Die Here bewys homself as die lewende God in die aankondiging van die sondvloed

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 6
Preek Inhoud: 

Ps. 115: 1, 2
Ps. 115: 3, 6
Ps. 7l: 1 - 4
Ps. 76: 4, 6
Ps. 84: 5, 6
Lees: Gen. 6
Teks: Gen. 6: 5 - 8

Broeders en Susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ons leef in 'n tyd waarin 'n groot deel van die mensheid volstrek nie belangstel in religie nie. Veral in die westerse wêreld kan 'n mens praat van 'n post-christelike tydperk. Miljoene mense leef sonder geloof, sonder God, sonder hoop.

En waar dit die geval is, kom mense tot die gedagte: Jy moet van die lewe maar probeer maak wat jy daarvan kan maak. Geniet wat jy kan geniet. Die lewe is maar kort.

Ook waar mense nog wel godsdienstig is, is daardie godsdienstigheid soms maar 'n baie geringe onderdeel van hul lewe. Dikwels nie meer as 'n soort versekering waarby jy jou veilig voel as dinge fout loop in die lewe nie.

Wat daar ontbreek, is na my mening veral dit, dat daar nie 'n vorm van ampsbesef meer is nie. Mense wil nie meer aanvaar dat daar 'n opdrag van God is, om hul lewe in Sy diens te bestee nie.

Mense soek net vir 'n gerieflike lewe. As jou godsdiens jou daarby help, goed, maar as dit offers vra, nee, dan kies ons liewer 'n ander pad. Dat daar 'n God is wat aanspraak maak op ons lewe, daarvan hou ons nie.

Dit is die atmosfeer van ons tyd. 'n Lewensgevaarlike atmosfeer. 'n Atmosfeer wat ook ons kerkdeure nie verbygaan nie. Ons moet onsself altyd weer afvra, of ons nog bereid is om diens te verrig vir die Here. Of dat ons ons miskien ook reeds deur die gees van die tyd laat inpalm het nie.

Laat ons eet en drink, want die lewe is goed!

Dit was naamlik ook die atmosfeer van die tyd voor die sondvloed.

Dit het alles goed gegaan. Die mensheid ontwikkel hom voorspoedig. Die beskawing gaan met groot stappe vooruit. Die wêreld lyk goed vorentoe.

Maar die besef van God, die Skepper, wat deur Sy skepsele gedien wil word, het verdwyn. God is in die Hemel. Maar die aarde behoort aan ons, die mens!

Wel, dit is teen hierdie denkwyse dat God in opstand kom. Hy laat Hom nie uit die menselewe wegreël nie. Hy laat van Hom hoor.

Hy is die Skepper, die Lewende God wat die mens gemaak het met die bedoeling dat die mens Hom sou dien. En as hierdie mens die diens weier, dan het hy sy bestaansrede verloor. Dan is daar nie 'n rede waarom God die mens op die aarde sou handhaaf nie.

Die Lewende God vra 'n lewende geloof, en as dit geweier word, dan sal die mensheid ervaar, dat hulle met 'n Lewende God te doen het. Dan kom Hy met 'n oordeel.

Daaroor gaan dit vanoggend in die prediking. Ons tema is:

DIE HERE BEWYS HOMSELF AS DIE LEWENDE GOD IN DIE AANKONDIGING VAN DIE SONDVLOED.

Ons let op:

  1. Sy toorn oor die afval.
  2. Sy berou oor die Skepping.
  3. Sy genade aan Noag.

1. Ek hoop u onthou van die vorige preek in hierdie serie oor die boek Genesis, dat ons u aandag gevra het vir die oorspronklike indeling wat die Bybelskrywer in hierdie boek gemaak het. Die sogenaamde toledoot - indeling. Die toledoot van Adam begin in Hoofstuk 5: 1, en loop deur tot Genesis 6: 8. Daarna begin die volgende toledoot, naamlik die toledoot van Noag.

In elk geval vorm ons teks die slot van die toledoot van Adam. Vir ons oorsig mag dit nuttig wees om opnuut na die begin van hierdie toledoot te kyk. In die eerste verse val hierop die nadruk, dat God die mens geskape het na Sy gelykenis.

