Preek: Psalm 67
Daar is deesdae minder hongersnood op aarde as in die verlede, al het die wêreldbevolking drasties toegeneem.
Die van ons wat al in die 20ste eeu geleef het, sal die erge hongersnood in Ethiopië onthou in die 1980’s.
Deesdae kom sulke hongersnode met massale sterftesyfers veel minder voor.
As redes vir hierdie positiewe ontwikkeling word onder andere op die volgende gewys:
Landboutegnologie het geweldig toegeneem, wat lei tot oeste met baie hoër opbrengste, daar is beter kunsmis, daar is beter bestrydingsmiddels, daar is beter besproeiingsskemas.
Ook word daar gewys op verbeterde logistiek.
Daar is beter vervoerstelsels, waardeur voedsel makliker orals kan uitkom, wat lokale tekorte verminder.
Verder is daarop gewys dat toenemende demokratiese sisteme in die wêreld ook die kans op hongersnood verminder het.
Regerings besef beter dat hulle dae getel is as hulle bevolking massaal aan honger ly.
Ook is daar meer internasionale organisasies wat hulleself besig hou met voedingsprogramme in arm gebiede.
Al met al heelwat rede om positief te wees oor die mensheid, as jy dit so hoor, of nie?
Wel gemeente, ons is vanaand in die kerk nie om die mens te bedank nie, maar om krediet en eer aan God te gee.
Want beter landboutegnologie, beter logistiek, en al hierdie redes wat ek genoem het, is te danke aan sy voorsienigheid.
Dit is moontlikhede wat Hy in die skepping gelê het, wat die mens as rentmeesters mag ontdek en benut.
En laat ons nie te gou te optimisties raak oor die mensheid nie.
Juis in die hede sien ons hoe vernietigend oorloë kan wees.
Meeste hongersnode woed deesdae in oorlogsgeteisterde gebiede, waar die landbou en logistiek ontwrig word.
En ’n pandemie soos Covid – een van die eerste kere ’n griepepidemie wat deur die mens se agterlosigheid veroorsaak is – dink aan watter skade dit aangerig het.
Moet op die mens jou hoop nie bou nie.
Dis nie wat ons vanaand gaan doen nie.
Vanaand se erediens het begin met die seën van die Here.
En aan die einde gaan dit afgesluit word met sy seën:
Die HERE sal jou seën en jou behoed,
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees,
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee (Num 6:24-2).
En ons vra onsself af:
Sien ons die seën van die HERE nog konkreet raak?
Erken ons nog dat al hierdie dinge die gevolg van God se seën is?
En behalwe vir hierdie wêreldwye tendense, kan ons ook gewoon dink aan ons eie lewens, soos ons dit hier in Pretoria lei.
Dink aan die heerlike reëns wat ons gehad het.
Die groen natuur, met die beginnende herfskleure?
En dat ons hier in die kerk sit, dat ons nounet ’n maaltyd gehad het?
Dat daar buite die kerk motorkarre vir ons staan en wag.
En dat daar vanaand weer ’n huis vir ons wag.
Is dit God se seën?
Of is dit net vanselfsprekende dinge?
Moet ons God se seën eintlik net in geestelike opsig sien?
Die feit dat ons mag glo, dat ons lid mag wees van ’n kerk?
Tema: God se seën roep op tot priesterdiens
Ons het saam Psalm 67 gelees, ’n lied wat pas by Dankdag vir Gewas en Arbeid.
Die hele lied draai om die woorde in vers 7:
“Die aarde het sy opbrings gelewer; God onse God sal ons seën.”
Opbrings verwys hier na die oes.
Of dit nou koring of olywe of druiwe is, soos in Israel destyds; of mielies, aartappels, waatlemoene, blomme of neute.
Alles wat die aarde oplewer, mens kan ook dink aan olie en gas, silwer en goud, waarvoor jy deesdae ’n geweldig hoë prys per ons moet betaal, ’n welkome inkomste vir Suid-Afrika se goudmyne en belastingkas.
