gesteur het nie. Moet maar kyk: die vertelling van die uittog het nog maar pas begin (12: 29) of dit word al weer onderbreek deur die afkondiging van tenminste drie wette: 'n wet oor die Pasgaviering, 'n wet oor die fees van die ongesuurde brood en die wet van ons teks, die toewyding van die eersgeborenes aan die HERE.

Hoekom het Moses hierdie wette op hierdie oomblik ingevoeg in sy spannende verhaal oor Israel se wonderlike verlossing uit die Egiptiese slawerny? Hoekom het hy daarmee nie gewag tot hy met sy vertelling in die Sinaiwoestyn, by die berg Horeb, gekom het nie?

Inderwaarheid het Moses juis baie mooi na sy komposisie gekyk, broeders en susters. Hierdie wette is opsetlik juis op hierdie oomblik in die verhaal opgeneem. Juis deur hulle plek hier, midde-in die verhaal van die uittog, vra hulle ekstra aandag. Hierdie wette het naamlik alles met die uittog uit Egipte te make. Dit is nie sommer 'n klompie los, tydlose voorskrifte nie. Maar dit is voorskrifte wat bedoel is om vergeetagtigheid te voorkom. Hierdie wette moet God se groot verlossingsdade by die uittog in herinnering hou. Want die HERE ken sy volk: sy reddingswerk, voorheen so klaar geweet, word sommer weer, as ongeskied, vergeet. Dit sal helaas gou genoeg blyk in Israel se geskiedenis. Die Psalm wat ons so pas gesing het, Psalm 78, is wat dit betref een groot aanklag teen God se volk.

Maar dan is dit dus nie God se skuld as hulle sy reddingsdade sommer weer vergeet nie. God het uit die staanspoor daarvoor sorggedra dat hulle aanhoudend daaraan herinner sou word. Deur meer as een voorskrif.

Kom ons kyk vanoggend na die wet op die eersgeborenes wat ook vir ons in die Nuwe Verbond steeds 'n aansporing bevat om te bly leef vanuit God se groot verlossingsdade.

Ons hoor in ons teks:

NADAT GOD IN EGIPTE DIE DOOD GEBRING HET, EIS HY IN ISRAEL ALLE LEWE VIR HOM OP

BY DIE WYDING VAN ALLE EERSGEBORENES EIS HY NAAMLIK

  1. DIE ERKENNING VAN SY REGTE OP ALLE LEWE
  2. DIE ONDERWYSING IN SY REGTE OP ALLE LEWE

1. God se volk is eindelik vry uit die slawerny! Hulle het die gehate slawehuis agter hulle gelaat en mag agter hul God aan 'n nuwe toekoms tegemoet gaan. 'n Nuwe léwe. Want hulle het meer as net 'n slawehuis agter hulle gelaat- hulle het die dóód agter hulle gelaat!

Hulle was mos in Egipte op sterwe na dood. Hulle was die prooi van 'n wrede Farao wat hierdie volkie stadigaan wou dooddruk. Die manne is doodgebeul. Die kindertjies doodgegooi.

Maar toe was daar skielik die HERE, die God van hulle vaders wat laat blyk het dat Hy ook nog steeds húl God wou wees. Israel was steeds sy volk en as die Farao nie meer as beskermheer wou optree nie maar hom soos 'n slawedrywer gaan gedra het, sou die HERE sy regte op hierdie volk weer opeis.

Dit het 'n harde botsing geword. Net so lank tot die Farao wat nie wou buig nie, moes bars. Die land het gekreun onder God se vuisslae. Hy het sy "sterk hand" waarvan die vaders voortaan hul kinders vol ontsag moet vertel, blykens vs. 11 van ons teks, gedug laat voel. Plaag na plaag het die Farao se hardnekkigheid gebreek.

Totdat die 10e plaag die genadeslag gebring het.

Die HERE het dit uit die staanspoor laat weet: "Israel is my eersgebore seun - so veel is hierdie armetierige slawevolkie My werd, Farao!- daarom beveel Ek jou: laat my seun trek dat Hy My kan dien". Beëindig sy slawediens sodat daar weer erediens vir My kan kom. "As jy egter weier om hom te laat trek, sal Ek jou eersgebore seun laat sterwe".

God hét op die ou end Farao se eersgebore seun laat sterwe. En nie net hom nie. Om sy eie eersgebore seun te red, het God alle eersgebore seuns in Egipte doodgeslaan deur sy verderfengel, in alle huise. Ja, selfs al die eersgeborenes van die diere is doodgemaak.

Die HERE het die begin van alle lewe in Egipte in die wortel aangetas.

