Preek: Lukas 10:38-42
In ons kerk is daar verskillende aktiwiteite waaraan gemeentelede deelneem.
Daar is Bybelstudies, daar die die MSK – Maranata Susterskommittee.
Daar is die Gemeente Opboukommissie.
Daar is die Finansiële Kommissie.
Ensovoorts.
Is jy iemand wat liewer op Bybelstudie ander mense wil onderrig, of is jy iemand wat graag die hande uit die moue wil steek?
Voel jy jy is dalk te oud om in die susterskommitee te dien, die jonger susters kan dit maar doen?
Voel jy dis nou jou tyd om bedien te word?
Of, in terme van ons teks: Is jy ’n tipiese Maria of ’n Martha?
Is jy iemand wat graag sit en luister?
Of is jy iemand wat graag dinge doen, nie te veel nadink nie, nie tyd mors nie.
Is jy ’n raakvat vrou?
Maria en Martha ...
Twee mense wat deur die eeue twee persoonlikheidstipes begin versinnebeeld het.
Maar is dit korrek?
Is dit die boodskap van die teks wat ons vanoggend gelees het?
Tema: Kies die goeie deel – luister na sy Woord!
1 Doen Martha verniet haar bes?
2 Hoekom kies Maria reg?
1 Doen Martha verniet haar bes?
Op ’n dag kom Jesus in die dorp aan waar Martha gewoon het.
Ons weet nie presies watter dorp dit was nie.
Sommige mense meen dat dit Betanië naby Jerusalem was.
Want in Johannes 11 lees ons weer van die twee susters, in verband met die dood van hulle broer Lasarus – en dit was in Betanië.
Òf hulle het ook in Betanië gebly, òf hulle was daar op besoek vanweë Lasarus se ernstige siekte.
Maar goed, watter dorp dit ook was, op ’n dag het Jesus in hulle dorp aangekom.
Nou kan mens jouself afvra:
Hoekom het Jesus juis Martha se huis besoek?
Die antwoord op hierdie vraag vind ons moontlik eerder in hoofstuk 10.
Daar lees ons hoe Jesus sewentig dissipels uitgestuur het, twee aan twee.
Hy’t hulle gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.
Jesus het vir hulle duidelike instruksies gegee:
In watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!
Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het.
En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word ...
En sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.
Maar in watter stad ... hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê:
Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af.
Dus, waarskynlik was twee van hierdie dissipels van Jesus al eerder in die dorp van Martha gewees; en is hulle welkom ontvang deur die twee susters; gasvry ’n maaltyd voorgesit.
En nou – noudat Jesus op sy reis ook by hierdie dorp aankom – volg Hy op wat sy dissipels al voorberei het.
Die dissipels het moontlik aan Hom deurgegee: Die mense van daardie huis staan oop vir die Evangelie.
Hulle het ons gasvry ontvang.
En so is Jesus nou self op besoek is by Martha en Maria.
En soos gesê, hulle was susters.
Net vir die duidelikheid, Maria was ’n ander Maria as die bekende Maria, die ma van die Here Jesus.
Maria was ’n baie algemene naam in daardie tyd.
Dit is opvallend dat die teks aandui dat die huis aan Martha behoort het.
Moontlik het Maria, haar suster, by haar ingewoon?
Of was sy net op besoek?
En was Martha dalk ’n weduwee?
Of was sy ’n getroude vrou?
Ons weet nie.
Dis wel duidelik dat Martha die een is wat die baas in huis is.
En dus verbaas dit ook nie dat Martha na ’n rukkie haar suster uit die geselskap gaan haal met die versoek om haar in die kombuis te kom help.
Sy vervies haar, sy fluister nie in Maria se oor – wanneer kom jy ’n keer kombuis toe – nie; nee, sy praat sommer met Jesus: Sê vir haar sy my moet kom help!
