Hoofstuk 1 - VERWERPING VAN DIE DWALINGS

Die regsinnige leer van die uitverkiesing en verwerping is nou uiteengesit.

1.  Die Sinode verwerp daarom die dwaling van hulle wat leer: Die hele en volledige besluit van die uitverkiesing tot saligheid is God se wil om daardie mense salig te maak wat nog sal glo en in die geloof en geloofsgehoorsaamheid sal volhard. Oor hierdie besluit is daar niks anders in die Woord van God geopenbaar nie.
Die Sinode leer: Hierdie dwaalleraars mislei hiermee die eenvoudiges, en hulle weerspreek duidelik die Heilige Skrif. Die Skrif getuig immers dat God nie alleen hulle wat sal glo, wil salig maak nie, maar dat Hy ook sekere bepaalde mense van ewigheid af uitverkies het. God het aan hierdie mense, in onderskeiding van ander, in die tyd die geloof in Christus en die volharding geskenk. Soos geskrywe is: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U my uit die wêreld gegee het (Joh. 17.6). en: Daar het gelowig geword almal wat tot die ewige lewe verordineer was (Hand. 13:48). Hy het ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig te wees, ens. (Ef. 1:4).

2.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is veelsoortig: die een is algemeen en onbepaald, die ander is besonder en bepaald. Laasgenoemde val weer in twee dele uiteen: Dit is òf 'n onvolkome, herroeplike, nie-beslissende en voorwaardelike uitverkiesing òf 'n volkome, onherroeplike, beslissende en volstrekte uitverkiesing. Verder: Daar is een uitverkiesing tot die geloof en 'n ander tot die saligheid, dit wil sê daar kan 'n uitverkiesing tot die regverdigmakende geloof wees sonder dat daar 'n beslissende uitverkiesing tot saligheid hoef te wees.
Die Sinode leer: Dit is 'n versinsel van die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is. Dit vernietig die leer van die uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting van ons saligheid: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom. 8:30).

3.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die welbehae en voorneme van God, waarvan die Skrif in die leer van die uitverkiesing melding maak, bestaan nie daarin dat God sekere bepaalde mense bo ander uitverkies het nie. Dit bestaan daarin dat God uit alle moontlike voorwaardes - soos byvoorbeeld die werke van die wet - of uit die orde van alle dinge die wesenlik onverdienstelike daad van die geloof en die onvolmaakte gehoorsaamheid daaraan tot 'n voorwaarde vir die saligheid gekies het. Dit sou Hy dan genadiglik as 'n volkome gehoorsaamheid wou reken en dit waardig wou ag om met die ewige lewe te beloon.
Die Sinode leer: Hierdie skadelike dwaling maak die welbehae van God en die verdienste van Christus kragteloos. Terselfdertyd word die mense deur nuttelose vrae van die waarheid van die genadige regverdigmaking en van die eenvoud van die Skrif weggelei. Daarmee word hierdie uitspraak van die apostel as onwaar bestempel: God het ons geroep met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is (2 Tim. 1:9).

4.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die voorwaarde wat vir die uitverkiesing tot die geloof vereis word, is dat die mens die lig van die natuur reg moet gebruik en vroom, klein, nederig en geskik vir die ewige lewe moet wees - asof die uitverkiesing in enige opsig van hierdie dinge sou afhang.
Die Sinode leer: Dit klink na Pelagius en is in stryd met die leer van die apostel waar hy skryf: Ons het vroeër gewandel in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered - en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie (Ef. 2:3-9).

5.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die onvolkome en nie-beslissende uitverkiesing van spesifieke mense tot saligheid het tot stand gekom uit die vooruitgesiene geloof, bekering, heiligheid en godsvrug, wat òf net begin het òf al 'n tyd lank geduur het. Die volkome en beslissende uitverkiesing het egter tot stand gekom uit die volharding in die vooruitgesiene geloof, in bekering, in heiligheid en in godsvrug tot die einde toe. Dit is die waarde van die genade en die evangelie waarvolgens hy wat uitverkies word, waardiger is as hy wat nie uitverkies word nie. Die geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, godsvrug en volharding is dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie maar noodsaaklike voorwaardes daarvoor en oorsake daarvan. In die geval van uitverkorenes is dit volledige voorvereistes en vooruitgesien asof hulle dit reeds volbring het.
Die Sinode leer: Dit is in stryd met die hele Skrif, wat hierdie en dergelike uitsprake telkens weer in ons ore en harte inskerp: Die uitverkiesing is nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep (Rom. 9:1); Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand. 13:48); Hy het ons in Hom uitverkies ... om heilig ... te wees (Ef. 1:4); Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle, uitverkies (Joh. 15:16); As dit deur genade is, is dit nie meer uit die werke nie (Rom. 11:6); Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het (1 Joh. 4:10).

6.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Nie elke uitverkiesing tot saligheid is onveranderlik nie, maar sommige uitverkorenes kan verlore gaan en gaan inderdaad ook vir ewig verlore, nieteenstaande enige besluit van God.
Die Sinode leer: Met hierdie growwe dwaling maak hulle God veranderlik en vernietig die troos wat die vromes uit die vastigheid van hulle uitverkiesing put. Ook weerspreek hulle die Heilige Skrif, wat leer dat die uitverkorenes nie verlei kan word nie (Matt. 24:24); dat Christus almal wat deur die Vader aan Hom gegee is, nie sal verloor nie (Joh. 6:39) en dat God die wat Hy vantevore verordineer, geroep en geregverdig het, ook verheerlik het (Rom. 8:30).

7.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Daar is in hierdie lewe geen vrug, geen besef en geen sekerheid van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie, behalwe dié wat van 'n veranderlike en toevallige voorwaarde afhang.
Die Sinode leer: Nie alleen is dit ongerymd om te beweer dat daar 'n onsekere sekerheid is nie, maar dit stry ook met die ervaring van die heiliges. Uit die besef van hulle uitverkiesing verheug die heiliges hulle saam met die apostel en roem hulle in hierdie weldaad van God (Ef. 1). Volgens die vermaning van Christus verbly hulle hulle saam met die dissipels dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (Luk. 10:20). Ook stel hulle die besef van hulle uitverkiesing teenoor die vurige pyle van die aanvalle van die duiwel, terwyl hulle vra: Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? (Rom. 8:33).

8.  Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God het oor niemand bloot kragtens sy regverdige wil besluit om hom in die val van Adam en in die gemeenskaplike staat van sonde en verdoemenis te laat bly nie. Ook het Hy in die gee van die genade wat vir die geloof en bekering nodig is, besluit om niemand verby te gaan nie.
Die Sinode leer: Dit staan vas: Hy is barmhartig oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil (Rom 9:18), en: Dit is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie (Matt. 13:11), en: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae (Matt. 11:25-26).

9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit is nie enkel en alleen die welbehae van God wat die oorsaak is waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie.
Die Sinode leer: Dit ontken Moses as hy die Israeliete soos volg toespreek: Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE 'n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag na hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is (Deut. 10:14-15). En Christus het gesê: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het (Matt. 11:21).