Maar in daardie einste huiweringwekkende nag vol dood en verderf orals, het die Israeliete ook self by die dood omgedraai. In daardie nag moes Israel leer dat hulle Verbondsgod die reg het om ook húlle, sy eie eersgebore seun, dood te maak! Daardie sterk hand waarmee God Egipte inmekaar geslaan het, het amper ook in Israel self dood en verderf gesaai.

Want in daardie nag het die HERE sy moordende engel langs álle huise in Egipte gestuur, ook die huis in die lokasie Gosen, ook die huise van die Israeliete.

En orals het daardie engel die eersgeborenes gesoek om dood te maak. Die oordeel wat die Egiptenare getref het, het God se eie volk eweseer bedreig.

Slegs die bloed van die Pasgalam aan die deurposte en bo die deur, kon Israel vrywaar vir die dood.

Indien 'n huisvader uit onverskilligheid of gemaksug sou nalaat om daardie bloed rondom sy deur te smeer, sou ook hy die volgende oggend sy oudste seun en die eerstelinge van sy vee dood gevind het.

So het die HERE in daardie nag hardhandig duidelik gemaak dat alle lewe uit sy hand kom en in sy hand lê- ook Israel se lewe. Israel moes daardie nag met 'n skok leer besef dat God die mag en die reg het om ook hulle dood te maak. Niemand verdien die lewe nie. Dat hulle nogtans ongeskonde deur hierdie vreeslike nag heen gekom het, is 'n onverdiende wonder. Dit het hulle nie aan hulleself te danke nie. Slegs omdat die HERE hulle in sy genade wou spaar en deur plaasvervangende bloed uit die dood wou loskoop, leef hulle nog en mag hulle die vryheid tegemoet trek.

Elke nuwe dag is voortaan 'n wonder van God se genade.

Maar as die HERE jou lewe op so'n indrukwekkende manier spaar en uit die dood loskoop, het Hy voortaan tog ook alle regte op jou lewe? Dan kan jy tog ook alleen nog maar lewe vír Hom? Die wat nie gesterf het in die gerig, moet wel lewe voor Gods aangesig! Lewe vir die HERE soos 'n eersgebore seun vir sy vader.

Dié les wou die HERE sy volk inskerp, toe Hy vervolgens die wet van ons teks ingestel het, met die verpligting om voortaan al die eersgeborenens aan die HERE toe te wy. Nadat God alle eersgeborenes in Egipte doodgemaak het, eis Hy alle eersgeborenes in Israel vir Hom op. Hy maak in hierdie wet duidelik dat dit voortaan een van beide is: of jy sterf, of jy leef vir die HERE.

Ons weet nie mooi of hierdie wet ook reeds tydens die woestynreis toegepas moes word nie. Maar hierdie wet was veral bestem vir strakkies, in die beloofde land Kanaän. Vry uit die slawerny en uit die aanhoudende doodsdreiging gaan Israel mos 'n land vol rus en lewensmoontlikhede tegemoet. Die ellende van Egipte sal daar al gou ver weg en lank gelede lyk. Daar sal nuwe geslagte gebore word. Maar dan is die gevaar groot dat Israel ook sommer weer God se genadige uitredding uit Egipte uit sal vergeet. En die doél van daardie uitredding.

Ons mense is mos maar so. As jy as die enigste 'n vliegramp oorleef, ervaar jy die eerste tyd elke nuwe dag as 'n wonderlike geskenk. Maar na verloop van tyd begin daardie gevoel tog slyt en verdwyn die verwondering en dankbaarheid algaande.

Ons ken dit mos ook na 'n kerkstryd waarin die HERE reformasie gegee het, gemeente. In die hitte van die stryd weet mense hulle meestal heeltemal afhanklik van die HERE en leef hulle naby Hom. Maar as die stryd gestry is en die HERE sy Kerk weer in die ruimte geplaas het, as nuwe geslagte opgroei, raak daardie gevoel van afhanklikheid en dankbaarheid al gou weer op die agtergrond.

Dit wil die HERE by sy volk, net-nou in Kanaän, dus voorkom. Ook in die goeie en rustige land Kanaän moet die besef van God se genade die lewe bly beheers. Ook daar moet Israel bly leef in die wete dat hulle die lewe genadiglik uit God se hand weergekry het sodat hulle hul lewe voortaan in sy hand sal gee.

Daarom lê die HERE net-nou in Kanaän beslag op die hele lewe van sy volk. Deur 'n veelseggende seremonieel. Alle eersgeborenes in Egipte is doodgemaak? Alle eersgeborenes in Israel is vir Hom! Hy eis dit vir Homself op en sy volk moet dit gewillig aan Hom toewy.

