Christus het nie gekom om te pynig nie, maar om te genees

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-02-22
Teks: 
Lukas 8:26-39
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 8:26-39

 

Christus preek baie en Hy verrig ook baie wonders.

Dis waarmee Hy besig is in Lukas 8.

Hy werk volgens ‘n plan.

Op ‘n sekere dag klim Hy en sy dissipels in ‘n boot.

Dis nie toevallig nie.

Christus weet, anderkant van die see van Galilea het Hy werk om te doen.

Daar is mense wat gebuk gaan onder die las van die siektes en bose geeste.

Op die water steek daar toe skielik ‘n stormwind op.

Christus gebruik dit as ‘n leerskool vir sy dissipels.

Vol angs en verwondering het hulle vir mekaar gesê:

“Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?” (vers 25)

En so kom hulle by die anderkant van die see aan, want daar het Jesus werk om te doen, om die mense vir Hom wag of nie.

 

Tema: Christus het nie gekom om te pynig nie, maar om te genees

 

Veilig kom hulle toe aan in die land van die Gadareners.

In die 2020-Vertaling word gepraat van die land van die Geraseners genoem, vernoem na die dorp Gerasa, ongeveer 30 km suidoos van die see van Galilea.

Gadara was egter ‘n ander dorp, net so 5 km vanaf die meer.

Dit wat in die teks staan, maak meer sin wanneer dit afspeel naby die kus, d.w.s. in die omgewing van die dorp Gadara.

Hierdie gebied was ‘n oorwegend heidens-Romeinse gebied.

In Markus word dit die Dekapolis genoem, wat letterlik beteken tien stede.

Dit was stede soos Gadara, Gerasa, Pella, Filadelfia.

Hierdie gebied was onafhanklik van Israel en baie meer heidens.

Dit blyk onder andere uit die feit dat hulle ‘n groot trop varke aangehou het, onrein diere wat die Jode nie gehad het nie.

 

Jesus is nog maar net uit die boot, toe ‘n man op hom afkom.

Ons sou vandag sê, ‘n mal man.

Sonder klere, verwilderd, Hy het in die grafte gebly.

Onthou, in daardie tyd het die mense rotsgrafte gehad – kamers uitgekap in die rots waarbinne hulle die oorledenes begrawe het.

Soms het hulle ook van natuurlike grotte gebruik gemaak.

Hierdie man het daar oornag, in die grafte skuiling gesoek as dit gereën en gestorm het.

Hy kon nie meer in die samelewing funksioneer nie.

Soos hulle vroeër met geestessiekes gedoen het, is hy met kettings en voetboeie vasgebind.

Maar hy was te sterk en het homself losgeruk, soos ‘n dier in paniek ‘n ketting stukkend ruk.

En, sê die teks, die duiwel het hom die woestyne in gedrywe.

Daardie area was nie woestynagtig nie, die jaarlikse reënval is nie te sleg nie.

Die 2020-Vertaling is wat dit betref beter – die duiwel of demoon het die man na verlate plekke gedrywe.

Hy kon die geselskap van ander mense nie meer hanteer nie.

Dis die werk van die duiwel, normale opbouende interaksie tussen mense maak hy ontmoontlik.

En so moes hierdie arme man stoksielverlate tussen die grafte lewe.

Die mense het hom vermy, hy was ‘n gevaar vir die samelewing.

Niemand kon veilig met daardie pad verbygaan nie, staan daar in Mattheüs (8:28).

Hy was selfs ‘n gevaar vir homself.

Markus vertel dat hy homself met klippe stukkend gekap het (Mark 5:5).

 

Jesus kry hom egter jammer.

Hy beveel die onreine gees om uit hom uit te gaan.

 

Opvallend wat die man dan skreeu.

En opvallend ook, hoe Lukas dit beskryf.

Lukas onderskei tussen die mens en sy siekte, die mens en die bose gees wat van hom besit geneem het.

Jesus sien die mens daaragter raak.

