God het die Evangelie aan ons openbaar sodat ons dit met ander kan deel

Predikant: 
P. Kgatle
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-11-07
Teks: 
Efésiërs 3:1-13
Preek Inhoud: 

Inleiding

Broeders en Susters in die Here, God het jou gekies om die evangelie te deel met hulle wat Christus nie ken nie of nie ʼn verhouding met Hom het nie. Baie gelowiges worstel met hierdie opdrag, omdat ons bang is of nie weet hoe om die evangelie te deel nie.

In vandag se teksgedeelte praat Paulus oor die geheim of die verborgenheid van die evangelie.

TEMA: God het die Evangelie aan ons openbaar sodat ons dit met ander kan deel
1.    Aan Paulus is rentmeesterskap opgelê om die evangelie met die heidene te deel.
2.    Aan die kerk is opdrag gegee om die evangelie te verkondig.

1.    Aan Paulus is rentmeesterskap opgelê om die evangelie met die heidene te deel.

Agtergrond

In die vorige hoofstuk (2:11-23), het Paulus gepraat oor die heidene wat deel is van die liggaam van Christus. In hierdie hoofstuk verduidelik Paulus dat hy deur God se genade gekies is om die evangelie aan die heidene te verkondig.
Paulus gee in die eerste vers van hoofstuk 3 die rede hiervoor. Hy is ʼn gevangene van Christus vir die heidene. Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy in die tronk in Rome. Hy identifiseer homself egter as ʼn gevangene van Christus, omdat hy aan Christus behoort. Hy is deur Christus gekies om ʼn apostel te wees.

Paulus se opdrag (vers 2)

In die Engelse vertaling staan dat Paulus ʼn “stewardship” ontvang het. Die woord beteken rentmeesterskap. In die Afrikaanse vertaling staan dat daar ʼn “bediening” aan hom verleen is. Die woord “steward”/rentmeester verwys na ʼn persoon wat verantwoordelik was daarvoor om om te sien na die besigheid of huishouding van ʼn ander. Hierdie persoon sou toesig moes hou oor al die verantwoordelikhede wat te make het met die besigheid van sy werkgewer.
In Paulus se geval, is hy verantwoordelikheid gegee om die evangelie van Jesus Christus na die heidene te neem. Sy opdrag was om hulle te vertel van God se liefde, redding, en genade, en van hul plek in sy Koninkryk (Rom. 15:15-16). Paulus het nie self hierdie bediening gekies nie. Hy is aangestel deur die Here (1 Tim. 1:12-13). Paulus wil hê dat sy lesers moet weet dat hy nie een of ander self-aangestelde prediker was nie. Die genade van God het hom gemaak wie hy was (1 Kor. 15:10).
Aan elkeen van ons is ook die “bediening van die genade van God” gegee. Die Here het aan elkeen van ons sekere geestelike gawes, talente, kennis, en geleenthede gegee. Ons moet goeie rentmeesters van hierdie geskenke wees en hulle gebruik tot eer van God, en tot voordeel van die Koninkryk van God en die mense rondom ons. 
In 1 Pet. 4:10 stel Petrus dit so: “Namate elkeen ʼn genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.”
Net soos Paulus, het ons almal ʼn bediening ontvang en is dit ons plig voor God om dit tot sy eer te volbring.

Die verborgenheid wat aan Paulus geopenbaar is (vers 3-5)

Paulus maak dit duidelik dat hy ʼn openbaring ontvang het van ʼn verborgenheid. ʼn “Verborgenheid” is iets wat weggesteek is. En ʼn “openbaring” is die bekendmaak daarvan. Die verborgenheid is die dinge wat ons natuurlike kennis te bowe gaan. 
In vers 4 skryf Paulus dat hy wil hê dat sy lesers sy “insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan”. Met ander woorde, Paulus sê dat hy spesiale insig ontvang het in Christus se geheime, en dat hy geroep is om daardie insig met ons te deel. Ons kan die Here daarvoor dank.
Lees jy jou Bybel om God se waarhede te ontdek? Maak jy tyd in jou daaglikse aktiwiteite om na Hom te luister?
Alles wat vir ons nodig is om te weet oor God en geestelike sake staan geskryf in die Woord van God. Daar is ook baie waarhede wat nie vir ons bekend sal word totdat ons tuis is by die Here nie. Maar vir nou is alles wat vir ons nodig is om te weet, geskryf in die Bybel.

Die boodskap wat aan Paulus gegee is (vers 6)