Die eersgeborenes -eintlik staan daar: "dit wat die moederskoot oopsluit". Dit verteenwoordig vir die HERE, net soos in Egipte, álle lewe. God verlang met hierdie wet nie van sy volk dat hulle telkens net een kind van die hele gesin, en net een stierkalfie of rammetjie uit hul groot veestapel vir die HERE afsonder nie. Maar in daardie eersgeborenes eis die Hy alle kinders en alle vee vir Hom op.

Hy het reg op alle lewe.

Want u moet u probeer voorstel wat hierdie wet in die praktyk van Israel gevra het, broeders en susters. Jou stamhouer word gebore! Die kind wat 'n belofte inhou van toekoms. Die seun wat moontlik na jou jou besigheid gaan voortsit.

Maar die HERE sê al dadelik van daardie eerste kind: nee, Hy's myne. Jy het hom van My gekry, jy gee hom aan My terug. En jy kan hom alleen van My weerkry as hy losgekoop word. Met 'n hele bedrag geld. Maar op een voorwaarde: naamlik dat jy erken dat nie jy regte op hierdie kind het nie, maar dat Ek regte op hom het.

En dat Hy vir My, tot My eer grootgemaak word.

"Heilig" vir My alle eersgeborenes, sê die HERE mos in vs 1 van hoofstuk 13: wy hulle toe aan My, tot my eer.

Maar God het nie net die eersgebore seuns vir Hom opgeëis nie. Ook alle eersgeborenes van die vee. Hierdie wet het Israel dus nie net een keer in 'n menselewe, by die geboorte van jou, oudste seun nie, maar regdeur die jaar aan God se regte op alle lewe herinner. Daar word mos by 'n groot boerdery aanhoudend nuwe diere gebore. Telkens was God daar om sy regte op te eis: so dikwels 'n bees die eerste keer gekalf het, of 'n skaap die eerste keer lammers gekry het, of die donkie sy eerste vul gewerp het. As dit 'n mannetjie was het God gesê: Dis myne! Dit was van Hom en vir Hom. Dit moes direk aan die normale gebruik op die boerdery onttrek word en in 'n aparte hokkie gesit om tydens een van die groot feeste aan die HERE geoffer te word.

En as dit nie geoffer is nie, moes dit doodgemaak word.

Die HERE sê dit in vs 13 van ons teks. 'n Donkie was nie geskik as 'n offerdier nie. Dit was mos een van die onreine diere. Daarom moes 'n esel vervang word deur 'n stuk kleinvee. Maar as daar nie sommer dadelik 'n vervangende dier beskikbaar was nie, moes die nek van die donkievul gebreek word.

Hierdie harde eis onderstreep nogmaals die erns van die saak. Dit is regtig een van beide: die lewe is vir die HERE, of dit is die lewe nie werd nie en word doodgemaak.

So het die HERE na die uitredding uit Egipte veelseggend beslag gelê op alle lewe by sy volk, gemeente. Noudat Hy Self dit uit die dood vrygekoop het, is dit van en vir Hom. En as iemand hierdie reg van Hom nie wil erken nie, sal God sy lewe, nes by die Egiptenare, in die wortel aantas.

Ons hoef vandag hierdie wet nie meer volgens die letter toe te pas nie. Ook hierdie wet is deur ons Here Jesus Christus vervul. Hy het Homself in ons plek volkome aan die HERE toegewy. So volkome dat Hy, die Eniggebore Seun van God, bereid was om die dood te sterwe wat al die eersgebore seuns van God se volk eintlik nes die eersgebore seuns in Egipte verdien het. Hy was bereid om te sterwe sodat God se volk sou lewe. Maar dan: lewe vir God!

Want God het op die dag van Golgota, nog indrukwekkender as in die nag van Egipte, duidelik gemaak dat dit vir alle lewe op aarde steeds een van beide is: óf ondergaan in God se gerig, óf lewe voor sy aangesig. Sinds die dag van Golgota is daar vir enige mens op aarde nog slegs lewe moontlik in Christus. En lewe in Christus is soos vanself: lewe vir God.

Maar dit beteken dus dat, al is ons aan die letter van die wet van ons teks nie meer gebind nie, die Gees van hierdie wet ook ons in die Nuwe Verbond steeds bly bind. En dan praat ek van die Heilige Gees, die Gees van ons Here Jesus Christus wat ons oproep om voortaan saam met Christus ons hele lewe aan God toe te wy. God verlang steeds, nee, ek moet eintlik sê: God verlang nog méér as onder die Ou Verbond, u erkenning van sy regte op u totale lewe, broeders en susters.

