In die versoeking seëvier Christus oor Satan

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-28
Teks: 
Matthéüs 4
Preek Inhoud: 

Lees: Heb 2:14-18; Heb 4:14-16
Sing: Ps 91:1,2; Ps 38:13,14,17; Ps 91:5,6; SB 28; SB 50:5-7

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die kerk op aarde bly ’n strydende kerk.  Openb 12 praat van ’n verblyf in die woestyn.  “En die vrou (die kerk) het na die woestyn gevlug waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-twee-honderd-en-sestig dae lank.”  (Openb 12:6).  Op pad na die hemelse Kanaän moet die kerk, moet julle, deur die woestyn heen.  Dit word moeilik.  En dit hou lank aan.  Die periode word in dae weergegee, 1260 dae (’n simbolies getal).  Dit word duidelik dat ons volkome van God afhanklik is.

Na Christus se Hemelvaart het die stryd verskerp.  Die duiwel weet dat sy dae getel is.  Joh hoor die uitroep: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”  Soos ’n vyand wat in ’n hoek gedryf is, trap Satan met alle geweld vas en probeer hy om verlore gebied te herower.  “Hy loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”

Elkeen van ons is by daardie stryd betrokke.  Hier dink ek nie in eerste instansie aan ’n geweldadige stryd, met fisiese wapens, nie.   Hier in Suid Afrika ervaar ons nie direkte vervolging soos in sommige ander dele van die wêreld nie.  Nee, hier is die stryd meer geruisloos, meer geraffineerd.  Hier bied Satan homself aan as ’n engel van die lig.  Hy kom selfs met die Bybel in die hand, via Christelike vriende, leiers en gemeenskappe.  Op ’n slinkse manier probeer hy die boodskap van die Bybel te neutraliseer.  Die boodskap word aangepas aan wat die mense graag wil hoor, sien of beleef: wat lekker voel.  Dit alles in naam van die Christendom. 

In ons land is daar ’n groot gebrek aan morele leierskap.  Elkeen doen wat goed is in sy eie oë.   Leuen, bedrog, korrupsie, sedeloosheid is onder ons land se leiers aan die orde van die dag.  Dit het in ons land so gewoon geraak dat die massas dit nie meer so erg vind om self ook daaraan deel te neem nie, as dit hulle pas.  Daar is baie druk op ons Christene om ons ook aan die situasie aan te pas en om op ons beurt ook maar te doen wat ons pas om ’n deel van die koek te kry.  En dan wil van alle mense juis ons huidige president Zuma ’n debat oor ’n morele kode vir Suid Afrika aan die gang sit.  Daarby wil hy graag alle godsdiensgroepe, ook Christelike organisasies,  inskakel.  Let wel onder leiding van ’n intergeloofsgroep wat ’n sterk verbinding aan die ANC het en wat kort gelede vir Zuma in die bresse getree het toe dit rugbaar word dat hy ’n buite-egtelike kind het.  Wat kan ’n mens van sulke gesprekke oor moraliteit verwag?  Ja, die Christelike vlag sal saam met die landsvlag wapper, maar wat sal die boodskap wees?  Sal God se norme weer in sy skerpte gehoor word en die gangbare sondige praktyke in ons land aangespreek word?  Of sal ons nasie onder ’n skyn van reg en Christelikheid sedeloosheid en allerlei ander sondige praktyke goedpraat en akkommodeer?

Die druk vanuit die samelewing, ook vanuit die sogenaamde Christelike samelewing is groot om God se woord en norme aan te pas.  So word baie mense deur Satan tot sonde verlei.  Tallose mense, selfs die wat hulleself Christene noem, word gevang in Satan se strikke.  Sal God nog geloof en gehoorsaamheid vind.  Daar word aan ons en ons kinders getrek.  Sal ons die versoeking weerstaan?  Of sal ons stadig maar seker meegesleur word deur die stroom wat Satan, volgens Openb 12, uit sy bek uitspoeg agter die vrou aan?

Is julle seuns en dogters, brs en srs nog in staat om anders te wees in ons huidige leuenagtige samelewing?  Is julle nog in staat om anders te dink en anders te praat oor bv geld maak, besigheid doen, vermaak, seks en mag?   Is julle in staat om julle nee teen die sonde vol te hou teenoor die groot versoeking?

Nou br, sr, seun, dogter, jy kan staande bly, as jy jou oog vestig op Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.  “Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word.” (Heb 2:18).

Kom laat ons nou kyk na Christus se versoeking aan die begin van sy publieke optrede.