Dit staan daar nie sommer toevallig nie. In die skepping van die mens na God se beeld, moet ons hoor hoe sterk die mens betrokke is op God. Die doel waarvoor die mens geskape is, is dat hy God Sy Skepper, reg sou ken, en met al sy gawes sou dien. Daarvoor is ons dus geskape, om ons God te eer en te dien. En vir daardie doel het God ons as mense met skoon gawes toegerus. Maar na die sondeval het die mens daardie gawes al spoedig gaan misbruik. Hulle het hul gawes nie gebruik tot eer van God nie, maar uitsluitlik tot eer van die mens. Ons sien dit spesiaal in die ontwikkeling van Kaïn se geslag. Die kultuur het daar tot groot bloei gekom. Daar is groot uitvindings gedoen deur mense soos, Jabal, Jubal en Tubal-Kaïn. Maar dit is enkel gebruik tot eer en glorie van die mens self. Die mens het stede gaan bou, maar dit was die stad van die mens. Van die mens sonder God.

Aanvanklik het dit volledig anders gegaan by die ander lyn, wat die Bybel ons skilder. Die lyn van Set en Enos. Hulle het hul eie swakheid besef en hul versterk in die diens van die Here. Daar is die Naam van die Here aangeroep. Daar is 'n erediens begin. Dus daar vind ons die Kerk.

In die kerk is die belofte van God lewendig gehou. Hulle het geweet van die Verlosser wat sal kom om hul te red van hul sondes. Eendag sal daar Iemand kom wat die kop van die slang sal vermorsel.

Hoe lang dit geduur het, dat die nakomelinge van Set uit hierdie belofte geleef het, weet ons nie. Maar ons kry uit Genesis 5 die indruk dat mense soos Henog, wat met God gewandel het, en Lameg (die vader van Noag) eintlik maar uitsonderings was. Hulle het opgetree as profete in hul tyd. Hulle moes teen die stroom oproei. Dit beteken dat in daardie tyd ook die kerk in verval was. Alhoewel, dit was nog altyd die kerk. Hulle was draers van God se beloftes. En hulle het geweet dat hulle apart gestaan het, as God se volk, teenoor die geslag van Kaïn: die volk wat hulle self wil red sonder God in die wêreld.

Maar in hierdie situasie van apart staan kom verandering. Ons lees daarvan in die begin van Hoofstuk 6. Op 'n bepaalde oomblik in die geskiedenis, kom daar deur die uitbreiding van die menslike geslag, kontak tussen die seuns van God en die dogters van die mense. Ons sou ook kon sê: Daar kom kontak tussen die kerk en die wêreld.

En die wêreld blyk baie aanloklik vir die kerk te wees. Daar is mooi vroue en aantreklike mans. Die hoë kulturele ontwikkeling van die wêreld het hul sterk aangespreek. Wat is daarmee verkeerd? So het hulle gedink. Hierdie vroue is tog ook skepsels van God? En hulle is vriendelik en vrolik.

Watter rede kan daar wees om nie met hulle om te gaan nie? Hierdie vrae is gestel, en negatief beantwoord.

Nee, daar kan niks verkeerd mee wees nie.

En so het hulle hul vreemdelingskap op die aarde verloën. Die seuns en dogters van Set wil meedoen met die wêreld. Hulle wil ook suksesvol en voorspoedig wees.

Hierdie afval is daarop verseël met die gemengde huwelike. Die kinders van die kerk gaan trou met die kinders van die wêreld. En daarmee het hulle gebreek met die Here en Sy beloftes.

Hulle het uitsluitlik vleeslike redes by die keuse van hul huwelikmaats gehanteer. Die dogters van die mense is mooi! En hulle het die Woord van God en Sy belofte vergeet!

Hulle was mos die draers van die belofte van die vrouesaad! Die huwelike en die weg van die voortplanting wou die Here soos Hy gesê het, gebruik, om die Verlosser na die wêreld te bring. Die Verlosser wat die bedorwe Skepping sou herstel. God sou daardie Verlosser bring in die weg van huwelik en kinders kry. Eva - moeder van almal wat lewe.

Hierdie belofte het hulle vergeet!

En daarmee het hulle ook die Verbond verbreek. Dit is verlating van die weg van die Here.

Die skeiding wat God in Sy genade gemaak het, het hulle deur hierdie huwelike opgehef. Die Front van Genesis 3: 15 is hier volledig uitgevee.

Wel, dan kan God nie verder met hierdie mense nie.

God het die mens by die Skepping daartoe bestem, om Hom te eer en te dien. Maar hierdie diens word geweier. Dit beteken die einde van die kerk en feitlik ook van die wêreld. Hulle het al hul bestaansreg verloor.