Ons moet anders leef en praat as die talle mense om ons heen wat aanhoudend met hulle eie regte besig is: hul reg op 'n menswaardig bestaan, hul reg op 'n eie huis, hul reg op veiligheid, hul reg op onderwys, hul reg op blanke woongebiede..... Ons moet juis baie mooi besef dat ons hoegenaamd nie regte het nie. Elke asemhaling, elke nuwe dag, elke sonstraal, elke drop reën, elke maaltyd, 'n helder verstand, ja, alles is die ene genade van God.

Kinders en 'n huis, kos en klere, 'n eie besigheid of boerdery, studie en stokperdjies, vrede en vakansie- daar is g'n mens op aarde wat dit nog verdien nie. En as u dit nogtans kry, sê die HERE: dis myne! Jy kry dit van My, uit genade danksy Christus se bloed, en Ek eis dat jy dit ook toewy aan My, gebruik vir My, om My daarmee te dien en te eer.

Dis ook vir ons nie altyd maklik om so in alles vir die HERE te leef nie. Ons beperk ons erediens aan die HERE nog veels te veel tot Sondags in die kerk en tot die daaglikse onderbrekings vir Skriflesing en gebed en miskien ook nog Psalmgesang daarby. Maar vir die res hardloop ook ons dikwels maar met die ander mense saam vir ons eie regte en ons eie planne en ons eie ideale. Asof dit heel vanselfsprekende dinge is.

Maak u u kinders in alles groot tot eer van die HERE? Of soek u ook maar alte dikwels u eie eer as die Pa en Ma van hierdie wonderlike kind?

Soek u in u besigheid in alles die voordeel van u Here? Of soek u meestal maar net u eie voordeel?

Vir ons jongmense het die eksamentyd weer aangebreek. Waarom wil julle graag slaag? Om met jou gawes jou God te dien? Of om aansien te verwerf in die oë van mense: jou maats, die onderwysers?

Sal u, sal julle onthou, broeders en susters, dat dit nog steeds een van beide is: as ons met ons hele lewe nie vir die HERE lewe nie, het ons ook geen lewe nie. Dan is ons reeds op sterwe na dood!

2. 'n Mens sal die moeilike les die beste leer as dit van kleinsaf telkens opnuut aan jou voorgehou word.

Daarom het die HERE in die wet van ons teks ook spesiaal aan die ouers opgedra om sy regte op die totale lewe nie slegs te erken nie, maar om ook hul kinders daarin te onderrig.

Kinders kom hul ouers wat dit aanbetref vanself tegemoet. Kinders vra nou maar eenmaal -en tereg- na die "waaroms". Eers as hulle nog klein is en alles wil weet: "hoekom, Mamma? Hoekom, Pappa? ".

Maar hulle begin opnuut vra as hulle groot word en selfstandig oor die lewe leer nadink; ook oor die lewe in die kerk. In die puberteit. Dan wil hulle nie sommer meer alles van die ouer mense aanvaar nie. Maar opnuut wil hulle die "waarom" weet. Hoekom gebeur dinge soos hulle gebeur? Hoekom maak ons soos ons maak? :

  • Hoekom moet ons sondags twee keer kerk toe gaan. Die meeste mense in ander kerke maak mos ook nie so nie?
  • Hoekom is daar so'n kleine aparte Vrye Gereformeerde Kerk? Hoekom gaan ons nie sommer nou saam met die Doppers nie?
  • Hoekom moet daar 'n aparte Gereformeerde Kleuterskool en Laerskool wees?
  • Hoekom mag ek nie fliek of disko toe gaan nie?
  • Hoekom mag ek daardie boek nie lees nie?
  • Hoekom mag ons daardie televisieprogram nie kyk nie?
  • Hoekom, hoekom....

Sulke vrae kan partymaal lastig wees, maar hulle is ook 'n pedagogiese kans!

'n Pa en 'n Ma mag hulle nooit van sulke vrae afmaak nie. Hulle mag nie hulle kind met 'n kluitjie in die riet stuur deur te sê: "Dit is nou maar eenmaal so, ek weet ook nie mooi hoekom nie". Of: "Hoekom mag jy nie? ! Omdat ek so sê!".

Maar in sulke gevalle moet hulle, nes die ouers onder die Ou Verbond, maar 'n oomblik rustig gaan sit en van die waaroms? van hulle kind daaroms! maak.