Ek verkondig vir julle: In die versoeking seëvier Christus oor Satan 
Ons let op: 1. die duiwel se versoeking
2. Christus se oorwinning
3. ons troos

Die geskiedenis van die teks is nou verbind aan die geskiedenis van die voorgaande Skrifgedeelte: Die geskiedenis van Christus se doop.  Met sy doop het Christus publiek sy werk van verlossing aanvaar.  Christus se doop het gewys op sy plaasvervangende lyding.  Christus moes die doop tot vergewing van sondes vervul.  Hy moes die beker van God se toorn drink.  Nou, deur sy doop het Christus publiek hierdie verlossingswerk aanvaar.  Hy word selfs in sy amp bevestig.  Die Heilige Gees daal op Hom neer en die Vader wys hom aan as sy geliefde Seun in wie Hy ’n welbehae het.

Wanneer Christus sy werk as Verlosser publiek aanvaar, dan bereik die stryd ’n kritieke stadium.  Ons sien onmiddellik teenoor wie Christus in sy bediening te staan kom.  Die geskiedenis word beheers deur die stryd tussen die saad van die slang en die saad van die vrou.  Nou, wanneer die saad van die vrou, Jesus Christus, verskyn, dan is dit die kop van die slang wat Hy moet vermorsel.  Die groot konfrontasie begin.  Christus gaan die stryd aan met sy groot teenstander. 

Ons lees in ons teks dat die Gees Jesus weggelei het die woestyn in om deur die duiwel versoek te word.  Wie is hier in beheer?  Wie neem hier die inisiatiewe?  Nie die duiwel nie, maar God self.  God stuur sy Seun na die voorste gevegslinie.  Hy moet die owerste van hierdie wêreld, die duiwel, aanpak.  Om sy koninkryk in hierdie wêreld op te rig moet Hy hierdie vyand oorwin.  God self neem daarom die inisiatief.  God se Gees lei Jesus in die woestyn om deur die duiwel versoek te word.

Hoe anders was dit in die paradys.  Daar het die duiwel die inisiatief geneem om na Adam te gaan om hom te versoek.  Hier lei die Heilige Gees die tweede Adam na die duiwel toe om deur hom versoek te word.   Aangesien die eerste Adam aan die versoeking van die duiwel gehoor gegee het, moet die tweede Adam, Jesus Christus, hom nou oorwin.  Aangesien die eerste Adam die paradys in ’n woestyn verander het, moet die tweede Adam die woestyn nou in ’n paradys verander. 

Volgens Lukas is Jesus tydens die hele 40 dae, waarin hy gevas het, deur die duiwel versoek.  Na die 40 dae kom die kritieke fase met die drie genoemde versoekings.  Die tydstip van die eerste versoeking is goed gekies.  Christus het vir 40 dae en nagte niks geëet nie.  Hy is verskriklik honger.  Sy liggaam smag na kos.  Juis op daardie oomblik kom Satan, wat die versoeker genoem word, om Hom te versoek.  Blykbaar het hy gewag vir hierdie oomblik  wanneer Jesus se honger die sterkste is en sy weerstand die swakste. 

Die versoeking is baie groter as die van Adam in die paradys.  Ondanks die ooreenkomste.  Beide versoekings gaan oor kos.  Maar Adam se omstandighede tydens die versoeking was baie gunstiger as die van die tweede Adam, Jesus Christus.  Adam was toe in die paradys, waar alles God se liefde en guns gewys het.  Adam kon van elke boom in die tuin eet, behalwe net die een boom van die kennis van goed en kwaad.  Hy het geniet van oorvloed.  Jesus Christus daarenteen was in die woestyn, die plek van eensaamheid en verlatenheid, ’n plek wat dood en onvrugbaarheid verteenwoordig het.  Christus ly honger.  Daar is geen kos nie.  Hy was reeds 40 dae sonder kos. 

In daardie mees ongunstige omstandighede konfronteer Satan Hom.  Die versoeker suggereer: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.”  Die versoeker verskyn soos ’n engel van die lig.  Hy sluit aan by die woorde wat God die Vader by Jesus se doop gespreek het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”  Nou, sê Satan, as u God se Seun is, waarom dan nog langer hierdie verskriklike honger ly?  Wat weerhou U om U honger te stil?  U hoef mos net een woord te spreek en U kry alles wat U nodig het.  As God se Seun kan U immers hierdie klippe in brode verander.

Satan val Jesus aan op sy mees gevoelige plek: sy waardigheid as Seun van God en sy skreeuende honger.  Christus word uitgedaag om sy Seunskap te bewys deur sy nood op te hef.  Dit moet tog vir Hom geen probleem wees nie?  Is dit nie baie aantreklik vir Jesus nie?  Die versoeker weet wat hy doen.

