Hierdie is Jesus, die Seun van God... luister na Hom

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2026-09-13
Teks: 
Lukas 9: 27 - 36
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Wie is Jesus?
Hy is jou rus, Hy is die rus vir die rustelose, die hoop vir die hooplose, die moed vir die moedelose.  
Hy laat die verlamde weer loop, Hy genees die melaatse, Hy laat die dooies opstaan, Hy vergewe sondaars, Hy preek met gesag, Hy gee om vir die swakkes,  Hy is die een wat die wet en die profete vervul het. Hy is die Seun van Dawid, Hy is die tweede Adam.  Hy is die tempel , die volheid van God woon in Hom.  

Wie is Jesus?  Die dissipels vra hierdie vraag na Hy die storm stil gemaak het, Herodus vra dit na Hy nuus oor Jesus hoor.

Wie is Jesus?  Engele het dit al kom vertel in die geheim, demone het dit al uitgeskreeu, skares het al daaroor gewonder.

En uiteindelik hoor ons Jesus dit self vra: wie is ek?

En ons hoor dit van die dissipels self, en nou het ons 'n antwoord.  Maar hoor en sien is twee verskillende dinge.  Hierdie is die Seun van God, die Messias, die gesalfde Seun van Dawid wat die wet en die profete vervul het, die Een vir wie ons gewag het. 
Sal ons na Hom luister?

Wie is Jesus.  Na hierdie gedeelte in Lukas hoor ons nie weer die vraag nie.  Van nou af hoor ons net 'n beskuldiging - "as U dan die Christus is" - maar daar word nie meer gevra "Wie is Jesus" nie.

Geliefdes, wie Hy is, is duidelik.  Dis kristal helder.  Na vandag, soos ons Hom sien waar Hy is op die berg, is daar nie meer 'n verskoning nie.  God het homself openbaar in die Seun, in Jesus Christus, vandag in hierdie teksgedeelte.

Hierdie is Jesus, die Seun van God... luister na Hom.

Gebed op die berg

In ons teks, in v27, word iets vervul wat Jesus 8 dae terug vertel het.  "Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”".  

Daar is drie dissipels hier, wat nou die koninkryk van God gaan sien.  Wat is dit?  Wat is die koninkryk van God?  Dit is Jesus, die openbaring van Jesus Christus in al sy glorie en heerlikheid.  Petrus skryf later in sy 1e brief: "Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid." (2 Pet 1:16).  Hier is ons nou 8 dae later en die dissipels gaan iets sien wat hulle nooit sal vergeet net.

v28: "Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid."  Jesus kies hierdie drie dissipels en gaan die berg op en Hy bid.  En in gebed vind die verheerliking plaas waarvan ons lees.  Gebed verander mens, is dit nie?  Wanneer jy bid, wanneer jy praat met die Here, dan voel mens die verandering.

Met Jesus was dit wel 'n bietjie anders, want Hy praat as een van die Persone van die drie-enige God.  Hy word nie verander deur gebed nie, ons sien net wie Hy rerig is, geen verandering nodig nie.  Dit is wie Hy is.

Waar bid Jesus?  Op die berg.  So baie keer ontmoet God die mens op 'n berg, beginnende by Adam.  Esegiël noem (Eseg 28) dat God Adam op 'n berg geplaas het: "Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by 'n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied.  Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap".

Dink aan die berg Sinai waar God vir Moses ontmoet in die brandende braambos, waar God sy Wet gegee het, waar God vir Elia ontmoet in die stilte.  Dink aan die berg Sion waar Abraham  vir Isak gaan offer het (dit was toe nog die berg Moria), waar Dawid die ark gebring het, waar Salomo die tempel gebou het.  Dink aan die berg van die Here waar die profete voorspel waar die Here sy volk sal ontmoet.  En hier, op hierdie berg in ons teks, ontmoet God sy volk, in die persoon van Jesus.

