Die eerste keer wat die Here die Farao tref, betoon hy hom meteens onoortreflik

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 7: 10-12

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 135: 2, 5
Wet
Ps. 135: 8
Gebed
L. Exodus 5: 1-9 en 22-24 & 6: 27-7: 13 & 2 Tim. 3: 1-9
Ps. 37: 5, 6
Preek oor Exodus 7: 10-12
Ps. 30: 3
Ps. 106: 20 (na Doop)
Gebed
Kollekte
Ps. 74: 7, 9, 15
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Wie is die HERE nogal dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat trek? " Met hierdie uitdagende vraag het die Farao van Egipte gereageer toe Moses hom namens die HERE kom beveel het om God se volk uit die slawerny vry te laat.

"Wie is die HERE? !". Ek ken daardie God van wie jy nou praat glad nie, Moses. Hoekom sou ek Israel dan sommer laat trek?

Wel, die Farao sal die HERE léér ken. Die HERE neem die uitdaging aan. Hy sal Hom op so'n manier aan die Farao laat ken dat Farao net-nou spyt sal wees dat hy die HERE die handskoen toegewerp het. Die Farao sal agterkom hoe 'n gedugte teenstander die HERE is. Die HERE sal Hom alle hoeke van die bokskryt laat sien.

Farao is nie bereid om Israel te laat gaan nie? Selfs nie deur 'n sterke hand nie? Nou maar goed, dan sal die HERE hom met sy vuiste bykom. En met hom speel tot hy pap geslaan is.

Ja, dit word 'n indrukwekkende geveg, broeders en susters, waarvan die mense nog lank sal praat. Want die HERE kon maklik met een uitklophou die Farao uitgeslaan het. Dit het Hy egter opsetlik nie gedoen nie. Hy het die geveg oor meer as tien rondtes gerek. Hy het sy teenstander opsetlik so lank as moontlik op die been gehou om 'n speletjie met hom te speel.

Sodat die Farao nooit weer sal vra: Wie is die HERE? Ek ken die HERE nie!

Ons teks vertel van die eerste vuishou wat die HERE die Farao toegedien het: die wonder dat kieries in slange verander.

En u moet maar mooi kyk, gemeente, want in hierdie eerste klap wys die HERE meteens sy styl. 'n Styl wat Hy regdeur die eeue tot op vandag volgehou het.

Soos die HERE Hom teen die Farao in die stryd gewerp het om sy volk vry te kry, so werp Hy Hom vandag steeds in die stryd.

Dit is die aktuele betekenis van die ou verhaal in ons teks.

Die HERE wil hê ook ons, sy volk, moet weet Wie Hy is. Sodat ook ons nooit meer hoef te vra: Wie is die HERE? nie.

Kom ek wys u uit ons teks Wie u God is. Ek het die boodskap van ons teks so saamgevat:

DIE EERSTE KEER WAT DIE HERE DIE FARAO TREF, BETOON HY HOM METEENS ONOORTREFLIK

ONS KYK NA:

  1. GOD SE SPEELSE OPENINGSTREFFER
  2. FARAO SE ONVERWAGSE TEENAANVAL
  3. GOD SE EERSTE MOKERHOU

1. Die eerste vuishou wat die HERE die Farao toedien, is eintlik nog maar 'n speelse klappie, broeders en susters. Die wonder van die staf wat skielik in 'n slang verander, is nog 'n taamlik onskuldige gebeure in vergelyking met die slae wat daarna aan die Farao en sy volk toegedien sal word. God hou sy gevaarlike krag op hierdie oomblik nog in.

Die verandering van 'n staf in 'n slang is nog maar 'n "wonderteken". Later sal daar van "plae" sprake wees.

Hierdie eerste wonderteken is nog slegs so iets soos 'n visitekaartjie. 'n Eerste kennismaking met God se grootheid. 'n Eerste demonstrasie van sy krag en styl.

Die Farao wou mos weet wie die HERE is!

En wie nie wil hoor nie, moet dan maar voel.