Martha het haar uitertse bes gedoen om ’n goeie indruk te maak, noudat die Heiland haar huis besoek!
Martha was ’n raakvat vrou.
Ons kan goed verstaan dat sy – noudat Jesus hulle huis besoek – haar beste wil uithaal.
Maar ja, dan die reaksie van Jesus:
Martha, een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies ...
Wat sou Hy daarmee bedoel het?
Moet ons dan nie fluks wees nie?
Of moet ons liewer onsself terugtrek ... ’n meer meditatiewe lewe lei...?
Soos Roomse teoloë in Calvyn se tyd gesê het:
Martha simboliseer die alledaagse lewe, die besige wêreld.
Maar Maria simboliseer die lewe in die klooster.
Die beste lewe is in ’n klooster, weg van die geraas van die alledaagse lewe.
Daar kan jy – soos Maria – aan Jesus se voete sit.
Daar kan jy ’n soort engelagtige bestaan voer ...
Want elke dag se drukte trek jou weg van die hemel af ...
Is dit wat Jesus bedoel het?
Maar jy kan jouself tog nie heeltemal onttrek aan al die sorge en probleme van die lewe nie?
Dis mos ook nie so dat Jesus glad nie behoefte aan ’n maaltyd gehad het, daardie dag toe Hy by die twee susters op besoek was nie?
Dis tog nie so dat daar hoegenaamd niks tyd in die kombuis gespandeer moet word nie ...
Tog sê Jesus:
Jy, Martha, is besorg en verontrus oor baie dinge.
Maar Maria het die een goeie ding gekies.
Gemeente, dit help, as ons die gedeelte goed wil verstaan, om vir ’n oomblik na te dink oor die historiese omstandighede op daardie stadium.
Dit sal help voorkom dat ons nie ’n verkeerde boodskap in die teks inlees nie.
In die eerste plek moet ons besef dat Jesus nou op pad is na Jerusalem.
In Galilea in die Noorde het Hy baie wonders gedoen.
Die mense daar, die skare ken Hom goed, hulle vereer Hom.
En die meeste van hulle dink Hy is nou op pad na Jerusalem om daar as Koning gekroon te word.
Baie van die wat Hom volg, volg Hom na Jerusalem omdat hulle hierdie groot gebeurtenis nie graag sal wil mis nie.
En, laat ons eerlik wees, om self dalk ook voordeel daaruit te trek.
Dink byvoorbeeld aan die ma van Jakobus en Johannes – die seuns van Sebedeüs.
Het sy nie ’n keer vir Jesus herinner om ook aan haar te dink – en ook aan haar twee seuns – wanneer Hy plaas neem op die troon nie?
’n Bietjie eie belang dus.
Nou sou mens jouself kon afvra: Was dit nie dalk by Martha ook die geval nie?
As sy nou vir die Messias op ’n koninklike wyse in haar huis onthaal, sal Hy dalk aan haar terugdink die oomblik as Hy op die troon plaasneem ...
As Hy vir sy paleis personeel soek, personeel wat hardwerkend is, en wat heerlik kan kos maak… raakvat vroue ...?
Maar, en dit is wat die mense nie besef het nie: Jesus is nie op pad na Jerusalem om koning te word nie (Luk 19:11).
Hy gaan daarheen om gekruisig te word.
En na sy opstanding gaan Hy nie op aarde bly nie.
Hy gaan plaasneem op die hemelse troon.
Dus ’n hofhouding op aarde het Hy nie nodig nie.
Gemeente, dit is die historiese agtergrond hoekom Jesus in ons teks vir Martha sê: Maria het die goeie deel uitgekies.
Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge.
Maar onthou: My gaan julle nie altyd in julle midde hê nie.
Luister na My.
Dan het jy die goeie deel gekies.
Ek – soos Ek nou in jou huis is – dit sal nie weer gebeur nie.
Ek sal van julle weggeneem word.
Maar jy moet nou – soos Maria – goed na my woorde luister.
