C: Opsig oor die Leer en die Erediens

Artikel 53 Ondertekening van die belydenis deur predikante en dosente
Die predikante, die professore en die ander dosente aan die Teologiese Universiteit sal die drie formuliere van eenheid van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika onderteken waarby die formuliere gebruik word wat vir die verskillende dienste vasgestel is. Predikante wat weier om dit te doen, sal as gevolg daarvan onmiddellik geskors word en die klassis sal hulle nie ontvang nie.

Indien hulle na samesprekings nog steeds weier, sal hulle afgesit word.

Artikel 54 Ondertekening van die belydenis deur ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en die diakens sal ook die genoemde formuliere van eenheid onderteken, waarvoor die bestemde formulier gebruik word.

Artikel 55 Wering van valse leer en dwaling
Die predikante en die ouderlinge moet onderrig, weerlê, waarsku en vermaan, sowel in die prediking as in die kategese en by huisbesoek, om valse leer en dwaling wat die lewe van die gemeente deur middel van lektuur en ander kommunikasiemiddels bedreig, af te weer.

Artikel 56 Bediening van die doop aan kinders
Die doop as seël van die verbond van God sal so spoedig moontlik in 'n openbare erediens aan die kinders van gelowiges bedien word.

Artikel 57 Doopbelofte en onderwys
Die kerkrade sal toesien dat die ouers sover moontlik hul kinders laat onderrig in ooreenstemming met die leer van die kerk soos hulle dit by die doop belowe het.

Artikel 58 Bediening van die doop aan volwassenes
Volwasse dopelinge word deur die doop as lidmate in volle regte by die christelike gemeente ingelyf. Hulle is daarom geroep om die nagmaal van die Here te vier en sal dit by hulle doop belowe.

Artikel 59 Gebruik van die doopformuliere
Die predikante sal hulle by die doop van kinders en van volwassenes hou aan die formuliere wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 60 Toelating tot die nagmaal
Die kerkraad sal slegs diegene wat belydenis van hulle geloof volgens die gereformeerde leer afgelê het en wat godvresend lewe, tot die nagmaal van die Here toelaat. Diegene wat uit susterkerke kom, sal op grond van 'n goeie attestasie van leer en lewe toegelaat word.

Artikel 61 Bediening van die nagmaal
Die nagmaal van die Here sal ten minste eenmaal in drie maande in 'n openbare erediens gevier word, volgens kerklike orde, onder toesig van die ouderlinge, waarby die vasgestelde formuliere gebruik moet word.

Artikel 62 Kerklike registers
Die kerkrade sal kerklike registers byhou waarin die name van die lidmate en die datums van hulle geboorte, doop, openbare belydenis en huweliksbevestiging noukeurig aangeteken word.

Artikel 63 Attestaat na 'n ander gemeente
As lidmate na 'n ander gemeente vertrek, sal die kerkraad aan hulle, na die vereiste afkondiging aan die gemeente, 'n attestaat betreffende leer en lewe saamgee, onderteken deur die voorsitter en die skriba. Op hierdie attestaat sal ook hulle kinders wat nog nie belydenis van die geloof afgelê het nie, vermeld word. Daar sal betyds 'n berig aan die betrokke gemeente gestuur word. Indien 'n lidmaat wat nog nie belydenis van die geloof afgelê het nie, besluit om na 'n ander plek te verhuis, sal 'n attestaat aan die betrokke kerkraad gestuur word met die versoek dat die lidmaat onder sy opsig en tug geplaas word.

Artikel 64 Hulpverlening by vertrek
As lidmate na 'n ander gemeente vertrek waar hulle in inrigtings, ouetehuise of hospitale versorg word, bly hulle wat die diakonale bystand betref, sover moontlik by die kerk wat hulle verlaat. Indien dit nie moontlik is nie, sal die hulpverlening in oorleg met die betrokke kerkrade gereël word.

Artikel 65 Die erediens op die dag van die Here
Die kerkraad sal die gemeente op die dag van die Here twee keer vir die erediens saamroep. Die kerke sal hulle hou by die orde van diens wat deur die algemene sinode goedgekeur is.

Artikel 66 Kategismusprediking
Die kerkraad moet sorg dra dat, as reël, een keer per Sondag in die prediking die leer van die Woord van God verklaar word soos dit in die Heidelbergse Kategismus saamgevat is.

Artikel 67 Psalms en gesange
In die erediens sal die psalms gesing word volgens 'n beryming wat deur die algemene sinode aanvaar is, en ook daardie gesange wat die sinode goedgekeur het.

Artikel 68 Kerklike feesdae
Die kerkraad sal op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaartsdag en Pinksterdag die gemeente saamroep tot openbare eredienste, waar die heilsfeite wat die gemeente op hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word.

Artikel 69 Biddae
In tye van oorlog, algemene rampe en ander groot probleme waarvan alle kerke die druk ervaar, sal 'n biddag uitgeskryf word deur die klassis wat deur die laaste algemene sinode daarvoor aangewys is.

Artikel 70 Kerklike huweliksbevestiging
Die kerkraad sal toesien dat die huwelike kerklik bevestig word, waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.

Artikel 71 Geen roudienste
Roudienste sal nie belê word nie.