Ons het in Ex 13 'n pragtige voorbeeld gekry hoe 'n Pa in Israel dit vroeër moes doen. Ook daar was dit te verwagte dat 'n kind een of ander tyd sou vra, bv.: "Pa, hoekom maak Pa so met daardie vulletjie? ".

Die HERE sê: vertel maar aan jou kind dat jy vroeër nie so gemaak het nie. Vertel maar: Eendag was daar nie soveel reëls en bepalings nie. Toe het ons dit nie alte nou geneem nie. Dit kán dus wel anders.

Maar.... dit was die tyd in Egipte. Ons was toe slawe sonder toekoms. Ons was op sterwe na dood.

Maar toe het die HERE kom ingryp. Hy het ons uit daardie doodloopstraat uitgehaal, met sy sterke hand, en ons agter Hom aan saamgeneem op 'n nuwe pad waarop ons weer mag lewe! Ons is op pad na die ewige lewe.

Ons het dit nie verdien nie. Ons het die dood verdien. Maar terwyl God in 'n vreeslike nag alle eersgeborenes in Egipte doodgemaak het, het Hy ons almal gespaar. Uit genade.

Dis dié dat ek nou al my eersgeborenes aan die HERE toewy. Na daardie nag in Egipte is daar mos vir ons maar een moontlikheid meer: en dis om vir die HERE te lewe. Want as ons nou nie vir Hom wil lewe nie, is ons die lewe nie meer werd nie.

So, broeders en susters, moet ons vandag nog ons kinders rustig laat sien hoekom ons in alle opsigte ons lewe, Sondags, in die kerk, in die skool, in ons ontspanning, ja, in alles aan die HERE wil toewy.

Ons kan ons kinders ook vandag maar gerus laat sien dat dit ewentueel wel anders kán. Dat daar ook baie mense, baie kinders is wat anders máák as ons: hulle gaan inderdaad nie twee keer kerk toe nie, hulle sien nie die noodsaak van spesiale Gereformeerde onderwys nie, hulle gaan wel fliek en disko toe en sien enige program op die televisie. Hulle is baie "vryer" as ons?

Is hulle regtig? ! Of is hulle inderwaarheid slawe? Slawe van hulle eie sondige begeertes? Daardie mense en daardie kinders leef mos die meeste vir hulle eie plesier en 'n mens kan sién dat dit geen lewe is nie. Dit veroorsaak vandag al baie ellende en eindig eendag in die ewige dood.

Vertel daarom u kinders maar hoedat die HERE ons uit daardie dodelike lewe kom wegroep het na 'n lewe met Christus toe. Ons mag lewe, uit genade!

Ons jeug vandag is bekommerd oor hoe hulle in hierdie land, in hierdie wêreld sal oorleef. U as ouers moet hulle eers die wonder leer dat hulle nog mag leef!

Eers as hulle dit begin verstaan het, sal hulle ook verstaan en aanvaar waarom ons lewe so totaal vir die HERE moet wees.

Praat u wel genoeg hieroor met u kinders, broeders en susters?

Dikwels hoor ek ouer mense bekommerd praat ook ons jeug deesdae. Oor hul lewensstyl, oor hul gebrek aan kennis van God se Woord en van die kerkgeskiedenis.

Dalk is daar ook wel 'n bietjie rede om bekommerd te wees.

Maar dan moet u nie na ons kinders kyk nie, maar na uself. Is ons jeugprobleem inderwaarheid nie 'n ouer-, 'n gesinsprobleem nie?

Ons lees aan die einde van ons teks dat 'n ouer in Israel sy onderwys aan sy kind "as 'n teken op sy hand en soos 'n voorhoofsband tussen sy oë" moes dra.

Kinders vandag skryf soms hul Psalmversie of 'n ander opdrag gou op hulle hand om dit nie te vergeet nie; 'n bediende in 'n winkel maak ook wel so. So moet ouers die belangrike opvoedende les oor God se regte op ons lewe altyd byderhand hê en nooit vergeet nie.

Vroue in die Midde-Ooste het vroeër sommige sierade op die voorhoof, tussen die oë gedra. Opvallend. So moet u kinders vandag dit direk aan u kan sién dat daardie les oor God se genaderegte ook in u eie hart gegrif staan.

Met ander woorde: dit gaan nie help as ons net af en toe 'n slag met ons kinders oor ons lewe voor God se aangesig praat nie. Dit sal ons gereelde gesprekke tuis moet beheers.

Want ons is van nature ewe vergeetagtig as Israel destyds.

Maar vergeetagtigheid kan dodelik vir onsself en ons kinders wees, gemeente.

U weet mos nou: as ons van God se genade vergeet kan ons maar van die lewe vergeet! AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)