Die bose gees het besit van hom geneem, hom ongelukkig gemaak.

Die bose gees besef wie hier voor hom staan.

Sy grootste vyand – Jesus, die Seun van die allerhoogste God.

Dit beloof nie veel goeds vir hom nie.

Moet my nie pynig nie! – roep hy uit.

 

Opvallend dat Jesus in gesprek gaan met die bose gees.

Sy naam is Legio.

Dit verwys na die Latynse woord legioen, ‘n Romeinse leërafdeling wat duisende soldate bevat het.

Daardie baie demone smeek hom om hulle nie na die onderwêreld te verban nie.

Die 2020-Vertaling vertaal: onpeilbare diepte.

Die English Standard Version vertaal: “abyss” – afgrond.

‘n Woord wat gebruik is vir die hel.

 

Dis op eerste gesig ‘n rare versoek van hierdie bose geeste.

Demone, soos ons weet, wat afvallige engele is, wat die duiwel in sy opstand teen God gevolg het.

Hulle is slawe van die duiwel, dis vir hulle verdraagliker om hier op aarde te wees as in die hel.

In Openbaring word ook hierna verwys.

Byvoorbeeld die “put van die afgrond” – Openbaring 9:1.

“Die dier wat uit die afgrond opkom” – Openbaring 11:7.

En Openbaring 20: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is ... en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit” (vers 1-3).

Duidelik het hierdie bose geeste ‘n groot angs vir die afgrond.

Hulle is nie dom nie, hulle weet van die hel.

Hulle probeer daar weg te bly.

Hulle vrees dit as hulle voorland, die “poel van vuur en swawel” (Openb 20:10).

 

Christus laat hulle dan toe om van die varke besit te neem, wat vervolgens soos mal hase by die krans afstorm en in die see verdrink.

Nou is die man nie meer mal nie, en die varke het mal geword.

Wat vervolgens met die demone gebeur het, lees ons nie.

‘n Gebeurtenis waaroor ons baie vrae oorhou.

Die Bybel openbaar ons sommige dinge oor die hel, oor die demone, maar dis ook maar min.

Ons hou nog so baie vrae oor.

Maar al weet ons so min oor hierdie werklikheid, mag dit nie ‘n rede wees om dit te ontken nie.

 

In elk geval, die wagters gaan vertel in die dorp wat gebeur het.

En skynbaar was hulle groot veestapel – Markus vertel daar was omtrent twee duisend varke – vir hulle meer werd as om hierdie mal man nou rustig en met klere aan terug in die dorp te verwelkom.

Ook vra hulle vir Jesus om maar liewerste weg te gaan.

Die besete man wat genees is het waarskynlik besef die mense gaan wantrouïg teenoor hom bly, en smeek vir Jesus of hy saam met Hom mag gaan.

Jesus gee hom egter die opdrag om na sy huis terug te keer en te getuig wat Jesus alles aan hom gedoen het.

 

Gemeente, hierdie was seker een van die mees spektakulêre wonders wat Jesus verrig het.

Tog is die inwoners nie onder die indruk nie.

Toe hulle moes kies tussen ‘n gesonde medeburger en hulle varke, was laasgenoemde vir hulle meer werd.

Toe hulle moes kies tussen Jesus en hulle varke – kom ons noem dit maar hulle materiële welvaart – was dit ook vir hulle belangriker.

En is dit vandag nie nog net so nie?

As mense sal moet kies tussen ‘n rykmanslewe en kerklid wees, hoeveel sal die laaste kies?

En dit terwyl kerklid wees absoluut geen hongersnood sal bring nie, geen armoede nie, en ‘n rykdom wat ver uitstyg bo aardse rykdom.

Tog fokus so baie mense net op wat nou voor oë is.

En mense is selfsugtig.

Hulle rykdom is vir hulle belangriker as ‘n individu wat weer gesond word.

As ‘n boer sal moet kies tussen sy groot veestapel of die genesing van ‘n mal plaasarbeider ... wat sal hy kies?