Mens kan hierdie lied soos volg saamvat:
Die digter vertel wat God alles vir mense doen, en hy roep die mense dan op om God daarvoor te loof.
Die Psalm begin soos volg: Mag God ons genadig wees en ons seën.
Miskien herken u hierdie woorde.
Want hulle kom direk uit die Aäronitiese seën, waarna ek nounet verwys het.
Net die woordjie ‘jou’ is met ‘ons’ vervang.
Die HERE sal jou seën en behoed, die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn ...
Die Aäronitiese seën was destyds, net soos vandag, in gebruik tydens die eredienste by die tempel.
En die digter het waarskynlik die diens by die tempel besoek.
Daar het hy waarskynlik ’n dankoffer aan God gebring, ’n deel van die opbrings van sy land.
En daar het hy toe die seën van die priester ontvang.
En nou, oppad huis toe, klink die woorde van die priester nog in sy ore.
Hy sê vir homself:
“Mag God ons genadige wees en ons seën.”
Inderdaad, die aarde het sy opbrings gelewer.
God, onse God, seën ons.
Mag ek en jy ook nounou huistoe gaan, met hierdie selfde seën wat in jou gedagtes naklink.
Mag ons vanaand dankbaar gaan slaap, as ons dink aan alles waarmee die HERE ons geseën het en seën.
Geliefde broers en susters, het God se seën net te make met die geestelike lewe?
Nee, God se seën het te make met die breë lewe van elke dag.
Mielies en meel, klere en kos, petrol en parfuum.
Die HERE laat inderdaad sy aangesig oor ons skyn!
Want as sy sonlig, die son van geregtigheid, oor ons sou ondergaan, dan sou ons lewe donker word.
Van sy ligtende aangesig is ons afhanklik.
Die vriendelike gesig van die hemelse Koning.
Dink maar aan die volgende spreuk van Salomo:
“In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos 'n wolk van die laat reëns.” (Spreuke 16:15)
Pragtige spreuk, veral as ons dit toepas op Dankdag.
Ons hemelse Koning se vriendelike blik – ja dit was beslis daar die afgelope seisoen!
En sy welgevalle soos die wolke van die laat reëns – ja dit was daar, letterlik en figuurlik!
En dan ’n volgende saak waaroor die digter in Psalm 67 dit het.
Mense ontvang al hierdie seëninge nie vryblywend nie.
Die digter sê naamlik: Dit gebeur sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil.
Ons as mense mag van die aarde profiteer.
Ons mag dinge tot ons voordeel aanwend.
Maar ons ontvang dit alles met ’n bedoeling.
God wil naamlik dat alle mense sy weg ken.
Met weg word hier bedoel: Die manier waarop God hierdie aarde regeer.
Sy weg, sy heerskappy.
En met ken word bedoel: erken.
Sy heerskappy erken, eerbiedig.
Die digter roep elkeen op om te buig voor sy heerskappy.
Elkeen, dit is ’n internasionale oproep.
Laat die volke u almal saam loof (vers 4 & 6).
Al die nasies u heil (vers 3).
Al die eindes van die aarde sal Hom vrees (vers 8).
Want U oordeel die volke regverdig.
U lei die nasies.
Broer, suster, ken jy die weg van die HERE?
Ja, jy doen!
Jy ken sy manier van heerskappy, jy ken mos sy wil vir jou lewe.
Broers en susters, dit is nogal opvallend dat die digter alle volke aanspreek.
Hy is ’n Israeliet, maar hy roep nie net sy eie volk op om God te erken nie.
Die God van Israel is nie net aan een land gebonde nie.
Hy eis die hele aarde op!
Hy eis erkenning van alle volke.
Inderdaad, die boodskap in die Ou Testament was ook al universeel.
Die heil het wel deur Israel heen op aarde verskyn, maar dit is vir alle volke.
En hoe bevoorreg is ons nou in die Nuwe Testament.