Dink aan Jes 2: "In die laaste dae sal die berg van die Here se huis stewig staan as die hoogste van die berge; hy sal bo die heuwels uittroon. Al die nasies sal daarheen stroom;"
Hier sien ons die vervulling van dit alles.  Mens en God  bymekaar – dis nou 'n "bergtop-ervaring"!  Jesus is God self op die berg.  Adam en God in volmaakte gemeenskap.

Dit is baie moeilik om te verstaan wie Jesus is sonder die ou testament.  Dis meilik om te verstaan wat dit is wat Hy kom doen het, sonder die ou testament.  Nou is die Bybel deesdae nie meer 'n gunsteling boek om te lees nie – dis te lank, mense lees nie meer iets wat lang is nie.  Maar dit bly baie belangrik, en veral van die ou testament, om die hele Bybel van begin tot einde te lees, want in hierdie gedeelte van ons teks word daar so baie keer verwys na die ou testament.  

Die openbaring van God se heerlikheid

Terwyl Jesus bid, terwyl Hy praat met die Vader, het sy gesig en sy klere anders begin lyk: "En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter."  Dis amper soos skitterend soos weerlig, maar dan nie net 'n enkele weerligstraal nie maar asof die weerlig nie ophou nie.  Witter as enige wit ooit, witter as wat bleikmiddel kan bleik.  Hierdie "wit" is niks minders as die heerlikheid van God.  Hierdie is nie iets wat wit lyk as die lig daarop skyn nie, dit is wit van binne af.  Ps 104 sê: "Loof die Here, o my siel!  Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel...".  

Die Here God omhul homself met lig.  Jesus omhul homself met lig hier in ons teks.  Sien jy/u wat gebeur?  Moses, in die ou testament, wanneer hy die Here ontmoet het, het elke keer God se heerlikheid gereflekteer.  Maar waar Moses dit ontvang van God af, waar Moses dit reflekteer, is Jesus self daardie heerlikheid.  Hy "kry" dit nie, hy "het" dit.  Dit wat Moses reflekteer is die heerlikheid van God.  En die heerlikheid van God... dit is Jesus!

 Vers 32 sê dat die dissipels sy heerlikheid gesien het. Wie sien hulle?  Dit is die HERE, in die vlees!  Die dissipels kyk na God die HERE!  En hulle oorleef dit!

En kyk, daar staan twee manne by Jesus – Moses en Elia.  Moses het die grootste deel van die Bybel geskryf (die eerste 5 boeke), 'n vriend van God wat van aangesig tot aangesig met Hom gepraat soos mens met 'n vriend praat, wat op die berg gevra het of hy God mag sien, en toe sê God dat Moses Hom net in die verbygaan mag sien.  En hier sien Moses die volle heerlikheid van God, in die persoon van Jesus.

Elia, die mees geeërde profeet uit die ou testament vir die Jode.  Elia wat op die berg die volk van God gewys hoeveel groter God as die afgode is, wat op die berg God gehoor het in die stilte.  En hier hoor hy die stem van God in Jesus.

Sien jy hoe die hele Ou Testament opgeneem is in hierdie oomblik?  Die hele Ou Testament vertoon God se heerlikheid, soos dit na Jesus wys.
Hier kom die wet en die profete bymekaar.  Moses, die verpersoonliking van die Wet, en Elia, die grootste van die profete.

En jy en ek is saam met hulle vandag, wanneer ons na  Jesus kyk. Wanneer ons oor sy werk praat.

Die weg na heerlikheid – die kruis

Wat Jesus kom doen het was om die Ou Testament te vervul.  Daardie belofte aan Eva, waaroor Moses duisende jare gelede geskryf het, dit word nou vervul.  Haar nageslag wat die kop van die slang sou vermorsel, en sy nageslag wat die hakskeen byt van die nageslag van Eva.  En dit is presies wat hulle Moses en Elia en Jesus oor gepraat het: "Hulle het ... met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring."  Tydens sy verheerliking praat Jesus oor sy "uittog", hoe Hy na Jerusalem sal gaan om daar te sterf.

En dit is waar sy heerlikheid op sy heel duidelikste sien.