Hulle materiële welvaart bepaal die besluit wat die mense in Gadara neem.

Jesus moet maar liewerste uit hulle lewe wegbly.

Dit gaan goed met hulle, hulle het Hom nie nodig nie.

Jesus, gaan asseblief terug oor die see!

 

Gemeente, hoe is dit met jou en my?

Is die behoud van jou welvaart belangriker as om bly te wees met die behoud van nog ‘n sondaar?

Is jy bereid om jou tiendes, en as die Here jou baie gegee het, dalk meer as ‘n tiende, dankbaar te gee vir die uitbreiding van sy koninkryk?

 

Maar so verkies so baie mense op aarde hierdie tydelike gebroke plesier bo die ewige heerlikheid.

So dikwels moet mense eers ‘rock bottom’ tref – soos die uitdrukking sê – voordat hulle tot insig kom.

Soos hierdie man met duisend demone in hom.

 

Nou is daar mense wat sê dat juis tydens Jesus se tyd op aarde die duiwel en bose geeste mense meer aangeval het as in byvoorbeeld ons tyd.

En dat ‘n insident soos wat in ons teks voorkom, uniek was aan Jesus se tyd op aarde.

Dat soveel demone in mense invaar, van mense besit neem, moontlik ‘n strategie van die duiwel was om ‘n negatiewe atmosfeer te skep, sodat die volk sou begin dink dat Jesus se koms onheil gebring het.

Ek het egter nog nie Bybeltekste gevind waarin dit eksplisiet so verwoord word nie.

 

Ek dink eerder dat die Here in sy Woord aanpas by mense se kennis van daardie tyd.

In ‘n eerdere preek het ek al hieraan aandag geskenk.

Hoe die almagtige God in sy selfopenbaring aanpas by die mense met wie hy spreek, net soos ‘n pa, as hy vir sy klein seun iets verduidelik, eenvoudige woorde en begrippe sal kies.

Lukas was waarskynlik self ‘n dokter, en hy beskryf die siektes en aandoenings sodat mense van daardie tyd dit kon verstaan.

Christus het gekom om sy koninkryk op aarde te vestig.

En met sy tekens en wonders maak Hy duidelik dat siektes, van watter aard ook, nie deel van sy volmaakte ryk gaan wees nie.

Net so min gaan daar plek wees vir die duiwel en sy demone.

 

Ons moet vandag egter nie – saam met die modernistiese denke – dus die gevolgtrekking maak dat die duiwel en demone eintlik nie bestaan nie.

Dat daar bloot sprake was van psigiese aandoenings, soos skisofrenie, of Alzheimer, of epilepsie, beroertes en so meer.

Ek het in vorige preke al daarop gewys dat dinge verweef is.

Die duiwel en sy demone het invloed op aarde, al moet ons versigtig wees om ‘n direkte konklusie te trek, so van: Daardie persoon is van duiwels besete.

Dinge lê ingewikkelder, dit gaan dikwels bo ons verstand uit, ons moet egter die wêreld nie reduseer tot net die materiële, net dit wat ons kan waarneem nie.

 

Ons moet ook nie te veel dink van die hedendaagse mediese kennis nie.

Om ‘n voorbeeld te noem, die mediese wetenskap weet nog nie wat die biologiese oorsaak van skisofrenie is nie.

Die diagnose word gemaak deur ‘n pasiënt ‘n ‘checklist’ te laat invul, en as die pasiënt byvoorbeeld uit 10 simptome op die lys 7 of meer vertoon, word die diagnose skisofrenie gestel.

Dus, die werklikheid is soveel ingewikkelder as wat ons dink.

Die mediese wetenskap weet eintlik nog maar so min.

Die stryd teen siektes bly ‘n opdraende stryd.

 

Wat beteken hierdie geskiedenis nou vir jou en my?

Almal van ons word deur siekte getref.

Soms deur ‘n relatief onskuldige siekte soos verkoudheid, soms deur baie ernstige siektes.