Want nou het God dit nog makliker gemaak vir alle volke om Hom te dien.
Nou is daar redding, nie meer deur die Joodse volk heen nie, maar deur Jesus Christus!
Verlossing vir elkeen wat aansluit by sy kerk, waar op aarde ook al!
In Jesus Christus word hierdie Psalm dus in al sy reikwydte vervul.
Soos die ou Simeon gesing het, toe hy Jesus in sy arms vashou:
My oë het u heil gesien, wat U berei het voor die oë van al die volke – ’n lig tot verligting van die nasies ... (Luk 2:30-31)
As in die Ou Testament geen volk al ’n verskoning gehad het om sy eie gang op aarde te gaan en God nie te dien nie, hoeveel te meer geld dit in die Nuwe Testament.
Geen volk, geen mens op die aardbodem het die reg om sy eie gang te gaan nie.
Geen mens kan sê: Ja maar ek het God nie geken nie.
God laat Homself ken deur sy daaglikse voorsienige sorg.
Ook in die 21ste eeu, waar Hy steeds in sy genade voedsel en lewe en asem en alles gee, soos Paulus dit bely het voor die heidense Grieke in Athene (Hand 17:25).
God is aanwesig met sy sorg, in die lewe van elkeen van die biljoene mense op aarde.
Geen mens het ’n verskoning nie.
As jy God nie in jou lewe aanwesig sien nie, is dit nie sy skuld nie.
God se seën en sy aanwesigheid kan jy nie van mekaar loskoppel nie.
Elke mens wat met ‘n vol maag gaan slaap, moet God se aanwesigheid erken.
As God ons met ’n goeie oes seën, is sy teenwoordigheid daarin sigbaar.
As God jou seën met kos en klere, met ’n inkomste waarmee jy ook kan vakansie hou, dan is Hy beslis aanwesig.
En as God die wêreld met ‘n toename in voedselsekerheid seën, is Hy ook daarin aanwesig.
In ons komplekse samelewing is ons soms geneig om te dink:
Ja vroeër, toe almal nog op die land gewerk het, toe het die mense naby God geleef.
Vroeër, toe daar nog nie boorgate of opgaardamme of spilpuntbesproeiing was nie.
Want Hy moes die reën stuur.
Vroeër, ja vroeër, kon die mense God nog dank.
Maar vandag, in ons maatskappy ...
Jy sit op ’n kantoor, dalk in ’n groot gebou met lugversorging.
As dit buite reën en donderweer, kom jy dit nie eers agter nie.
En as jy in jou motor is, sien jy wel die reën, maar jy bly droog.
Verder het die ekonomie al hoe meer internasionaal geword.
Ekonomiese voor- of teëspoed is nie meer gekoppel aan reën of droogte nie.
Daar is deesdae ontsoutingsaanlegte, sodat mense ryk kan word in woestyngebiede waar geen reën val nie.
En daarom, is die geloof van vroeër nie bietjie primitief vir vandag nie?
God se hand wat voorsien, dit het vir baie mense onsigbaar geword.
Dit word deesdae Godsverduistering genoem.
Ons lewe in ’n tyd waar mense God se sorg nie meer raaksien nie, hulle sien ook nie meer die nut raak om Hom daarvoor te dank en Hom te dien nie.
Maar geliefdes, kom ons bekyk die saak ook bietjie van die ander kant.
Is geloof in God werklik so primitief?
As ’n gelowige sê dat die reën van God kom, bedoel ’n gelowige dan dat dinge soos die weerberig, en meteorologiese navorsing oorbodig is?
Weerkundige ondersoek is beslis nie oorbodig nie.
Daar is baie Christene wat hulle beroep daarvan gemaak het.
Maar daarmee ontken hulle geen oomblik dat die reën nie van God af kom nie.
Dus, dis nie korrek om te beweer dat, gesien die kompleksiteit van die samelewing en van die ekonomie deesdae, dat daarom godsdiens eintlik ouderwets geraak het nie.