Jesus is op pad na Jerusalem, waar Hy sal ly, waar Hy verraai sal word, vermoor sal word, waar Hy uit die dode opgewek sal word, om sy volk, sy kinders, uit die Egipteland van die sonde en dood te bring, wat regeer word deur die moordadige Farao-koning, Herodus, die nageslag van die slang.

Waaroor het hulle presies alles gepraat?  Wat het Jesus als gesê?  Het Jesus vir Moses vertel hoe Hy die lam is, hoe Hy die tempel is, hoe Hy elke gebod ooit deur Moses geskryf, sou vervul?  Het Elia Jesus se stem herken as dieselfde fluistering op die berg?  Ons weet nie.  Maar wat ons wel weet is dat hulle gepraat het oor Jesus se dood.

Petrus en die ander twee is oorval deur die slaap. Maar toe hulle wakker word sien hulle Jesus se heerlikheid, en die twee manne by Hom.   As jy slaap dan sien jy niks, maar soos Petrus-hulle wakker word is dit asof hulle Jesus sien vir wie hy rerig is.  Hierdie is die duidelikste, helderste oomblik van Jesus se bediening.  Ons het ook sulke oomblikke, is dit nie?  Tye wanneer die werklikheid van die evangelie jou skielik tref, meer as ooit tevore.  En dit gebeur wanneer jy Jesus op sy duidelikste sien.

Hulle het sy heerlikheid hesien.  In die Grieks word dit baie duidelik gestel: die woorde "heerlikheid" en "Jesus" word duidelik met mekaar verbind – hulle het Jesus se heerlikheid gesien.

Petrus sou nooit hiedie oomblik vergeet nie.  Tientalle jare later skryf hy hieroor in 2 Pet 1:15 – 18: "toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was."

Petrus wil nie hê die oomblik moet verbygaan nie: "Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie.".  Petrus sê nie kom ons bou hutte vir almal nie, net vir Jesus, Moses en Elia.  Die woord wat hier gebruik word is dieselfde as die woord vir die hutte wat op die huttefees gebou is, by die viering van die uittog uit Egipte.  Of Petrus dit ingedagte gehad het weet ons nie.

Maar hy wou hierdie hutte bou om hulle eer te bewys.  Stel jou voor, jy ontmoet die twee grootste, belangrikste figure uit die Ou testament, saam met jou eie Meester, van wie jy bely dat Hy jou Here is.  Dus vra Petrus of hy drie tente, drie hutte kan bou vir Jesus, Moses en Elia.

Maar terwyl Petrus dit nog sê, oordek God die Vader self  hulle, nie met 'n hut nie, maar met 'n wolk: "Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword."

In die Ou Testament, toe God sy volk uit Egipteland uitgelei het, watter vorm het Hy aangeneem?  'n Wolk! Hy het hulle vooruitgegaan in die wolk bedags, snags 'n vuurkolom.  Toe die wolk tot rus kom op die berg Sinai het die hele berg geskud.  Daar was 'n stem.  Toe Moses vra dat hy God wil sien, toe sê God vir hom nee, want hy sou dit nie oorleef nie.

Hier in ons teks sien ons weer vir Moses.  Ons sien 'n berg.  Ons sien 'n wolk.  En die skitterende lig kom van 'n persoon, dit kom van Jesus af.  Wat beteken dit? Hierdie is ongelooflik.  Toe Moses van die berg af kom het sy gesig geblink soos dit die heerlikheid van God weerkaats.  Dis soos die maan die lig van die son weerkaats.  Maar Jesus is die son self.  Hebreërs sê Jesus is "die uitstraling van God se heerlikheid en die ewebeeld van sy wese".  Geen wonder hulle was bang nie.

Jesus is die oorweldigende, oneindige, onvoorstelbare skoonheid van die heerlikheid van God.  In menslike vorm.

Waar was die wolk in die Ou Testament?  Oor die tabernakel.  Waar is die wolk nou?  Oor Jesus. Jesus is die plek waar God en die mens ontmoet, want Hy is die God-mens.  Hy is die Messias, God in die vlees.