Christus deursien egter die situasie.  Hy verwerp Satan met die woorde van sy Vader, die Skrif, die swaard van die Gees: Daar is geskrywe.  Christus herken die gevaar van misbruik van sy mag as Seun van God.  Hy sou inderdaad sonder moeite homself van brood kon voorsien.  Maar dan sou Hy sy posisie as Seun van God misbruik.  Dan sou Hy homself voorsien op ’n eiewillige en eiemagtige manier.  Hy sou dan opstaan teen sy Vader wat juis sy huidige omstandighede beskik het.

Satan versoek Jesus om sy kosprobleem in eie hande te neem, om dit self op te los, sonder sy Vader.  Satan sê feitelik: voorsien jouself van kos, daarvoor het jy God nie nodig nie.  Eet wat jy jouself voorsien, lewe uit jou eie hand.

Geliefdes, ook al het ons nie Christus se posisie en mag nie, Satan se versoeking klink baie bekend.  Hoe dikwels word ons nie versoek om ons kosprobleem, om ons toekoms en welvaart in ons eie hande te neem nie, pleks om op die Here te vertrou en op Hom te wag.  Jy moet tog vir jouself sorg?

By sy doop het Christus sy besondere taak aanvaar.  Hy het feitelik vir sy Vader gesê:  Hier is Ek om u wil te doen.  En die Gees het Hom na die woestyn gelei.  God self het Hom in hierdie onvrugbare plek gebring.  En nou moet Jesus homself aan Vader se wil onderwerp.  As Vader hom niks gee nie, mag Jesus nie eet nie.  Want Hy weet dis Vader se wil: eet wat Ek vir U gee, niks meer en niks minder nie.  “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”

Let op hierdie woorde wat Jesus uit Deut aanhaal.  Christus sê nie dat brood onbelangrik is nie.  Ook nie dat jy beide brood en God se woord nodig het nie.  Die teks sê nie: “die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar ook van die woord wat deur die mond van God uitgaan” nie.  Die  woordjie “ook” staan daar nie.  Brood alleen is nie wat nodig is nie, sê Christus.  Wat nodig is, is God se woord.  Beslissend is wat God wil, beveel, doen.  Om te lewe van elke woord wat van God uitgaan.  Die teks wys daarop dat ons heeltemal van God afhanklik is.  As Hy spreek, dan kom iets tot stand, dan kan daar selfs in die woestyn kos in oorvloed wees.  Maar as God spreek dan kan dit ook wees dat daar skielik geen kos is nie.  Alles hang af van God se beskikking, sy woorde.

Satan wil dat Christus homself van kos voorsien sonder om met Vader se wil rekening te hou.  Christus weier en bly trou aan sy Vader.  Hy wag vir Vader.  Hy misbruik nie sy goddelike mag nie.  Hy onderwerp homself aan Vader se woord.

Na sy nederlaag kom Satan met die tweede versoeking.  Hy neem Jesus na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan.  Nadat Christus die eerste versoeking met ’n beroep op God se woord afgewys het, kom Satan self nou ook met die woord van die Here.  Hy neem God se woorde op sy lippe: “As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.”   Satan haal Ps 91 aan wat sing van God se beskerming van sy geliefdes.  Satan sê as ‘t ware: hierdie woorde is spesiaal vir U geskrywe.  Vir wie sou die woorde meer toepaslik wees as vir Vader se geliefde Seun?  Die plek wat Satan vir hierdie versoeking kies, is ook goed gekies.  Praat die tempel nie van God se oneindige liefde en trou nie.  As daardie woorde van Ps 91 hier nie geld nie en vir die geliefde Seun nie geld nie, waar en vir wie dan wel?  Laat Christus wys dat Hy God se belofte vertrou: wys dat U uself aan Vader se beskermende hande toevertrou.

Hoe slim is Satan om Jesus bo Vader se huis en met Vader se eie woorde te versoek.  Jesus word op sy eie terrein en met sy eie wapens aangeval.  Ons herken dieselfde taktieke van Satan vandag.  Satan kom met die Bybel en infiltreer die kerk om die geloof van God se volk te ondermyn.  Hy probeer mense mislei deur allerlei tekste wat uit hul verband geruk word.  Hoe dikwels sien ons nie dat Skrifwoorde gebruik word om onskriftuurlike ideë en praktyke goed te praat en te bevorder nie.  Tekste word gebruik om mense weg te trek van hul volle toewyding aan die Here en sy woord.

Satan gebruik die belofte van Ps 91 om Jesus van sy toewyding aan die Vader te probeer aftrek.  Sou Jesus daarop ingegaan het, dan sou Hy sy posisie as kneg van die Here prysgegee het en sou Hy God uitgedaag het om in te gryp.