Dit is ook vir ons 'n belangrike waarskuwing, broeders en susters, seuns en dogters. Spesiaal as dit gaan oor die huwelik. Want juis daar word die stryd van Genesis 3: 15 gestry of verloor.

Die doel van die huwelik is naamlik om saam die Here te dien. Om saam te kan werk aan die koms van God se Koninkryk. En daarom kan 'n kind van God nie 'n span vorm met 'n ongelowige nie.

Die eerste wêreld het ondergegaan, deurdat hulle onsuiwere redes vir die sluiting van 'n huwelik gehanteer het. Daar was net vleeslike redes.

Maar 'n huwelik van gelowiges kan net in die Here gesluit word. Waar nie die eenheid van geloof is, of nie bereik kan word nie, daar moet ons 'nee' leer sê. Om wille van Christus en Sy Koninkryk.

2. God se berou oor die skepping.

1. Vers 5 begin met: Toe die Here sien dat die boosheid groot was.

Dit herinner ons op aangrypende wyse aan die Skepping.

Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Die Here sien skerp. In die lig van Sy aangesig word die afgronde sigbaar. Die boosheid van die mens is baie groot.

Daar is niemand regverdig, selfs nie een nie.

Daar is niks goed nie.

Wel, dit kan die Heilige God nie aansien nie. Hy vind dit verskriklik dat daar soiets uit die werk van Sy hande gegroei het. Hy is nie die Onbewoë God, wat sonder hartlike belangstelling die geskiedenis laat verloop nie.

Hy het Hom aanvanklik verbly oor die werk van Sy hande. Maar van die blydskap sien ons nou die teëdeel. Daar is smart in Sy hart.

Die pyn wat God ervaar, hoor ons in die woorde: die mens wat Ek geskape het. Dit is My skepping, dit is My skepsel wat alles so volledig bederf het.

Dit berou My dat Ek hulle gemaak het.

God het die heerlikheid van die Skepping begeer, om Sy Heerlikheid te laat skitter, maar die omgekeerde het daaruit voortgekom.

Wel, dieselfde Goddelike krag, wat Hom die wêreld laat skep het, sal nou dieselfde wêreld laat terugkeer tot woes en ledig. Dit berou My dat Ek hulle gemaak het.

Nou lê hier vir ons 'n bietjie van 'n probleem. Berou, by God?

Kan dit eintlik wel? Kan God wel verander? Hy het tog geweet wat gaan gebeur.

Nou moet ons hier goed onderskei. Berou, by ons, beteken meestal: Indien ek alles van te vore geweet het, sou ek dit anders gedoen het. Berou beteken by ons dus iets soos: spyt oor 'n fout wat in die verlede gemaak is. Dit kan by God nie so wees nie. Berou is nie 'n spytgevoel by God nie.

Nee, berou by God beteken, dat God Sy handelwyse gaan verander. Ons kan dit uitsluitlik verstaan, as ons let op die verbondsverhouding, wat God met die mens aangegaan het. In die Verbond kom Hy met Sy beloftes, maar ook met Sy eise.

Hy belowe by gehoorsaamheid, seën.

Maar by ongehoorsaamheid vloek. In Sy lankmoedigheid kan Hy die uitvoering van die vloek 'n lang tyd uitstel, maar Hy hou Hom aan Sy Woord. Ook aan Sy dreigwoord.

Daarin sal Hy nie verander nie.

Maar Hy kan wel verander in Sy handelswyse teenoor ons. En dit noem die Bybel God se berou. Die seën wat Hy belowe en gegee het, verander in 'n vloek. 'n Oordeel.

Hy is mos die Lewende God. Hy wil die afval van Sy kinders nie aanvaar nie. Hy aksepteer nie dat Sy kinders opgaan in die wêreld nie. Wat gebeur het, is 'n gruwel in Sy oë.

Juis omdat Hy in Sy Verbond onveranderlik is, verander Hy in Sy optrede. Sy geduld is nie eindeloos nie.

Vreeslik is die berou van die Lewende God.

Hier kry ons opnuut 'n skerp waarskuwing. In Lukas 17 sê die Here Jesus: Soos dit gebeur het, in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die Mens. Hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in huwelik gegee, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.