"'Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.”".  v35 verwys na talle plekke in die Ou en Nuwe Testament.  Hy is die Seun (Luk 9:35, 2 Pet 1:17, Jes 42:1, Ps 2:7) die Uitverkorene (Luk 9:35, Jes 42:1), en Hy word so genoem op die heilige berg (2 Pet 1:18, Ps 2:6).

En Jesus het nie net mens geword nie, Hy het 'n heel spesifieke mens geword, en die Ou Testament is baie duidelik oor wie daardie spesifieke mens is.  Hy is die uitverkore Seun van Dawid, wat die nasies sal regeer met 'n ysterstaf (Ps 2).  Hy is die uitverkore dienskneg, op wie die Gees rus, Hy is die ware gelowige Israel wat in die plek van die die ongelowige Israel staan (Jes 42).  Hy is die geliefde seun wie se lewe nie gespaar word deur sy Vader nie (Gen 22).  Hy is die Seun van die mens wat tot by die Oue van dae gekom het (Dan 7).  Jesus was hierdie spesifieke mens.

En nou, vir die eerste keer sedert Gen 3, het ons 'n perfekte beelddraer.  Iemand wat die kosmos regeer, wat alle dinge in sy hand hou.  Hierdie mens Jesus het die heerlikheid van God geword vir almal om te sien. Christus se menslike liggaam word verheerlik.

Wie is Hy?  (Onthou julle die vraag van die begin – wie is Jesus).  Nou hoor ons die stem van die Vader self. Hy is die Uitverkorene, net Hy.  Die uitverkore Seun van die Vader, die eniggebore Seun van God!

Petrus, Jakobus en Johannes het gesien.  Hulle het gehoor.  En nou word hulle geroep om te luister.  "Luister na Hom".  Laat daardie woorde by jou insink, laat dit vir jou lig en krag gee op elke duister pad, elke steil heuwel, elke eensame klim.  "Luister na Hom".  Die antwoorde is daar.  Luister jy?  Die antwoorde is nader as wat jy dink.

Jy sal hulle maklik hoor, as jy maar net luister.  

Luister maar net na Hom.

God roep.  Hy roep dringend.  Hy roep alle mense.  Hy roep altyd.  God se woorde is vandag nog net so lewendig en aktief as wat dit was toe Petrus dit gehoor daardie dag op die berg.  As jy en ek Bybel lees, dan mag ons dieselfde skynsel van heerlikheid sien as wat Petrus, Jakobus en Johannes gesien het, sos die Heilige Gees in jou en my hart werk.

"...tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar 'n sluier oor hulle harte.  Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal.  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.  En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees."

Of dit met jou goed gaan, of dit met jou sleg gaan, of jy leeg voel, wanneer ook al... altyd, wanneer die Woord van God, die ewige, altyd soekende Woord van God deurbreek in jou lewe, dan sien jy Jesus, die geliefde Seun van God, die een oor wie die Vader altyd bly was.  Ag, as jy Hom maar sal sien. Ag, as jy Hom maar sal hoor, as jy maar na Hom sal luister.

Sal jy?  Sal jy net na Jesus luister?

"'Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref."  Ja, net Jesus het oorgebly.  Die Ou Testament is vervul.  Die Messias is hier.

"Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie."  Die nuus sou eers versprei toe Jesus opgestaan het uit die dood, opgestaan het, opgevaar het.  Die heerlikheid wat Petrus en Jakobus en Johannes gesien het is nou 'n ewige realiteit, die heerlikheid van God self.  Sien Hom.  Hoor Hom,  En vertel wat jy gesien en gehoor het.

Ek sluit af met 'n gedig oor hierdie gedeelte.

For that one moment, in and out of time, 
On that one mountain where all moments meet, 
The world is changed, and in your face we see 
The light that blinds, the glory that is sweet. 

And it is good for us to be with you, 
To see the law and prophets in their place, 
To look through clouds and see the light of life, 
The shine of Godhead in a human face. 

And we would stay, and build our temples here, 
But you must fade into the common light, 
To walk the valley and to face the cross, 
And lead us through the shadows of the night. 
But even in the darkness we will know 
The light that shines, the love that will not go. 

Amen