Paulus het reeds in Ef. 1:9-12 en 2:11-12 oor hierdie verborgenheid geskryf. In hierdie vers verduidelik hy dit verder. Wat is hierdie verborgenheid wat aan Paulus gegee is?
Dit is die waarheid dat die heidene saam met die Jode deel is van God se plan om sy kerk te vorm. Dit is die waarheid dat Jode en heidene saamgebring sal word in een liggaam: die liggaam van Christus.
Die heidene bereik dit deur in geloof vas te hou aan die evangelieboodskap dat Jesus Christus, die Seun van God, op die kruis gesterf het vir die sondes van die sondaar, en dat Hy weer drie dae later uit die dood opgestaan het. Verlore sondaars word gered deur die genade van God (1 Kor. 15:3-4; Rom. 4:25). Die enigste manier vir enigiemand om gered te word, is deur die evangelie.
Paulus sê dat hy ʼn “dienaar” is. (In die Engelse Bybel ʼn “minister”.) Dit is dieselfde woord wat in die Nuwe Testament ook as “diaken” vertaal word. Dit verwys altyd na ʼn dienskneg.  
Dit is hoe Paulus homself gesien het. Hy het nie homself gesien as ʼn man waardig om eer te ontvang nie, maar as ʼn dienskneg van die kerk, onder die gesag van sy meester, die Here Jesus Christus. Hy het verstaan dat hy sonder die genade van God steeds ʼn godsdienstige, verlore Jood sou wees. Hy het verstaan dat die bloed van Jesus, deur die genade van God, hom gered het. Dit wat hy gedoen het, was nie uit sy eie inisiatief nie, maar sy bediening was “ʼn gawe van die genade van God” (vers 7).

2.    Aan die Kerk is opdrag gegee om die Evangelie te verkondig

Vers 9-11. 

Paulus skryf dat sy boodskap ontwerp is om “vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid” (vers 9). Paulus wil hê dat die wêreld die waarhede moet verstaan wat voorheen verborge was by God. Paulus se boodskap was so nuut dat selfs “owerhede en magte in die hemele” wou hoor wat Paulus te sê gehad het. Hy leer ons dat die “menigvuldige wysheid van God” deur die kerk bekend gemaak word. God gebruik die Kerk om die wêreld sy wysheid te leer.
God gebruik die Kerk om aan die engele en heersers van die Hemel die dinge te openbaar wat Hy nie aan hulle vertel het nie. God se plan om mense uit die wêreld van sondaars te red was so versteek binne die verborge raad van God, dat selfs die hemelse wesens nie die besonderhede daarvan geweet het nie.
In Mat. 28:19 staan daar: “maak dissipels van al die nasies”. Wat beteken dit?
Jesus stuur sy dissipels. Wie is hulle? Ons, die kerk vandag, is dissipels van Jesus Christus. Die woord dissipel beteken volgeling. Die Kerk word geroep om die evangelie met ander te deel. Dit is die taak van die Kerk.
As Christene moet ons getuies van Christus wees, waar ons ook al is.
Paulus het ʼn kragtige boodskap gebring, wat vandag steeds verkondig moet word. Mag die Here ons help om sy wil uit te leef en sy Woord te verkondig, terwyl ons steeds elke dag die “onnaspeurlike rykdom van Christus” bly ontdek.
Paulus se woorde in hierdie twee verse herinner ons weereens daaraan dat God in beheer is. Ons verhouding met Christus gee ons vrymoedigheid om die Here te dien, en vrymoedigheid om met ons versoeke sy teenwoordigheid op te soek. Ons geloof in Christus gee ons toegang tot die troon van genade waar ons krag en hulp vind (Heb. 4:16, Fil. 4:6-7). Ons geloof in Christus gee ons vertroue in ons daaglikse lewe. Ons vertrou dat ons syne is, dat ons gered is, en dat ons op pad is na die heerlikheid wanneer hierdie lewe verby is (Fil. 1:6). Al hierdie dinge herinner ons daaraan dat God in beheer is van ons lewens en al die aspekte van ons lewens.

Vers 13.

In hierdie vers keer Paulus terug na die kwessie van sy gevangenskap. Hy herinner sy lesers daaraan dat sy verdrukking tot hulle voordeel strek. Soos ek tevore gesê het, die Here het toegelaat dat Paulus vir vyf jaar lank in die tronk gebly het sodat ons vandag baie van sy skrywes het. Die boeke wat Paulus in daardie tyd geskryf het, bevat ʼn rykdom van hemelse inligting om die Kerk te leer wie sy is in die Here, en hoe om daardie waarheid met die wêreld te deel. 
Op ons reis na die Hemel, moet ons nooit vergeet dat ons aan die Here behoort nie. Ons moet nooit vergeet van die verskriklike prys wat Hy betaal het om ons te verlos nie (Jes. 53:4-6).
Ons moet nooit vergeet dat Hy ons deel gemaak het van die verborgenheid van die Kerk nie. Ons moet nooit vergeet dat hemelse wesens en verlore sondaars beide sien wat gebeur nie, en dat albei leer oor die verborgenheid van God in Jesus Christus. Ons roeping is ʼn verhewe roeping. Ons posisie is ʼn verhewe posisie. Ons uitdaging is ʼn glorieryke uitdaging. Ons God kan ons help.

Samevatting

Broeders en susters, ons ontvang, soos Paulus, ʼn opdrag om rentmeester te wees van ons gawes. God het jou en my gekies sodat ons die evangelie aan ander kan verkondig. Christus het vir ons ʼn weg oopgemaak om tot ons Vader te nader en met vrymoedigheid tot Hom te gaan in gebed.

Amen.

Liturgie: 

Psalm 87:2-4
Geloofsbelydenis
Efesiërs 3:1-21
Skrifberyming 8:1
Teks: Efesiërs 3:1-13
Psalm 67:1-3
Skrifberyming 8:2, 4 en 5