Dink u nou werklik dat al die makro-ekonomiese prosesse buite God om plaasvind?
Gód beweeg sy hand, Hy maak sy hand oop of toe, en miljoene mense kom dit agter.
Gemeente, die wêreld het regtig nie te make met Godsverduistering nie.
Dit is eerder die mense wat verblind geraak het.
Blind vir sy aanwesige krag en voorsienigheid.
Die Westerse wêreld, waarin ons vir ’n groot deel lewe, het verblind geraak deur al die voorspoed.
God is nie meer ‘n faktor in die lewe nie – altans so leef mense.
Kerke loop leeg.
Dit herinner my aan die uitspraak:
In voorspoed praat God tot die mense, maar in teëspoed roep God tot die mense.
Inderdaad, as mense swaarkry, dan het hulle God skielik nodig.
Maar sodra dit weer voor die wind gaan, wil hulle maar weinig met Hom te make hê.
Geliefdes, laat ons as gelowiges, op hierdie punt anders wees.
Laat ons nie net in ons teëspoed tot God roep nie.
Laat ons Hom ook in voorspoed aanroep.
Hom dank.
As iemand durf te beweer: Ek het die afgelope jaar hard gewerk, en dus verdien ek my voorspoed, is dit kortsigtig.
Laat ons dit nie as vanselfsprekend, as jou welverdiende reg, aanvaar nie.
Die feit dat jy hard kon werk, dat jou liggaam gesond gebly het, dat jy nie onverwags getref is deur ’n siekte, of enigiets wat jou in jou werk gehinder het nie.
As een van jou organe begin probleme gee, jou hart, of niere, of longe, of derms, of jou bene, voete, nek, rug, noem maar op.
Gesond na jou werk gaan elke dag is nie gewoon nie.
En dan ook elke dag veilig deur die verkeer kom.
Ek verdien my voorspoed, want ek het hard daarvoor gewerk ...
Kortsigtig is so ‘n uitspraak.
En ook om te dink:
Ek het my lewe lank gewerk, nou geniet ek van ’n welverdiende pensioen.
En hooplik kry ek nie al te gou ouderdomsklagtes nie.
Broer, suster, dit is alles dinge wat nie vanselfsprekend is nie.
En hoekom moet dit alles genoem word, vanaand?
Om ons geluk minder te maak?
Inteendeel, juis sodat ons nog meer kan geniet.
Juis ook die gewone dinge geniet, die vanselfsprekende dinge.
Om stil te staan by God se seëninge maak dat jy met volle teue geniet.
As jy ’s oggens ontbyt regmaak, lof aan die HERE!
As jy saans by die huis kom en jou vrou, of jou ma, het ’n maaltyd gereed.
Lof aan die HERE!
As jy supermark toe gaan, en die rakke is vol, want die landboutegnologie en al die logistieke vervoernetwerke werk, lof aan die HERE!
As soveel miljoen mense in Suid-Afrika elke dag eet, lof aan die HERE!
En vra jouself af: Hoekom leef ek eintlik?
Hoekom al hierdie seëninge?
Psalm 67 gee vir jou die antwoord:
God sal ons seën, sodat al die eindes van die aarde Hom erken, Hom vrees.
In hierdie kerkdiens op Dankdag bring ons, mense, eerbiedig vir God dank.
Ons ervaar nog steeds presies dieselfde as die digter van soveel eeue gelede.
God is ons genadig en Hy seën ons.
Hy laat sy aangesig oor ons skyn.
Ons het die afgelope seisoen van God ontvang.
Met die meeste het dit ekonomies goed gegaan.
Vir sommiges was dit moeilik.
Laat ons in voorspoed dankbaar wees, en in teëspoed geduldig.
Ons kan instem met die digter van Psalm 4:
U het groter vreugde in my hart gegee as toe koring en mos oorvloedig was.
Ek wil in vrede gaan lê en aan die slaap raak; want U alleen, o HERE, laat my in veiligheid woon.
