God is in beheer van die geskiedenis en ons moet op Hom vertrou

Predikant: 
Ds. GF Mnisi
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-03-15
Teks: 
2 Petrus 3:8,9
Preek Inhoud: 

Inleiding

ʼn Sekere bybelverklaarder vertel die volgende verhaal oor sy lewe:

“Gedurende die 1950s, toe inwoners van Noord-Amerika soms gevra is om bomskuilings te bou om hul te beskerm in die dreigende oorlog, het ek my pa gevra of ons ook een moes bou. Hy het rustig geantwoord: ‘Hoekom? Wanneer Jesus kom, sal selfs die elemente vernietig word. Wees gereed vir Hom en moet niks anders vrees nie.’”

Galasiërs 4:4-5 sê: Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

Hieruit leer ons dat God nie vroeg of laat is nie. Hy was ook nie vroeg of laat om sy Seun, ons Here Jesus Christus, na die wêreld te stuur nie. Hy het gekom in die volheid van die tyd, die tyd wat Hy bestem het.

Daar is ʼn refrein in ʼn Zulu-gesang wat ons ook in ons Sesotho-sprekende gemeentes sing wat vra: “Wanneer sal Jesus terugkom?” Daar word dan dadelik singend geantwoord dat Hy baie gou sal terugkom – dit word eintlik geïnsinueer dat Hy nou dadelik sal kom!

Maar is dit waar? Is dit reg om ooit as Christen so ʼn vraag te vra? Is dit nie dieselfde as wat die valse leraars gedoen het in die hoofstuk wat ons gelees het nie? Ons lees daar die volgende: Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want van dat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Broeders en susters, by tye vra Christene dieselfde vrae as ongelowiges. Ons vind voorbeelde hiervan in die klaagpsalms waar die digter God bevraagteken op ʼn manier wat soms ʼn bietjie skokkend is! Kyk byvoorbeeld na Psalm 42:10: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?

Daar is meer voorbeelde hiervan in die Nuwe Testament, soos ook in vandag se teks. Wonder ons ook wanneer ons Here Jesus Christus terug sal kom? Ons worstel dikwels met hierdie vraag wanneer ons onreg en lyding ervaar in hierdie wêreld: ʼn sukkelende ekonomie, ʼn land geteister deur misdaad en baie ander probleme soos beurtkrag. Ons wonder wanneer Jesus sal kom. Sal Hy ooit regtig kom?

Broeders en susters, alhoewel ons ook soms dieselfde vrae as die ongelowiges vra, verskil ons in die manier waarop ons vra. Kyk weer na die psalmdigter: daar was altyd ʼn vertroue op God, ʼn geloof in sy bestaan en sy vermoë om ons te red in nood. Selfs in moeilike tye het die psalmdigter hom altyd in gebed na God gewend.
Broeders en susters, ek moedig jul aan om na God te gaan wanneer julle antwoorde soek. Ek moedig jul aan om die Bybel te lees en te luister na sy wysheid en waarheid. Die waarheid wat ons vandag uit ons teks leer.

Ek verkondig aan julle:
God is in beheer van die geskiedenis en ons moet op Hom vertrou
Hy is nie gebind aan tyd nie
Hy is lankmoedig vir ons redding

1.    God is nie gebind aan tyd nie

Die apostel Petrus skryf sy brief aan gelowiges. Hy skryf aan hulle omdat hy weet dat sy tyd op aarde min is. Hy wil hulle aanmoedig, maar ook waarsku teen valse leraars. Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer dat julle ook geduring ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou. (2 Petrus 1:12-15)

In hoofstuk 3 hou Petrus die koms van ons Here as die toppunt van hoop en bemoediging aan hierdie gelowiges voor. Daarom waarsku hy steeds teen valse leraars in hierdie hoofstuk – hy wil hê dat hierdie gelowiges sterk moet staan, want die Here sál terugkom, en dan moet hulle gereed wees.

Maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

Petrus moedig ʼn suiwer gesindheid aan (3:1), veral met betrekking tot die Here se wederkoms. Hieruit lei ons af dat daar in dié tyd ook minder goeie gesindhede voorgekom het. Petrus benadruk twee beginsels oor die koms van Christus: 

Die eerste is dat ons nie té nuuskierig moet wees oor die tye nie – ʼn waarskuwing wat ons herhaaldelik in die Bybel vind. Oor die algemeen leer ons in die Bybel dat ons ons wel oor die eindtye moet besorg, dat ons daarna moet verlang, maar dat ons nié besorg moet wees oor die presiese tyd wanneer dit gaan gebeur nie. Deur die eeue het baie mense egter die terugkeer van Christus probeer koppel aan spesifieke oomblikke of selfs mense in die geskiedenis.

Die tweede beginsel wat Petrus benadruk, is dat ons gebrekkige natuur nooit God se gedagtes volkome kan verstaan nie. Ons is op die aarde, ons is beperk. Ons gedagtes is ook verdraai en verdorwe deur die sonde. Een van die eerste dinge wat ons moet besef, is dat ons altyd hierdeur beperk word wanneer ons oor God, sy weë en sy werke mediteer:
Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. 

Hoe pas Petrus hierdie beginsels toe in die teks? Eerstens leer Hy ons dat God nie deur tyd ingeperk word nie. Hy het tyd geskape: Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Ons moet nooit dink dat God nie betrokke is in die beweging van die tyd en die geskiedenis nie. God staan bó die tyd. Dit is amper onmoontlik vir ons om so ʼn konsep te begryp, en tog is dit baie belangrik.

Ons, as skepsels gebonde aan tyd, móét in terme van tyd dink. God staan bo en buite en verhewe bo tyd, so wanneer ons aan God dink, is dit altyd gevaarlik om die element van tyd te veel te benadruk. God is ewig – Hy is nie ingeperk deur tyd nie: By Hom is ʼn dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Party moderne teoloë praat van tyd, ruimte en materie wat slegs deur God kan bestaan: In die begin (TYD) het God die hemele (RUIMTE) en die aarde (MATERIE) geskape.

Hierdie argument teen ateïstiese en evolusionistiese denke, wys dat God bo die tyd, en alles anders wat Hy geskape het, staan. Die hemel en aarde en alles daarop. Die Apostel Paulus skryf in Handelinge 17:24-28:
Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
 
Broeders en susters, hoewel God nie gebonde aan tyd is nie, tree Hy wel op die regte tyd op. Dit is net so belangrik. Dit is God wat die tydproses begin het. God het die geskiedenis aan die beweeg gesit toe Hy die wêreld geskape het. Hy staan bo en buite die tyd, maar Hy hou dit aan die gang.

Kom ons kyk na die tweede punt:

2.  God is lankmoedig vir ons redding

Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

In die eerste punt het ons gesien dat God nie aan tyd gebonde is nie, maar dat Hy ook op die regte tyd optree om die hemel en die aarde te skape. Hy tree op die regte tyd op om ons Here Jesus Christus na die aarde te stuur om vir ons sondes te sterf. Daar is meer as 300 spesifieke voorspellings rakende ons Here Jesus se geboorte, lewe, bediening, dood en opstanding in die Ou Testament, en hulle is almal vervul. 

Maar wat is die doel daarvan om dit alles te weet?
Onthou dat ons hier te doen het met valse leraars wat ontken dat Jesus sal terugkom. Hulle beweer dat daar reeds jare verby is sedert die belofte van Christus se wederkoms. 
Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Hoekom leer hierdie spotters dit? Die apostel Petrus sê dat dit gaan oor morele verantwoordelikheid. Hierdie mense, soos baie in vandag se tyd, ontken die komende oordeel sodat hulle kan bly sondig. Die gedagte aan morele toerekeningsvatbaarheid lei tot ongemak en irritasie.