Die feit dat ons liggaam en gees vatbaar is vir siektes, is eerstens ‘n rede om ons te verootmoedig.

God het die mens nie geskape om siek te wees nie.

Dis ‘n gevolg van die mens se sondeval.

Daarom, pleks van as ‘n siekte ons tref met die vinger na God te wys, laat ons onsself verootmoedig.

Ons is heeltemal onderdeel van die gebrokenheid waarin die skepping beland het, ons is selfs die oorsaak daarvan.

Maar tweedens kan ons vlug na ons Heiland.

Want Hy het nie gekom om mense te pynig nie, maar om te genees!

 

Broer, suster, kan u nie tog iets begryp van die besete man se reaksie nie?

Dink ons nie ook in die trant van: Laat die Here net my persoonlike lewe uitlos, sodat dinge goed mag bly gaan ...?

Ja, ek weet, soos die Kategismus sê, dat gesondheid en siekte van Hom af kom.

Maar as Hy nie te naby my lewe kom nie, dan bly ek darem gespaar van die beproewing van siekte.

Dit was die eerste reaksie van daardie man.

Toe Jesus voet aan wal sit aan sy kant van die meer, toe Jesus in sy wêreld inkom, toe skrik hy.

Moet my asseblief nie pynig nie.

 

Maar broer en suster, hierdie geskiedenis leer ons om nie so oor God, oor Jesus te dink nie.

Hy kom nie in jou lewe om te pynig en jou ongelukkig te maak nie.

Inteendeel, Hy kom om te genees.

Sien Hom as die oplossing van alle honger en kommer op aarde, nie as die oorsaak nie.

Laat ons verlang na sy koninkryk, waar daar geen siekte en dood meer sal wees nie.

Ons bid vir die krag, noudat ons nog onderweg daarheen is, en ons siektes nog nie agter ons gelaat het nie.

Ons mag ook bid vir genesing, ons moet die middele gebruik wat Hy beskikbaar stel.

As gelowiges mag ons – al beskik ons nie oor die wonderkragte wat ons Heiland op aarde gehad het nie – as gelowiges moet ons wel ambassadeurs wees van die volmaakte koninkryk wat op koms is.

Daarom staan ons as gelowiges aan die voorpunt van die stryd teen siektes.

Beroepe soos dokters, verpleegsters, spesialiste, radioloë, audioloë, fisioterapeute, arbeidsterapeute, laboratoriumanaliste, of watter spesialisasie ook al, dit is uit en uit Christelike beroepe, waar ons ons gewig ingooi.

In samelewings wat deur die Christendom beïnvloed is, het mediese vaardighede en hospitale groot hoogtes bereik.

Dit is hoe Christene ‘n seën kan wees vir die wêreld.

 

Terselfdertyd raak ons nie selfingenome nie.

Want steeds voel dit so dikwels of siektes die oorhand het.

Steeds besef ons, al is daar hoeveel medisynes en behandelinge beskikbaar, dat onsself nie die volmaakte koninkryk op aarde kan bring nie, dat ons so dikwels magteloos staan teenoor siektes, om die dood nie eers te noem nie.

Al is die mediese wêreld hoe kundig ook, nog steeds verwag gelowiges alles slegs en alleen van hulle Heiland.

As Hy nie medisyne en operasies en hande van dokters en verpleegsters seën nie, dan is ons nog nêrens nie.

Steeds, al het ons die beste privaat mediese fondse, steeds skuil ons volledig by ons Heiland.

So dikwels moet ons desperaat die oë na die hemel opslaan, pleit dat Hy tot vinnig mag terugkom, om die werke van die Satan te vernietig, om vrede en gesondheid op aarde te herstel.

 

En laat ons in die tussentyd nie moed opgee nie.

Laat ons ‘n barmhartige Samaritaan wees vir die wat siek is, gestremd, bejaard, kwesbaar.