Woorde alleen was mos onvoldoende om die Farao te laat buig voor God se regte op Israel. Moses en Aäron het daarmee begin om namens die HERE 'n vredesaanbod op die tafel te lê: "So spreek die HERE, die God van Israel: laat my volk trek". Maar op dié woorde het die Farao honend gereageer: die HERE? ! Wie is die HERE? Hy ken nie 'n HERE nie. En Hy sal Israel ook nie laat trek nie.

Inteendeel, hy sal Israel se slawearbeid twee keer so swaar maak.

Moses en Aäron moes ervaar wat die HERE van te vore laat weet het, naamlik dat Hy self die hart van die Farao sou verhard. Die HERE self het die Farao hardkoppig gemaak. So hardkoppig dat 'n mensehand hierdie heerser nie kleinkry nie.

Moses raak dan ook direk moedeloos. Ons het dit gelees. Dit lyk vir hom 'n onbegonne taak om teen hierdie verharde Farao te moet boks. "Waarom het U my tog gestuur? ", vra hy vertwyfeld.

Maar die HERE stel hom gerus. Inderdaad sal die Farao hom nie deur 'n mensehand laat dwing nie. Daarom sal die HERE nou sy goddelike hand uitsteek en die Farao laat voel Wie die HERE is. Hy wil mos nie hoor nie?

En Moses moet maar goed oplet. Want nou sal Hy self ook des te meer leer Wie die HERE is. Moet maar kyk, broeders en susters, met die woorde stuur die HERE Moses opnuut na die Farao se paleis toe, 6: 28: "Ek is die HERE".

Die eerste wonderteken waarmee Moses en Aäron vir die Farao moet wys Wie die HERE is, is vir hulleself al 'n ou teken. Hulle het dit al 'n keer eerder gebruik. Om allereers God se volk self daarvan te oortuig dat dit regtig hul God, die God van Abraham, Isaak en Jakob was wat hulle Egipte toe gestuur het om vryheid vir Israel te eis. Toe reeds het hulle Moses se staf in 'n slang verander.

Daardie ou teken kry egter voor die troon van die Egiptiese Farao 'n nuwe betekenis. Want 'n slang het vir die Egiptenare 'n meer as gewone betekenis gehad. Die slang het 'n belangrike rol gespeel in Egipte se godewêreld.

Die letterlik teks van die Bybel vra in vs. 9 en 10 spesiale aandag daarvoor deur hier 'n ander woord vir slang te gebruik as wat die HERE tot nou toe gebruik het. In die Ou Afrikaanse Bybelvertaling kom die verskil helaas glad nie tot uiting nie. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling gee die verskil wel weer, deur vanaf vs. 9 nie meer gewoon van 'n slang nie, maar van 'n "groot slang" te praat. Die ou Hollandse Statenvertaling praat selfs van "draak".

Die woord wat nou gebruik is, het naamlik 'n religieuse klank.

'n Mens sou die slang Egipte se nasionale simbool kon noem. Soos ons (nog? ) ons springbok het. En die Duitsers hul adelaar. En die Nederlanders hulle leeu.

Maar in Egipte se geval het die slang tegelyk 'n godsdienstige betekenis gehad.

Die twee hoofgode van die Egiptenare: die manlike god Osiris en sy vroulike maat Isis is soos slange voorgestel. Die Farao's het die slang as 'n diadeem gedra as die teken van hul goddelike waardigheid.

Die slang wat daar dus sommer uit Aäron se staf oor die paleisvloer seil, het daarom ongetwyfeld meer as 'n gewone skok by die Farao en sy mense veroorsaak. Die God van Moses en Aäron speel 'n speletjie met die heilige dier van Egipte! Ja, die God van Israel is blykbaar so magtig dat Hy hul gode sommer uit 'n dooie stok tevoorskyn kan roep.

Met dié verrassing open die HERE sy aanval op die Farao se selfversekendheid, gemeente. Farao wou weet Wie die HERE is? Dan weet Hy dit nou.

Die Farao het 'n wonderteken, 'n bewys van God se vermoëns gevra? Nou maar goed, hier is die bewys.