Want dit sal nie van julle weggeneem word nie.
Gemeente, begryp u nou die historiese konteks?
Dit help ons om te verstaan dat dit nie soseer ’n teenstelling is tussen die aardse en die hemelse, tussen ‘n lewe in die wêreld en ‘n lewe in die klooster nie.
Dit help ons om te verstaan dat die aksent lê op die Woord van Jesus.
Dit is hoekom Hy na die aarde gekom het.
Hy’t nie in die eerste plek gekom dat die mense Hom sou bedien as ‘n koning nie, maar dat die mense na sy woorde sou luister.
As ons na al sy woorde luister, en dit bewaar, dan is Hy bly.
Dit is die belangrikste.
Martha hoef Hom nou nie soos ’n koning te behandel, ’n koninklike maaltyd voor te sit, as dit ten koste gaan van die geleentheid om na Hom te luister nie.
Nie dat spesiale behandeling noodwendig verkeerd sou wees nie.
Ons lees later hoe die einste Maria die voete van Jesus met kosbare nardussalf gesalf het.
Gemeente, dit is dus, in kort, die meerwaarde as ons die gedeelte in sy historiese konteks lees.
In hierdie lyn wil ek dan ook die teks vir ons vandag toepas.
As mens ’n teks uit die Bybel wil toepas, is dit baie belangrik om na historiese konteks te kyk.
Wat het die Here Jesus bedoel, daardie dag toe Hy met Martha en Maria gepraat het?
Wat wou die Heilige Gees sê, toe hy hierdie gedeelte deur die evangelis Lukas laat opskryf het?
As mens die historiese konteks nie in ag neem nie, kan jy dalk ’n aansprekende toepassing uit hierdie gedeelte maak, maar dan loop jy die risiko om iets daarin te lees wat Jesus nie bedoel het nie.
Dit het die Roomse teoloë uit Calvyn se tyd gedoen.
Hulle het hierdie gedeelte gebruik – eintlik misbruik – om ’n kloosterlewe aan te prys bo ’n lewe in die wêreld.
Maar dis nie wat Jesus bedoel het nie.
Hy’t nie bedoel ’n teruggetrokke lewe los van die wêreld nie.
Inteendeel, Hy’t bedoel: ’n Lewe met die Woord as kompas binne hierdie wêreld, om alle aspekte van hierdie wêreld te hervorm.
Daar is tye wat die susters van die MSK moet bedien, maar daar’s ander tye wat hulle ook in die kerk moet sit en na die Woord luister.
En daar kom ook tye dat hulle wat – soos Maria – onder die Woord sit, sal moet uitgaan, die hande uit die moue steek, en die Woord hande en voete gee.
Gemeente, ook in ons eie tyd word hierdie gedeelte toegepas op ’n manier wat die historiese konteks ook nie ernstig neem nie.
So het ek ’n toepassing teengekom uit die feministiese hoek.
Martha verteenwoordig die huisvrou, wat as ’n soort slaaf al die huishoudelike eentonige werk moet doen.
Maria verteenwoordig die vrou in die amp, wat met die Woord besig is.
Jesus kies in die teks heel duidelik vir Maria.
Sy lei ’n goeie lewe, en nie Martha nie.
Ook hierdie toepassing misbruik die teksgedeelte om ’n hedendaags aanvaarde denkrigting te verdedig, net soos die Roomse kerk dit in Calvyn se tyd gedoen het om die kloosterwese te verdedig.
Maar ook nou weer word die historiese konteks oor die hoof gesien.
Martha was nie ’n soort slaaf nie, sy was juis die meesteres van die huis.
Ook keur Jesus Martha se bedrywighede nie af nie.
Hy maak net vir haar duidelik dat Hy nie in die eerste plek in haar huis gekom het om koninklik onthaal te word nie, maar dat Hy gekom het om die Woord met hulle te deel.