Wat hier opval, is dat die Here Jesus nie die nadruk lê op die boosheid en sigbare wandade van die mense in Noag se tyd nie. Nee, Hy teken die tyd as 'n tyd waarin die gewone menselewe aangaan. Hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee. Maar... dit was 'n lewe sonder God en daaroor kom God se oordeel.

God laat die son skyn oor regverdiges en onregverdiges, maar eendag is daar nie meer uitstel nie.

Laat ons, as mense wat in die Verbond met God opgeneem is, nooit dink: Een keer in die Verbond, altyd in die Verbond nie. Een keer goed met God, altyd goed met God nie.

Die Verbond is nie 'n statiese saak nie, maar 'n lewende verhouding met 'n Lewende God.

God sal nie ongestraf toelaat, dat Sy kinders by Hom wegloop nie. As hulle almal Sy diens verlaat, dan is daar nie meer 'n rede waarom die wêreld nog sou bestaan nie.

"Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die Hemel".

Let veral op die erns van hierdie dreigement. Al wat lewe word vernietig. Daar sal niks en niemand oorbly nie. Ons moet nie te vinnig sê: Nee, maar die Here sal Noag-hulle met 'n aantal diere red, nie. Ons weet dit, maar dit staan hier nog nie.

Hier is die aankondiging van die einde van al wat leef. Insluitende die saad van die vrou. Ons moet nie te vinnig van uitsonderings gaan praat nie. Die berou van die Here is baie ernstig gemeen. 'n Donker woord van die Here, maar daar is een klein ligpuntjie: Dit is dit, die Here sê: Ek sal verdelg. Die Here sê. Dat die Here oor die vernietiging spreek, dat Hy Sy berou bekendstel, daarin lê 'n ernstige prediking. Bekeer u, solank die tyd van die oordeel nog nie daar is nie.

Daaroor verder in ons derde punt:

3. God se genade aan Noag.

Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here. 'n Sinnetjie om te lees en te herlees. Want hierin is 'n heerlike openbaring.

Daar was tot nou toe twee keer sprake van berou van die Here in ons teks, naamlik in vers 6 en vers 7.

Ons kry die indruk dat daar nog 'n derde keer van berou van die Here sprake is.

In die slot van ons tweede punt, het ons aandag gevra vir die erns van die situasie. Die Here gaan alles verdelg. Ook Noag-hulle het daaronder geval. Ook hy is 'n sondige skepsel van God, wat geen dag voor God se aangesig kan bestaan nie.

Let op die nadruklike 'maar' waarmee vers 8 begin. Maar Noag het genade gevind. Noag moes vir genade gesoek het. Dit was teenoor hom dat die Here gepraat het oor Sy berou oor die Skepping. Oor die vernietiging van al wat lewe. Radikaal.

En toe het Noag gaan bid. Hy het gesmeek. Here, wat van u belofte? Wat van die Verlosser wat sal kom om die sondes weg te doen, en om 'n nuwe mensheid te formeer? Hoe sal Genesis 3: 15 in vervulling kan gaan, as U nou die wêreld vernietig?

So het Noag gepleit... En God het Hom laat verbid. volgens vers 8. God kon onder Noag se gebed nie koud bly nie. Hy is die Lewende God. Toe het die Here opnuut berou gekry oor die kwaad, wat Hy gesê het, dat Hy oor die wêreld sou bring. Maar Noag het genade gevind. Natuurlik, dit is genade van God. Noag is nie die groot held van die sondvloed, nie die redder van die mensheid nie.

Alle roem in mense is uitgesluit.

Want dit was die Gees van Christus, wat Noag laat spreek het.

Dit was die Gees van Christus, wat Noag laat profeteer het. Die begenadiging van Noag, beteken heil vir die ganse mensheid. Ons kan Noag, en wat met hom gebeur het, uitsluitlik uit Christus verklaar.

Deur die gebed van Noag, kan die Verlosser kom. Noag het genade gevind. Genade kan net gevind word. Aan begenadiging is niks wat vanselfsprekend is nie. Daarna moet 'n mens soek. Ook ons moet soek om genade.

Eenmaal het God die wêreld wat sy amp teenoor God nie meer verstaan het nie, laat vergaan in die watervloed. Die mense het maar net geëet en gedrink en getrou. Hulle het die wêreld gekonsumeer, sonder om te vra na die opdrag van Gods weë. Ons tyd vertoon dieselfde mentaliteit. Laat ons die genade van God soek, en trou bly in Sy diens, totdat die dag van die Seun van die Mens daar is.

Heer, erbarm U.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)