Die HERE is so groot en almagtig dat Hy dit waag om die spot te drywe met die mees heilige wesens in Egipte. Die HERE pleeg sommer heiligskennis, sonder om die toorn van die Egiptiese gode te vrees. Hy is vir die Farao nie bang nie. Hy is nie eers bang vir die Farao se góde nie.

Die Farao moet liewer bang word vir Hom!

    "Want Hy, die HEER, wat sy gedugte stoel
    bo sterre stig, sien van sy hoogtes neer;
    Hy lag en spot met wie so vrugt'loos woel
    en, magteloos, verniet sy krag verteer".

So laat die HERE Homself meteens aan die Farao ken, broeders en susters. En daarmee terselfdertyd aan sy eie volk. So mag God se volk die HERE ken: as die enige ware God wat ver verhewe is bo alle magte en afgode van mense.

Is Hy nie by voorbaat onoortreflik nie?

    "Bo al wat die mens vereer-
    groot, dit weet ek, is die HEER".

2. Ja, die HERE lyk byvoorbaat onoortreflik as daar voor die verskrikte oë van die Farao en sy mense 'n slang uit 'n staf oor die paleisvloer seil. Ek veronderstel Moses en Aäron het met 'n triomfantelike glimlaggie na die Farao gestaan en kyk. Die Farao het mos 'n oortuigende bewys gesoek dat hulle regtig die knegte van die allerhoogste God was? Wel, was daar 'n duideliker legitimasie moontlik? Die HERE is God en niemand meer en ook Farao sal voor hom moet buig.

Maar dan gebeur daar iets wat niemand kon gedink het nie. Nadat die Farao van sy eerste skrik bekom het, beantwoord hy die openingstreffer van die HERE met 'n teenaanval.

Hy roep sy raadgewers bymekaar en na oorleg ontbied hulle 'n paar belangrike Egiptiese towenaars. En 'n oomblik later seil daar nog 'n hele paar slange oor die paleisvloer. Slange uit Egiptiese kieries.

Die glans van God se wonder het in een keer verbleik. Die Egiptiese towenaars blyk ewe magtig te wees. Hulle kry dit reg om om dieselfde indrukwekkende teken te verrig! Aäron se een slang verdwyn in die niet tussen die Egiptiese slange. En die Farao? Kyk hoe het daardie selfversekerde laggie op sy gesig teruggekom.

Hy was 'n oomblik beïndruk deur Moses en Aäron se optrede. 'n Mens moet met hulle God blykbaar nie spot nie. Maar inmiddels het die HERE al weer in die Farao se aansien gedaal tot maar net een van die vele gode wat daar in die wêreld is. En die Egiptiese gode doen in elk geval nie vir die God van Israel onder nie.

Maar hoe dronkgeslaan staan Moses en Aäron terselfdertyd daar. Dit kan mos nie wees nie? Hierop het die HERE hulle glad nie voorbereid nie. Dit ruk heeltemal hand-uit! Is die HERE dan tog nie so onoortreflik soos hulle gedink het nie? Is die Farao dan tog ewe sterk as die HERE?

Ja, is die Sátan dan ewe sterk as die HERE? !

Want dit staan natuurlik soos 'n paal bo water dat dit bo-menslike kragte is wat hier in die paleis van die Farao gebeur.

Sulke wonders kry g'n mens uit sy eie reg nie. Dalk het die Egiptiese towenaars aanvanklik self ook verbaas en verskrik gestaan oor die wonder wat hom onder hul hande voltrek het. Om 'n slang so te hipnotiseer dat hy vir 'n hele ruk so styf soos 'n stok bly staan- dit het baie towenaars in daardie dae reeds gepresteer. Maar andersom: om 'n egte stok sommer in 'n slang te verander- dit was nog nooit vertoon nie. Die Satan stel hulle egter vandag in staat om die HERE se openingstreffer met 'n onverwagse teenaanval te beantwoord.

Die Satan staan aan Farao se kant om te verhinder dat God se volk die vryheid tegemoet sal trek.

Is die Satan dan ewe magtig as die HERE?

Nee, gelukkig nie, gemeente.