Hulle moet nou eers tyd maak om na Hom te luister, want lank sal Hy nie meer in hulle midde wees nie.
2 Hoekom kies Maria reg?
Broers en susters, kom ons probeer nou self ons teks toepas vir ons eie lewe, sonder om die teks te laat buikspreek, maar dat die boodskap tot ons kom soos die Heilige Gees dit bedoel het.
Neem jy die tyd – soos Maria – om aan die voete van Jesus te sit?
Dit wil sê, om te luister na sy Woord?
Is daar genoeg momente in jou lewe wanneer jy sy Woord oopmaak?
Kom jy tot rus by die Woorde van Jesus?
Dat jy dit indrink, soos ’n glas koue water op ’n warm dag ...?
Aan sy voete sit: Dis ’n luisterhouding.
Dit begin op Sondag.
Die eerste aktiwiteit van die nuwe week is dat ons kerk toe gaan.
Daar word ons rustig, ontvanklik vir God se Woord.
Maar ook elke dag daarna.
Dink aan huisgodsdiens.
Ook dit doen ons nie gejaagd nie.
En laat ons eerlik wees, met ons besige lewe gebeur dit te veel dat dit afgejaag word.
Word rustig, ontvanklik vir God se Woord.
En ook tyd om vir Hom se sing.
En ook tyd om vir Hom te bid.
En ook tyd om oor sy Woord saam te praat.
Maria het nie die hele dag gesit nie.
Maar nou wel.
Bepaal jou prioriteite:
As ‘n ma kan jy sorg dat jou gesin ’n perfekte maaltyd kry.
In die oggend kan jy sorg dat jou kinders al hulle kos saamkry skool toe, dat hulle klere silwerskoon is, gesigte gewas, hande, voete, hare netjies, naels geknip, neus gesnuit, huiswerk gedoen ...
Maar onthou jy ook die belangrikste?
Dat jy elke oggend saam met jou kinders gaan sit aan Jesus se voete?
Nie net gou-gou Bybellees en bid nie.
Kies die goeie deel vir jou en jou kinders.
Lees saam ’n stukkie uit die Woord.
Sing saam tot eer van die Heiland.
Bid rustig tot Hom, dra die dag aan Hom op.
Jesus kritiseer nie Martha se gasvryheid nie.
Gasvryheid is ’n belangrike Christelike deug.
Dit is ‘n vrug van die Gees.
In 1 Timotheüs 5 word dit selfs genoem as ’n belangrike karaktereienskap vir ’n weduwee.
Maar ware gasvryheid is nie in die eerste plek ’n skoon huis, ’n pragtig gedekte tafel, smaaklike kos wat nie aangebrand is nie ...
Draai dit dan nie dalk te veel net om jouself nie?
Dat jy wil hê dat die mense moet dink dat jy so ’n perfekte huisvrou is ...
Was dit nie dalk ook Martha se probleem nie?
Dat sy wou indruk maak op die Heiland, en selfs dalk met bykomstige motiewe ...
Wie weet ... dink die Heiland aan my ... as Hy eendag op sy koninklike troon sit...
In vers 40 staan: sy was BAIE besig om ALLES klaar te maak.
ALLES moes skynbaar perfek wees.
Alle puntjies op die i.
Vir so ’n belangrike gas moet die huis silwerskoon wees, en die maaltyd uit die boonste rakke ...
Maar is egte gasvryheid nie eerder dat jy ’n oor het vir die ander een nie?
Jesus sou nie omgegee het nie as Martha haar eerder ‘n bietjie meer alledaagse kos sou gegee het ...
Hy’t nie haar huis ingekom om ’n koninklike maaltyd te kom geniet nie, maar om die Woord, die blye boodskap van die koninkryk met hulle te deel.
En uiteindelik was dit in Martha se eie nadeel.
Deur so te fokus op die beste van die beste, beroof sy haarself van die geleentheid om werklik baat te vind by die feit dat Jesus nou haar huis besoek.