Maar Jesus laat homself nie verlei nie.  Hy deursien Satan se taktieke.  Hy lê Satan se misbruik van die Skrif bloot.  Jesus seëvier.  Hy verstaan en aanvaar sy taak as die lydende kneg van die Here.  Hy mag die Vader nie dinge opdwing nie.  “Daar is ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”  Die kneg van die Here mag sy Vader nie versoek nie.  Hy wil dit ook nie.  Hy weet dat Hy die pad moet volg, waarop die belofte van Ps 91 hom ontneem word, sodat sy volk God se sorg en beskerming sou geniet.  Hy moet deur God verlaat word, en laat hom ook verlaat sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie.

Christus se tweede oorwinning word gevolg deur die derde versoeking, die klimaks.  Satan speel sy troefkaart.  Satan verstaan baie goed dat Jesus die koninkryk soek.  Dis waarop Satan nou fokus.  Hy neem Jesus na ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hul heerlikheid.  Satan bied dit alles aan Jesus.  Jesus het gekom om die eindes van die aarde tot sy besit te maak.  Nou, Hy kan dit sommer kry.  Hy hoef net een keer voor Satan neer te val en hom te aanbid.    Christus kan homself die verskriklike pad van lyding en dood bespaar.  Langs ’n kortpad kan Christus onmiddellik alles in besit kry.  Satan is bereid om alles los te laat en aan hom te oorhandig.  Sinds die sondeval is Satan die owerste van hierdie wêreld.  Hy het die heerskappy oor die nasies, die koninkryke van die wêreld verkry.  Satan versoek nou Christus om dit alles terug te kry langs die maklike pad, deur ’n kompromis met hom.  Al wat hy hoef te doen is vir een keer Satan erken en eer as Heer en Meester van die wêreld.

Dit word alles baie aantreklik gemaak.  Ons sou sê: is so ’n kompromis dan so ernstig?  Jy kan tog die een keer op jou knieë gaan vir die vorm, sonder dat jy dit opreg bedoel.  Dink net wat jy daardeur kan wen.  Alles kom na jou toe sonder lyding en dood.  Dit lyk net na ’n kleine formaliteit.  Jy kan tog gelyktydig jou geloof in God vashou en God vereer?  Die versoeking klink bekend.  Hoeveel toegewings maak ons vandag nie vanuit die sogenaamde werklikheidsbesef nie.  Jy moet tog bereid wees om sekere konsessies te maak om die lewe leefbaar te hou, terwille van vrede en voorspoed.  Die versoeking van Christus was nog groter.  Hy het baie goed geweet watter soort lyding hy sou moet ondergaan om die koninkryke tot sy besit te maak.  Is Satan se voorstel nie uitermate aantreklik nie?  Hy sou homself al daardie lyding en helse kwelling kan bespaar.  Tenminste so lyk dit op die eerste gesig.  In werklikheid sou Hy egter sy koninkryk tot ’n koninkryk van Satan verlaag, sonder God.

Daarom is Christus resoluut in sy afwysing van Satan: “Gaan weg Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”   Christus kies teen die maklike en verleidelike pad na ’n vinnige koningskap.  Hy wil niks doen sonder of teen Vader se wil nie.  Hy volg liewer die pad van sy eie ondergang as die pad van ’n vinnige maar sondige verheffing.  Hy verkies die pad van die plaasvervangende offer vir ons sonde bo die skyn oorwinning deur net een knieval. 

Brs en srs so ’n hoëpriester het julle!  Nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelyde kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Verstaan jy hierdie evangelie nou beter, veral mbt die versoekings waarmee jy versoek word?  Volgens Openb 12 verkeer ons in die woestyn.   Ons is volkome afhanklik van God se sorg.  Word ons egter dikwels nie versoek om vir onsself te sorg nie?  Om onsself sonder die Here te voorsien nie, in ongehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil?

Satan kom dikwels na ons toe soos ’n engel van die lig.  Hy probeer om ons van Vader weg te trek deur tekste, wat vroom klink, maar wat bedrieglik is.  Hy hou daarvan om tekste te misbruik om ons te mislei sodat ons nog die skyn daarvan hê dat ons godsdienstig is, terwyl ons feitelik goddeloos besig is.

Satan probeer ook om ons te versoek om met die sonde ’n kompromis te sluit om vir ons lyding en verdriet te bespaar en om te kan geniet van vinnige voordele en geriewe. 

Geliefdes hoe kan ons stand hou teenoor hierdie versoekings?  Hoe kan ons Satan bly weerstaan?  Jy kan dit net doen in die krag van Hom wat met ons swakhede medelye kan hê omdat Hy in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Vestig jou oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.  Dan sal jy stand hou en seëvier.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)