Die Satan kan hom heftig teen God se werk op aarde verset. Hy kan ook indrukwekkende wonders doen. En daarmee baie mense beïndruk en verblind. Hy kan die geloof van talle mense ondermyn en afbreek.

Maar als puntjie by paaltjie kom sal ons met art. 13 van die NGB en Sondag 10 van die HK moet bely dat ook die Satan en sy bose geeste so in God se hand is dat hulle hul sonder sy toelating en wil nie kan roer of beweeg nie.

Gód het in die Farao se paleissaal maar net die Satan se leisels effens skietgegee om sy geveg met die Farao 'n onverwagse wending te gee.

Maar hoekom doen die HERE dan so iets, broeders en susters?

Wat wil Hy met sulke skuiwe bereik?

Wel, in die eerste plek was die sataniese teenaanval 'n middel om die Farao nog meer te verhand in sy weiering om God se volk te laat gaan. Sodat God hom nog harder kon slaan.

Maar in die tweede plek was hierdie onverwagse sataniese teenkragte tegelyk 'n middel om Moses en Aäron in hul geloof te beproef. Hulle sou nou nog harder moet glo!

Want hul teken het skielik al sy betekenis verloor. Hulle kan hul nie langer vergaap aan die wonder wat hulle verrig het nie. Hulle kan nie langer dáárop hulle geloof en moed en vertroue bou nie. Hulle moet terug, terug na die Wóórd wat hulle van hul God saamgekry het. En op grond van daardie Woord moet hulle bly glo dat in weerwil van alle teenkragte wat hulle op die oomblik verstom, alleen die God van Israel die enige ware God is. As hulle nie dié stap terug doen nie, kan hulle g'n stap meer vorentoe nie.

Ook so moet God se volk die HERE leer ken in sy stryd vir sy volk. Hy stuur sy knegte in die stryd in en Hy gee hulle indrukwekkende bewyse van sy almag saam, maar Hy werp hulle tog ook telkens terug op Hom, op sy betroubare Woord, deur sataniese tekens te plaas teenoor die tekens wat Hy hulle saamgegee het. Die wat dan maar net bly kyk, raak van stryk en sal die moed in die skoene sink. Maar die wat in so'n situasie bly luister na dit wat die HERE klaar en duidelik gesê het, kan verder vorentoe.

So het ons Verbondsgod mos telkens gedoen in die geskiedenis, gemeente?

U weet van die talle wondertekens wat ons Here Jesus Christus verrig het in die drie jare wat Hy hier op aarde rondgetrek en gepreek het. Talle sinjale dat die Koninkryk van God naby gekom het en die ryk van die Bose teruggedryf is.

U weet ook van die wonders wat die apostels en hulle helpers in die eerste tyd na Pinkster verrig het om hul Evangelie te onderstreep.

Maar die wat hom net oor daardie wonders by die Here Jesus en later by sy kerk aangesluit het, het dit nie lank in die kerk volgehou nie.

Want die HERE het die Satan telkens toegelaat om dieselfde te presteer as die kerk. Ook buiten die kerk gebeur daar indrukwekkende dinge! En dit word maar net al hoe erger.

Die Bybel het ons daarop voorberei dat in ons dae, die "laaste dae", die antichristelike mag sy triomfe mag vier. God sal die leisels al hoe meer skietgee en die verwarring sal al hoe groter word. Want daar sal al hoe meer sataniese kragte openbaar word. Kragte wat die kerk in verleentheid stel en aan die kerk alle geloofwaardigheid sal ontneem. Die aantrekkingskrag sal by die teenstanders van die kerk wees. En as ons ons nie aan God se betroubare Woord bly vasklamp nie, sal ons nie meer weet wat om te moet glo nie.

Dit word veral vreeslik moeilik as die Satan selfs in die kerk verwarring stig deur sy skyn teenoor God se waarheid te plaas.

Daarop het die apostel Paulus sy medewerker Timotheüs voorberei in 'n brief wat hy kort voor sy sterwe geskrywe het. Timotheüs moet daarop voorbereid wees dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Die goddeloosheid van die mense sal hand oor hand toeneem. Liefdeloos, bandeloos, sedeloos, roekeloos. Die duiwel sal bly probeer om God se volk terug te kry in die slawerny van die sonde.