God seën ons, sodat ons Hom vrees.
Die tema vir vanaand se preek sê:
God se seën roep op tot priesterdiens.
Wat beteken dit eintlik – die priesterdiens?
Dit wil sê dat ons ons lewe wy, offer, in diens van God.
Op ’n dag soos vandag, Dankdag, is dit goed om hierby stil te staan.
Ons is almal priesters voor God.
Ons verrig as priesters dienswerk in sy koninkryk.
Ons lewe is toegewy aan sy groot plan.
Soos Petrus in sy eerste brief sê oor alle gelowiges:
Maar julle is 'n koninklike priesterdom, ‘n volk wat God se eiendom is, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9).
Christus het ons bevry van elke slawerny, Hy het ons gekoop en gebring in sy heerlike koninkryk.
Daar mag ons nou priesterdiens verrig.
Broer, suster, stem die prioriteite in jou lewe hiermee ooreen?
Ons ontvang baie gawes van God dag aan dag.
Waarvoor gebruik ons dit?
Besef jy dat elke dag, elke uur van jou lewe jy in priesterdiens staan voor God?
Aan God jou lewe offer, dit is nie net jou offergawe, jou kollekte op Sondag nie.
Dit is nie net jou VVB nie.
Maar elke Rand van jou behoort aan God.
Of jy nou duisend Rand per maand verdien of honderdduisend.
Heel jou aardse bestaan is priesterdiens aan God.
Dit gaan net oor die tiende van die oes wat die digter na die tempel gebring het nie.
Die digter besef: Met my hele oes moet ek die Here dien!
God sien graag dat sy kinders ’n gelukkige lewe in diens van Hom lei.
Om jou geld te spandeer aan dinge wat jou sig op God ontneem, dis natuurlik die domste wat jy met jou geld kan doen.
Die lewe draai om God jou Skepper, nie om die geld nie.
En dit is goed as julle, die jeug vanaand hier in die kerk, dis goed as julle dit nou al op ’n jong ouderdom besef.
Die lewe draai nie om geld nie.
Geld kry jy om God te dien, sewe dae per week.
Jou kollekte, jou VVB, is slegs simbool vir die feit dat die hele bedrag wat jy maandeliks binnekry, in diens staan van God.
Laat geld ’n hulpmiddel wees in jou priesterdiens.
Daarmee koop jy dinge, of dit nou klere is of kos, ’n fiets of ’n motor, om God goed te kan dien.
Dis heel iets anders as dat jy dinge koop om byvoorbeeld by te bly met die mode, of om by te bly met die eise wat ’n materialistiese omgewing stel – omdat jy anders minderwaardig sou voel.
As kind van God hoef jy nooit minderwaardig te voel nie.
Christene kyk nie op mekaar neer as gevolg van hulle klere nie, of as gevolg van hulle voertuie nie.
Dit gaan nie oor die mode nie, maar oor die diens aan God.
En vir alle ouers in ons midde, hier is vir u ’n mooi taak weggelê.
Dat jy jou kinders leer om hulle selfverdiende Rande en sente slim en oordeelkundig aan te wend in diens van God.
Ons geniet daagliks God se seën.
Hierdie seën roep ons op tot priesterdiens.
Dankbaarheid vir God se gawes is nie net ’n gevoel nie.
Hierdie dankbaarheid kom tot uitdrukking in die verantwoordelike gebruik van die gawes.
Loof die HERE vir sy gawes.
Gebruik dit dankbaar as priesters om te bou aan Christus se koninkryk.
Sodat die dag mag kom dat alle uithoeke van die aarde Hom sal vrees en loof!
Amen.
Votum
Seën
Sb 17:1,2,4,5
Gebed
Skriflesing: Psalm 67
Ps 104:8,9
Teks: Psalm 67
Preek
Ps 4:2-4
Gebed
Geloofsbelydenis: lees HK Sondag 10
Sb 17:6
Kollekte
Ps 67:1,2,3
Seën