Inderdaad: Dit maak nie sin om die beste onthaal denkbaar vir die koning te gee, maar om nie geïnteresseerd te wees in die woorde van die koning nie, om nie nuuskierig te wees na hoekom die koning nou eintlik by jou op besoek gekom het nie ...
Dalk kan ons dit so toepas.
Hardloop ons nie soms ook te veel rond vir allerlei dinge, terwyl ons die belangrikste afskeep nie?
Dit geld nie net tuis nie.
Ook hier in die kerk.
Ook al die dinge wat ons hier in die kerk doen.
Hou ons wel fokus?
Hoekom doen ons so baie dinge vir die kerk?
Hoekom so baie kommissies, hoekom so baie dit en dat?
Hoekom verwag ons so baie van mekaar?
Hoekom al die vol agendas?
Wil ons dalk indruk maak?
Op wie wil ons indruk maak?
Op God?
Of op mekaar?
Of op ander mense?
Maar kan die Woord self nie soms op die agtergrond raak nie?
Gereformeerde mense staan daarvoor bekend dat hulle goed kan organiseer.
Hulle kan baie dinge doen.
Hulle is aktief, dalk soms aktivisties.
Baie besig om alles in orde te maak.
Maar as die Woord van die Heiland uit die sentrum van ons lewe verdwyn, uit die sentrum van ons gesinne ... wat dan?
Wel, ’n pragtige gebou sonder fondament is nie veel werd nie.
Daar is ’n tyd om dinge te doen.
Maar daar is ook ’n tyd om te luister.
Om jou batterye te laai.
As jy dit nie doen nie en net aanhou sake afwerk, die een na die ander, dan gaan jou batterye een of ander tyd heeltemal pap wees,
En dan gaan jy in elk geval niks meer kan doen nie.
Daarom, kies die goeie deel!
Wat dalk nog meer kwalik was, is Martha se houding.
Dat sy so kortaf was teenoor haar sussie Maria.
Jesus het vir Martha berispe.
En gelukkig het Martha Jesus se berisping ter harte geneem.
In Johannes 11 en 12 lees ons weer oor haar.
Een van die mooiste geloofsbelydenisse in die Nuwe Testament kom uit haar mond:
Johannes 11:27: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.”
Voortaan sou sy beter luister.
Nie dat sy nooit meer sou bedien nie, asof dit verkeerd sou gewees het.
Juis in Johannes 12:2 lees ons weer, na Lasarus se opwekking:
“Hulle het toe vir Hom [Jesus] daar 'n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was.”
Hierdie week sluit die skole vir die Paasvakansie.
Oor twee weke gaan ons weer Christus se kruisiging en opstanding herdenk.
Ook dan word ons opgeroep om kerk toe te kom.
Hier, of as jy met vakansie is, om ook dan tot rus te kom by die luister na die lydensgeskiedenis en opstandingsgeskiedenis.
Laat ons ons besige skedules van werk en vakansiehou daarop inrig.
Daar is alle rede om hierdie feeste te vier.
Om aan die voete van die Heiland te sit, onder die ‘geklank van die Woord’ – soos die ou uitdrukking sê.
Ons sit aan sy voete en luister.
Aan die voet van die kruis.
Aan die voet van sy hemelse troon.
Die herdenking van die heilsfeite gee weer die regte perspektief op ons lewe.
Dit voed ons, dit gee ons die krag om daarna weer dankbaar die hande uit die moue te steek in diens van ons opgestane Heer en Koning.
Amen.
Votum
Seën
Ps 122:1,2
Wet
Sb 10:1-3
Gebed
Skriflesing: Lukas 10:38-42; Johannes 11:19-29 & 12:1-11
Ps 40:4
Teks: Lukas 10:38-42
Preek
Ps 89:6,7
Gebed
Kollekte
Sb 43:4-6
Seën