Een skrywer stel dit so: “In elke generasie is daar diegene wat spot met die gedagte van Christus se wederkoms. Soms is hierdie spottery gegrond in ʼn diepgaande antichristelike wêreldbeskouing. Vandag se filosofiese naturalisme het geen plek vir ʼn bonatuurlike besoek aan Planeet Aarde nie, ook nie vir ʼn einde aan die geskiedenis veroorsaak deur God self nie. Hierdie standpunt mag gebonde wees aan ʼn uniformitaristiese perspektief. Ons moet nooit vergeet dat só ʼn perspektief dikwels ʼn morele dimensie het nie. Vir diegene wat hul eie morele selfstandigheid koester, is dit baie geriefliker om te ontken dat daar ʼn finale oordeel is.”

Dit is waarom die apostel Petrus nie net bevestig dat Christus sal terugkeer op die tyd wat deur God bepaal is nie, maar ook benadruk watter tipe mense ons moet wees. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.

Broeders en susters, ons moet nooit vergeet dat God Homself nie sonder getuies gelaat het met betrekking tot hierdie saak nie. Hy het enorme oordeel oor magtige nasies en ryke laat kom (dikwels deur middel van “natuurlike” verskynsels).

Paulus stel dit so in Handelinge 17: God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

God sál oordeel! Christus sál terugkeer! Die versekering van sy wederkoms gee ons krag om aan te gaan. Die help ons om minder en minder lief te wees vir die wêreld, om elke dag met afwagting na die hemele te kyk, om hoopvol te wees in ʼn hopelose wêreld en om ander te maan om hul te bekeer. Sy wederkoms help ons om nugter te bly op ons christelike lewenspad.

Petrus praat van twee gebeurtenisse: die Skepping en die Sondvloed: Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. (2 Petrus 3:5-7)

Die samelewing se hantering van hierdie sake spruit uit ons morele en geestelike verwyderdheid van God ons Skepper.

Daar is nog een belangrike ding wat ons hier moet aanroer: die uitstel voor Christus se wederkoms is ʼn refleksie van God se baie anderse siening van die verbygang van tyd en gebeure, maar ook van sy ongeëwenaarde lankmoedigheid: Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. (2 Petrus 3:9)

Paulus skryf iets soortgelyk: Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? (Romeine 2:4)

Broeders en susters, wanneer Christus terugkom, sal dit skielik wees, onmiskenbaar en heftig. Dit sal die begin van die einde inlui van die heelal soos ons dit ken.

Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

Slot

Ons kan die Here dank dat ons nie nodig het om bomskuilings te bou soos die Amerikaners van die 1950s nie. Maar selfs al sou ons bomskuilings hê, sou dit nie die krag van die terugkerende Here Jesus Christus kon weerstaan nie.
Ook in ons sukkelende ekonomie, in ons misdaadgeteisterde land vol probleme, wag ons hoopvol op ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Net die Christelike kerk beskik oor hierdie hoop. Selfs al beleef ons die moeilikste tye, moet ons dit sien as ʼn opwindende tyd om die hoop van ons Here Jesus Christus met ander te deel. 
Wees gereed vir Hom en moet niks anders vrees nie.

And when I think of God, His Son not sparing
Sent Him to die, I scarce can take it in
That on the Cross, my burden gladly bearing
He bled and died to take away my sin

Then sings my soul, my Saviour God, to Thee
How great Thou art, how great Thou art

When Christ shall come with shout of acclamation
And lead me home, what joy shall fill my heart
Then I shall bow with humble adoration
And then proclaim, my God, how great Thou art

Then sings my soul, my Saviour God, to Thee
How great Thou art, how great Thou art

Liturgie: 

Sing: Psalm 9:5,7-10
Skriflesing: 2 Petrus 3:1-18
Sing: Psalm 90:1,2,8,9
Teks: 2 Petrus 3:8,9
Sing: Psalm 36:2,3
Geloofsbelydenis: Skrifberyming 27
Sing: Psalm 37:1-6