Maar dit word veral swaar as daar in die kerk mense begin optree wat nog wel "'n gedaante van godsaligheid" het, terwyl hulle die krag daarvan lankal verloën het. Hoe gevaarlik word dit as die Satan mense in die stryd werp wat allesins godsdienstig en godvresend lyk en wat skynbaar die waarheid in pag het, maar wat onderwyl besig is om jou oë en ore vir die waarheid toe te maak!

Kerklike leiers wat indrukwekkende teologiese werke skryf, wêreldkonferensies belê en bywoon, maar by alle mooie skyn besig is om die betroubaarheid van God se Woord in die Bybel te ondermyn. Dominees wat meeslepend kan preek en allerhande liefdadigheidsaksies loods, maar onderwyl meer liefde vir genot as vir God het......

Toe Paulus Timotheüs daarop voorberei het, het hy herinner aan Moses en Aäron se situasie in die paleis van die Farao. Soos die Egiptiese towenaars -Paulus ken uit die oorlewering in Israel selfs die name van hul leiers: Jannes en Jambres- soos hulle Moses en Aäron in verwarring gebring het deur oënskynlik die selfde te presteer as God se knegte, soos sal die skynheiliges in die kerk ook in die laaste dae verwarring bly stig.

En daarteen is maar een remedie, sê Paulus: bly by wat jy gehoor het! Bly jou vastigheid soek in God se betroubare Woord. Verkyk jou nie aan wat jy sien nie, maar vertrou op wat jy gehoor het. Slegs dan word ons nie deur die skyn van stryk gebring nie, maar sal ons nugter tussen skyn en waarheid kan bly onderskei.

Slegs dan sal ons ook bly glo dat daar 'n grens aan die mag van die Satan is en dat God op sy tyd die dwaasheid van sy skynvertoning vir almal duidelik sal maak.

Dit het mos by Jannes en Jambres al duidelik geword.

3. Want hoe eindig mos die eerste rondte tussen die HERE en die Farao in ons teks, broeders en susters?

Ja, ook sy towenaars kon hul kieries in slange verander en Moses en Aäron hulle het inderdaad 'n oomblik verbluf gestaan en kyk. Maar nie vir lank nie. Want wat gebeur toe? Aäron se slang gaan tot die aanval oor. Dis nie eers Aäron se plan hierdie nie. Aäron staan steeds beteuterd en kyk. God self gryp persoonlik in en laat sy slang van Jannes en Jambres se slange verslind, die een na die ander. Sodat daar op die ou end nog maar net die een slang van Aäron oor Farao se paleisvloer seil. In Exodus 7 staan dit eintlik nog mooier beskrywe, broeders en susters: nie: Aäron se slang het hul slange verslind nie; maar: Aäron se staf het hul stawe verslind! Met ander woorde: aan die einde van die dag is nie net hul slange weg nie, maar moet hulle selfs sonder hul stáwe huis toe. Wanneer Aäron sy slang weer by die stert vat en skielik weer sy kierie in die hand het, staan hulle heeltemal met leë hande. Alle skyn het in een keer verdwyn en Jannes en Jambres moet as belaglike dwase afdruip.

Weg is in een keer die trotse lag op die Farao se gesig. Hierdie mokerhou het hy nie verwag nie. Maar die HERE het hierdie voltreffer weloorwoë geplaas om die Farao te laat voel dat Hy nie 'n fout moet maak nie. Die God van Israel is regtig onoortreflik. Die Farao wou weet wie die HERE is? Nou weet Hy.

En op Moses en Aäron se gesig, maar ook op ons gesig, mag die bly lag maar

terugkom. Want ook ons kan nou weet wie die HERE is.

God laat sy teenstanders wel suksesse boek. Maar hulle gaan nie die oorwinning behaal die. Die oorwinning is aan Hom.

Aan die einde van die dag staan alle vyande, selfs die Satan met leë hande.

Maar ons, sy volk, mag met handevol seëninge uit die slawehuis uit met Hom saamgaan na die beloofde land toe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)