Vanaf die vroeg-Christelike kerk het gelowiges daarvoor bekend gestaan dat hulle hulle ontferm het oor die siekes, oor weeskinders, oor die swakkes.

Daar is baie hospitale, weeshuise, bejaardehuise wat vandag bestaan, wat oorspronklik opgerig is deur diakens, of deur sendelinge.

Ons gedenk sulke voorgangers van ons, en vol goeie moed gaan ons in hulle voetspore verder.

Boweal volg ons ons groot Heelmeester na, dit wat Hy op aarde kom doen het, is ons groot inspirasie.

 

Ja laat elkeen van ons doen wat hierdie besetene gedoen het.

Hy het dankbaar Christus se bevel opgevolg, nie meer eensaam deur die berge geswerf nie, maar van stad tot stad getrek om te verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het.

Hy het die blye boodskap gebring: Mense, Christus het nie gekom om te pynig nie, maar om te genees!

Jesus het self nie in daardie gebied verder gereis nie, maar sy blye boodskap het wel verder daar deurgedring, danksy hierdie man.

Jesus keer terug oor die see.

Tans is sy fokus nog op die verbondsvolk.

Soos ek genoem het, die Dekapolis was ‘n oorwegend heidense gebied.

Op daardie stadium in sy bediening het Jesus op die Joodse volk gekonsentreer.

Hy het teruggekeer oor die See van Galilea terug na die land van die Jode.

Maar die gesondgemaakte besete man laat Hy daar agter.

Dié moes Hom solank daar bekend maak.

 

Gemeente, ‘n voorsmakie van Pinkster!

En inderdaad, na Pinkster het in daardie gebied Christelike kerke ontstaan!

Die besete man se werk het vrug gedra deur die mense se harte sag te maak vir die Evangelie.

‘n Paar dekades na Pinkster was daar in die Dekapolis reeds bloeiende Christelike kerke.

Soseer selfs dat toe die verwoesting van Jerusalem nader gekom het, die Christene uit Jerusalem na hierdie gebied gevlug het.

Stede soos Pella, Filadelfia, Gerasa het toevlugsoorde geword vir die gelowiges uit Jerusalem en Judea.

Of die besete man toe nog geleef het, weet ons nie.

Tussen hakies, Mattheüs vertel dat daar twee besetenes was wat Jesus genees het.

Maar indien hulle nog geleef het, mog hulle meemaak hoe hulle stad, en die stede in daardie gebied, gewen is vir Christus.

Nie die demone nie, nie die heidene nie, maar Christus eis hierdie gebied ook vir Homself op!

 

Die besetene wat gesond gemaak is, het sy Heiland verkondig.

God se werk deur hom het vrug gedra.

God se Woord sal nie leeg tot Hom terugkeer nie.

Net so mag ons in hierdie stad, en land, en kontinent waar ons woon, die Evangelie verkondig.

Dit sal vrug dra, miskien nie in ons leeftyd nie, dalk eers later.

Maar die Evangelie is ‘n krag tot genesing, liggaamlik en geestelik.

Christus is die blye boodskap in eie Persoon!

So is ons vandag ook gesante van Christus.

Net soos die demone, is sondige mense van nature bang vir Christus.

Hulle vrees sy straf – en tereg.

Hulle bly liewers so ver moontlik van Hom af weg.

Maar nee, vir die sondige mensheid is daar ‘n goeie boodskap, ook vandag, wat jy mag bring:

Christus het nie gekom om te pynig nie, maar om te genees.

Kom na Hom, voor dit te laat is.

Ons stad ontmoet nie vir Christus direk nie, maar hulle ontmoet Hom in ons.

Gemeente, onthou, julle is gesante van Christus, met die blye boodskap van Hom wat genesing vir die nasies bring!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 41:1,2

Wet

Ps 6:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 8:22-39

Ps 30:2,3,5,8

Teks: Lukas 8:26-39

Preek

Ps 103:2,3,8,9

Gebed

Kollekte

Ps 107:9,10

Seën